Petrus bedien Enéas,Tabita en Cornelius

2024-04-29

2008-08-22

A. INLEIDEND.

Ons het vroeër gemeld dat die eertste hoofstukke van Handelineg om Petrus se bediening in die suidelike dele van Palestina sentreer. Ons vorige studiegids het hierdie vloei van die geskiedenis onderbreek terwyl ons by Filippus se bediening en die bekering van Paulus stilgestaan het.

Nou hervat ons weer Petrus se bediening en kyk na die wonderwerke wat hy gedoen het met betrekking tot ‘n man genaamd Enéas en ‘n dame bekend as Tabita. Ons bespreek ook Petrus se bediening van die Evangelie aan ‘n Italiaanse hoofman oor honderd genaamd Cornelius.

B. DIE GENESING VAN ENÉAS.

Ons lees Handelinge hoofstuk 9:32-35:

En onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; 33  en hy het daar ‘n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. 34  En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. 35 En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. 

Ons het laas oor Petrus gepraat toe ons God se oordeel oor Ananias en Saffira behandel het. Petrus was deur Jesus gekies om die eerste leier van die apostels in Jerusalem te wees.

Petrus het nie net die Joodse Christene in Jerusalem bedien nie, maar ook die gelowiges besoek in verafgeleë dorpe soos Lidda en selfs Joppe aan die weskus van Palestina aan die Middellandse See. Dit was hier waar hy Anéas gevind het wat al 8 jaar lank verlam en bedlêend was. Petrus het die genesing wat in Christus Jesus is, oor hom gespreek. Daar en dan het hy opgestaan uit sy bed. Dink net aan die vreugde in daardie huis. 

Ons moet onthou dat die Evangelie destyds ‘n nuwe lering was. Die Joodse gelowiges het egter die God van Abraham van kindsbeen af gedien soos voorgeskryf in die Wet van Moses. Hulle sou nie maklik deur woorde alleen beweeg word om hul vertroue in die Here Jesus Christus te stel nie. Hulle was nie noodwendig hard en skepties soos die Fariseërs nie, maar bang om mislei te word.

God is altyd bereid om sulke mense tegemoet te kom ​​deur aan hulle ‘n besondere openbaring van Sy heerlikheid te gee. Watter beter middel kon Hy gebruik as om ‘n bejammerenswaardige kreupel man uit hulle eie geledere op te rig. Toe hulle Anéas, wat in daardie klein dorpie aan almal bekend was, sien loop, dalk sien rondhardloop, en getuig van wat Jesus vir hom gedoen het, het hulle smeulende geloof vlam gevat soos wanneer petrol op vuur gegooi word. Baie van hulle se geestesoë is geopen en het in Jesus geglo. So het ook die ander inwoners ‘n gawe van God ontvang, naamlik die Ewige Lewe. Eer aan hom. 

Nou het Lidda en Saron oorgeloop van vreugde. Waar jy ookal beweeg het, het inwoners getuig van die vreugde wat hulle in Christus gevind het. Maar God het nog groter dinge vir Petrus in gedagte gehad.

C. DIE OPWEKKING VAN TABITA (OFTEWEL DORKAS).

Ons lees hoofstuk 9:36 tot 39:

 En in Joppe was daar ‘n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. 37  En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê. 38  En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. 39  En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. 

Terwyl Lidda en Saron juig oor wat Jesus vir hulle gedoen het, het die mense van Joppe gerouklaag omdat die doodsengel hulle besoek en ‘n geliefde suster in die Here uit hul midde weggeneem het. Sy was Tabita, ook bekend as Dorkas.

Albei name beteken “gazelle” of “wildsbokkie”. Daar rond was daar blykbaar sulke klein slanke diertjies, ligbruin oor die rug en wit onder die bors en maag; gekromde horinkies, rats en vinnig. Dit was ‘n plesier om so ‘n bokkie dop te hou terwyl hy hardloop en spring van lewensvreugde en niemand ooit skade aandoen nie. So was Tabita; vir al die susters tot seën en tot diens. Toe sy skielik, onvoorsiens, sterf, was dit vir die gemeenskap ‘n geweldige skok. Die susters het haar liggaam gewas en in ‘n bovertrek neergelê soos die gebruik was wanneer ‘n liggaam voorberei is om begrawe te word.

Maar hulle het ander planne met haar gehad. In plaas daarvan om haar liggaam te begrawe, het hulle vir Petrus dringend laat haal. Hy het die vreugde van Lidda dadelik verlaat en hom na Joppe gehaas, want daardie warm klimaat het genoodsaak dat die liggaam so gou moontlik begrawe word.

Met sy aankoms het die leiers hom na die bokamer geneem waar die bleek lewelose liggaam uitgestrek op die bed gelê het. Intussen het die weduwees van die dorp na hulle huise gehaas om die bo- en onderklere wat Dorkas vir hulle gemaak het, te gaan haal. Elkeen het ‘n armvol daarvan gehad en snikkende daarmee voor Petrus gestaan. Met trane wat oor hul wande rol, het elkeen vertel wat Tabita vir haar beteken het. Die ou groot, robuste visserman was sekerlik diep geraak. Wat kon hy doen?

Ons lees verder: verse 40 tot 43:

En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. 41  En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. 42  En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. 43  En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier. 

Petrus moes bevestiging van God ontvang het dat dit Sy wil was om Tabita tot die lewe terug te roep. Hy kon dit egter nie in die teenwoordigheid van hierdie huilende skare doen nie. Sommige het geloof gehad vir die wonderwerk wat God wou doen; anders sou hulle hom nie laat kom het nie. Die meeste het egter waarskynlik net hartseer en trane ervaar; en trane sal nie ‘n wonderwerk bewerk nie. God wil geloof hê. Daarom het Petrus hulle almal uit die kamer gestuur, neergekniel, weggekyk van die lewelose liggaam, op God gefokus en gebid.

Daarna het hy na die roerlose liggaam gedraai en die volgende geloofswoorde geuiter: “Tabita, staan ​​op.” Toe het God se magtige krag, waardeur hy Christus uit die dood opgewek het, in hierdie bovertrek vaardig geword. Tabita het se oë het geflikker, oopgegaan en na Petrus gedraai. Toe sy hom sien, sit sy regop, vat die ou vissersmanhand wat na uitgestrek word en staan op uit die dood.

Buite het die weduwees angstig gewag, biddend. Was dit moontlik? Kon so iets werklik gebeur. Toe gaan die deur oop en … daar staan Petrus, met die lewende, laggende Tabita in haar doodskleed aan sy sy. ‘n Gillende gejuig (soos wat net opgewonde vroue dit kan doen) laat die huisie bewe. Dorkas storm die trappe af na hulle en hulle na haar en Petrus druk sy ore toe en maak hom uit die voete. Waar kan ‘n man ‘n beker koffie kry om jou droë keel te streel? En deur die strate weergalm die boodskap; Dorkas het uit die dood opgetaan; sy leef weer, net soos Jesus herleef het. En die kindertjies vertel vir hul maatjies: “Tannie Tabita is lewendig en sy spook nie.”

Vriende, ons Here Jesus is vol deernis en Hy, dink ek, huil nog dikwels as ons huil. Laat ons ook onthou dat Hy met sy hemelvaart gesê het: “Aan My is alle mag gegee; in die hemel en op aarde, gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.” Wanneer ons op Sy opdrag reageer deur dissipels te maak, kan ons verwag dat ons pogings met wonderwerke gepaard sal gaan.

Daar is nog twee vrae waaraan ons met betrekking tot hierdie voorval aandag moet gee. Die eerste is “Waarom het God toegelaat dat Tabita sterf?” Ek dink die antwoord is dat sy toegelaat is om te sterf sodat die Here Jesus verheerlik kan word en dat die gelowiges se geloof deur haar opstanding versterk kon word. Die rede waarom ons dit sê, is dat, toe Lasarus gesterf het (sien Lukas 11:4 en 15) en die boodskap Jesus bereik het, het Hy gesê dat hierdie siekte nie tot die dood was nie, maar dat die Seun van God verheerlik en die geloof van Sy dissipels in Hom versterk kon word.

Die tweede vraag is: “Mag ons ook bid dat ‘n dooie opgewek word?” Ek dink die antwoord is “ja”, maar ons moet seker wees dat God dit wil doen. Petrus het waarskynlik by die Here navraag gedoen voordat hy Tabita beveel het om op te staan. Ons moet nie vergeet nie dat, vir ‘n gelowige om te sterf, beteken om in die ewige heerlikheid in te gaan; om sy of haar loon te gaan ontvang. Dink u dat so iemand regtig na hierdie lewe sou wou terugkeer? Verseker nie. God sal dit ook nie bewerk nie, tensy dit vir Sy eer en tot voordeel van sy Koninkryk is. As die Here vir Petrus, nee gesê het, sou hy na die wagtende skare moes terugkeer en sê: ‘Jammer, maar die Here het gesê: “Nee”‘. Einde van die storie.

En nou gaan ons voort om die volgende hoofstuk van Handelinge te bestudeer.

D. CORNELIUS.

Handelinge 10 verse 1 tot vers 8.

En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. 2  Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. 3  Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! 
4  En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. 5  Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6  Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. 7  En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, 8  en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe. 

In die Skrifgedeelte wat ons pas gelees het en die wat later volg, sien ons hoe dat God diegene wat verlang om Hom te leer ken, of meer intiem te leer ken, dit gee waarna hulle smag; waarvoor hulle bid. Ons sien ook hoedat die Here hulle wie se bekers Hy reeds geestelik volgemaak het, gebruik om die bekers te vul van hulle wat nog maar net ‘n paar druppels Godskennis ontvang, maar dit nogtans benut het. Hy gebruik die kundiges om die onkundiges in sy weë te onderrig; die een hand om die ander te was. So word en bly albei skoon.

 Spr 11:25:  Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf. 

Die bietjie vol beker in hierdie geval, was die leier van ‘n regiment van 100 soldate van die Romeinse leër. Hy was gestasioneer in Cesaréa, ‘n belangrike hawestad aan die Middellandse See. Italianer van geboorte, was hy nou vêr van sy vaderland. ‘n Soldaat, ja, maar anders as die meeste weermagmanne van sy tyd. Hulle was maar taamlik wêrelds, roekeloos, spottend teenoor diegene wat God liefgehad het. Hy egter was “vroom en godvresend,” en het baie tyd in gebed deurgebring. Sy verhouding met die Here is verder prakties gedemonstreer deur die aalmoese wat hy aan die armes gegee het. Hy het ‘n goeie naam by die Joodse gemeenskap gehad het en ook sy familie en medesoldate beïnvloed om die Here te dien.

Hy het egter nog nie die lig van die Evangelie gehad nie. Die Here Jesus het die ernstige begeerte in sy hart gesien om meer te weet en God op ‘n dieper manier te leer ken. Toe stuur Hy ‘n engel met ‘n boodskap na hom. Skrik het Cornelius oorval maar die engel het hom dadelik gerusgestel deur vir hom te vertel hoe sy gebede en aalmoese tot die Heer se kennis gekom het. Dit was juis omdat God ‘n welbehae in hom gehad het, dat hy nou as boodskapper vanaf die Troon na hom gekom het. Hy moes na Joppe stuur om ‘n sekere Simon Petrus te laat haal. Deur hom sou die Here hom verdere openbaring oor sy wil en weë gee. Cornelius het geen tyd verspil nie maar dadelik drie toegewyde, betroubare manne na Joppe gestuur.

Laat ons nou kyk hoe God, Petrus se hart en verstand voorberei het vir hulle aankoms. Hy, Petrus, was, soos ons weet, ‘n toegewyde Christen en ook ‘n apostel. Terselfdertyd was hy ook ‘n toegewyde Jood wat nooit in die huis van ‘n heiden, dit is, ‘n nie-Jood, sou ingaan nie. Hy het geglo dat hy homself daardeur geestelik voor God sou verontreinig.

Vir ons mag dit baie vreemd lyk, meer nog so, aangesien Petrus toe reeds in Samaria bedien gehad het waar talle Samaritane, nie-Jode, Christus deur Filippus se bearbeiding gevind het. Petrus het selfs vir hulle gebid en gesien hoe hulle deur die Heilige Gees vervul is. Tog kon hy nog nie glo dat God geen verskil tussen ‘n Jood en ‘n heiden maak nie. Miskien het hy gedink dat ‘n Samaritaan, wat tradisioneel darem ook in Abraham geglo het, nie soseer ‘n heiden was as ‘n Italianer of Romein of wat ook al nie. God het hierdie ingesteldheid van Petrus baie goed verstaan. Hy het dus geweet dat Hy iets drasties sou moes doen om Petrus se verstand verder te verlig om te dink soos wat Hy dink, sodat hy bereid sou wees om die drie boodskappers na Cornelius se huis te vergesel.

Kom ons lees nou hoofstuk 10 verse 9-23:

En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; 10  en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11  hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12  Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13  Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14  En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15  En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16  En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. 

17  En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. 18  En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 

19  En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. 20  Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. 21  En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? 22  En hulle sê: Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. 

23  En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan. 

Laat ons begin deur te vra waarom Petrus gesê het dat hy nie daardie diere sou eet nie omdat hulle onrein was. U mag onthou dat ons in die loop van ons studie van sekere Ou-Testamentiese boeke soos Levitikus, afgekom het op God se gebooie wat die Israeliete verbied om sekere diere te eet. Die Here het hulle as onrein geklassifiseer omdat hulle onrein gewoontes gehad het; gewoontes soos om die vleis van ander diere te eet, wurms te eet, vuil kos te eet, ens. Hierdie gebod was bedoel om God se volk te leer dat wat Hy onrein geag het, hulle ook as onrein moes beskou. Dit was om hulle te leer dat sekere gedagtes en dade van die mens, Hy as moreel onrein beskou, en daarom as sonde geag het. ‘n Persoon wat daaraan sou toegee, sou geestelik besoedel word. Die morele les vervat in die voorbeeld om nie hierdie of daardie dier te eet nie, was dus wat werklik saak gemaak het. 

Jesus het egter, toe Hy aan die kruis gesterf het, daardie Wette van dit of dat nie te eet nie, vervul, sodat net die morele wette oorgebly het; wette soos om nie teen God te sondig deur te steel, te vloek of leuens te vertel nie. Dit was dus nie meer nodig vir Petrus, of enige ander Jood, om daardie wette langer te onderhou nie.

Die Here het verder aan Petrus verduidelik dat Hy nie, toe Hy die hemel en aarde geskep het, sommige diere onrein gemaak het nie; almal was aanvanklik rein. Hulle het na die mens se sondeval eers onrein geword deur die onrein gewoontes waarin hulle verval het. Net so het God nie sommige mense onrein geskape nie; almal was rein toe hulle geskape was. Die mens het onrein geword en word onrein, deur te sondig. 

Dit is waar, nie net van die heidene nie, maar ook van die Jode; net soos wat dit waar is dat alle volke deur die Bloed van Jesus van hulle sonde gereinig kan word. Dit was dus onvanpas vir Petrus om sekere mense as onrein te sien; ook dat hy homself geestelik sou verontreinig deur met hulle te meng, in hul huise in te gaan of saam te eet soos hy deur sy voorvaders geleer was.

Petrus was op daardie oomblik honger en kon inderwaarheid vryelik enige van daardie diere op die laken geslag en geëet het. Net so was God honger, het hy gesmag na die redding van die hele mensdom; na die bevryding van alle volke, nasies en tale. Met hierdie komiese beeld van die diere op die laken, wou Hy Petrus van sy verkeerde opvattings bevry om hom te kon gebruik om die Evangelie na die heidene te neem. 

Petrus was verstom. hy het nooit so daaraan gedink nie. Maar waarom het die Here hierdie openbaring aan hom gegee? Terwyl hy nog wonder, is daar ‘n klop aan die deur en sê die Heilige Gees vir hom: “Simon, drie mans soek jou. Staan op en gaan ondertoe. Moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.” Petrus, wat die stem van God geken het, het toe mooitjies afgegaan, hulle ingenooi en vir die nag gehuisves.

Ons lees verder: hoofstk 10 van vers 29b tot vers 48:

… Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. 30  En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, 31  en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. 32  Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. 33  Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. 
34  En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. 36  Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal. 37  Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, 38  met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. 39  En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang. 40  Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn 41  nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. 42  En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. 43  Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. 
44  En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 45  En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. 46  Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: 47  Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? 48  En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae te bly. 

Ons let op enkele feite. Eerstens sien ons dat Petrus, alhoewel hy ‘n duidelike opdrag van God gehad het om hierdie heidense mense na hulle huis te vergesel, geweet het dat hy uiteindelik verantwoording sou moes doen aan die ander leiers wat nie hierdie openbaring gehad het nie. Hy het dus wyslik ‘n aantal van sy mede-Joodse Christene gevra om hom te vergesel sodat hulle uiteindelik saam met hom kon getuig van alles wat gebeur het. Christenleiers moet voortdurend leiding van die Heilige Gees ontvang om hulle voetstappe te rig. Hulle kan so maklik onvoorsiens veroorsaak dat ‘n gemeente skeur. Die wat in die Gees wandel, sien die strikke wat satan vir hulle stel en vermy dit wyslik.

Tweedens is dit verstommend watter geweldige respek hierdie bevelvoerder van ‘n regiment Romeinse soldate vir Petrus gehad het. Hy het eintlik in aanbidding voor sy voete neergeval. Dit is ‘n les vir ons as Christene om ons Godgegewe leiers te respekteer; veral dié wat duidelik deur God gebruik word en veral dié wat God duidelik geroep het om ons te onderrig. Dit sê natuurlik nie dat ons hulle moet ophemel nie, maar ons moet respek toon volgens die leiding van die Heilige Gees. Petrus het natuurlik die regte ding gedoen om te sê: “Nee, moenie dit doen nie, want ek is net ‘n mens, net soos jy.”

Ons let derdens op hoeveel mense Cornelius na God getrek het, ten spyte van sy gebrek aan begrip van Sy weë.

Wat ons ook van Petrus kan waardeer, is dat hy nie net ingestap en vir hulle wat daar vergader het, begin preek het nie. Hy het eers vir Cornelius gevra waarom hy hom laat roep het. As bedienaars van God se Woord moet ons nederig wees en die mense wat ons probeer help, respekteer. Ons houding moet wees: “Jy het my geroep; hoe kan ek jou bedien?”

Nadat hy sy gasheer geëer het deur hom die eerste geleentheid te gee om te praat, het Petrus die Evangelie met hulle begin deel en hoe mooi was sy eerste woorde: ”Ek besef nou hoe waar dit is dat God nie sy guns net aan sommiges bewys nie, maar dat alle mense uit elke nasie wat Hom vrees en doen wat reg is, hom welgevallig is.” Hierdie aangename woorde moes die harte van sy hoorders oopgemaak het om te aanvaar wat sou volg.

Hy het toe voortgegaan om aan hulle die verhaal te vertel van Jesus wat deur die hele land al wat mens was, gedien het, gekruisig is, uit die graf opgestaan ​​het en wat kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Toe hy nog besig was om te verduidelik hoe al die profete van Jesus getuig het en dat elkeen wat in Hom glo vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang, het die Heilige Gees op die hoorders geval. Dit het gebeur presies net soos wat Hy vroeër met betrekking tot die Joodse gelowiges gedoen het. Dit beteken dat Hy waarskynlik op ‘n sigbare en hoorbare manier gekom het, soos deur wind en vuur op Pinksterdag. Dit was God se manier om aan almal te demonstreer dat Hy, op grond van die geloof wat Hy in die harte van hierdie gelowiges gesien het, hulle as Sy kinders aanvaar het. Hy het daardeur duidelik gewys dat Hy nie sekere mense bo ander ag nie. Nee, almal wat hulle geloof in Jesus Christus as hul Here en Verlosser stel, sal gered word en die ewige lewe ontvang.

Die Joodse gelowiges was verstom en Petrus het sonder om te huiwer beveel dat hierdie nuwe gelowiges in water gedoop word om van hul nuutgevonde geloof te getuig. Dink net aan die uitbundige vreugde van hierdie heidense mense, toe hulle besef dat God hulle net so liefgehad het soos die Jode.

Let ook op Petrus: ‘n week gelede sou hy nooit kon droom dat hy eersdaags in die huis van ‘n heiden sou ingaan en daar vertoef nie. Nou bly hy sommer nog ‘n paar dae daar by hulle oor in die huis van Cornelius.

Loof die Here vir Sy liefde en genade vir alle mense!

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK →  Petrus bedien Eneas, Tabita en Cornelius. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

//////////

Ons verneem graag hoe u hierdie studiegids ervaar het. Gebruik asb. die onderstaande kontakvorm vir u kommentaar. Baie dankie. Vrede en vreugde.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha