WATERPYPLYN
- Die kontrakteur verwag om die lê van die pype teen 14 Augustus te voltooi. Daarna moet Justisiestraat, waarlangs die pyplyding loop, behoorlik met ‘n padskraper gerestoureer word sodat die projek teen einde Augustus afgegee kan word.
- Centlec het nog nie begin om die oorhoofse lyn te bou om die pompstasie van elektrisiteit te voorsien nie.
ELEKTRISITEIT
Professor Doreen Atkinson berig dat Centlec die eletrisiteitstariewe vir Kopanong onlangs met 35% verhoog het. Eskom daarenteen was ‘n verhoging van slegs 12% toegelaat. Die DA het die aangeleentheid met NERSA (die nasionale elektrisiteitsreguleerder) opgeneem, en ons sal mettertyd verder ingelig word.
BEGRAAFPLAAS
Ons nuwe eenheidsbestuurder by Kopanong, Mnr Phatela, het toegesien dat ons begraafplaas skoon geskoffel word. Dit lyk nou sommer baie beter maar die hopies gras moet nog verwyder word. Ons waardeer die vordering wat gemaak is.
SIEKES
- Daan Pretorius is nog in sy woonstel in Krugersdorp en is selfversorgend.
- Danie en Chrisna van den Berg gaan nou tuis voort met hul normale lewens. Chrisna beweeg al sonder ‘n loopraam rond. Danie is in ‘n rystoel en sal vir nog ‘n weeklank deur ‘n inwonende verpleegster versorg word.
- Rina le Roux is baie gelukkig in die Trompsburg tehuis vir bejaardes. Sy sal DV op 17 Aug. ‘n dikdermoperasie in die Universitas hospitaal ondergaan.
- Klein Beneke is terug vanaf Pretoria en soveel beter dat hy sonder hulp kan rondbeweeg, maar is nog op medikasie.
VERJAARSDAE
Richard Proctor-Sims wat, vergesel van sy vrou Viola, vir ‘n rukkie in Italië was, is weer tuis en het op 29 Julie sy 80ste verjaarsdag gevier. Sy gesondheid is nog goed en hy beplan vir ‘n verdere 20 jaar “down here below,” en wil in besonder ‘n aktiewe rol speel t.o.v. Philippolis se welsyn. Ons haal hom aan: “In 2022 Philippolis will be able to celebrate a bicentennial. So I now offer Oom Japie se Huis as a venue from 17.30 every Friday to discuss ideas and plans for our 200th anniversary.”
BESIGHEDE
- Foodzone is nog op koers om oor te gaan in die hande van een van ons bekende plaaslike inwoners.
- Liesl Stark (voorheen van Philippolis) en haar man Ian, het op 21 Julie die plaaslike prokureurs-praktyk oorgeneem en sal gediversifiseerde dienste lewer soos verteenwoordiging in die howe, eiendomsverkope- en oordrag , boedelbereddering, opstel van testamente, ens. Hein Buxman van S.A. Trust Makelaars, Bloemfontein, sal periodiek hierheen genooi word om belangstellendes te bedien ten opsigte van die bekomming van mediese befondsing, kort-, langtermyn- en begrafnis versekering, ens. Hulle is ook besig om ‘n prokureurspraktyk op Trompsburg te open. Ian is eintlik in die sivielekonstruksiebedryf maar wil eers vir Liesl help om die prokureurspraktyke op dreef te kry. Hulle woon te Tobie Mullerstraat 45.
INTREKKERS, WEGTREKKERS EN BEMARKTE EIENDOMME
- Ina Marais het onlangs ‘n huis gekoop en ingetrek oorkant die parkie, reg langs Rina Coetzee. Sy was vir 25 jaar lank bibliotekaresse van die biblioteek van die Nasionale Museum in Bloemfontein. Op versoek van Retha du Plessis met wie sy bevriend is, het sy haar kundigheid deur die jare ook in die Bergmanshoogteskool se biblioteek aangewend deur, onder andere, hul boeke te restoureer. Nou, by aftrede, het haar kinderdae agtergrond van ‘n plaaslewe in die Petrusburg distrik, die deurslag gegee om in die platteland af te tree en het sy op Philippolis besluit. Sy sien daarna uit om in die gemeenskap betrokke te raak.
- Lena Benade is deur Ina, met wie sy ook jarelank saamgewerk het, oorgehaal om haar ook in Philippolis te vestig en het ‘n huis (Philipstraat no 9) oorkant die veearts se spreekkamer, gekoop. Sy gaan nou eers in Australië by die kinders kuier en beoog om so teen die einde van die jaar in te trek.
- Suzanne Pienaar wat reeds na Bloemfontein verhuis het, het haar woning wat oorkant die hoërskool geleë is, vir ‘n goeie koopsom verkoop aan Klaas le Vubu, ‘n padboukontrakteur.
- Sakkie en Alfrieda Smit het vanaf Parys hierheen verhuis en woon te Tobie Mullerstraat 57. (Waar Alfrieda se oorlede moeder, tannie Deseré Jansen van Rensburg, vroeër gewoon het.) Sakkie was op Sasol verbonde aan NATREF se petrolraffinadery en Alfrieda het twee jaar lank ‘n boutiek gehad. Sy het as skolier vir ‘n tydlank by haar ouma in dié huis tuisgegaan. Hulle het reeds heelwat verbeterings binne die huis laat aanbring.
- Annette Williams en haar twee kleinseuns het verhuis na Brooklyn, Kaapstad om aan te sluit by haar dogter Angie wat daar ‘n betrekking bekom het.
UITGEWER
Hierdie nuusblaaitjie word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe (083 2761887) en kan ook elektronies gelees word by https://pottebakker.co.za/category/nuus/.
Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.
TIGER CANYONS NUUS
Verlede Saterdagnag het ‘n dominante Asiatiese tiermannetjie, Sariska, sy tier gevind toe hy deur ‘n jonger mannetjie, Mahindra, doodgebyt is – ‘n skade van meer as R100 000. ‘n Tweede tier is ook erg beseer. Sariska kon darem gedurende sy leeftyd pa staan vir ‘n hele aantal welpies. Die tierplaas beskik nou oor 25 tiere en 9 jagluiperds. Nog ‘n plaas, Klein Kaliesfontein is onlangs van Bill Schoeman aangekoop om vir die groeiende tierbevolking voorsiening te maak.
CHRISTELIKE AKTIWITEITE
- Dr Carin van Schalkwyk, leraar van die NG Kerk, is tans met verlof in die VSA waar sy by ‘n Presbiteriaanse Gemeente besoek aflê en ook met Roezan Schoeman se dogter Elisabette kontak het. In haar afwesigheid neem ds. Cloete en ds. Schalk Strauss van die APK van die dienste waar. Sondagoggenddienste is om 10vm.
- APK eredienste word normaalweg Sondae om 10 vm gehou in die Waterkloof kerkgebou. Elke 1ste en 3de Sondag van die maand word die dienste deur ‘n leeraar gelei.
- Gereformeerde Kerk Sondagoggenddienste is normaalweg om 9.30vm.
- Fanie en Adelé Venter se huisbyeenkoms is op Dinsdagaande om 6.30; almal welkom. Skakel hulle by 051 773 7049.
- Vir gebed en geestelike berading, skakel Ben Lubbe by 083 276 1887.
BYBELSTUDIE-MATERIAAL
Ons het so pas ‘n reeks van drie studiegidse oor die lewe van Abraham op ons webwerf geplaas. Om daardie godsman se lewe te bestudeer, was vir my tot groot seën en ek is oortuig dat die studiemateriaal ook vir andere tot seën sal wees. Ons almal se geloof word elke nou en dan beproef en hierdie verhaal gaan oor ‘n man en vrou wat die geloofspad enduit geloop het, al het hulle soms hard geval. Lees net eers die Skrif en bepeins dit voordat jy die studiegids raadpleeg. Die Skrif is belangriker en die Heer sal vir jou persoonlik insigte gee wat ek nie gekry het nie. Hier is die skakel: https://pottebakker.co.za/abraham-deel-1-gen-12-15/ .
DIE BRITS-ISRAELI “VISIE”
Waar ek vroeër net gerugte gehoor het dat daar volksgenote is wat ontdek het dat hulle van Britse herkoms is, wat op hulle beurt weer nasate van die tien “verlore stamme van Israel is,” het ek nou onlangs twee sulke dierbare mense in lewende lywe ontmoet.
Om in hierdie beknopte nuusbriefie daardie standpunt teks vir teks te probeer staaf of weerlê, sal ‘n onbegonne saak wees. Laat ons eerder so ‘n bietjie terugstaan en oorhoofs uit ‘n ander hoek daarna kyk.
Wat ‘n mens eerstens opval, is dat dit ‘n oortuiging is wat eers in 1880 onder ‘n groepie mense in Brittanje posgevat het. Hulle het begin glo dat hulle as Britte deur die Here hoër geag was as ander volkere omdat hulle gemeen het dat hulle nasate was van die tien stamme wat eerste in ballingskap gegaan het en op grond daarvan in ‘n hoëre rangorde was om deur die Heer gesëen te word en ook ‘n baie beter kans op redding gehad het. (Dat daardie 10 stamme van Israel in totale afgodery verval en deur God in die hand van hul vyande oorgegee was, het blykbaar nie baie saakgemaak nie. Verder kan niemand met redelike sekerheid sê wat van hulle geword het nie.)
Presies wanneer sommige van ons Boeremense hierdie nuwe waarheid ontdek het, kon ek nie mooi bepaal nie.
‘n Dankbare gedagte wat my egter te binne geskied het, was dat dié ontdekking nou meer onlangs eers hier rugbaar geraak het, lank nadat my dierbare Ouma Lenie heengegaan het. As sy na al die lyding en vernedering in die Norvalspont konsentrasiekamp moes hoor dat sy in der waarheid bloedbande met die Kakis gehad het, weet ek nie of al die “salvolatile” op Cohen se winkelrak haar weer uit haar floute sou kon bybring nie.
Dit is inderdaad verbasend dat stoere Boere wat tot onlangs toe nog ‘n lansie met die Engelse gemeenskap te breke gehad het as gevolg van vroeëre Britse oorheersing en die Anglo Boere Oorlog, nou nie net met hulle versoen geraak het nie, maar hulleself selfs as nasate van dáardie volk beskou deur linie van die tien verlore stamme van Israel! Sou diesulkes nie ‘n klompie jare gelede as “joiners” en “hensoppers” beskou gewees het nie? Wys net hoe onvoorspelbaar die mens is.
(Dat ons met mekaar versoen geraak het en nou op elke terrein lustig saamwerk, is natuurlik ‘n pragtige veer in die hoed! Dit getuig van die vermoë en gewilligheid om te vergewe. Dit is in lyn met die lering van Christus en die resultaat daarvan was dat ons die land saam kon opbou en almal die vrug daarvan kon pluk.)
Maar terug na die Brits-Israeli “visie”. Dit het nie gebly by: “Ek staan voor jou in die tou as dit kom by guns by God nie”, maar het oorgegaan in ‘n oortuiging dat baie ander volkere glad nie eers in die reddingstou kon inval nie.
In ‘n boekie wat my oor dié onderwerp in die hand gegee is, word beweer dat ook die herkoms van die nie-Europese volkere uit die Bybel verklaar kan word. Sommige van hulle sou dan nasate van die duiwel wees wat van tyd tot tyd deur die geskiedenis met vroue omgang gehad en vir homself ‘n geslag verwek het. Sulke mense-wesens, so word verklaar, kan glad nie deur die Bloed van Jesus gered word nie “al sou hulle dit met trane vuriglik begeer.” Hulle is dus selfs slegter daaraan toe as die gevalle engele wat darem ook deur die genadige Heer ‘n kans gegun was om vír, of téén Hom te kies. Hierdie groep het egter geen keuse nie; soos in Engels gesê word: “Tough luck.”
n Ander “siening” uit dieselfde “skool”, meen weer dat ‘n baie groot gedeelte van die wêreldbevolking ontstaan het uit die mens se geslagsomgang met diere en dat die wesens wat hieruit voortgespruit het, diere is en geen gees het nie. Weer vind ek dit vreemd dat selfs ons “godvresende voorvaders” nooit dié insig in die Woord gehad het nie, maar dat sommige van ons dit nou eers ontdek.
Wanneer ‘n vreemde bossie skielik in ‘n weiveld opslaan, moes dié bossie se saad op een of ander wyse daar beland het; dit kan tog nie sommer uit die niet opgeskiet het nie. Wat dan, is die saad wat dié nuwe teologie nou skielik langs die ou-ou Tyding, die boodskap van God’s heil laat uitspruit het?
Is dit nie miskien die saad van woede en selfs haat, teenoor sekere volke vir dit wat hulle aanvang en ons tot nadeel strek nie? As ek vir my buurman kwaad word omdat sy beeste in my lusern beland en my groot skade berokken het, lyk hy vir my sommer gans anders as gister en eergister: sy een oor is groter as die ander en sy neus sit skeef en in alles wat hy sê, lees ek ‘n bybedoeling en sy grappies is ook glad nie meer snaaks nie. My woede is die saad, die oorsaak vir my “nuwe insig” of beskouing van my buurman.
Nou wonder ek net of die woede wat sommige van ons teenoor sekere ander volkere koester, nie dalk die saad is waarom ons die Skrif skielik anders lees en “waarhede” daarin inlees wat ons beter oor onsself laat voel en maak dat ons hulle sonder ‘n oog se knip onder die mat invee nie? Wanneer ek magteloos is om myself teen iemand te verweer, “help” dit darem as ek ‘n wrok in my hart teen hom loop en koester. Dit verlig my pyn; nie waar nie?
Is hierdie “visie” nou nie maar ‘n geestelike bloeddruk- of pynpillietjie nie? As ek nou bv. in Kanada gewoon het, ver verwyderd van die volke wat nou so ‘n doring in my vlees is en iemand sou dié ideologie Sondag van die kansel af verkondig het, sou ek dit net so gretiglik geglo het?
Die Heilige Gees swyg in die ontstoke gemoed en daarom kan Hy my nie in alle waarheid lei wanneer dit kom by die uitleg van die Skrif terwyl ek bitter is nie.
Die tragedie daarvan is dat ek myself eintlik hierdeur in die voet skiet. Enige onwaarheid wat ek glo, skep ‘n kloof tussen my en die Here. God sal die leuen nooit seën nie. Wanneer ek deeltjies uit die Woord uitsoek om my onstuimige gemoed te kalmeer, skend ek die Boodskap dat God begeer om aan alle mense genade te betoon, en draai die Here Sy aangesig van my af weg.
Laat ons die oordeel maar liewer aan God oorlaat want Hy sê: “My kom die wraak toe; Ek sal vergelde.” Baie jare gelede was dit my dagtaak om mense se oortredinge aan te hoor en die skuldiges te straf: boetes, “latjies,” of tronkstraf. Ek het dit nooit regtig geniet nie. Dit was nodig, maar nie lekker nie.
Kom ons laat hierdie onaangename taak aan die Heer oor en kies eerder die lekker deel van die lewe. Waarheid en vergifnis laat die vrede van God soos sonlig in my hart instroom, dit wat geen geld kan koop nie. Dit sit ‘n huppel in my stap en ‘n lus vir die lewe in my gebeente. Kom ons vergewe en geniet dan liewer die dae van ons lewensjare op aarde.
GETUIENIS: MEINTJIES EN ELSIE LOUW
Ons is ‘n Bruin egpaar en woon jare lank al in Poding Tse Rolo, Philippolis. Almal hier rond weet hoe ons tevore geleef het toe ons die Here nie geken het nie. Meintjies het gedrink en ons het gedurig baklei. Ons huis was behoorlik deurmekaar. Ek, Elsie was in daardie tyd, na my ma se afsterwe, ook baie eensaam en het niemand gehad met wie ek my probleme kon bespreek nie.
Ons was (en is) lidmate van ’n kerk, die Verenigde Gereformeerde Kerk, maar vêr van God. Ons het na die Woord geluister, maar dit was vir ons toe, ‘n boek wat ons nie verstaan het nie. Toe, sowat drie jaar gelede was ons genooi om ‘n Christen dissipelskapklas wat in die dorp aangebied is, by te woon. Die Woord is van Génesis af vir ons oopgemaak en ‘n lig het vir ons begin opgaan. Ons het al meer en meer begin verstaan totdat ons begryp het dat Jesus Christus ook vir ons sondes gesterf het. So het ons Hom toe as Verlosser aangeneem en vrede in ons harte gevind.
Stukkie vir stukkie is ons van die sondes wat ons al die jare gebind het, bevry. Ons huwelik het ‘n vernuwing ondergaan. Drank het uit ons huis uit verdwyn; ons raak nie meer daaraan nie. Ons huis het ‘n huis geword waar die Woord bestudeer en waar gebid word. Nou kan ek, Meintjies, ook bid en die Here vra om vir my bouwerk te voorsien sodat ek vir my gesin kan sorg en Hy is ‘n hoorder van gebed.
Maar ons glo dat ons die Evangelie nie net vir onsself moet hou nie maar ons lig moet laat skyn waar ons ookal kan. As ouderling kry ek elke nou en dan geleentheid om die Sondagoggenddiens in ons kerk te lei en Elsie dien as diakones. Ons besef nou hoeveel dinge is verkeerd in ons gemeente; daar is baie werk om te doen. Sommige lidmate sit Sondagoggende by die huis omdat hulle iets teen die Kerk het; hulle moet teruggebring word. Andere weer neem deel aan die kerklike verrigtinge maar is vêr van God en wanneer ons die lig van die Woord op hulle laat val, gee hulle pad uit die Kerk uit. Ons het ook al Sondae ons bakkie gevat en uitgery na van die plase om ons mense daar te bedien en wil dit meer en meer doen.
Dit is nie maklik nie. Onsself het ook nou minder vriende as wat ons tevore gehad het, en ons leer ook maar nog om met die Here te wandel.
TV REEKS “ROER JOU VOETE”
Die TV reeks “Roer Jou Voete” waaarvan ‘n groot deel in Philippolis en distrik verfilm is, vertoon tans op Woensdagaande om 20h00 op SABC3.