Philippolis Nuus No 11; 2015-09-15

Die jongmanne wedywer vir nuwe rekords

Die jongmanne wedywer vir nuwe rekords

SKAAPSKEER

  • DG se skaapskeerspanne is die afgelope paar weke weer volstoom besig om te skeer dat die wolle waai. Behalwe vir die plase binne ons distrik, skeer hulle tans ook in die Winburg/Marquard omgewing.
  • Die jonger skeerders wat meer onlangs aangesluit het, probeer om vir hulself nuwe persoonlike rekords op te stel. So was een van hulle baie in sy skik toe hy die eerste keer daarin geslaag het om 201 skape op ‘n dag te kon skeer; dit is ongeveer 2,4 minute per skaap vir 8 ure. Voordat die moeë lywe saans bed toe kan gaan, moet die aandete ook nog eers voorberei en die skeerkamme vir die volgende dag se skof geslyp word – harde werk!
  • DG kan gekontak word by 082 413 8539.

WATERPYPLYN

  • Die kontrakteur moet nog een van die kleppe in die lyn voltooi wat teen 18 September afgehandel sal wees.
  • Justisiestraat, waarlangs die pyplyding loop, is weer gelyk geskraap en is oop vir verkeer.
    Centlec moet ‘n substasie oprig en ‘n oorhoofse lyn bou om die pompstasie van elektrisiteit te voorsien. Dit kan tot drie maande duur om te voltooi.
  • Daarna eers sal die pyplyn getoets kan word.
  • Alles inaggenome is dit onwaarskynlik dat die stelsel hierdie jaar nog in bedryf gestel sal kan word.

ELEKTRISITEITSTARIEWE

Professor Doreen Atkinson berig dat die elektrisiteitstariewe vir Kopanong wat onlangs deur Centlec met 35% verhoog is, deur die bemiddeling van die DA, nou deur NERSA (die nasionale elektrisiteits-reguleerder) met 9% verminder is. Dit bly steeds ‘n gevoelige slag vir die verbruiker maar ons is dankbaar vir wat bereik is.

SIEKES

  • Daan Pretorius is weer tuis. Hy het ‘n ernstige terugslag gehad toe ‘n dialise-apparaat na ‘n kragonderbreking gedisfunksioneer het, maar hy is oor die ergste en besig om sy kragte te herwin. Sy broer, Jan, ondersteun hom tuis.
  • Danie van den Berg moet ‘n klein operasie ondergaan sodra sy longinfeksie opgeklaar het. Chrisna beweeg nou al gemaklik rond sonder ‘n loopraam na haar heupvervangingsoperasie.
  • Rina le Roux se operasie was ‘n sukses. Sy voel sommer baie beter en word mooi versorg in die Trompsburg Tehuis vir Bejaardes.

BESOEKENDE SPREKER

Dr Bruce Copley, internasionaal bekende motiveringspreker, bied op 4 Oktober ‘n eendag “AAHA LEARNERSHOP” aan (08h00 -22h00). Onder sy kliënte is Nedbank, Sun International en UVS. “Bruce is a master communicator at the top of his game, one of the most inspiring human beings I have ever met in my life.” – John Varty. Skakel Deon Beneke by 082 956 291.

BESIGHEDE

  • FOODZONE se oorname deur een van die plaaslike inwoners is nog in die pyplyn maar sloer langer as wat verwag is.
  • BKB: Berina Jacobs het op 17 Augustus by Peet Blom oorgeneem as betuurderes van BKB en stel dit ten doel om, sovêr moontlik, al hul kliënte tevrede te hou. Groot hoeveelhede nuwe voorraad is bestel, insluitende 50kg sakke kunsmis, waarvoor daar ‘n groot aanvraag is. Meer hardeware sal ook in voorraad gehou word. Hierdie tak het sewe personeellede in diens waarvan twee kassiere is, naamlik Margareth Smith en Deseré Rauls. Berina sal binnekort vir drie maande met kraamverlof gaan en sal deur Jacques Hendrikse van die Colesberg tak afgelos word. BKB kan gekontak word by 051 773 0022. Berina is getroud met PD Jacobs wat boerderye bedryf op Modderfontein en Seebos.
  • LAB-O-MAT word bedryf deur Uys Fick wat die besigheid ongeveer 7 jaar gelede na Philippolis verskuif het. Hier word allerlei elektro-meganiese masjiene vervaardig wat deur industrië aangewend word vir die vulling van bottels, sakkies en ander houers met vaste, sowel as vloeistowwe soos melk, vrugtesap, water en joghurt. ‘n Onlangse toevoeging is toerusting vir die verpakking van gesteriliseerde Codlingmoteiers in sakkies (sachets). Uys ontwerp al die toerusting self. Behalwe vir goeie binnelandse afsette, word die masjiene ook uitgevoer na lande soos Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, Angola, Kenia, ens. Kleiner komponente wat nie meer in die handel verkrygbaar is nie, word ook op aanvraag vir allerlei masjiene vervaardig. Die firma emplojeer agt vakmanne en ‘n sekretaresse. Die firma kan gekontak word by 051 773 0068.

NUWE INTREKKERS

Ben en Wilma Swanepoel het in Mei vanjaar ingetrek in hul huis te Tobie Muller Straat 89 (langs Attie en Elwena Pienaar ) wat vroeër bewoon was deur Wilma se ouers, Gawie en Annie Hough. Haar vader, Gawie, is op 24 September verlede jaar oorlede waarna haar moeder na Langebaan verhuis het. Ben was in diens by die Sentrale Gevangenis, Pretoria en het op vervroegde pensioen gegaan. Wilma, weer, was verbonde aan die SAPD waaruit sy bedank het. Albei is nog fiks en gesond en gereed om wat ookal opduik, aan te pak. Wilma het SA in verskeie lande, onder andere, Australië, Japan en Ierland in toutrekwedstryde verteenwoordig.

SPORT

  • Ons rolbanspan het nou al tot vyf lede aangegroei naamlik Piet Potas,  Wilma en Ben Swanepoel en Ben en Martie Lubbe. Ongelukkig sal die Trompsburgbaan binnekort vir twee maande gesluit wees vir sy jaarlikse opknapping. Bogrond vir dié doel is reeds afgelewer. Lede is self verantwoordelik vir die instandhouding van die baan.
  • Die Cape Argus Fietswedren is geskeduleer vir 6 Maart 2016 en maak voorsiening vir 35000 deelnemers. Die 109km roete sal gevolg word. Inskrywings volgens ‘n nuwe inskrywings-prosedure het reeds geopen.
  • Die PPA Mangaung Fietswedren vind plaas op 1 Nov 2015 met Grey Kollege as vertrekpunt. Inskrywings sluit op 19 Oktober.
  • Die VVA se Otterskloof Charity Challenge vind vanjaar plaas op Sat. 17 Oktober. Dit behels fietswedrenne, padwedlope en daarna sommer net gesellig saam verkeer. Skakel Lulani by 078 801 9776.

GEBOUE

Die Gereformeerde Kerkgebou en aangrensende pastorie is pragtig opgeknap.

REЁNVALSYFERS

Nicolaas du Plessis, Klein Waaihoek, Aug, geen, Sept 2 mm; Fanie Venter, Kareepoort, geen; Schalk Strauss, Strydfontein, 22 mm; Danny Gouws, Vissershoek, 8 mm.

PHILIPPOLIS SKOU

Die Skou word gereël vir 5-7 November. Meer besonderhede daaroor in ons Oktober uitgawe.

VVA

Ds Carin van Schalkwyk het die tuig neergelê as voorsitster van die Vrystaatse Versorgingsaksie en die organisasie word tans geherstruktureer.

GEBED

  • Gebed beteken om met God te kommunikeer – so eenvoudig as dit. Dit is ‘n gesprek met God.
  • Om met mense te kan kommunikeer, het die Here vir my ‘n mond en ore gegee; ‘n mond waarmee ek my gedagtes aan andere kan oordra en ore om andere se gedagtes wat hulle aan my wil oordra, te kan verneem. Gesprekvoering is dus ‘n oor en weer vloei van gedagtes. Dit is nie lekker om met iemand te gesels wat al die praatwerk doen en terselfdertyd sommer na homself luister ook nie. ‘n Mens voel half uitgesluit, geminag en later selfs verveeld.
  • Dit is oneerbiedig om ononderbroke met God te praat. Omdat Hy beter weet as jy, is dit net sinvol om Hom toe te laat om meer te praat as jy. Laat Hom toe om die gesprek te lei; dit sal jou insette ook meer sinvol maak. Ontwikkel jou geestelike gehoorsintuig sodat jy die sagte fluistering van die Heilige Gees wat jou gedagtes wil stuur, duidelik kan optel.
  • Die aangename, gemaklike en genotvolle vloei van ‘n gesprek met ‘n ander persoon, sal grootliks afhang van hoeveel ek en die persoon met wie ek in gesprek is, in gemeen het; of ons dieselfde belange deel. Dan kan ons urelank gesels en verryk en met nuwe insigte anderkant uitkom. Hoe meer jy met God in gemeen het, hoe meer sal jy jou gebedstye, jou omgangstye, met Hom geniet. Gaan dit vir my primêr om Sý wêreld, of om mý wêreld. As die dinge wat vir Hóm belangrik is, soos reinheid van hart en die seëning van ander mense buiten myself, vir my belangriker is as my eie daaglikse brood, sal ek geensins skade ly deur meer daaroor met hom te praat nie, want my wêreld is reeds ingesluit, geïnkorporeer, by Sy wêreld waarvoor Hy sorgvuldig sorg.
  • Gebed is seker die mees opwindende voorreg wat ‘n kind van God hier op aarde kan geniet. Dit is ondenkbaar, en tog onomstootlik waar, dat ‘n mens wat in terme van die onmeetlike kosmos net ‘n spikkeltjie stof is, met Sy Skepper kan kommunikeer en direk van Hom af antwoorde op sy gebed kan ontvang, bonatuurlike ingrypinge in sy omstandighede.
  • Laat ek sommer nou  begin om my gebed so ‘n bietjie aangenamer vir Hom te maak om na te luister. Laat ek probeer om vir 5 minute lank net dankie te sê vir al Sy lekker dinge wat ek geniet en om Hom te aanbid soos wat die engele daar bo in die hemel doen omdat Hy so ‘n wonderlike Persoon is. Op dié manier sal ek self ook baie meer genot uit my gebedstye met Hom put en tien teen een meer gebedsverhoringe op die koop toe beleef.

UITGEWER

Hierdie nuusblad word uitgegee deur Ben en Martie Lubbe. Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *