Philippolis Nuus No 7, 2015-05-15

SIEN DIE BLAD IN BREËR FORMAAT

WATERPYPLYN

Die dorp se nuwe waterpyplyn vorder ‘n bietjie rukkerig soos ‘n toentertydse melktrein wat elke nou en dan roomkanne by ‘n halte oplaai, maar dit vorder tog. Totale lengte wat gelê moet word, is 2km. Waarvan 1km reeds voltooi is. Die gedeelte teen die bult op na die opgaardam toe, is ietwat van ‘n tameletjie maar ook daar kruip die blou pyp opwaarts soos ‘n rusper teen ‘n telefoonpaal. ‘n Pompstasie moet ook nog gebou en nege belangrike kleppe geinstalleer word. Die kontrakteur moet die aanleg in September afgee, maar verwag om dit reeds teen 1 Augustus voltooi te hê. Moedhou, nog net 2 ½ maande!

INTREKKERS EN WEGTREKKERS

Ina Steenkamp, tans hoof van die Biblioteek van die Nasionale Museum in Bloemfontein, het ‘n woning aangekoop in Kokstraat, langs dié van Rina Coetzee en trek DV einde Mei in. Sy is wel bekend in Philippolis en het ook van tyd tot tyd hulp verleen aan die biblioteek van die skool in Bergmanshoogte.

HUWELIKE

Abdullah Shahzaib (Pakistani) is op 2015-04-23 in die landdroskantoor in die huwelik bevestig met Marileen van Rooyen (SA). Abdullah bedryf ‘n selfoonwinkel in Voortrekkerstraat.

SIEKES

• Daan Pretorius is nog in Krugersdorp, maar nou in sy woonstel, waar sy kinders ‘n ogie oor hom kan hou. Hy word behandel vir nierversaking.
• Hannes Kok is aan die begin van Mei in die intensiewe eenheid van Medi Kliniek, Bloemfontein met long- en hartversaking opgeneem. Hy is intussen oorgeplaas na ‘n algemene saal maar ontvang nog behandeling.

MOTORONGELUK

Op 17 April, terwyl Marianne du Toit op pad was na Johannesburg, het haar motor se linkervoorwiel gebars met die gevolg dat die motor van die pad geloop, omgeslaan en op sy dak beland het. Die ongeluk het op die Trompsburgpad sowat 27km vanaf Philippolis plaasgevind. Sy is lig beseer maar beide die motor en sleepwa is onherstelbaar beskadig. Haar vyf katte wat elkeen in ‘n eie hok in die motor gereis het, het ongedeerd daarvan afgekom. Marianne woon en werk aan die Rand as sagteware-ontwikkelaar en kuier van tyd tot tyd in haar huis langs Thusong.

SKAAPSKEER- EN WOLHANTERINGSKAMPIOENSKAPPE

1. Die Vrystaatse kampioenskappe is gehou op die Trompsburg Laerskoolterrein op 17 April. Lede van Philippolis se DG Snyman skeerspan het in drie van die vyf kategorieë waarin meegeding is, die beste gevaar nl: Junior Masjienskeerders, 5/5; Intermediëre Masjienskeerders, 3/4 en Wolhantering Beginners, 3/4 finaliste.
2. Die Suid-Afrikaanse Nasionale kampioenskappe is tydens die Bloemfontein Skou op 24 April gehou. Ook daar het DG Snyman se span van 16 hul stempel afgedruk soos blyk uit die volgende uitslae (plekke behaal): Beginner wolhantering: 1,2 & 4; Junior masjienskeer: 1,2,3 &4 en beste kwaliteit; Intermediêre masjienskeer: 1,2 & 4; Kontrakteur masjienskeer: 1; SA masjienskeer: 2&3; Ope masjienskeer:3&5.

BESOEKERS

1. Drie Kovsie finalejaarstudente in arbeidsterapie, Karina, Diana en Carla, was vanaf 13 April vir 5 weke lank hier bedrywig met praktiese werk in die kliniek en by wyse van huisbesoeke. Dan het ons ook ‘n aantal fisioterapiestudente vir ‘n weeklank hier gehad. Ons is bevoorreg om deur soveel jongmense besoek te word, waarvan verskeie die Here ken en die plaaslike Chritengemeenskap deur hul bywoning onderskraag.
2. Prof Dorian Haarhoff besoek ons aan en af vanaf 8-16 Mei. Hy het op 11 Mei afgeskop met ‘n aanbieding van die vertelling van verskeie verhale van die skrywer Herman Charles Bosman. Dit was aangebied by Oom Japie se Huis en het gepaard gegaan met ‘n ligte ete en musiek verskaf deur drie van ons Philippolis musikante. Woensdagoggend het hy ‘n werkswinkel oor die samestelling van verhale aangebied. Hy beoog ook om plaaslike verhale te versamel. Indien jy graag ‘n interessante storie met hom wil deel, skakel Deon by 082 956 9291.

SPORT

• Die “Comrades”: Lulanie Vermeulen berei voor om op 31 Mei aan hierdie wedloop deel te neem. Dit is die wêreld se oudste en grootste ultra Marathon wat hierdie jaar oor ‘n afstand van 89km vanaf Durban na Pietermaritzburg (opdraand) beslis word. Sovêr is 22494 inskrywings ontvang. Die atlete spring om 05h30 weg en afsnyd is 12 ure later. Die eerste 10 mans en eerste 10 vroue verower goue medaljes. Die wat binne 7 uur 30 min klaarmaak, silwer en onder 11uur, brons. Verlede jaar se wenner het die afstand in 5:28:34 voltooi.
• Twee van ons Philippolis inwoners het ‘n paar maal op ‘n Saterdagmiddag ‘n bietjie balle gaan rol op Trompsburg se rolbalbaan. Baie lekker en die klublede is só gaaf. Balle kan by die klub geleen word. Ons verneem hoeka dat rolbal besig is om landswyd ook onder die jonger garde veld te wen. Net die regte medisyne vir ‘n jig rug. Kontak Ben by 083 276 1887 of Kobus op Trompsburg by 082 693 6319.

LEER MEER OMTRENT ONS REGERINGSKANTORE

DIE LANDDROSKANTOOR

Landdros: adv. Nic (NW) du Toit het op 18 jarige leeftyd by Dept. Justisie aangesluit en is reeds 20 jr lank te Philippolis gestasioneer. Hy beplan om binnekort af te tree en hom op Philippolis te vestig.

Ander personeel: Aanklaer: Leanre Smit; Tolk: Vivian Namba; Klerke: Madelein Grobbelaar, Charlotte Jantjies en Hester Mhlakaza.

Hofwerk: Strafhof: hanteer gemiddeld 20 sake per maand veral aanrandings, veediefstal, huisbraak en diefstal.
Sivielehof, baie min eise (ons mense skik sommer oor ‘n koppie koffie).
Famieliehof: aannemings, gesinsgeweld, en jeugmisdaad;
Hof vir klein eise dws vir nie meer as R15000 nie.
Hofverrigting word elektronies opgeneem en waar nodig deur ‘n kontrakteur getranskribeer.

As plattelandse landdroskantoor lewer dit ook agentskapsdienste aan ander staatsdepartemente bv. die voltrekking van huwelike, boedelregistrasie, invordering en uitbetaling van onderhoud, ens.
Hierdie gebou is onlangs opgeknap en vertoon goed van buite. Wanneer ‘n mens binnekant rondbeweeg, kan jy nie anders as om beindruk te word deur die netheid van die kantore en die professionele gedrag van die personeel wat getuig van goeie bestuur.

HULP AAN TROMPSBURG TEHUIS VIR BEJAARDES

Het jy dalk enigiets wat verkoop kan word ter hand; iets wat jy nou nie eintlik nodig het nie maar wat darem ‘n Rand of wat kan inbring om die Tehuis se fondse te sterk? Besorg dit asseblief aan Annatjie v.d. Westhuizen (Tobie Muller 37, 084 220 7995) of aan enige van die lede van die “Bo Sestigs Byeenkoms.” Baie dankie by voorbaat.

CHRISTELIKE AKTIWITEITE

1. NG Kerk Sondagoggenddienste is om 10vm.
2. Gereformeerde Kerk Sondagoggenddienste is normaalweg om 9.30vm.
3. Fanie en Adelé Venter se huisbyeenkoms is op Dinsdagaande om 6.30; almal welkom. Skakel hulle by ………………. .
4. Vir gebed en geestelike berading, skakel Ben lubbe by …………………… .
5. Die “Mighty Men” konferensie wat in die Middelburg distrik van 24 tot 26 April gehou was, is deur meer manne as in die verlede bygewoon. Angus was die hoofpreker en het ‘n besondere oproep op die “Generaals in God se weermag” (die manne bo 50) gedoen om hul geestelike leierskapfunksie te vervul. Uit ons Philippolis geledere is die konferensie bygewoon deur Fanie Venter, Pieter Jacobs, Johan Muller en hul twee seuns en vriende van so vêr as Pretoria af wat hulle vergesel het. Anita Muller en ‘n vriendin het vir die Sondagbyeenkoms deurgegaan. Lekker!

IN LIGTER LUIM

Sê Gamat vir sy tjommie: “Die lewe is kort my maat; ‘smile’ terwyl djy nog voortanne het.”

TE KOOP

• Pampoene: drie variante beskikbaar. Skakel Gerda by ………………………. .
• Skilderye. Kunstenaars Chris en Susan Haw. Tel 082 858 0499. Chris bied ook klasse aan in skilderkuns, so hier is ‘n geleentheid om jou verwaarloosde kunstalent te ontwikkel.

OORDENKING: UITGEBREEK EN REGGEKAP

Na koning Salomo se troonbestyging, was sy eerste groot taak om vir die Here ‘n tempel te bou. Sy vader, Dawid, het die bloudruk van God ontvang en deur die jare ‘n asemrowende hoeveelheid koper, silwer en goud vir dié doel versamel, maar die bouwerk moes oorstaan vir Salomo.
Op sy beurt het Salomo bouers van allerlei ambagte byeengebring om die klip, hout en metaalwerk te behartig. So, bv. het hy tagtigduisend klipkappers (1 Kon 5:15) na die klipgroewe in die gebergte gestuur om die rots uit te breek en op te breek in bruikbare lengtes van 4 tot 5 meter. Dié moes dan verder met hamers, beitels en sae afgewerk word. ‘n Mens kan jou net voorstel wat ‘n oorverdowende lawaai dit in so ‘n steengroef was en hoe die vonke onder die aanslag van die koubeitels gespat het. Soos wat elke bouklip voltooi was, is dit deur ‘n groepie manne uit die sewentigduisend draers na die tempel afgebring, want die geraas van hamers en koubeitels mog nie op die tempelperseel gehoor word nie (1 Kon 6:7). Binne sewe jaar was die werk voltooi en kon die tempel ingewei word.

In ons dag is ‘n baie groter tempelbouprojek besig om plaas te vind, want God is besig om uit die steengroewe van alle nasies dwarsoor die wêreld, lewende stene te laat uitkap en voorberei vir Sy ewige tempel. Elke nou en dan word hulle een vir een na die hemelse perseel weggeneem en wanneer die finale trompet sal blaas, sal die laaste groep vertrek. Dit is ‘n enorme taak. Elke steen moet hier op aarde klaar afgewek word, want daarbo moet hy volmaak in sy bestemde plek inpas.

Ek en jy is ook maar deel van hierdie aarde; aards, deel van die rots. Ons natuur is wêrelds. Tog sien die Here in elkeen die potensiaal om in Sy tempel te kan inpas, maar dan moet ons uitgekap en reggekap word. Sommige van ons is al 60, 70 jaar oud, maar nog stewig vasgevang in ‘n wêreldse leefwyse en klou krampagtig daaraan vas. Anders as ‘n lewelose klip, moet ons instem dat die Here in ons lewens kan begin werk want Hy gaan ‘n radikale verandering te weeg bring. Dit is nie Hyself wat ons sal seermaak nie, maar Hy sal die onaangename omstandighede wat deel is van elke mens se lewe, laat meewerk om ons te vorm. Die vonke gaan spat en die splinters gaan waai wanneer die klipkappers aan die werk spring; ‘n finansiële verlies, kwetsende woorde, ‘n geliefde wat sy rug op jou draai, siekte. “Eina, oe ééiina! Nee Here tog net nie daárdie beitel nie; nie daárdie klipdresseerder nie, hy/sy slaan sonder genade!” Kap, kap, kap! Jy kners op die tande, die trane loop, maar so word jy algaande verander na die Beeld van Christus, verloor jy jou knoetse en sien jy dat jy waarlikwaar reeds hier op aarde begin inpas in jou bestemde plekkie in Sy Koninkryk.

Moedhou, en volhou en nooit terugdraai na die klipgroef toe nie!

BYBELSTUDIE-MATERIAAL

Kos vir die siel. Kyk gerus ‘n bietjie na die Bybelstudie-materiaal en ander leestof in Afrikaans op hierdie webwerf.
Dit bevat diepgaande Bybelstudies oor die boek Genesis en die Evangelies, asook korter onderwerpstudies en “Kort Gedagtes” vir die haastige leser. Studiemateriaal kan gratis uitgedruk word sodat jy dit rustig onder die peperboom kan sit en bestudeer.

UITGEWER

Hierdie nuusblaadjie is uitgegee deur Ben en Martie Lubbe.
Alhoewel alle moontlike sorg gedra word om feite korrek weer te gee, aanvaar die uitgewer nie aanspreeklikheid vir onjuiste berigte nie.

Comments are disabled.