Plante en Diere, Praat!

KON PLANTE EN DIERE VOOR DIE SONDEVAL PRAAT?

(Vraag ontvang vanaf ‘n Pottebakker webwerf leser)

Skuus Ben, ek vra `n simpel ding:  Kon plante en diere voor die sondeval praat?? Indien ja – waar in die Woord lees ons daarvan??

Goeiedag Arnel (Skuilnaam),

Dankie vir jou vraag – ‘n kort vraag maar ‘n lang antwoord.

 PLANTE

Nêrens in die Woord vind ek enige aanduiding dat ‘n plant kon praat of dat die Here ‘n plant gebruik het om daardeur met iemand te praat nie – so op daardie vraag is my antwoord kortom: nee, plante kan en kon nog nooit praat nie. Plantlewe is ‘n laer vorm van lewe waaraan die Here die vermoë om te praat, nie verleen het nie.

(Ek het wel al gelees dat hulle deur chemiese afskeidings, beide bo-en ondergronds, sekere boodskappe aan mekaar of aan insekte kan oordra. Ook al gehoor dat hulle beter groei as iemand liefdevol met hulle gesels. (?)).

DIERE

 

Kon diere vroeër, selfs voor die sondeval, en dan nou ook deesdae nog by geleentheid praat?

‘n Mens wil amper sê “Gelukkig nie”, anders sou daar baie kwaai woorde geval het van mishandelde diere en selfs troeteldiere. Die enigste voorbeeld van ‘n dier wat sy sê kon sê in ons gevalle wêreld, is natuurlik dié van Bileam se donkie wat sy baas aangespreek het omdat hy hom so onregverdig geslaan het (Num 22:22–31 – lees asb.). Die Here het vir ‘n minuut of twee die gawe van intelligente denke en die verwoording daarvan in spraak, vir die donkie gegee. Dit was dus ‘n eenmalige wonderwerk om die profeet tot besinning te bring. Dit het ook nie om die donkie gegaan nie, maar om die baas. God se voortdurende gawe aan donkies is om te kan verduur en te kan dien – gawes wat ons as mense met groot selfverloëning moet aanleer. Die donkie moes leer praat – ons moet leer om stil te bly. So sien ek die saak.

Kon diere voor die sondeval praat? – die tweede deel van jou vraag. 

My antwoord is: dalk kon die slang (ek praat nou van die dier, nie die duiwel nie) wel praat en die rede waarom ek so bespiegel, is die volgende: Uit Eseg. 28 kan ons aflei dat die duiwel die heerlikste van al God se geskape engele was, maar toe hoogmoed in sy hart posgevat het, het hy teen God gerebelleer. Daarvoor is hy deur Hom veroordeel en uit Sy teenwoordigheid uitgewerp. In Openb.12:12 lees ons ook dat hy met groot woede na die aarde neergedaal het om God se skepping te gronde te rig.

Gedagtig daaraan dat die duiwel, voor sy val, die glorierykste van al God se engele was, is dit waarskynlik dat hy die slang as vennoot gekies het omdat dié, op daardie stadium, dalk weer die wonderbaarlikste van al die diere was. Hy het waarskynlik bene gehad net soos al die ander diere. Die Here het hom dit later ontneem as deel van sy straf. Hy kon ‘n besondere aanskoulike dier gewees het soos ‘n takbok, gemsbok, leeu of olifant en selfs vlerke gehad het soos ‘n arend waarmee hy die hemelruim kon benut soos amfibieë wat beide in water en op land kon leef. Hy was straks die leier van die diereryk; nader aan die mens as enige van die ander diere. Hy was natuurlik ook nie listig toe God hom geskape het nie, want God het alles goed geskape; hy was intelligent, skerpsinnig, maar dit het in listigheid ontaard toe hy aan die bose toegegee het.

Kon hy dalk selfs min of meer soos ‘n mens dink, sy denke in woorde omsit en met die mens praat? Dalk wel ja; anders sou Eva mos geskrik het toe hy (’n stom dier) skielik met haar begin praat het?

Kom ons neem dit ‘n stap verder: die feit dat die Here hom later vervloek het, dui daarop dat hy skuld gehad het aan Eva se verleiding. In regsterme kan ons sê dat die Here hom toerekeningsvatbaar geag het. Hy kon dus moontlik  onderskei tussen goed en kwaad. Miskien het hy willens en wetens toegelaat dat die duiwel hom as spreekbuis gebruik en deur hom praat. Sy skerpsinnigheid het oorgegaan in listigheid toe die slinkse duiwel van hom besit geneem het.

Nou ja, Arnel, dit alles is maar bespiegelinge, raaiskote. Die Here het dit nie nodig geag om daardie detail aan ons te openbaar nie; tewens die Skrif sê die geopenbaarde dinge is vir ons om te weet en die verborge dinge is vir God om te weet (Deut 29:29).

Die verskriklike les wat ons uit die duiwel se val moet leer is hoedat hoogmoed en selfverheffing tot diepe vernedering lei. Dink net daaraan hoe grusaam dit sou wees indien die Here die mens wat Hom uittart en Sy bestaan ontken, sou straf deur sy arms en bene weg te neem sodat die stompie ligaam en kop op die grond sou rondwriemel om oor die weg te kom. Aan die anderkant; hoe groot tog is sy genade dat Hy van elkeen wat na Hom kom, ‘n koningskind maak om met Hom in die hemele op sy troon te sit!

Geniet die Woord en geniet jou lewe in Hom,

Ben Lubbe

//////////

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm onderaan hierdie bladsy daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha