Psalm 117

Hoe het dit gewerk toe die Here eeue gelede vir ons die Bybel deur die bemiddeling van gewone mense gegee het? Het die persoon net passief toegekyk hoe die Gees van God van sy hand besit neem en onbekende woorde op papirus, vel, kliptafel of kleitablet voor hom verskyn? Het hy dan wanneer die sessie verby was, nuuskierig vooroor geleun om te sien wat neergeskryf was?

Gestel die geskrif sou ‘n streng berisping aan die koning van die land rig, sou die skrywer homself kon verontskuldig deur te sê dat dit uitsluitlik God se werkstuk was waarin hy geen verstandelike-, geestes- of emosionele aandeel gehad het nie? Ek dink nie so nie. God sou hom tog  in geheel gebruik het: gees, siel en liggaam. Die inhoud van die geskrif sou net soveel sy eie woorde wees, as wat dit die geínspireerde Woord van God was.

Dit volg dus logies dat die Heer die manne deur wie Hy die Bybel sou skryf, sorgvuldig uitgesoek het. Dit moes persone gewees het wat na aan Hom geleef, Hom gerespekteer en liefgehad het. Maar omdat hulle elkeen ‘n unieke persoonlikheid gehad het, sou hulle Hom, en die wandel met Hom, op verskillende maniere beleef het. Wat vir die een meer belangrik was, sou vir ‘n ander minder so wees, en andersom. Daarom kan ek my voorstel dat God, wanneer Hy ‘n sekere lering aan die mensdom wou deurgee, sou gesoek het na ‘n persoon wat daardie saak sterk op die hart gedra het.

Dit bring my by die kern van hierdie skrywe, naamlik Ps 117. In die vooruit beplanning van Sy Woord, wou God reg in die middel van die Bybel, die kortste van alle Skrif komponente plaas maar dit moes tegelyk die ganse Bybel in ‘n neutedop saamvat, soos gesien deur een van die uitstaande godsmanne van daardie tyd.

So het Hy dit dan beskik dat daar in ‘n sekere gelowige se hart (sy naam weet ons nie) die begeerte opgekom het om juis so ‘n gediggie te skryf wat moontlik ook getoonset en in godsdienstige samekomste as ‘n herhalende koortjie gesing sou kon word. Dit was nie ‘n maklik taak nie want hoe minder jou woorde moet wees, hoe sorgvuldiger moet jy hulle kies. Uiteindelik het ‘n vrede van God in sy gemoed gekom waarop hy dit neergeskryf en seker maar by die tempel gaan inhandig het vir oorweging deur die koorleier en die Hoëpriester. Dit het byval gevind maar wanneer dit formeel in die Bybel opgeneem is, weet ons nie. Kom ons kyk na die inhoud.

In die Afrikaanse ’53 vertaling, beslaan Psalm 117 net 27 woorde, opgedeel in twee tekse en is dit die heel kortste van al die Psalms. Wat dit ook nog van baie  van die ander Psalms onderskei, is dat dit nie ‘n uitstorting van die skrywer se hart oor sy eie pyn en lyding is nie, maar dat dit oor God gaan, net oor Hom. Kom ons skryf dit neer:

1 Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! 

2.Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja! 

Kosbaar! Hy het geleef in ‘n tyd toe Israel die uitverkore volk van God was. Vir die Israeliet het alles om hulleself gedraai, maar hierdie seun van Abraham was anders. Hy het in sy gees hoog bo hom ‘n geopende hemel en ‘n troon gesien. Op die Troon het die magtige Skepper van hemel en aarde gesit. Net soos die profeet Jesaja wat baie jare later sou leef, was hy totaal oorweldig deur die onbeskryflike majesteit wat hy aanskou het. Uitendelik kyk hy terug na die wêreld om hom heen. In sy gees sien hy al die nasies, volke en koninkryke versprei oor die ganse aarde. ‘n Oorweldigende drang dat hulle hierdie God moet ken en huldig, neem van hom besit en hy roep uit: “Nasies, loof die Here, volke prys Hom!.” Weer en weer spoel sy woorde oor die mensdom. Dan kyk hy verder deur die eeue na die massas wat nog gebore sal word en weereens, deur hierdie kompakte Psalm, beveel hy die menigtes: “Nasies, volkere, loof en prys julle God”. Ja in sy gees word hy verplaas tot in die Millennium wanneer daar waarskynlik meer mense op aarde sal leef as ooit tevore. Profeties roep hy diesefde woorde ook oor hulle uit. Wanneer hulle tyd aanbreek, sal predikers die geopende Bybel omhoog hou en oor die media uit Ps 117 voorlees: “O nasies, loof en prys julle God.”

Wanneer hy in Jerusalem se strate afstap en ongelowiges hom smalend vra: “En waarom nogal moet ons Hom loof?” antwoord hy uit sy hart: “Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja!”

Ps 117 openbaar soveel omtrent hierdie skrywer aan ons. Dit sê vir ons dat hy die Heer belewe het, nie eerstens as die Almagtige nie, of tweedens as die  volmaak Heilige nie, of derdens as die Alleenwyse nie, maar allereers as die Barmhartige en Getrou, die God wat Hom oor ‘n sterflike mensie ontferm, op Wie hy in sy swakheid kan leuen.

Hier is ‘n man wat geestelik hoog bo sy metgeselle uitgestyg het omdat hy klein geword het in homself. Hoe geringer hy homself geag het, hoe groter het God vir hom geword en wanneer hy in net 27 woorde sy sê oor Hom moet sê, vertel hy die wêreld van ‘n God wat ruimte het vir klein mensies en roep hy hulle op om aan sy sy te kom staan en hierdie God te loof. En … en God ag hierdie hierdie kort gediggie, hierdie liedjie só kosbaar, só belangrik vir die mensdom om te weet, dat Hy dit reg in die middel van Sy Woord invoeg.

‘n Ander groot godsman, Paulus, het later jare ook hierdie kosbare Psalm ontdek en wanneer hy vertel hoe Jesus onder beide Israel en die heiden nasies verheerlik sal word, haal hy die eerste versie daarvan aan (Rom 15:1).

Ons lewe in ‘n skrikwekkende tyd van natuurrampe en ‘n pandemie wat groot ontbering, smart en vrees meebring, ook in die lewens van gelowiges, maar te midde van dit alles wil ek ook saam met my onbekende Psalm 117 broer uitroep: “Kinders van God, volkere en nasies, laat ons nie net ons lot bekla nie, maar laat ons lof en eer aan onse God bring. Halleluja!

//////////

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Please enter the letters below: * Time limit is exhausted. Please reload CAPTCHA.