A BENAMING
Die Boek is benoem aan die hand van die geskrifte wat daarin opgeneem is. “Psalms” is die benaming vir die gewyde liedere en poësie wat deur die skrywers aan God opgedra is en deur beide Jode en Christene in verheerliking van die Here gebruik word. Die woord is eie aan die Bybel alhoewel dit soms ook in navolging deur ander gelowe gebruik word.
B AANTAL PSALMS, SKRYWERS EN GROEPERING
- Daar is altesaam 150 Psalms opgeteken wat deur die volgende persone geskryf is:
-
-
-
- Dawid, 73 (+ 2: nrs 2 en 95 – sien Hand 4:25 en Heb 4:7).
- Asaf, 12.
- Korag se seuns, 9.
- Heman, tesame met die seuns van Korag, 1.
- Ethan, 1.
- Moses, 1.
- Salomo 2.
- Anoniem, 51.
-
-
- Groepering: Die Psalms word deur teoloë in 5 boeke gegroepeer wat naastenby verband hou met die temas van die boeke Genesis tot Deuternomium.
C AARD VAN DIE PSALMS
- Ander Ou-Testamentiese Boeke
In hierdie boeke neem God die inisiatief vir die skryf van die Woord. Hy besluit dat Hy sekere dinge aan die mensdom wil oordra en roep ‘n skrywer om dit namens Hom te verkondig of op skrif te stel, bv:
-
-
-
- Geskiedenis van God se handelinge met die aarde of met mense: skepping, sondeval, sondvloed, Toring v Babel, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses en die uittog, gebeure in wildernis, inneming v Kanaän, optrede van die rigters, konings v Israel, ballingskap en terugkeer, herbou van die tempel en mure v Jerusalem. (Ook Job, Jona, Esther en Rut). Soms skryf die skrywer ‘n bietjie oor homself ook.
- God se leerstellinge aan die mensdom: die Tien Gebooie en ander leringe aan Israel, Wysheid van Salomo.
- God se teregwysinge van die mensdom en beloftes van herstel vir die toekoms: Die Profete.
-
-
- Die Psalms
- ‘n Unieke boek: die mens se boek.
Die Psalms is gans anders as al die ander boeke. Dit is primêr die mens se boek, sy dagboek. Dit is die gelowige wat skryf (komponeer). Hy skryf wat God nie kan skryf nie, wat net ‘n mens kan skryf; juis omdat hy ‘n mens is. Hy skryf ‘n lied of gedig vanuit sy eie ondervindinge in die loop van sy wandel met God.
Mense kan baie oppervlakkig wees in hul omgang met mekaar: “Môre, hoe lyk dit? Goed, self? Ook so dankie” en daar trek elkeen haastig straataf in sy eie rigting. Wanneer die mens egter in sy binnekamer alleen met God is, spreek hy soms hoogsvertroulik dinge uit wat hy nooit ooit teenoor ‘n ander mens (nie eers sy huweliksmaat) sou erken nie. Dan bely hy sy sondes, erken sy twyfel en angs en pleit dat God hom moet help. Hy deel sy eerlike ondervindinge met God. Dit vorm die fondament vir ‘n hegte vriendskap. Dit lei dan ook spoedig tot jubelende lofprysing en aanbidding.
Dit is hierdie hoogsvertroulike gesprekke met die hemel wat die skrywers onder inspirasie van die Heilige Gees met ons deel. (Kyk maar na Dawid se gesprek met God oor sy sonde met Batseba en sy moord op Urea waaroor hy in Ps 51 skryf, wat hy toonset en op die koop toe in die tempel en wêreldwyd laat sing). Hulle skryf ook oor hul wrewel in die goddelose en hoe hul begeer dat hierdie soort mens uitgedelg moet word.
Daarom het gelowiges hul deur die eeue heen na die boek van die Psalms gehaas vir hoop en vertroosting. Wanneer ‘n kind van God moed verloor, is dit die eerste boek waarheen hy blaai. Seker daarom dat die Here dié boek vir ons gerief min of meer in die middel van die Bybel laat inbind het.
In die boek van die Psalms vat die Heilige Gees die leser aan die hand en tree saggies in ‘n binnekamer in waar ‘n mens op sy knieë met God in gesprek is. Dit is heilige grond:
-
-
-
-
- ‘n Skepsel in gesprek met sy Skepper.
- ‘n Seun in gesprek met sy geestelike Vader.
- ‘n Bruid in gesprek met haar Bruidegom – wat hulle vir mekaar fluister is net vir mekaar bedoel – hulle deel ‘n geheim.
- ‘n Soldaat wat van sy Generaal opdragte en strategie ontvang.
- ‘n Nietige mensie wat sy God aanbid.
- Dit is die Heilige Gees wat in die bidder woon en gedagtes en woorde inspireer wat aangenaam is vir die Vader en die Seun om te hoor.
-
-
-
Hierdie diep gedagtes wat in die gelowige se gemoed om en om gaan, ontwikkel deur die werking van die Heilige Gees tot waar dit so volmaak in lyn is met die gedagtes van God dat dit gereed is om as Skrif neergeskryf te word. Daarom sien ons as leser dit tereg as deel van die kanon, die unieke Woord wat van God af kom.
-
- Die Goddelike toevoeging.
Soos reeds gesê, kom die Psalms uit die mens se hart. Dit is die skrywer se gedagtes oor sy eie belewenisse; hy beskryf of verheerlik God se werke of Hom as persoon. Dan weer praat hy met homself, bemoedig hy homself, wys hy homself tereg of beskryf hy sy pyn en lyding of die aanvalle wat hy verduur. So nie kla hy die goddelose by God aan en vra hy Hom om hulle te verdelg.
Dit is dus Skrifgedeeltes wat God nie kon geskryf het nie omdat Hy nie ‘n mens is nie. Ons as gelowiges kan egter daarmee identifiseer omdat ons ook mense is. Daarom is dit vir ons so kosbaar en van soveel praktiese waarde. Die skrywers was uitstaande gelowiges maar ook mense met dieselfde stryd as ons.
Tog is daar gedeeltes in sommige Psalms wat duidelik nie deur die mense skrywer van die Psalm geskryf kon gewees het nie en wat beslis nie op hom van toepassing is nie. Daardie verse beskryf soms belewenisse soortgelyk aan dié van die Psalmdigter, maar is eintlik belewenisse van die God-mens, Jesus Christus. Hy luister na wat die mens daar oor homself sê; dit is vir Hom ‘n vooruitskaduïng van wat Hy in die vêrre toekoms as mens sal beleef en Hy teken Sy ondervindings hier aan as ‘n parallelle maar veel erger belewenis. So kom dan die profetiese verse tot stand soos wat ons in Psalm 22 so duidelik sien waar onse Heiland sy verskriklike lyding aan die kruis beskryf. Hier het Jesus vooruit Sy belewenisse as mens vir ons opgeteken. (Lees asb daardie Ps sodat U kan begryp waarom dit hier gaan.)
In hierdie Psalm word God en mens so een in hul belewenis van hul lyding dat dit moeilik is om te bepaal wie wanneer praat: Jesus of Dawid of albei gelyktydig. Soms skryf hulle saam aan dieselfde vers maar bedoel elkeen dit op homself. Dit is soos twee sangers wat saam in ‘n opera sing; dan sing die man, dan dan die vrou, en dan weer albei saam, en dit smelt saam tot een harmonieuse geheel. Of soos twee meesterskilders wat saam, gelyktydig aan ‘n olieverfskildery werk maar met verskillende kleure verf en dit vloei en smelt saam tot een uitbeelding van een of ander toneel.
Dit is ook hoedat dit in die ewigheid sal wees wanneer God en mens so een van gedagte en visie sal wees dat dit moeilik sal wees om te onderskei wie spreek of handel want die Hoof en die liggaam het dan een geword.
Die vraag is nou: tot watter mate het God en ek al een geword; tot watter mate is ek aan Hom oorgegee om in Sy grootheid opgeneem te word?
“Here bewerk U heerlikheid in my sodat U verheerlik kan word”. Johannes 17:21.
-
- Lofprysing, die wese en hart van die Psalms
- Die Psalms word deur lofprysing gekenmerk.
- Inderwaarheid is elke Psalm tot eer van God geskryf.
- Lofprysing, die wese en hart van die Psalms
D WYER TREFWYDTE VAN DIE PSALMS
Die Psalmdigters het natuurlik nie geweet dat dit wat hul skryf in die eeue wat sou kom as geïnspireerde woorde van God gesien en gelees sou word nie! Dit was vir hulle maar net ‘n gedig of lied om God te verheerlik, ander gelowiges op te bou en boosdoeners te waarsku. Kan ons dink watter verrassing dit vir Dawid moes wees toe hy (so vermoed ek) later daar bo in die hemel sou ontdek dat God van die vroegste tye af besig was om ‘n boek saam te stel waarin al sy gedagtes vir die mens saamgesnoer sou wees en dat die Psalms wat hy geskryf en getoonset het, ook daarin opgeneem sou word en eeu na eeu deur miljoene mense en nie net die klompie in die tempel nie, gelees sou word.
Die gebruik om sommige Psalms te toonset en by openbare godsdienstige byeenkomste te sing, het die seën wat daarin vervat was, wyd laat uitkring soos wat hedendaagse geestelike liedere wêreldwyd gesing word (Dink maar aan ons lied “Amazing Grace”).
E TOTSTANDKOMING VAN ONS BYBELBOEK “PSALMS”
Hoe is die psalms wat deur soveel verskillende persone geskryf is, gekeur (gesif) en saamgevoeg in een geheel? Die antwoord is dat dit dieselfde pad as al die ander Bybelboeke gevolg het. Ons haal die volgende paragrawe aan uit die Internasionale Bybelgenootskap se webwerf. Die vertaling is ons eie.
(https://www.biblica.com/resources/bible-faqs/how-were-the-books-of-the-bible-chosen/ )
Die 39 boeke van die Ou-Testament behels die Bybel van Judaisme, terwyl die Christen Bybel ook die 27 boeke van die Nuwe-Testament bevat. Die lys van boeke wat in die Bybel ingesluit is, staan beken as die kanon. Dit wil sê, die kanon verwys na die boeke wat geag word deur God geinspireer te wees en gesaghebbend is vir geloof en lewe. Geen kerk het die kanon geskep nie, maar die kerke en rade het geleidelik die lys van boeke wat deur gelowiges wêreldwyd as geinspireerd aanvaar is, erken.
Dit was inderdaad nie voor 367 AD dat die kerkvader Athanasius eers die volledige lys van 66 boeke wat tot die kanon behoort, verskaf het nie.
Hy het hulle onderskei van ander boeke wat wyd in omloop was en het opgemerk dat daardie 66 boeke dié was, en die énigste was wat universeel aanvaar was.
Die punt is dat die vorming van die kanon nie eensklaps, soos ‘n donderslag, gekom het nie, maar die produk was van eeuelange oorweging.
Kom ons kyk eerstens na die Ou-Testament. Vanselfsprekend was die eerste vyf boeke (soms genaamd die Tora of Pentateug) die eerstes om as kanoniek aanvaar te word.
Wat van die res van die Ou-Testament? Die profete se skrywes was ook nie voor ongeveer 299 VC saamgesnoer in een groep nie. Die oorblywende Ou-Testamentiese boeke is selfs later eers as kanoniek aanvaar. Die Ou-Testamentiese lys was waarskynlik nie gefinaliseer voor die geboorte van Christus nie. Die Joodse volk was teen hierdie tyd wyd verspreid en by hulle was daar ‘n wesentlike behoefte om te weet watter boeke die gesaghebbende Woord van God was omdat soveel geskrifte in omloop was wat almal op goddelike outoriteit aanspraak gemaak het. Met die finalisering van die kanon het hulle mense van een Boek geword en daardie Boek het hulle bymekaar gehou.
Net so is daar ook nie ‘n spesifieke datum wat ons kan sê dat ‘n finale besluit oor die Nuwe-Testamentiese kanon uitgebring is nie. Gedurende die eerste en tweede eeue na Christus was daar baie, baie geskrifte en sendbriewe onder die Christene in omloop. Sommige kerke het boeke en briewe by hul eredienste gebruik wat beslis vals was. Geleidelik het dit duidelik geword dat daar ‘n behoefte was aan ‘n duidelike lys van geïnspireerde Skrifte. Dwaalleer bewegings (sektes) was aan die opkom en elkeen het sy eie Skrifte gekies, insluitende dokumente soos die Evangelie van Thomas, die Herder van Hermas, die Eindtydleer van Petrus en die Sendbrief van Barnabas.
Al gaande het dit duidelik geword watter werke werklik eg was en watter die waarheid met fantasie vermeng het. Teen die einde van die vierde eeu was die kanon uitgesorteer en aanvaar. In hierdie proses herken Christene die voorsienigheid van God om vir ons die geskrewe openbaring van Homself en sy doel met die skepping te verskaf.
Vrae rakende die kanon ontstaan steeds nou en dan. Sommige wonder waarom net hierdie 66 boeke gekies is. Waarom nie 65 of 67 nie? Waarom is die raaiselagtige Judas boekie ingesluit ten uitsluiting van ander meer opbouende geskrifte? Ons antwoord op hierdie vrae is dat hierdie die boeke is wat God self uitgekies het om vir ons te bewaar en Hy het nie vir ons gesê presies waarom so nie. Gesamentlik behels hulle ‘n onvergelykbare gawe vir sy mense. Hier word ons genoop om net eenvoudig te vertrou in sy voorsienigheid waardeur Hy sy mense deur die jare gelei en die hulle die mees geeerde, kragtigste en mees vertroostende bundel in menseheugenis gegee het, die boek bekend as die Bybel.
En in sy voorsienigheid het Hy hierdie skat ook vir jou beskikbaar gestel. Aanvaar sy ewige woorde en mandate en leef daarvolgens! Terwyl jy jouself in sy bladsye verdiep, sal jou hart einde en ten laaste rus vind. (Tot hier die aanhaling)
Gevoltrekking: Die liedere en poësie wat in die boek Psalms opgeneem is, het dus dieselfde pad geloop as wat hierbo beskryf is. Gelowiges het hulle eeuelank gelees en gesing en in hulle harte bevestiging ontvang dat dit woorde van God was en toe eers het die Here die Kerkvaders gelei om hulle in een Boek saam te snoer en het die boek “Psalms”, soos ons dit vandag ken, tot stand gekom.
F TOEPASSING OP ONS AS CHRISTENE
Dit wat ons in Christus sê of doen het ‘n baie wyer trefwydte as wat ons dink. Deur ons gesprekke oor geestelike dinge, en in besonder ons getuienisse, skryf ons geskrifte voor God wat deur andere gelees word. Ons besef nie aldag die belangrikheid daarvan nie, maar dit tel geweldig baie in die Koninkryk van God. Soos die Psalms, word dit deur Hom gebruik tot verheerliking van sy Naam en tot uitbouïng van sy Koninkryk. Laat ons dan nie versuim om Hom, nie net deur ons dade nie, maar ook deur ons woorde, te verhoog.
/////////////////////
……….