A. DIE MENS SE TWEEVOUDIGE BEHOEFTE
Om die mens te red van die ewige dood en hom te herstel tot die ewige lewe, moes twee dinge vir hom gedoen word:
-
-
- Eerstens moes daar gehandel word met die skuld wat hy opgeloop het deur teen God te sondig. Sy sonde moes volledig, volkomelik gestraf word; dit kon alleenlik gedoen word deur ‘n persoon wat volmaak regverdig was wat in sy plek gesterf het sodat hy weereens voor God kon staan asof hy nooit gesondig het nie.
- Tweedens moes sy karakter verander word om gelykvormig te wees aan dié van Christus sodat hy in staat sou wees om voortaan in heiligheid te wandel.
-
B. HOEDAT CHRISTUS VOORSIENING GEMAAK HET VIR HIERDIE BEHOEFTES VAN DIE MENS
- Hy het die mens se skuld op homself geneem en is volkomelik daarvoor gestraf deur sy dood aan die kruis
God die Vader, synde ‘n God van liefde, wou die mens se sonde vergewe en sy gees vernuwe, maar Hy kon dit nie doen nie omdat, as hy daardie sonde net eenvoudig sou kondoneer, hy homself medepligtig daaraan sou gemaak het. Sonde moet gestraf word voordat die sondaar vergewe en terug aanvaar kan word in die teenwoordigheid van God.
Net God die Seun sou ‘n volkome sondelose lewe kon lewe sodat Hy ‘n ander, die mens, se sonde op homself sou kon neem. Hy het dan ook aangebied om hierdie verskriklike straf ten behoewe van die mens te dra. Deur ‘n mens te word net soos Adam, maar ‘n volkome heilige lewe hier op aarde te lewe, het Jesus gekwalifiseer om God se vlekkelose lam te wees wat die sonde van die res van die mensdom op homself kon neem.
Toe Jesus aan die kruis gehang het, is die sonde van die ganse mensdom wat deur al die eeue gepleeg was, soos deur ‘n reuse tregter op hom uitgegiet.
Die Vader het sy Seun se offer aanvaar en dit bevestig deur hom uit die graf uit op te wek. Op hierdie wyse het die Here Jesus beide voordele wat ‘n A hierbo vermeld is, vir die mens verwerf.
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. (Jes 53:5,6).
… en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, (Col 2:14).
Hierdie “skuldbrief” teen ons kan ook vertaal word as “die geskrewe klagstaat,” of “die rekening vir ons skuld,” of “die lys van wette wat ons verbreek het”. Die kruis het dit uitgevee of ‘n streep daardeur getrek.
Nadat jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het, moenie jou rekening van sondes weer van die kruis gaan afhaal en oor en oor daaroor tob nie – die Bloed van Jesus het daaroor gevloei en alles uitgewis – jou rekening wys ‘n nul balans.
… wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. (1Pe 2:24).
- Hy het die mens se sondige karakter met Christus gekruisig en opgewek
Toe Hy sterf, was ons sondige karakter in hom en het dit saam met hom gesterf en is dit saam begrawe. Toe hy weer uit die graf opgestaan het, is die mens geestelik saam met hom opgewek as ‘n totaal nuwe persoon gelykvormig aan Christus self.
Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. (Gal 2:20).
… omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. (Col 2:12).
Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, (Eph 2:4-6).
As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. (Col 3:1).
C. DIE VRUG VAN CHRISTUS SE KRUIS OFFER
- Deur die mens se skuld weg te neem, het Jesus die Vader in staat gestel om sondaars met hom reg te verklaar wat ons regverdigmaking noem.
(Regverdigmaking word hier net baie kortliks behandel.)
Die Vader kan nou verklaar dat ‘n sondaar se sonde vergewe is.
… want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, … (Rom 3:23-25).
Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie? En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. (Zec 3:1-4).
Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. (Rom 5:19).
Deur Adam se enkele daad van ongehoorsaamheid, word die ganse mensdom as sondaars beskou; deur Jesus se enkele daad van gehoorsaamheid deurdat hy vir ons aan die kruis gesterf het, word die ganse mensdom gereken as regverdig (Dit geld natuurlik alleenlik vir hulle wat Hom as Verlosser aanneem.)
- Die Vader kan ook ‘n sondaar se innerlike mens, sy hart, sy gees verklaar as vernuwe en gelykvormig aan die van Christus
Die mens se gees word terselfdertyd, wanneer hy homself onvoorwaardelik aan God oorgee, radikaal verander deur die oordrag van God se karakter wat ons die nuwe geboorte noem (sien die volgende hoofstuk).
- Vergewe en vernuwe staan die mens voor die Vader as ‘n totaal nuwe skepsel.
Dit is asof die mens met Christus plekke geruil het. Christus het die mens se plek aan die kruis geneem sy sonde daar gedra asook sy sondige karakter en die mens het van die kruis af gekom en in Christus se skoene daar weggestap sonder skuld en innerlik vernuwe om presies net soos Christus te wees. Wanneer die Vader kyk na die verloste mens wat nou daar in die pad af stap, sien Hy die afbeelding van sy Seun.
- Regverdigmaking gaan in die eerste plek oor die mens se regsstand voor God.
Dit is baie belangrik om dit te verstaan. Regverdigmaking is soos wanneer ‘n koning ‘n straatkind aanneem as deel van sy koninklike familie en al die voordele wat die ander seuns geniet, ook aan hom toestaan. Hy sal die koning se van kry en ‘n sertifikaat om dit te bevestig, sal aan hom uitgereik word, waarop aangetoon sal word dat die koning sy vader is. Dit is ‘n finale, wettige, bindende aksie.
Wanneer die mense op die sypaadjie na hom kyk in sy verflenterde klere, mag hulle hom verag, maar net totdat hy die sertifikaat wat hy in sy hand hou vir hulle wys waarop verklaar word dat hy ‘n prins is, die seun van so en so ‘n koning.
(Glo jy dat God dit vir jou kan doen, in ‘n oogknip?)
Die klein straatkindjie sal nou in die ampsmotor na die koninklike paleis geneem word, van kop tot tone skoongeskrop en geklee word in koninklike klere, eet aan die koning se tafel tesame met al die ander lede van die koninklike familie, ‘n kamer van sy eie in die paleis hê en geëer en beskerm word deur die koninklike wagte. Hy sal ook by die koning gaan sit en met hom gesels.
Al hierdie dinge volg later, maar eers kom die aanneming; dit is die wettige transaksie wat plaasvind wanneer die koning die sertifikaat onderteken. Dit is ‘n bindende dokument en self die koning sal kragtens wet gebonde wees om daarby te hou.
……….