Voor hy kan gaan aansit om die Bruilofsfees van die Lam te geniet, sal elke kind van God eers persoonlik voor die Regterstoel van Christus moet verskyn. Dit staan ook bekend as die Bema troon, om dit makliker te onderskei van die Groot Wit Troon Oordeel wat heel aan die einde van die bedeling sal plaasvind. (“Bema” is ‘n Griekse woord wat verwys na ‘n platform waarop ‘n regter sit, ook na die platvorm wat opgerig word vir ‘n persoon wat by ‘n kompetisie voorsit en die krone of ander toekennings toewys.) Laat ons dit nou van naderby bekyk.
- Wat hierdie oordeel nie ten doel het nie
Dit is nie daar om te bepaal of ‘n persoon in die hemel toegelaat sal word of nie. Dit is veral belangrik om hierop te let. Slegs diegene wat reeds finaal uitgeklaar is vir toelating tot die hemel, sal voor hierdie troon gebring word. So, dit sal God se kinders wees, die Bruid van Christus, wat daar sal wees.
Hulle was, soos ons weet, nie gered op grond van hul goeie lewens nie, maar juis omdat hulle geen vertroue in hulle “goeie” werke geplaas het nie. Hulle het hul algeheel verlaat op die geskenk van verlossing wat Christus aan hulle gebied het; die aanbod gebaseer op die feit dat Hy in hul plek vir hul sonde aan die kruis op Golgota gestraf is.
… want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. (Rom 3:23,24).
Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. (Rom 8:1).
- Dit is om die werke van God se mense te reinig en te evalueer
God is heilig en regverdig en Hy moet gesien word om daarvolgens op te tree, selfs waar dit Sy Bruid, sy kinders, aangaan.
Sommige van ons mag onbesorg toegegee het aan onwelvoeglike woorde en dade waarvoor ons nie deur die Here aangetree is nie omdat Hy reeds daarvoor gestraf is. Wêreldse mense en ander kinders van God het dalk stilweg gewonder: “Maar hoe kan ‘n heilige God dit toelaat?” Wel, hier is die antwoord: die oortreders sal skade ly wanneer dit kom by belonings. Jesus sal eers deur vuur, elke houding, gedagte, woord en daad wat nie van die Gees van God was nie, verbrand.
Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? (1 Kor 3:10-16 ).
Die aangehale gedeelte van die Skrif is eerstens is van toepassing op diegene soos pastore, predikante, evangeliste en dies meer, wat betrokke is by die maak van dissipels en hul opbou in Christus. Paulus beskryf hier hoe hulle vakmanskap getoets sal word. ‘n Herder mag baie ywerig gewees het om die Evangelie te verkondig, maar as hy dit gedoen het vir persoonlike finansiële gewin, of om die toejuiging van mense te ontvang, sal hy nie daarvoor beloon word nie. Hy het “slegte” goeie werke gedoen.
Hierdie beginsel is eweneens van toepassing op elke kind van God want ons bou almal ons eie geestelike huise (lewens).
Die prentjie van ons prestasies wat deur vuur getoets word, is baie aangrypend. Vuur is onpartydig. Ons sal elkeen ons trollie na die Bema troon van Jesus toe stoot. Dit kan hoog gestapel wees met al die goeie dinge van ‘n leeftyd wat ons hoop om voor beloon te word. Hy sal ‘n engel beveel om dit alles in die vuur van God se Woord te werp wat voor Sy troon brand. Baie van ons werke sal wees soos hout, hooi en stoppels en sal onmiddellik in vlamme opgaan.
Die Here sal dan nader stap en soek vir die diamante, goud, silwer en ander kosbare materiale wat in die as agtergebly het. Dit sal Hy omhoog hou vir almal om te sien. Hiervoor sal die eienaar beloon word. Dit is die gedagtes, woorde en dade wat in antwoord op die aansporing van die Heilige Gees uit die persoon se lewe voorgevloei het.
Ai, dan het ek geen hoop om enige beloning te ontvang nie! Nee wag, laat ons sien wat God belowe.
- Die omvang van ons belonings
Ons sal oorvloediglik beloon word omdat ons Heer so vrygewig is.
En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie. (Mat 10:42).
Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang. (Mat 10:41).
Is dit nou nie bemoedigend nie! Dit gee my hoop. Ons God is ‘n vrygewige God en gee oorvloediglik, bloot omdat hy ‘n behae daarin het om dit te doen. Dit is hoe Hy is. Tweedens, Hy hoef nie spaarsamig te gee nie want Hy sal nooit ‘n tekort hê aan belonings nie. Hy het stapels en stapels belonings in Sy stoorkamers. Wat Hy vir ons op Gólgota verdien het, kan nie in menslike terme bereken word nie.
- Basis en beginsel van ons belonings
Wanneer ons onvrugbare werke nou eers verwyder en vernietig is, sal ons werke wat in Christus gedoen is, geëvalueer word. Dit is die kosbare voorwerpe wat Jesus uit die as opgetel het. Hy sal hulle waardeer soos wat ‘n juwelier diamante, goud en silwer beoordeel en weeg en dan vir die eienaar sê wat hulle werd is.
Die Here Jesus sal die kwaliteit van die lewens wat ons geleef het, nadat ons Christene geword het, evalueer – maak asseblief seker dat jy dit baie duidelik verstaan; so-nie sal jy voortdurend vrees om gestraf te word.
Die hoofbeginsel sal nie wees hoeveel geestelike vrugte ons gedra het nie, maar hoeveel ons van ons ou self, ons ou natuur, verloor het. Wat sal tel, is die mate waarin ons toegelaat het om van ons eie wil leeggemaak en met sy Gees en gedagtes gevul te word. Tot daardie mate sal ons bekroon word met God se heerlikheid. Dít is bemoedigend want dit beteken dat daar nie van ons verwag word om iets groots te bereik nie, maar eerder om iets groots te verloor, en om te verloor, is meer binne ons bereik (hoewel ons selfs daarvoor God se genade nodig het).
Sien in jou geestesoog ‘n “leë” melkbeker – eintlik is dit nie leeg nie maar met lug gevul. As jy dit wil gebruik om melk in te bewaar, moet jy die lug wat daarin is, verplaas, moet jy sommige of feitlik al die lug uitstoot. Jy moet die lug prysgee om die melk te wen.
Maar wat dan van die Gal 5:22, 23 vrug van die Gees, “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, en selfbeheersing”, tel hulle gladnie? Nee, hulle tel, en hulle verheerlik Christus, maar die Heilige Gees ontvang krediet vir hulle, nie ek nie. Word hulle dan nie “die vrug van die Gees” genoem nie?
Ons sal natuurlik ook beloon word vir wat die Heilige Gees deur ons gedoen het, omdat ons onsself oorgegee het om deur Hom gebruik te gewees het vir Sy doel. Hier kan ons byvoorbeeld dink aan Maria wat haarself aan die Heilige Gees oorgegee het om gebruik te word vir die geboorte van ons Here.
‘n Laaste gedagte in hierdie verband: die meeste van ons goeie dade is bevlek met ‘n mate van begeerte om erkenning of krediet daarvoor te ontvang. Jy mag dalk ‘n groot hoeveelheid geld uit jou karige inkomste vir die verspreiding van die Evangelie geskenk en skaars ‘n dankie daarvoor ontvang het. Of jy het jouself daaraan gewy om ‘n gestremde persoon jarelank te versorg en dit het ongesiens verbygegaan.
Miskien het jy in jou hart daaroor gemor en jou pragtige geskenk daardeur bevlek. Die Here weet alles daaromtrent. Selfs ‘n duur motor kan ‘n pap band kry, maar dit verloor nie sy waarde as gevolg daarvan nie. Die Here weet hoeveel selfopoffering daardie geskenk van jou geverg het en Hy sal jou regverdiglik beloon, met ‘n baie spesiale drukkie van sy arm om jou skouers op die koop toe. Loof Sy Naam.
- Watter soort belonings kan ons verwag?
Laat my net ‘n paar voorbeelde gee van persone wat beloon sal word:
- Gewers: Bates wat volgens God se wil geskenk word, word as skatte in die hemel bewaar (Luk 12:33; 18:22).
- Sielewenners sal beloon word vir mense wat hulle na Christus gelei het. Hulle sal behoorlik skitter Daarbo. (Dan 12:3).
- Diegene wat vervolg is vir die Naam van Christus (Matt 5:11, 12). Dink maar net aan die miljoene martelare wat deur die eeue vir Sy Naam gesterf het, eerder as om Hom te verloën.
- Die eind gebruik van ons krone en ander belonings
Ons sal nie in die hemel rondloop en spog met ons krone en belonings nie, maar sal hulle aan die voete van Jesus neerlê want dit was immers Hy wat ons in staat gestel het om die werke waarvoor ons sal beloon word, te verrig (Openb 4:10).
Sodra ons nuttelose “werke” verbrand en ons ons krone en belonings ontvang en hulle aan Jesus terugbesorg het, sal ons honger en gereed wees vir die volgende gebeurtenis, naamlik die grootste fees van alle tye, die Bruilofsfees van die Lam.
//////////
……….