Roep en stuur van dissipels; Matt 4:12-25

HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

Lees asb Matt 4:12 25 (Sien ook Mark 1: 14 -20).

Jesus het van die begin af geweet dat Sy tyd op aarde beperk was en dat hy andere moes oplei om sy plek in te neem. In hierdie gids gaan ons kyk hoe Hy dit gedoen het.

Opleiding van geestelike leiers.

Die opleiding van geestelike leiers, is ‘n baie belangrike taak. Op sommige geroepe werkers rus daar ‘n geweldige sterk Heilige Gees salwing. Hulle beleef dat groot getalle mense onder hul bediening tot bekering kom en ook geestelik groei, maar omdat hulle nie andere oplei om by hulle oor te neem nie, val hul bediening plat wanneer hulle te sterwe kom.

Die regte ding om te doen, is om sommer vroeg in jou bediening op die uitkyk te wees en op die Here te wag om persone te identifiseer wat Hy wil voorberei om jou op te volg. Gee dan meer aandag aan hulle, stel vir hulle hoër doelwitte, bemoedig hulle meer dikwels, maar wees ook strenger met hulle in jou teregwysing. Volg die Here se leiding en begin om soveel werk moontlik aan hulle te delegeer totdat jy later meer die rol van ‘n vaderfiguur vervul, sodat hulle onder jou oorhoofse leiding die doelwit van jou bediening kan najaag, eie idees op die proef kan stel, foute kan maak en op dié manier kan ingroei in die rolle wat hulle moet vervul.

Wanneer jy dan finaal die tuig moet neerlê, is daar ‘n sagte oorgang van leierskap en geen onsekerheid wie wat moet doen nie. (As jy nie leiers oplei nie, sal jy ongelukkig nooit hemeltoe kan gaan nie want dan sal al die goeie werk wat jy hier op aarde gedoen het, tot niet gaan … of wat praat ek alles?)

Roeping van Jesus se eerste vier dissipels (later apostels genoem).

Die Skrifgedeelte wat ons gelees het, handel oor vier manne wat deur Jesus geroep was om as, “Vissers van mense” opgelei te word. Hulle was Simon en sy broer Andreas, asook  Jakobus en Johannes. Hulle was vissermanne wat ‘n bestaan gemaak het deur die gebruik van ‘n skuit en nette om vis te vang om in hulle behoeftes te voorsien. Die Here het hulle besig gevind met hulle dagtaak toe Hy hulle geroep het. Dit beteken hulle was nie ledige huislêers nie.

Voltydse geestelike werk verg besondere opoffering.

God se werk is baie belangrike werk. Hy is die Skepper van die heelal. Hy is verhewe bo alle skepsels en veral ook bo elke mens. Dit is ‘n groot eer om vir Hom te werk. Luiaards is nie welkom in Sy diens nie. Sy werkers moet in staat wees om harder te werk as al die ander mense om hulle. Hulle moet vroeg in die oggend opstaan en tyd met hulle God bestee deur Sy Woord te bestudeer, Hom te aanbid en in gebed in te tree vir andere.

Die Here Jesus het ‘n voorbeeld gestel van ywerigheid toe Hy op aarde was. In die vorige hoofstukke het ons iets daarvan gesien.Toe Hy in die boot besig was om die meer oor te steek, het hulle die verskriklike storm belewe wat sy kort rustydjie onderbreek het. Die oomblik toe Hy voet aan wal sit aan die oorkant van die meer, is Hy gekonfronteer deur die duiwelbesete man (eintlik twee van hulle). Om die duiwel te beveg, dreineer jou geestelike asook jou fisiese energie.

Toe die duiwels uigedryf is, is hy deur die inwoners van die omgewing gekonfronteer wat geëis het dat Hy hulle gebied moes verlaat. As jy deur ‘n hele skare skreeuende mense omring word, put dit jou sekerlik ook uit.

Onmiddellik daarna het Hy in die skuit geklim en teruggevaar na Kapernaúm.

Toe Hy voet aan wal sit, het ‘n groot skare Hom ingewag, ‘n skare wat wou hê dat Hy hulle moes bedien; hulle wou gesond gemaak word, duiwels moes uitgedryf word en hulle wou onderrig ontvang.

Dit was toe dat Hy die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, gesond gemaak en gesê het dat Hy kon voel dat krag uit Hom uitgevloei het.

Direk daarna is Hy na die huis van Jairus om sy dogter wat gesterf het, op te wek.

So, Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel van hoe die Vader gedien moet word.  Hy het gesê dat Hy moes werk terwyl dit dag was, want die nag was aan die kom wanneer niemand sal kan werk nie. ‘n Persoon wat in voltydse diens van die Here wil wees, moet verstaan dat dit harde werk is wat opoffering verg. As hy lyf wegsteek, is hy ‘n skande vir God en moet hy eerder bedank en sy eie brood gaan verdien. Hy moet nie die geld wat  gegee is om die Koninkryk van God te bevorder, gebruik om homself te verryk of om homself snoesig in te rig nie.

‘n Roeping is ‘n eer wat God aan jou bewys, nie ‘n guns wat jy aan Hom bewys nie.

Ons sien ook dat Jesus niemand gesmeek het om Hom te volg nie. Hy het hulle net geroep; opdrag gegee. Vir Petrus en Andreas het Hy gesê: “Kom agter My aan en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.” Hulle het daar en dan hulle nette net so gelos en by Hom aangesluit. ‘n Entjie verderaan het Jakobus, Johannes, hulle pa en ‘n aantal gehuurde mense in hulle skuit gesit, hard besig om gate wat in hul nette ontstaan het, te herstel. Dit was egter so ‘n wonderlike voorreg om deur die Seun van God geroep te word, dat hulle ook nie vir ‘n oomblik gehuiwer of selfs vir hulle vader, Sebedéüs, toestemming gevra het nie. Hulle het die  net waaraan hulle gewerk het, net so gelos, van die skuit af afgespring  en Jesus gevolg.

‘n Roeping het prioriteit bo al jou ander verpligtinge.

In Mat. 8:21  lees ons dat ‘n sekere man vir Hom gesê het: “Here laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe,” maar Jesus het vir Hom gesê: “Volg My en laat die dooies  hulle eie dooies begrawe.”  Dit klink na harde woorde, maar die Here wou hom die geweldige belangrikheid van Sy werk laat verstaan. As ‘n persoon dood is, kan ons nie eintlik iets meer vir hom doen nie. As dit toevallig so kom dat die begrafnis jou verhoed om die Here te volg, is dit beter om die ongereddes die dooie te laat begrawe sodat jy vry kan wees om God se werk te doen. Om Jesus te volg, beteken om ‘n visser van mense te wees en dit beteken om die lewendes van die ewige dood in die hel te red. Dit is uiters belangrik en die Heer wil hê ons moet dit terdeë besef.

Die geroepene moet weet dat daar ongelooflike ontberinge en verwerping oor sy weg sal kom.

In Mat 8:19, 20 weer, lees ons die volgende: “Toe het ‘n wetsgeleerde na Hom toe gekom en gesê: “Meester, ek sal U volg waar U ookal mag gaan.” Jesus het geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die Mens het geen plek waar Hy Sy kop kan neerlê nie.” Jesus het hom gewaarsku teen die swaarkry van Hom te volg. So dikwels moes Jesus buite, onder die ope hemel slaap terwyl Hy van een plek na ‘n ander gereis het. By een geleentheid, terwyl Hy deur die gebied van die Samaritane gereis het, het Hy Sy dissipels vooruit gestuur om ‘n oornag slaapplek te vind, maar die Samaritane het geweier om vir Hom akkomodasie te bied omdat Hy ‘n Jood was en hierdie twee rasse nie gemeng het nie. Jesus het nie ‘n motor gehad sodat Hy gou kon omdraai na die vorige dorp of na die volgende een deurdruk nie, sodat hulle na alle waarskynlikheid langs die pad moes slaap met baie min kos en water, geen plek om te was of ‘n bed om in te slaap nie. Om in te skryf vir Jesus se “Vissers van Mense Kursus,” was nie bedoel vir diegene wat aan hulle gerief verknog was nie.

Ons word voorberei op ‘n roeping.

Nog een vraag voor ons voortgaan: Hoe kon hierdie vier mense so maklik vir Jesus gevolg het as hulle nie geweet het wie Hy was nie?  Wel, eerstens was daar soveel gesag in Sy stem en optrede dat hulle kon aanvoel dat Hy ‘n merkwaardige persoon was.

Tweedens was dit nie die eerste keer dat ten minste twee van hulle Hom gesien of van Hom gehoor het nie. Van hulle was teenwoordig toe Johannes die Doper oorkant die Jordaan by Betanië gepreek het. Johannes se hele bediening was op Jesus gefokus. Hy is deur God gestuur om die weg vir Jesus voor te berei. Andréas was een van Johannes se dissipels wat teenwoordig was toe  hy na Jesus gewys en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh 1:29,36). Hy en nog ‘n dissipel het Jesus toe gevolg na waar Hy tuis was en die dag daar saam met Hom deurgebring en dan seker ook heelwat met Hom gesels. Andréas het later ook sy broer Simon Petrus aan Jesus gaan voorstel. Hulle het verwag dat God die Messias na hulle toe sou stuur en het Hom nou as sulks herken. So, die antwoord is dat God voor die tyd hulle harte voorberei het, en toe hulle geroep word, was hulle gereed om Hom te volg. (In Joh 1:35-52 word vertel van die roeping van Filippus en Natánael)

Lees asb.Luk. 9:1-6.

Fase een van hul opleiding: volg Hom dag vir dag, neem waar wat Hy doen en neem in wat Hy sê.

Die twaalf manne wat deur Jesus geroep is, het Hom vir ‘n baie lang tyd gevolg. Hulle het gegaan waar Hy ookal gegaan het, die swaarkry gedeel, die haat van die Fariseërs verduur, Sy magtige wonderwerke gesien en die ongelooflike lering aangaande God se Koninkryk ingedrink.

Fase twee van hul opleiding: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.”

Maar dit dien geen doel vir ‘n jongman om net te sien hoe sy pa ‘n skaap slag nie; een of ander tyd moet hy self gaan om een uit te soek, te vang, keel af te sny, af te slag en die vleis voor te berei om gekook te word. Deur net te kyk, sal hy nie leer nie. Hy moet die werk self doen. So het Jesus Sy dissipels eendag na Hom toe geroep om hulle uit stuur om Sy dienswerk te verrig.

Die geroepene word toegerus vir sy werk.

Die eerste ding wat Hy gedoen het, was om vir hulle krag en gesag te gee. Dieselfde goddelike krag wat uit Hom gevloei het toe Hy die vrou van bloedvloeiing genees het, het Jesus nou aan hulle oorgedra. Ook dieselfde gesag waarmee hy die duiwels uit die man van Gedara uitgedryf het, het Hy op hulle gelê. Geen persoon kan God se werk doen tensy hy God se krag en Sy gesag ontvang het nie. ‘n Mens kan met die beste bedoelings en met uiterste inspanning, luid bid vir ‘n wonderwerk, maar tensy hy die krag en gesag van God ontvang het, sal die siekes nie gesond word nie, die duiwels nie wyk nie en die dooies nie opstaan nie. Hierdie is bonatuurlike werke en vereis bonatuurlike krag.

Die geroepenes se opdrag.

Die episode aangaande die uitstuur van die 12 dissipels, is ook opgeteken in die Evangelies van Mattéüs en Markus. In daardie Boeke, behalwe vir die genesing van die siekes en uitdryf van duiwels, word daar ook gesê dat hulle die melaatses moes reinig en die dooies opwek. Is dit nie merkwaardig dat Jesus soveel vertroue in Sy dissipels gestel het, dat Hy oortuig was dat hulle selfs in staat sou wees om dooies op te wek nie? Hy het geweet dat hulle maar net swak mense was, maar Hy het ook die krag van die Heilge Gees geken wat deur Homself gewerk het, en dat dieselfde Heilige Gees, indien hulle sou glo, deur hulle sou werk om diesefde magtige werke te doen wat Hy gedoen het.

Groter werke as wat die Leermeester self gedoen het?

In Joh. 14:12-14, vind ons selfs ‘n meer verstommende waarheid uit die mond van onse Here: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit omdat Ek na My Vader gaan. En wat julle ookal in my Naam mag vra, dit sal Ek doen sodat die Vader in die Seun verheerlik mag word. As julle iets in My Naam vra, sal Ek dit doen.” Om groter dinge as Jesus te doen, lyk onmoontlik. As Jesus nie self hierdie uitspraak gemaak het nie en iemand anders sou daarop aanspraak maak dat hy in staat was om groter werke as Jesus te verrig, sou ons geskok wees. Hoe moet ons dit dan verstaan. Die antwoord lê waarskynlik daarin dat hierdie magtige dade bedoel is om eer aan die Seun en die Vader te bring en dat dit nie gedoen word deur die krag van mense nie, maar deur die krag van God. Hoe meer die dissipels van Jesus hierdie magtige dade sou doen, hoe meer eer sou die Here Jesus daarvoor ontvang.

Dit sou ook ‘n ander doel dien, naamlik om God se liefde vir die mensdom te bewys en Sy opper mag en gesag  oor die kragte van die natuur en van die bose wat Hy deur eenvoudige brose gelowiges kon bewerk. Baie mense het groot geword in ander gelowe, of glo glad nie in ‘n god nie, maar wanneer hulle sien wat God doen, verdryf dit die duisternis uit hulle gees en help hulle om Jesus te vertrou vir redding.

Die dissipels se boodskap aan die wêreld.

Dit bring ons by die laaste ding wat Jesus aan hulle opgedra het om te doen en dit is om die Koninkryk van God te verkondig. Wat behels dit? Wel, basies beteken dit dat hulle alles wat Jesus hulle geleer het aan andere moes oorvertel. Maar die apostel Johannes het gesê dat as alles wat Jesus geleer en gedoen het, opgeteken moes word, al die boeke in die ganse wêreld dit nie sou kon bevat nie. Dit beteken hulle moes selektief verkondig wat van toepassing was in elke situasie. Hierin sou hulle natuurlik deur die Heilige Gees gelei word. Jesus het altyd met wysheid geleer. Hy het ook geleer dat sy dissipels nie hulle pêrels voor die varke moes gooi nie. ‘n Vark se aptyp is net vir varkkos. Dit beteken dat alle mense nie in staat sou wees om al die waarhede van God se Koninkryk te verstaan nie en dit sou verwerp en woedend wees vir die spreker. Hulle sal die waarheid as gif aansien wat vir hulle skadelik kan wees.

Dit beteken nie dat ons net dit aan mense moet verkondig wat hulle sal aanvaar nie, maar dat ons, ons gesonde verstand moet gebruik om te besluit watter boodskap ‘n besondere persoon sal pas, en dat ons deur die Heilige Gees gelei moet word want Hy ken die hart van elke persoon en weet watter boodskap vir hom die heilsaamste sal wees.

In die grootste “Supermark” is alles gratis (omdat Iemand reeds daarvoor betaal het).

In die Boek Matthéüs, is dit ook opgeteken dat Hy hulle gewaarsku het om al hierdie dinge gratis uit te deel. Hulle het dit alles verniet van Jesus ontvang en moes dit ook verniet vir ander gee. God begeer dat almal in staat moet wees om alles wat Hy in Sy Koninkryk beskikbaar het, te kan ontvang. Die mens se daaglikse ondervinding is dat  slegs die rykes goeie dinge kan bekostig. Arm mense kan net staan en kyk en die pragtige klere, huise en motors begeer, maar is nie in staat om dit te besit nie. Hulle loop rond in die winkels maar gaan met leë hande huistoe.

In die Koninkryk van God is dit nie so nie. Jesus se mega-winkel het nie kasregisters nie. Daar is geen beheerpunt waar jy moet betaal nie. Jy kan enigiets wat jy begeer van die rakke afhaal en in jou sak steek en niemand gaan jou deursoek nie. In Jesus se supermark kan jy nie steel nie, want alles is “passela,” gratis. Al wat jy nodig het is ‘n hart wat dit werklik begeer en ‘n arm en hand van geloof wat wil uitreik en neem. As jy twee arms en hande van geloof het, soveel te beter.

Om die, “supermark” met leë hande te verlaat is ‘n beleding vir die Eienaar.

Wat Jesus nie van hou nie, is om iemand sy afdelingswinkel met leë hande te sien verlaat. Wanneer jy deur die Jesus Deur instap, kry jy ‘n trollie waarin die items “redding, sondevergifnis en die Ewige Lewe” reeds vir jou ingesit is. Nou kan jy deur die rakke stappe en verder inpak: naaste liefde, bevryding van slegte gewoontes wat jy deur die jare aangeleer het, vrede, vreugde, volharding, geloof en watter goeie vrug van die Gees jou hart ookal begeer. Dan is daar natuurlik ook die lang rak met die nege Gawes van die Gees om jou toe te rus om andere geestelik te kan bedien (1Kor 12 en 14, ens.).

Alle uitgawes, “Op die Huis”; gee net al jou aandag aan die werk.

Nadat Jesus vir Sy spannetjie van 12 gesê het wat om te gaan doen en te sê, het Hy ook vir hulle beveel hoe om te reis en in hulle daaglikse behoeftes te voorsien. Hulle moes nie ‘n stok in die hand neem om hulle teen slange te beskerm en teen rowers te verdedig nie; dit moes hulle maar aan God oorlaat. Dan moes hulle ook hoegenaamd geen tas of sak aanskaf om selfs net een ekstra stel klere in te pak nie. God sou in hulle was en strykwerk voorsien.

Selfs toebroodjies vir die pad was uit. Dié dinge sou net hulle las verhoog en hulle pas vertraag sodat hulle minder dorpies in die toegelate tyd sou kon bereik. Maar wat dan van geld: dit was tog lig om te vervoer en sou hulle in staat stel om ‘n eetdingetjie langs die pad te koop. Nee, ook geld was nie toegelaat nie – (moontlik nie eers ‘n beurs nie want rowers sou hulle dan teiken wanneer hulle, hulle op eensame paaie bevind). God sou in al hul behoeftes voorsien, selfs ‘n huis om snags in te slaap. Waarom so? Ons wil tog so graag onafhanklik wees want dan hoof ons mos nie so geestelik te lewe en ons oë deurentyd op Hom te hou nie.

Wanneer hulle ‘n dorp binne gegaan en iemand sy huis vir hulle beskikbaar gestel het om in te bly, moes hulle nie skaam wees om daardie persoon se kos te eet nie want die Here sou self die gasheer ruimskoots vergoed sodat hy geen verlies sou ly omdat hy God se werkers gehuisves het nie. Deur van een huis na ‘n ander te gaan, sou hulle baie tyd mors wat hulle eerder kon gebruik het om God se werk te doen.

Ambassadeurs vir Christus; nie bedelaars nie.

Laastens het Hy vir hulle gesê dat, indien die mense van ‘n sekere dorp hulle nie wou ontvang nie, hulle niks van daardie dorp moes neem nie maar selfs die stof  van hulle voete moes afskud wanneer hulle vertrek, as getuienis teen daardie mense. Dit beteken dat hulle nie goed van mense moes aanneem wat dit nie regtig vir hulle wou gee nie. Dienaars van God is nie bedelaars nie, en moet hulleself nie verneder om gawes te aanvaar wat nie met ‘n dankbare en liefdevolle hart gegee is nie. God hou nie van onwillige gewers nie.

Opgeleide soldate op mars vir die Koninkryk.

In die laaste vers, vers 6, lees ons dat hulle heengegaan en van dorp tot dorp en oral die Boodskap verkondig en siekes genees het. So was hulle dan gehoorsaam aan die Here en het gedoen wat Hy van hulle gevra het. Sal ons bereid wees om dieselfde te doen: om ons huise te verlaat om na ander om te sien, net die klere aan ons lywe saam te neem en van dorp tot dorp te loop in die hitte, koue en reën, die siekes gesond te maak, die Evangelie te verkondig en net op die Here te vertrou om in al ons behoeftes te voorsien? Dit is ‘n vraag? So baie mense wat geroep word om die werk van die Here te doen, wil eers weet: “Wat sal my salaris wees; bevordering; byvoordele soos ‘n huis, motor, foon – jacuzzi? Waar sal ek gestasioneer wees; hoe is die klimaat daar en is daar dokters en hospitale?”

“Dit werk ou maat, dit werk; Die Here het deur ons gewerk presies soos wat Hy belowe het.”

Ons mag wonder hoe dit met hulle op hul uitreik gegaan het?  In Luk. 10:17 is die terugvoer van ‘n latere groep wat net so uitgetuur was, aangeteken: “En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.” Dit is duidelik dat hulle besonder suksesvol was in hulle sending. Net so sal ons ook wees as ons Sy stem hoor en Sy opdragte uitvoer.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → APOSTELS ROEP . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    Leave a Reply

    Your email address will not be published. Required fields are marked *