2024-07-04
IN HOOFSTUKKE 12 – 15:13 BEHANDEL PAULUS SEKERE ASPEKTE VAN ‘N CHRISTEN SE WANDEL MET GOD.
A. CHRISTENE AS LEWENDE OFFERS (12:1-8).
Met die oog op die feit dat Christus sy lewe as ‘n lewende offer gegee het om vir sy volk hierdie heerlike verlossing te koop, spoor Paulus Christene aan om op hul beurt hulle lewens as lewende offers aan hom op te offer. Dit, sal hulle sekerlik saamstem, is ‘n redelike versoek (dit maak sin). Hul heilige lewens is wat Hom sal behaag. Soos, in vervloë tye, die offer van ‘n dier op die altaar gesien is as ‘n vorm van aanbidding van God, word ‘n offer van jouself as ‘n geestelike vorm van aanbidding van God beskou.
Om te verstaan wat Hom behaag, moet hulle hele manier van dink oor die lewe, vernuwe word. Die vorige denke was dié van die vlees wat basies selfgesentreerd was, maar nou sal die Gees hulle lei in ‘n nuwe benadering tot die lewe wat God gesentreerd is. Aangesien die Skrif nie elke woord, gedagte of handeling wat in ‘n Christen se lewe mag voorkom, dek nie, sal hy op sy Gees vernude denke moet staatmaak om Hom te lei oor wat in God se oë reg en verkeerd is . Die ideaal is om hierdie nuwe ingesteldheid tot die punt van perfeksie te ontwikkel.
Sodoende is dit belangrik om ‘n nugter en realistiese evaluering van jou eie geestelike vermoëns te hê en om nie meer van jouself te dink as wat jy in staat is om by te dra tot die opbouïng van die Liggaam van Christus nie. Wanneer jy byvoorbeeld saam met ander Christene werk, moet jy in gedagte hou dat God gawes aan almal gegee het en dat sommige dalk op sekere gebiede meer begaafd as jy is. Die Kerk is soos ‘n menslike liggaam wat baie verskillende lede (organe) het soos oë, ore, neus, hande, vingers, bene ens, wat elkeen deur God geskep is om ‘n spesifieke funksie te vervul waarby die hele liggaam sal baat.
Sommige van hierdie geestelike gawes is die volgende:
- Profesie, wat behels die uitspreek van die woorde wat God in jou gedagte (mond) lê. Dit is nie die prediking van die Skrif nie. Dit is soos ‘n werknemer wat deur sy werkgewer gestuur word om ‘n boodskap aan iemand anders oor te dra, selfs al verstaan hy nie die inhoud daarvan nie, Die geheim is om reg te hoor en reg oor te dra deur niks by te las of weg te laat nie. Dit is ‘n geestelike gawe en die persoon wat daarin vloei moet ‘n diepe oortuiging hê dat hy dit wat hy spreek van God ontvang het, want hy sal moet pa staan vir dit wat hy beweer hy van God gehoor het.
- Bediening. Diensbaarheid van watter aard ook al; nie noodwendig die beoefening van geestelike leierskap oor ‘n gemeente nie soos die van ‘n dominee wat in sekere denominasies bedien nie. Dit is eerder hulpverlening waar dit ookal nodig is. Jesus het selfs die aanwesiges by ‘n ete se voete gewas toe daar nie ‘n dienskneg teenwoordig was om daardie diens te lewer nie. Die persoon wat in hierdie gawe vloei, moet by uitstek die gestalte van ‘n dienskneg kan aanneem – dit verg besondere genade en salwing. Hy moet homself kan wy aan bystand in nederige, praktiese take; hand bysit. Hy moet getrou en lojaal wees en in gedagte hou dat die Heer gesê het dat daar groter seën in is om ander te bedien as om bedien te word. Die amp van diaken mag ook hieronder resorteer.
- Onderrig of lering (van die Skrif). Die leraar of onderwyser moet die Woord ywerig en noukeurig bestudeer sodat hy ‘n duidelike insig in die verborgenhede daarvan sal hê en verkeerde leerstellings kan weerlê.
- Uitdeel of betoning van barmhartigheid; ontferming oor andere. Daar is diegene wat mildelik deur God geseën is in terme van materiële besittings en inkomstes. Hulle moet nie hierdie gawes opgaar nie, maar vir hulself hou net dit wat hulle werklik nodig het en ander uit hul oorvloed seën soveel hulle kan. Wat hulle uitdeel moet hulle met blymoedigheid doen en hulle nie innerlik verknies oor die uitvloei van hul skatte nie. Hulle moet ook bid vir ‘n gees van onderskeiding sodat hulle verstandige rentmeesters kan wees en nie toelaat dat hul goedheid misbruik word nie. Hierdie gawe sou ook goed te pas kom in ‘n gemeente se diens van barmhartigheid.
- Bemoediging. Die een wat ander bemoedig, moet enersyds ‘n diep begrip hê van, en simpatie met die swakheid van die mens en andersyds ‘n duidelike visie van die grootheid van God. Hy moet ook self ‘n voorbeeld stel van oorwinning en blydskap in die Here onder alle omstandighede.
- Vermaning. Dit is interessant dat dit as ‘n gawe gesien word maar dit verg voorwaar groot wysheid om vermaning tot voordeel van beide die gemeente en die oortreder toe te pas.
- Leierskap: die voorganger moet die nederigste van almal wees en nie oor sy volgelinge heers of homself verryk uit sy bevoorregte posisie nie. Hy moet ook uitmunt in ywer; altyd op die voorpunt, en nie van andere meer verwag as wat hyself gewillig is om in te sit nie.
B. ENKELE CHRISTELIKE DEUGDE WAT ONTWIKKEL MOET WORD (12:9-21).
- Betoon opregte liefde; moenie voorgee wat nie waar is nie.
- Haat wat sleg is; wees van harte lief vir die goeie.
- Wees hartlik teenoor jou broers en susters in Christus; asof hulle eie familie is.
- Laat dit duidelik wees dat jy andere bo jouself ag.
- Dien die Here ywerig en entoesiasties; nie lusteloos en sleepvoet nie.
- Laat jou gees gloei van liefde.
- Verbly jou in die hoop op die heerlikheid wat vir jou voorlê.
- Wees geduldig wanneer die lewe swaar op jou druk en hou net aan om te bid.
- Voorsien in die lewensbehoeftes van die Here se geliefdes wanneer hulle gebrek ly.
- Wees bly wanneer jy die geleentheid kry om gasvryheid te betoon.
- Doen goed aan die wat jou sleg behandel; verwens hulle nie, maar bid eerder dat God hulle sal seën.
- Spring op en juig van harte saam met hulle wat spesiaal geseën word en moet hulle nie beny nie.
- Huil saam met die wat treur; moet hulle nie ontwyk of hulle hartseer afmaak as ‘n kleinigheid nie.
- Leef in harmonie met almal (veral met jou eggenoot, huisgenote, bure en kollegas).
- Moenie trots wees en net met hooggeplaastes assosieer nie, maar wees ook vriende met diegene by wie se vriendskap jy nie sal baat nie; hulle wat in die samelewing vermy word.
- Moenie koppig wees, jouself oorskat of wys wees in jou eie oë nie.
- Moenie jouself wreek deur kwaad vir kwaad te vergeld nie.
- Laat dit aan God oor om reg teenoor jou te laat geskied; regspleging is sy taak, so staan eenkant toe en maak plek vir Hom om te doen wat Syne is.
- Handel in die teenoorgestelde gesindheid teenoor jou vyand deur vir hom kos te gee wanneer hy honger is en water as hy dors is; dan sal hy beskaamd staan.
- Kortom, oorwin die kwaad deur goed te doen.
C. ONDERWERPING AAN OWERHEDE (13:1-7).
- Die beginsel om die samelewing te orden deur die instelling van verskillende vlakke van gesag om die verskillende aspekte van die mensdom se lewenswandel te beheer, is van God.
- Daarom, hy wat die owerhede teëstaan in die uitvoering van hul pligte, staan God teë, en sal Sy oordeel oor homself bring.
- Normaalweg handhaaf owerhede ‘n goeie gesindheid teenoor, en doen goed vir diegene wat aan hulle toevertrou is om te regeer; hulle hoof dus nie deur wetsgehoorsame burgers gevrees te word nie.
- Die oortreder het egter goeie rede om die polisieman te vrees, want hy is God se dienaar en dit is die Here wat hom met ‘n geweer en ammunisie (tronk, rottang, boetekaartjie) af watter ander strafmaatreël ookal, toerus om die opstandiges sy toorn te laat smaak en tot orde te bring.
- Onderdanigheid aan die owerhede moet in die eerste plek wees ter wille van ‘n skoon gewete voor God en nie uit vrees om gestraf te word nie.
- Dink nugter na oor hierdie saak: is die ordening van die samelewing nie die rede waarom jy belasting betaal nie? Is dit nie juis sodat mense aangestel mag word om wet en orde in jou gemeenskap te handhaaf sodat jy in vrede kan lewe nie?
- Betaal dan aan elkeen wat hy nodig het om sy plig te kan nakom, of dit een of ander vorm van belasting, of onderdanigheid of eerbied is.
D. “LIEFDE” IS AL GOD SE WETTE SAAMGEVAT IN EEN WOORD (13:8-10)
Die Wette van God (Ou- en Nuwe Testament) bestaan uit ‘n menigte voorskrifte oor wat gedoen en nie gedoen mag word nie. Dit kan ons moedeloos laat. Hoe onthou ek alles, om nie eers te praat van hoe ek alles kan onderhou nie. Maar eintlik is dit heel eenvoudig en kan dit in een woord opgesom word naamlik die woord, “LIEFDE (LIEFHÊ).”
In hierdie perikoop gaan dit meer oor liefde vir jou medemens. Ons moet niks slegs aan enigiemand anders doen nie en ook nie traag wees om wat goed is aan hulle te doen nie. Ons moet onsself gedurig die vraag afvra, “Watter goeie ding kan ek vandag vir hom of haar doen?” (Hierin moet ek natuurlik deur die Gees van God gelei word want my konsep van goed verskil baie van syne.) Liefde is soos ‘n uitstaande skuld wat ons ons lewe lank besig is om aan andere af te betaal.
E. DIE EINDTYE WAARIN ONS LEEF, MAAN ONS OP DIE KOOP TOE OM HEILIGE TE LEWE (13:11-14).
In die vervulling van die Wet van Liefde, moet ons uit ons sieleslaap van onverskilligheid wakker word en die dringendheid van die situasie besef. Ons leef op ‘n tydstip dat die finale verlossing van hierdie wêreld nader is as ooit tevore. Die donker nag wat oor hierdie wêreld gekom het as gevolg van die sondeval, is amper verby en die nuwe dag van volle verlossing is hier. Die dagbreek van God se heerlikheid is voor hande.
Laat ons, ons dus welvoeglik gedra asof ons reeds in die volle daglig wandel en nie toegee aan dade wat die bedekking van die duisternis nodig het nie; dade soos dronkenskap, onsedelikheid, onmin en jaloesie. Laat ons nie toegee aan die drange van ons sondige natuur nie, maar ons eerder beklee met die heilige kleed van onse Here Jesus Christus.
//////////
NA DIE INDEKS NA VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.