2024-06-19
A. INLEIDING
- Skrywer: Paulus, die apostel.
- Datum geskryf: Ongeveer AD57.
- Doel: Paulus skryf hierdie brief aan die gemeente in Rome om vir hulle ‘n voorsmaak van sy boodskap te gee voordat hy daarheen reis. Die eerste 11 hoofstukke bevat ‘n noukeurig saamgestelde uiteensetting van die Christelike geloof.
- Plek van waar dit geskryf is: Uit Korinthe toe Paulus besig was om voor te berei vir sy besoek aan Jerusalem.
- Sleutelverse: 3:23,24: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is”.
B. DIE SKRYWER, DIE GEADRESSEERDE EN DIE ONDERWERP (1:1-17)
Paulus stel homself eers voor. Hy is ‘n dienaar van Jesus Christus en hy is ‘n apostel – dit wil sê ‘n spesiale boodskapper, afgesonder om die Evangelie te verkondig.
Tweedens praat hy oor die Evangelie. Hierdie Evangelie is lank gelede deur die profete van God belowe soos opgeteken in die Heilige Skrif. Hulle het gesê dat God sy Seun as ‘n mens na hierdie wêreld sou stuur. Wat Sy mensheid betref sou Hy ‘n afstammeling van Dawid wees. Wat Sy Geesteswese betref sou Hy in krag kom as die Seun van God en sou Hy dit bewys deur Sy opstanding uit die dood.
God se genade was op Paulus om hierdie boodskap te verkondig. Niemand hoef skaam te wees vir die Evangelieboodskap nie, want dit is die krag van God tot die redding van elkeen wat dit sal glo; vir die Jood sowel as die heiden. Dit openbaar ‘n geregtigheid wat deur God aan die mensdom gegee is en alleenlik deur middel van geloof van hom in ontvangs geneem kan word.
Derdens praat Paulus oor die mense aan wie hierdie brief gerig was. Dit was bedoel vir die Christengemeente in Rome wat deur God liefgehad en geroep het om heiliges te wees. Hulle geloof het toe reeds oor die hele wêreld bekend geword. Paulus het ook al baie lank begeer om hulle te besoek en dikwels beplan om dit te doen, maar daar was struikelblokke in sy pad sodat hy nie sy doel kon bereik nie. Hy is dit immers aan die ganse mensdom verskuldig om die Evangelie aan hulle te verkondig – aan die Grieke sowel as die nie-Grieke; aan die wyses sowel as die dwases.
Die rede vir sy begeerte om hulle te besoek, was dat hy die een of ander geestelike gawe of seën aan hulle sou kon oordra. Dit sou waarskynlik wees deur hulle ‘n dieper insig in die verborgenhede van die Evangelie te gee. Dit sou hulle help om tot geestelike volwassenheid te groei. Nog ‘n rede waarom hy by hulle wou wees, was om van hulle materiële geskenke te bekom wat hy onder die behoeftige gemeentes sou kon uitdeel.
C. SONDIGHEID VAN DIE HEIDENE EN GOD SE TOORN OP HULLE (1:18-32)
Om die Evangelie van verlossing te verstaan, moet ‘n mens eers die sondige toestand van die mensdom en gevolglik God se toorn op hulle verstaan.
Die mensdom se sondigheid bestaan daarin dat hy God nie as sy Skepper eer, erken en aanbid nie. En die rede waarom hy dit nie doen nie, is nie omdat hy nie van beter weet nie want wat van God geweet kan word, het Hy duidelik deur Sy skepping aan hulle geopenbaar. Die skepping toon duidelik dat Iemand van onbeskryflike majesteit en krag dit alles geskep het. Daarom moes die mens, wat deel van sy skepping was, met al hierdie getuienis voor oë, die Skepper van dit alles asook van homself, soek, vind, dank en aanbid. Geen mens het enige verskoning om dit nie te doen nie; die oorwig van getuienis is net eenvoudig te groot. Die bewyse van ‘n almagtige, alwyse Skepper is bo alle twyfel. Sy handewerk getuig woordeloos vir hom. Hy het dit juis so geskape om hierdie beeld van hom aan alle denkende wesens oor te dra. Die bewys is klinkklaar. Dit kan nie betwis of betwyfel word nie.
Dit beteken dat alhoewel die mense geweet het dat daar ‘n God is, hulle Hom nie as sodanig verheerlik het of Hom gedank het vir die seëninge wat Hy aan hulle geskenk het nie. Namate hulle in hierdie gesindheid voortgegaan het, het hulle begrip geleidelik meer en meer verduisterd geraak. Hulle het hulself as wys beskou en het hul eie gode in die vorm van beelde uitgedink, en daardeur die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir beelde in die vorm van sterflike mens, voëls, diere en reptiele.
Omdat hulle God en die geestelike insig wat Hy aan hulle gegee, geïgnoreer het, het Hy toe toegelaat dat hulle natuurlike sondige begeertes hulle oorheers. Dit het daartoe gelei dat hul karakters verwronge geraak het. Aangevuur deur wellus het mans met mans seks gehad en vroue met vroue. Elke denkbare soort goddeloosheid soos in hierdie verse genoem, het in in hul lewens gemanifesteer tot op die punt waar hulle nuwe soorte sondes uitgedink en God gehaat het. Alhoewel hulle goed geweet het dat hulle God se Wet oortree, het hulle nie net voortgegaan om dit te doen nie, maar ook hierdie gedrag in andere goedgekeur. Sodoende het hulle aktief sonde in hulle gemeenskappe bevorder.
(God is die beliggaming van alles wat heilig is en hoe verder die mens van Hom af wegdryf, hoe ‘n groter vat sal sonde op hom kry. Dit is soos om weg te beweeg van ‘n lamp wat in ‘n groot saal opgesteek is; hoe verder jy wegbeweeg, hoe donkerder sal dit om jou word.)
D. DIE SONDE VAN DIE GANSE MENSDOM EN GOD SE OORDEEL OOR HULLE (2:1-16)
Toe hierdie brief aan die gemeente voorgelees is, het baie lidmate dalk hul koppe meewarig, instemmend geknik of selfs “Amen” geskree toe sondes soos die aanbidding van afgode en ander gruwelike heidense sondes so pertinent genoem is. Maar dan draai Paulus skielik om na hulle wat “Amen” uitgeroep het, praat direk met hulle en sê: “Jy, blote mens, hoe kan jy jouself aanstel om ’n regter te wees en ander mense te oordeel terwyl jy dieselfde dinge doen?” Dan gaan hy voort om sommige hiervan, eie aan hul eie gemeenskap, te noem. Skielik word die gemeente stil, elke lidmaat bewus van sy eie sondigheid.
Die tweede argument wat hy aanvoer: “Deur ander te oordeel, verag jy die rykdom van God se goedertierenheid, sy verdraagsaamheid en sy geduld wat jou tot bekering gelei het. In plaas daarvan om dankbaar te wees vir God se goedheid, kyk jy daaroor heen, sien jy dit nie raak nie. Jy wil hê Hy moet ander oordeel, maar wanneer dit by jou kom, wil jy hê Hy moet jou geduldig terug lei, elke keer as jy op ’n dwaalweg gaan.”
En dan, in vers 11, sê Paulus: Want God trek niemand voor nie; ag die een nie bo die ander nie. Hy sê nie: “Hierdie is ’n kerklidmaat en daardie man is ’n heiden nie, so ek sal hierdie een verskoon en daardie een oordeel.” God oordeel in waarheid volgens die lig wat ‘n mens ontvang het. Op die oordeelsdag sal diegene wat nederig erken het dat hulle God se vergifnis nodig het en sy krag om hulle in staat te stel om die sonde in hul lewens te oorwin, genade ontvang. Maar die wat ander ongenadiglik veroordeel terwyl hulle tog dieselfde as hulle gedoen het, sal ongenadiglik geoordeel word. Diegene wat die Wet van Moses ontvang het, het ‘n groot openbaring van God se wil gekry en sal volgens daardie Wet geoordeel word. Maar selfs die heidene, die heidene het ‘n hoeveelheid lig gehad, ‘n mate van openbaring. Hulle het die Wet van God in hulle harte geskryf gehad en hulle eie gewetes sal hulle skuldig verklaar.
Almal sal geoordeel word volgens die Evangelie van Christus Jesus wat sê dat iemand wie se sondes nie deur die bloed van die Lam bedek is nie, vir ewig verlore sal gaan.
E. DIE SONDIGHEID VAN DIE JODE EN DIE WARE BESNYDENIS (2:17-29)
Paulus wend hom nou spesifiek tot die Jode en berispe hulle vir hul geestelike hoogmoed op dinge wat hulle as gawes van God ontvang het, naamlik:
- Om God se uitverkore volk te wees.
- Om ‘n besondere kennis van sy wil te hê deurdat hulle sy Wette op skrif van hom ontvang het.
As gevolg van hierdie gawes beskou hulle hul volk as:
- ‘n Gids vir die geestelike blindes; ‘n lig vir diegene wat in geestelike duisternis verkeer.
- ‘n Opvoeder van onverstandiges.
- ‘n Leermeester van onervarenes (kinders).
Hy kry hulle dan voor stok vir hul eie tekortkominge, naamlik:
- Alhoewel hulle ander leer, volg hulle nie hul eie leer nie.
- Hulle leer andere om nie te steel nie, maar tog steel hulle self.
- Hulle leer andere om nie egbreuk te pleeg nie, maar doen dit self.
- Hulle verafsku afgode, maar beroof tempels (steel van God).
- Hulle spog dat hulle die Wet het, maar tog oortree hulle die wet.
- Hulle is die oorsaak dat God se Naam in oneer onder die heidene verval.
Hulle spog veral daaroor dat hulle besny is as teken dat hulle as Jode aan God behoort. Maar wat is die betekenis van die besnydenis? Ja, dit is ‘n teken dat jy na die vlees as een van God se volk gebore is, maar dit is ook ‘n herinnering dat, om ‘n geestelike kind van God te word, die ou natuur weggesny moet word deur jouself aan God oor te gee.
Wanneer ‘n Joodse seun gebore is, is hy op die agtste dag daarna, geneem na ‘n persoon wat vaardig was om die voorhuid af te sny. Dit het vir die kind groot pyn veroorsaak. Eers nadat dit gedoen is, is hy gesien as ‘n ware kind van Abraham en deel van God se volk, Israel. (‘n Onbesnede Jood moes selfs gedood word omdat hy nie as ‘n Jood beskou is nie.)
Hierdie ritueel het groot geestelike betekenis gehad. Wanneer die kind groot geword het en bewus geraak het van sy “onbesnede” sondige vleeslike natuur, sou hy gedwonge gevoel het om homself aan die Heilige Gees oor te gee. Dié sou die “vlees” van sy natuur wegsny waardeur hy ‘n seun van God sou word (‘n burger van God se volk).
(In die Nuwe Testament word hierdie handeling wat God vir ‘n mens verrig, die wedergeboorte genoem waardeur God Sy natuur aan ‘n mens oordra. Hy sal dan volgens sy Hemelse Vader se wil begin lewe.
Dit was dan die ware besnydenis; die besnydenis van die hart en slegs ‘n klein persentasie van Israel was geestelik besny en daarom het hulle as volk soms sulke goddelose lewens gelei. Dit is in die boeke oor die konings van Israel beskryf. Paulus maak dus die punt dat ‘n heiden mens sal lyk soos ‘n besnedene in die mate waartoe hy die Wet onderhou en lof van God daarvoor ontvang, eerder as ‘n persoon wat in die vlees besny is, wat nie die Wet onderhou nie. Dit beteken dat die blote besnydenis in die vlees (sonder die besnydenis van die hart) niks was om op te roem nie.
//////////
NA INDEKS NA VOLGENDE HOOFSTUK
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.