2024-06-28
NOTA
Indien u nie die voorafgaande studiegids gelees het nie, klik asb. op ROMEINE 5 en 6 en lees dit vlugtig deur sodat u die huidige gids beter kan verstaan.
Om seën te put uit die gedagtes wat hieronder gedeel word, moet u vertroud wees
A. ‘N ILLUSTRASIE UIT DIE HUWELIK (7:1-6).
Hierdie beginsel van dood vir die sonde en lewend vir Christus kan geïllustreer word deur die huwelik. ‘n Getroude vrou is volgens wet gebonde aan haar man vir solank hy lewe. Sou sy gedurende daardie tydperk met ‘n ander man trou, sal sy aan egbreuk skuldig wees. Die oomblik dat haar man egter sterf, word daardie gesag oor haar verbreek en is sy vry om met iemand anders te trou. In hierdie illustrasie bring die dood vryheid. Nadat jy ook wetlik ten opsigte van die Wet gesterf het deur die dood van Christus, verloor die Wet beheer oor jou en maak dit jou vry sodat jy aan Christus kan behoort. Jy is nou verbind aan Christus Wie jy dien, nie uit vrees vir oordeel nie maar in die vryheid van die Heilige Gees wat jou in staat stel om op hierdie nuwe weg te wandel.
B. DIE STRYD MET SONDE (7:7-25).
Tot watter gevolgtrekking moet ons dan kom? As die Wet die uitwerking het om die mens te verlei (aan te hits) om dit te oortree, wat hom laat sondig, is die Wet dan nie ‘n sondige instrument nie? Beslis nie! Hoe sou ek die wil van God geken het as dit nie was vir Sy Wet wat my beveel het om nie te begeer nie?
Die Wet dien dus ‘n baie goeie doel. Die probleem lê nie by die Wet nie, maar by die sondige natuur van die mens. Sonde is opstandig van aard en haat enige soort gesag, so, die oomblik wanneer dit beveel word om nie te begeer nie, reageer dit in woede en begeer enige begeerlike ding waarop dit sy oë kan lê. Daarom, toe die Wet aan die mensdom gegee is, het sonde binne-in hom onmiddellik opgevlam en dit begin oortree. Dit is soos ‘n boosaardige hond wat rustig in sy hok lê en slaap, maar die oomblik wanneer ‘n vreemdeling verbystap of die hok nader, laat sy aard hom opspring en probeer om die wande van die hok te skeur in ‘n poging om by hierdie persoon uit te kom, hom te byt en te dood. Die probleem is nie by die persoon nie, maar by die hond.
Wanneer daar absoluut geen wet is nie, is dit selfs vir ‘n sondige natuur onmoontlik om te sondig, want daar is niks om teen te sondig nie; daar is geen reël of wet wat verbreek kan word nie. As daar dus nie ‘n wet is nie, sal ‘n persoon met ‘n sondige natuur onverstoord voortgaan. Hy sal nie geoordeel word en sterf nie, omdat hy nie gesondig het nie. Maar die oomblik wanneer God se Wet hom nader, selfs wanneer dit deur sy gewete werk, vlieg sy natuur orent teen die simbool van gesag wat hy haat en laat hom dit uitmekaar skeur. Die sondiging teen God se Wet bring God se oordeel oor hom en God se oordeel lei tot sy dood, sy ewige dood. So, die Wet van God wat die weerspieëling is van Sy heiligheid, wat goed is, lei tot die mens se dood weens die mens se sondige natuur en bewys daardeur die sondigheid van sy natuur.
Die wet is heilig, regverdig en goed, en die feit dat hierdie goeie instrument my dood veroorsaak, openbaar soveel te meer die boosheid van my sonde, ontbloot dit vir die afskuwelike ding wat dit is.
Ons kan ook so daarna kyk: die Wet van God is geestelik en word deur sy Heilige Gees gedra, maar in my natuurlike toestand is ek presies die teenoorgestelde, ek is ongeestelik, ek is ‘n slaaf van die sonde en is verplig om die wil van my heer wie se naam “Sonde” is, te doen. Dit is hoekom, selfs wanneer ek gered is en wettiglik deur God gereken word as dood vir sonde en lewend vir God, ek steeds vind dat hierdie ou natuur in my opstaan en my laat doen wat ek nie meer wil doen nie. Dit laat my doen wat ek nou haat; dit wat my nuwe natuur wat saam met Christus opgestaan het, haat. Ek kyk na die Wet van God en sien hoe goed en heilig dit is en ek stem volkome saam met God dat dit goed is en dat dit die regte ding is om te doen, tog vind ek dat ek dit nie altyd doen nie. Ek verstaan myself dus nie, want al het ek die begeerte om te doen wat goed is, kan ek dit nie gedoen kry nie. Die goeie wat ek wil doen, is nie dit wat ek wel doen nie; nee dit is juis die kwaad wat ek nie wil doen nie wat ek aanhou doen.
Maar hier is ‘n troos in my dilemma: as ek dit doen wat ek nie wil doen nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie. Dit is nie die ware nuwe ek, die nuwe geestelike wese wat saam met Christus opgestaan het wat sondig nie, want hy kan nie sondig nie. Dit is die ou natuur wat nog in my leef wat my laat sondig. So vind ek hierdie wet (beginsel) wat in my werk: as ek goed wil doen, is die kwaad gedurig by my. In my diepste wese, in my nuwe mens, verlustig ek my in God se Wet. Ek sien byvoorbeeld dat dit wonderlik is om my naaste so lief te hê soos myself, maar dan sien ek terselfdertyd dat daar ook ‘n ander wet is wat in my liggaam en in my gees werk en dit voer oorlog teen my nuwe self en probeer om my ‘n gevangene te hou van die sonde wat in my woon.
Ag, wat ‘n ellendige man is ek nie! En wie sal my verlos van hierdie dood wat soos ‘n lyk is (die dood) wat wat ek gedurig met my saamdra? Ek dank God dat daar wel verlossing is en dat dit deur Christus Jesus my Here kom. Hy wat my van my sondeskuld verlos het, kan my ook oomblik vir oomblik daarvan verlos om toe te gee aan my ou natuur. Ek moet egter gedurig keuses maak oor wie ek gaan dien.
Gee ek onversigtig toe aan my sondige natuur, voed ek dit dag vir dag. Mettertyd kan ek totaal en al terugval en selfs ‘n alkoholis, straatvrou of dief word. Weerstaan ek egter die versoekings, sal die ou natuur verswak en geleidelik al hoe meer wegsterf omdat dit nie voedsel ontvang om te groei nie (Die boosaardige hond is later net vel en been).
Kies ek volhardend om ‘n slaaf van die nuwe lewe te wees, gebeur die teenoorgestelde en word ek al vryer om die heilige wil van God te doen.
C. LEWE DEUR DIE HEILIGE GEES (8:1-17).
Hierdie perikoop spreek dieselfde waarhede aan as wat reeds behandel is, maar vanuit ‘n ander perspektief om ons in staat te stel om dit nog beter te verstaan, maar dit openbaar ook nuwe fasette daarvan.
Paulus gebruik twee nuwe woorde vir begrippe waarmee ons reeds vertroud is. Hy gebruik die woord “vlees” om ons ou sondige natuur te beskryf en die woord “Gees (Heilige Gees)” as die sleutelwoord in die aanduiding van ons nuwe lewe in Christus; trouens, die woord “Gees” kom 12 keer in hierdie perikoop voor wat wys watter belangrike rol die Heilige Gees in ons nuwe lewens speel.
TEN OPSIGTE VAN DIE VLEES, WORD DIT GESTEL DAT:
• Weens sy (die vlees se) swakheid was die Wet van God nie in staat om die mens binne Sy wil te laat wandel nie.
• Diegene wat nog volgens die vlees lewe, se gedagtes is gerig op wat die vlees begeer.
• Die gedagtegang wat deur die vlees beheer word, lei tot die dood.
• Die gedagtegang van die vlees is vyandig teenoor God, dit is ‘n vyand van God.
• Die gedagtegang van die vlees is totaal nie in staat om homself aan die wil van God te onderwerp nie.
• Diegene wat deur die gedagtegang van die vlees beheer word, is totaal nie in staat om God te behaag nie.
• Diegene wat uit die vlees lewe, is nou geestelik dood en sal hulself uiteindelik in die ewige dood bevind.
• Jesus, deur na die aarde te kom in ‘n menslike liggaam presies soos dié van ‘n sondige mens, maar Wat tog ‘n volkome heilige lewe gelei het, het gedemonstreer (bewys) dat die mens geen verskoning vir sy sondigheid het nie en voor God veroordeeld staan.
TEN OPSIGTE VAN DIE GEES EN LEWE IN DIE GEES, WORD GEKONSTATEER (VERKLAAR):
• Daar is geen veroordeling (oordeel) vir diegene wat in die lewe van die Gees ingegaan het nie.
• Diegene wat in die lewe van die Gees is, is vrygemaak van die wet van sonde en dood deur ‘n groter wet wat die wet van die Gees is.
• Die Wet (van God) se regmatige vereistes van die mens om daarby te bly, geld steeds en deur die nuwe lewe in die Gees kan die mens nou, deur die krag van God se inwonende Heilige Gees, aan God se Wet voldoen.
• Die gedagtegang wat deur die Gees beheer word, ervaar lewe en vrede.
• Die oomblik wanneer die Heilige Gees in ‘n mens inkom, word hy nie meer deur sy vlees (sondige natuur) beheer nie, maar deur die Gees.
• As die Gees van Christus nie in ‘n persoon woon nie, behoort hy nie aan Christus nie.
• As Christus deur sy Gees in ‘n mens woon, is sy liggaam steeds aan die dood onderworpe, maar sy gees is lewend vanweë die geregtigheid wat die Gees aan hom verleen.
• So ‘n persoon se sterflike liggaam sal aan die einde van hierdie tydperk ook tot lewe opgewek word net soos Christus uit die dood opgewek is.
• Die persoon wat in hierdie nuwe lewe ingegaan het, het ‘n finale besluit geneem om volkome deur die Gees beheer te word en is verplig om by sy besluit (sy oorgawe, toewyding van homself) te bly.
• Iemand wat dit nie doen nie, maar hom gewoonweg en onverskillig of selfs moedswillig weer aan die begeertes van die vlees onderwerp, sal uiteindelik sy nuwe lewe in Christus verloor en terugval in die ewige dood, en wees net soos dié wat nog nooit in die nuwe lewe in die Gees ingegaan het nie.
• Jy moet dus die werke van die vlees doodmaak deur die krag van die Gees wat in jou woon.
• Diegene wat so deur die Gees van God gelei word, is kinders van God (8:9).
• So ‘n persoon het niks om te vrees nie, want sy gees is herskep in die gelykenis van God, Wie hy nou as “Vader”, as “Pappa” kan aanspreek.
• Die Gees wat in ons woon, sal in werklikheid met ons praat, so met ons kommunikeer dat ons duidelik sal kan hoor wat Hy sê, naamlik dat ons God se kinders is (8:16). Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.
• Om kinders van God te wees net soos Christus die Seun van God is, beteken dat ons ook nou erfgename van God is net soos Christus ‘n erfgenaam van sy Vader is; ons is mede-erfgename saam met Christus.
• Ons sal ook mede-erfgename van sy lyding wees, sodat ons in die hemel mede-erfgename van sy heerlikheid kan wees.
D. DIE TOEKOMSTIGE GLORIE (8:18-27).
In hierdie perikoop word die lyding en onvoltooidheid van die huidige lewe vergelyk met die heerlikheid wat in die toekomstige lewe verwag word.
DIE HUIDIGE EN TOEKOMSTIGE TOESTAND VAN DIE SKEPPING.
• As gevolg van die val van Adam het God bepaal dat die hele skepping aan verval en dood onderworpe sou wees. Dit is ‘n frustrasie vir die skepping, want dit is geskep om te lewe en te floreer en nie om te sterf nie.
• Die skepping kreun nou soos ‘n vrou wat kraam.
• Die skepping leef in gretige afwagting van die dag wanneer die seuns van God die beloftes van hulle Vader sal beërwe deur hulle nuwe opgestane liggame te ontvang, want dit is dan dat die hele skepping ook herstel sal word tot die heerlikheid wat God aanvanklik daarvoor in gedagte gehad het.
DIE HUIDIGE EN TOEKOMSTIGE TOESTAND VAN DIE SEUNS VAN GOD.
• Die huidige lyding van God se seuns (kinders) is so onbeduidend in vergelyking met die heerlikheid waarin hulle sal deel in die tyd wat kom, dat dit nie eers die moeite werd is om die een met die ander te probeer vergelyk nie.
• Die eerste vrugte (voorsmaak) van die Gees wat die seuns van God selfs nou ervaar en geniet, laat hulle innerlik kreun terwyl hulle gretig uitsien (smag) na die volle heerlikheid wat kom.
• Natuurlik lê die heerlikheid waarop gehoop word, in die toekoms en word dit nie nou al ervaar nie; ons wag nog geduldig daarop.
• In hierdie toestand van swakheid waarin die seuns van God tans verkeer, kom die Gees ons te hulp en pleit by die Vader om ons welsyn met versugtinge so diep, so plegtig, dat dit nie in mensewoorde beskryf kan word nie.
• Die Vader beantwoord hierdie gebede omdat Hy die dieptes van ons harte deursoek, ons diepste behoeftes verstaan, en omdat Hy volkome saamstem met die smekinge van die Gees, omdat dit in lyn is (strook) met sy wil vir ons.
E. MEER AS OORWINNAARS (8:28-39).
Die gevolgtrekking van alles wat tot nou toe gesê is, is dat diegene wat in die nuwe lewe in Christus ingegaan het, nie net die uitdagings van hierdie huidige lewe sal oorkom nie, maar in glorieryke oorwinning anderkant sal uitkom omdat God aan hulle kant is. In alles wat met hulle gebeur, sal God sorg dat daar iets goeds daaruit voortkom; Hy sal dit tot hulle voordeel gebruik. Dit is wat Hy beplan het nog voordat die skepping plaasgevind het.
SEKERHEID IN DIE WETE DAT GOD DIT ALLES VOOR DIE SKEPPING REEDS SO VIR MY BEPLAN HET.
- Hy het vooraf geweet wie diegene was wat gebore sou word en wat sou kies om hulleself aan Hom te onderwerp.
- Hulle het Hy vooraf bestem om verander te word in die gelykenis van sy Seun wat die eersgeborene van hierdie nuwe broederskap van seuns van God was.
- Hierdie voorafbestemdes het Hy ook op die regte tyd na Homself geroep,
- En die wat Hy so geroep het en wat gereageer het, het Hy ook geregverdig, wat beteken dat Hy verklaar het dat hulle in die regte verhouding tot hom staan vanweë hulle geloof in hom,
- En die wat Hy so geregverdig het Hy ook verheerlik.
WAARBORGE VIR DIE MENS WAT AAN GOD BEHOORT.
Uit hierdie sorg wat God neem vir diegene wat aan Hom behoort, kan ons nou die volgende gevolgtrekkings maak:
- As God vir ons is, wie kan teen ons wees (8:31,32)?
- As Hy nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom oorgegee het om vir ons almal gekruisig te word, hoeveel te meer sal Hy nie sy genade gee vir alle ander dinge wat ons nodig het nie?
- Wie sal nog enige aanklagte kan inbring teen diegene wat God gekies en verklaar het dat hulle in die regte verhouding tot Hom staan?
- Wie kan hierdie mense veroordeel? Het Christus nie vir hulle gesterf, is Hy nie vir hulle opgewek en sit Hy nie nou aan die regterhand van die Vader waar Hy vir hulle intree nie?
- Wie, of wat, sal ons skei van die liefde van Christus: moeilikheid of swaarkry of vervolging of hongersnood of naaktheid of gevaar of swaard; alhoewel dit waar is dat ons ter wille van Hom die hele dag deur voor die dood te staan kom en in hierdie wêreld as slagskape beskou word.
- Nogtans: In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars omdat Hy ons liefhet!
- Geen dood of lewe, of engele of demone, nóg huidige of toekomstige dinge of enige kragte of enige hoogte of diepte of enigiets anders in die hele skepping sal tussenin kan kom en ons skei van die liefde van God wat in Christus Jesus onse Here is nie.
//////////
NA DIE INDEKS NA DIE VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.