HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Luk 19:1-10
Jerigo beleef God se genade wanneer Jesus daar besoek aflê.
Nog ‘n insident by Jerigo. Met die binnegaan van Kanaán was hierdie die eerste stad wat deur Israel verower was. Dit was toe deur God vervloek. Ook het Hy verbied dat dit weer herbou sou word. Iemand het hierdie verbod egter verontagsaam en dit herbou ten koste van sy eersgebore seun wat in die proses gesterf het. Nou egter, het Jesus in die wêreld gekom, nie om sondaars te veroordeel en te straf nie, maar om hulle gesond te maak en te red. En daarom het die genade van God selfs deur Jerigo gevloei, het dit vryelik gevloei na enigiemand wat dit wou ontvang. Bartiméüs was een van diésulkes en hier het ons nou nog ‘n persoon, Saggéüs.
‘n Ryk man gaan deur die naald se oog.
Hy was ‘n ryk man. In ‘n vorige studiegids het ons gesien dat Jesus gesê het dat dit moeiliker was vir ‘n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan as vir ‘n kameel om deur ‘n naald se oog te beur. Tog was dit nie onmoontlik nie, want by God is alle dinge moontlik. En hier sien ons nou juis hoedat so ‘n wonderwerk plaasvind, in hierdie voorheen vervloekte stad. God se genade is waarlik soos water wat uitgegiet word en dit penetreer tot in elke klein krakie van die sondige samelewing.
Saggéüs het nie veel hoop op God gehad nie: ryk, skelm en ‘n verraaier van sy volk.
Aangesien hy klein van statuur was, het Saggéüs al van kleins af geleer dat die lewe maar hard was en dat jy moes veg om ‘n plek in die son. Hy was ook ‘n man wat hom nie veel gesteur het aan wat ander mense van hom dink nie. Waar hy ‘n geleentheid gesien het om vir homself ‘n paar munte in die sak te bring, het hy dit aangegryp. Sodoende het hy gegaan juis na daar waar geld elke dag van hande verwissel het en daarin geslaag om ‘n pos as belastinggaarder by die Romeinse Regering te bekom om hul projekte te befonds.
As Jood het hy hom hierdeur natuurlik die gramskap van sy eie mense op die hals gehaal. Hulle het hom sowel verag as gehaat maar dit het hom min geskeel. Sy skerp brein, leierseienskappe en minagting vir morele waardes soos eerlikheid, het hom in daardie spesifieke beroep in staat gestel om bo sy kollegas uit te styg en algou is hy aangestel as die hoof van al die tollenaars. Hulle moes almal aan hom rapporteer en natuurlik ‘n goeie deel van dit wat hulle ingevorder het, as sy deel aan hom oorbetaal. Algou was hy ‘n ryk en invloedryke man: geadmireer en gehaat, gevrees en verag.
Met dit alles was hy nog nie tevrede nie; hy wou meér as dit hê.
Maar was dít wat hy eintlik wou hê? Het hy nou soos daardie ryk dwaas teruggesit, die een wat die groot oes ingesamel het, sy pakhuise groter gebou en gesê het: “Nou gaan ek my lewe geniet”. Nee, dit wil voorkom of dit nie so was met Saggéüs nie. Dit wil eerder voorkom of sy ondervinding soortgelyk was aan dié van Salomo soos beskryf in die boek Prediker waar hy vertel van al die uitspattighede van die lewe wat hy ondersoek het: rykdom, geleerdheid, posisie, vrouens, ens. en tog geëindig het as ‘n bedrukte en ontnugterde persoon wat nooit werklik bevrediging in dié dinge kon vind nie.
Hy wou hê wat Jesus gehad het.
Waarom kom ek tot hierdie gevolgtrekking? Let op sy reaksie op die nuus dat Jesus besig was om Jerigo te besoek. Hy was gefassineer deur hierdie Man. Jesus het geen huis gehad nie, slegs een kleed en een paar sandale. Toe Hy gevra is om Sy belastings te betaal, moes Hy een van Sy dissipels stuur om ‘n vis te gaan vang en die muntstuk wat in die vis se mond gevind sou word, vir hierdie doel te gebruik. Hy het eenvoudig geen belang gehad in geld of in enige ander materiële dinge nie. Ook het Hy geen begeerte gehad om in ‘n heersers posisie oor ander te fungeer nie. Hy kon dit natuurlik alles gehad het want Sy mag was onbeperk. Hy was in staat om melaatses te reinig, duiwels uit te dryf, blindes te laat sien en selfs om dooies om te wek. Sy gesprekke met die slim Fariseërs, Sadduseërs, en priesters was briljant, tot so ‘n mate dat hulle selfs gevrees het om Hom weer tot ‘n debat uit te daag. Hy kon uitgestyg het tot enige hoogte wat Hy ookal wou, nogtans het Hy ‘n nederige lewenswyse gevolg, die land te voet deurkruis en goed gedoen waar Hy ookal gegaan het. Dit wou voorkom asof Hy ‘n onversteurbare innerlike vrede geniet het, ja ook vreugde vêr bo enige ander godsdienstige leier. Bowe al, alhoewel dit heftig deur die studente van die Wet van Moses ontken is, het die gerug rondgegaan dat Hy die Seun van God was, die verwagte Messias.
Was Jesus eg?
Hoe sou Saggéüs die saak vir homself kon uitmaak of hierdie Man nou werklik was Wie hy gesê het dat Hy was? Aangesien hy in sy beroep genoodsaak was om ‘n fyn mensekennis te ontwikkel om te kon bepaal wie eerlik was en wie nie, het hy dalk by homself gedink: “As ek maar net naby genoeg aan Hom kon kom om Sy gesig te sien, om in Sy oë te kyk, sal ek weet of Hy is Wie Hy voorgee om te wees – en moontlik ook die antwoord op my eie leegheid vind.” So het dit dan gebeur dat hy aangesluit het by die gedrang van mense om Jesus heen, mense wat meestens daar was om genees te word. Maar dit was nie sy behoefte nie.
‘n Soeker na God is onstuitbaar.
Hy was sterk en gesond en het sy elmboë gebruik om vir hom ‘n weg deur die mense massa te probeer baan, maar dit het niks gehelp nie, want hy was te klein van statuur en kon nie oor hulle koppe sien nie. Toe kry hy ‘n gedagte: daar voor in die pad het hy ‘n wildevyeboom sien staan met reuse takke wat oor die pad gehang het. Dit was die antwoord. Hy glip agtertoe, uit die massas uit en hardloop vooruit. So rats soos ‘n kat is hy op teen die stam en kruip vorentoe op ‘n tak wat regoor die pad uitsteek. Die blare was maar karig maar hy het daarop gereken dat almal se oë op die Here Jesus sou wees en dat niemand sou opkyk en hom raaksien nie.
Die soeker vind en word gevind.
Die skare, het ál nader gekom. Asemloos het hy lê en wag. Toe sien hy Hom, vir Jesus, die Man reg in die middel. Nader en nader het Hy gekom, terwyl Hy dan met dié een en dan met ‘n ander, om Hom praat. Nou was Hy bykans reg onder hom, en hy leun vorentoe, sovêr as wat hy kon en kyk af op Hom. ‘n Brandende begeerte wat hy nooit tevore beleef het nie, ontvlam in sy hart. “O God van Abraham, is hierdie U Seun, is Hý die Messias?” En toe, skielik, stop die Here Jesus, kyk op in die takke, reg in sy oë, en met ‘n sagte maar outoritêre stem, beveel Hy: “Saggéüs, maak gou en klim af want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan.”
‘n Verstoteling word ‘n gunsteling.
Vir ‘n oomblik was hy algeheel verstom. “Hoe het Hy geweet dat ek hier was? Hoe is dit dat Hy my naam ken? Jehova het my gebed beantwoord! Hy moét, …. nee, Hy is verseker die Seun van God, die Heilige Een wat van Bo gestuur is.” Hy trek sy kleed nouer om hom, gly teen die boomstam af, drafstap oorbluf, opgewonde voor die skare uit in die rigting van sy huis terwyl sy gedagtes verward rondmaal: “Hy gaan in my huis inkom. In ‘n sondaar se huis inkom. Dan moet daar sekerlik hoop vir my wees.”
Gebrek aan begrip.
Wel, laat ons hierdie storie kort sny. Saggéüs het Jesus in sy luukse huis ingelei en sy diensknegte opdrag gegee om die heel beste maal voor te sit. Dit het baie van dié wat teenwoordig was, aanstoot gegee, en hulle het onder hulle self begin murmureer en gesê: “Hy het ingegaan om die gas van ‘n sondaar te wees.” Hierdie mense was strenge navolgers van die Wet van Moses en het geen genade vir sondaars gehad nie. Natuurlik was hulle reg daarin dat God nie wou hê dat Sy mense deel moes hê in ‘n goddelose lewenswyse nie, maar Hy wou tog hê dat hulle ‘n geopende oog en oor moes hê vir sondaars wat ‘n behoefte aan God gehad het.
Dade spreek harder as woorde.
Saggéüs het baie vinnig op hulle aanklag gereageer. Hy het geweet dat hy nou sy lewe vir Jesus gegee het, en dat hy nooit weer die oú pad van kul en steel sou loop nie. En hy wou hê dat één en almal dit duidelik moes verstaan. Daarom spring hy op en sê vir die Here: “Kyk Here, hier en nou gee ek die helfte van my besittings vir die armes. En as ek enigiemand verkul het, sal ek dit viervoudig aan hom terugbetaal.”
‘n Wedergebore mens is nie skaam om sy vroeëre sondes prontuit te erken nie.
Niemand was so-iets van ‘n tollenaar te wagte nie. Selfs Jesus het dit nie van hom gevra nie. Dit was vir almal duidelik dat die genade van God ‘n groot wonder in sy hart bewerk het. Deur aan te bied om dit waarin hy andere verkul het viervoudig te vergoed, het hy openlik erken dat hy ‘n dief was want dit was wat in die Wet van Moses as straf vir diefstal opgelê was.
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword.” (2 Kor 5:17).
Deur hierdie woorde het hy duidelik gedemonstreer dat hy so pas ingegaan het in die Koninkryk van God. Jesus het dit ook bevestig deur Sy antwoord: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Want die Seun van die Mens het gekom om te soek en te red wat verlore was:” Let daarop dat Saggéüs nie net vir Jesus, die Redder van siele gevind het nie, maar dat Jesus ook vir Saggéüs, die verlore, soekende siel met die leë hart gevind het.
Let ook daarop dat, alhoewel Jesus gesien het dat Saggéüs ‘n baie ryk man was, Hy nie van hom vereis het om al sy goed te verkoop en sy besittings vir die armes te gee en Hom dan te volg soos wat Hy van die ryk jong owerste vereis het nie, want Hy het in Sy hart onderskei dat Saggeüs nie meer daardie wêreldse dinge bó God gestel het nie en dat hy dus voortaan sy besittings sou gebruik as God se seëninge om andere mee te dien.
Saggéüs se boodskap.
Die verhaal van Saggéüs leer ook vir ons dat die lewe nie in uiterlike dinge te vinde is nie maar in die innerlike seëninge, die dinge van die hart en die gees, in gemeenskap met die Heilige Gees.
Wat laat ek na?
‘n Laaste opmerking: Wanneer Jesus ookal deur ‘n landelike omgewing of ‘n dorp beweeg het, het Hy geredde siele daarin agtergelaat, mense wat vrygemaak is van die binding van demone, melaatses wat gereinig is van hul aaklige siekte en gedagtes wat gevul is met hemelse inhoud. Hy het werklik die droë land in ‘n Tuin van Eden verander. Wat laat jy en ek ná in die huise wat ons besoek, die taxi’s waarin ons ry en die winkels waar ons, ons goedere koop? Hoe sal die land waardeur ons op ons lewenspad beweeg het, eendag lyk wanneer ons daarop terugkyk, voordat ons oor die drumpel van die Ewigheid stap?
//////////
……….