A. INLEIDING
In die vorige studies het ons gesien hoedat die Heer die aardbol wat in duisternis gehul was, ineens belig en dag en nag daarvoor ingestel het. Daarna het Hy die atmosfeer gemaak sodat water wat vanaf die oppervlak verdamp, hoog bo opgelig en as wolke deur lugstrome na afgeleë plekke gedryf kon word om daar as reën uit te sak. Sy projek “Aarde” was op koers om tot ‘n indrukwekkende skeppingswerk te ontwikkel. Kom ons kyk nou na die volgende wonderwerk. Hiervoor moes ‘n groot herorganisering plaasvind.
B. DIE DROË GROND OF “AARDE” EN DIE SEE
Die water was goed, maar daaronder was ontsaglike potensiële landskappe van velde en bewerkbare landbougrond. Onder die aardoppervlak was daar ook rykdomme van grondstowwe wat vooraf deur die Heer daarin vir latere gebruik weggelê was: metale en minerale soos yster, koper, platinum, silwer, goud, diamante en veel meer.
Die water wat goed was, het dus die weg versper vir die benutting van die aarde vir plante, diere en mense en alles wat uit hulle kon voortvloei. Die goeie moes behou, maar in sy eie toepaslike plek geplaas word om ruimte te skep vir ander goeie dinge; vir die vermenigvuldiging van die goeie waarmee die Here die aarde wou seën.
Dit is nou die tweede keer dat die alwyse God sy skepping deur skeiding herorganiseer. Wil Hy dalk hierdeur vir ons iets belangriks leer? Wil Hy my lewe anders orden om dit beter te kan benut? Hy sien die goeie dinge daarin raak, maar ook die groter potensiaal; beide fisies, materieël en geestelik. My beroep is moontlik goed, ‘n gawe van God en bring baie middele in sodat ek in die behoeftes van my gesin kan voorsien, maar dit moet nie die plek inneem van die tyd wat ek persoonlik met my vrou en kinders moet deurbring nie; hulle het nie net my geld nie, maar ook my persoonlike aandag en liefdesbetuiging nodig. Of miskien het ek as kind baie min liefde van my ouers ontvang en nou bestee ek soveel tyd aan my kinders dat ek geen tyd het vir my ouers wat in ‘n ouetehuis afgesonder is nie.
Vir sommige is plesier en vriende weer baie belangrik. Wanneer ‘n mens die goeie in die lewe nastreef, kan jou lewe miskien met ‘n pragtig versierde koek vergelyk word; maar onthou, dit behoort aan Hom, nie aan jouself nie. In sy wysheid deel Hy dit op in skywe en elke skyf is bestem vir iets of iemand anders: vir jou werkgewer, jou gesin, vriende, jou volk, die ongereddenes daar buite, die man in die straat, ens.
As jy jou tyd elke dag op sy tafel neersit, sal Hy sorg dat ‘n groot skyf daarvan aan homself toeval. Hoeveel tyd spandeer jy deur sommer net stil te sit en na te dink oor sy liefde, sy seëninge en om ag te gee op alles wat Hy in sy Woord met jou wil deel? Die dinge in ons eie klein wêreldtjie lyk vir ons baie, baie belangrik, maar God sien iets groters vir jou soos Hy dit in Jes 55:9 stel:
Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Hy wil niks wat goed is van ons wegvat nie; Hy wil net die goeie “water” in plek plaas sodat Hy ons potensiaal beter kan benut. Onder die water is vrugbare grond waarin die Here nuwe saad vir jou wil saai wat nuwe soorte vrugte sal oplewer. God se horison vir jou mag selfs veel wyer strek as wat jy ooit sou kon droom.
Abraham het daar waar hy in die heidense Ur van die Galdeërs gewoon het, op bonatuurlike wyse die ware God leer ken. Dit was voorwaar ‘n ongekende seën maar die Heer het iets beters vir hom in gedagte gehad. Hy wou hê dat hy die seën wat hy ontvang het, met die ganse wêreld moes deel. So gebeur dit toe dat Hy op ‘n dag vir hom sê:
Gen 12:1 … Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. 2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. 4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, …
Abraham moes baie prysgee en allerhande beproewinge deurstaan om die hoër roeping op sy lewe te kon uitleef, maar hy was nooit spyt omdat hy bereid was om toe te laat dat God sy lewe herorganiseer nie.
Die aardbol was bestem om allerhande soorte van lewe te huisves en elke ding wat daarop is, is ontwerp om een of ander funksie te vervul wat vir alles om hom nuttig sal wees, maar om dit te kan doen, moet alles aan Hom, die Planmaker, die Ontwerper, die Argitek, onderworpe wees want sy planne oortref ons planne. So was Jakob se geliefde Seun, Josef as slaaf verkoop, maar later tot heerser in Egipte verhef en het Dawid, die skaapwagterjie, koning van Israel geword.
Mag ek in beskeidenheid byvoeg dat ook ek, na my redding ‘n beroep waarvoor ek lank voorberei het en al die sekuriteit daaraan verbonde, moes prysgee om die hoëre roeping van die voltydse verkondiging van die Evangelie te kon uitleef.
Die waters, wat goed is, moet plek maak, eenkant toe geskuif word om God se grotere plan in vervulling te laat gaan.
Gen 1:9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. 10 En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.
Vir die mens sou die praktiese bewerking hiervan ‘n bomenslike taak wees. Die Nederlanders probeer geslagte lank al om ‘n stukkie bykomende land te bekom deur die see met dyke (reuse keerwalle) af te sper, maar dit verg weer gedurige sorgvuldige instandhouding.
God het ‘n baie beter plan beraam om hierdie skeiding teweeg te bring en te behou. Hy het groter gedink. Hy het atoom energie in die kern van die aarde gebruik om die aardkors op plekke verder te versink en elders weer hoër op te lig. Sò het kontinente uit die waters verrys en dit laat wegvloei om ‘n see van omringende waters te vorm. Sò is die oppervlak van die aarde in see en droë land verdeel. Die waters van die see eerbiedig vandag nog die grense wat die Here vir hulle gestel het. Wat ‘n magtige werk van God se hande. Hy het geen arbeiders daarvoor in diens geneem nie; nee, Hy het sommer die natuur self gebruik.
Ons weet nie hoe die kontinente toe gelyk het nie. Miskien is hulle gedurende die sondvloed in Noag se tyd verder verskuif en hergeorganiseer. Wetenskaplikes praat van ‘n reuse kontinent by name, Godwana, wat vroeër ontstaan en later in klener kontinente opgebreek het. Hoe dit ookal sy, skielik was daar ontsaglike ruimtes blootgelê waar lewe gevestig kon word. Die wêreld wat woes en leeg was, was besig om georden te word. Wanorde het plek gemaak vir struktuur en infrastruktuur. Daarna sou Hy dit vul met lewende lewens. Die boer berei eers die grond voor, daarna plant hy sy mielies, koring, wingerd en bome en koop hy skape, beeste en hoenders aan.
Deur die eeue heen, het die Heer herhaaldelik die natuur gebruik om sy wil te laat geskied: hael, springkane en steekvlieë, duisternis en dood om sy volk uit die mag van die Farao te verlos, wind om die Rooisee en die Jordaanrivier te kloof en aan die einde van die dae sal Hy selfs die ganse skepping met vuur laat vergaan om ‘n nuwe hemel en aarde te kan skep: Hy is God almagtig!
‘n Laaste gedagte: dit was vir die Here makliker om die waters te herorganiseer en droë land te voorskyn te bring, as om sommige van ons se lewens na sy wil te hervorm. Met die aarde kon Hy doen wat Hy wou omdat dit nie ‘n eie wil het nie, maar ons moet eers ja sê vir sy hervorming en hoe moeilik vind ons dit tog nie om daardie geloofstap van oorgawe te neem nie. Soos ‘n mossel aan ‘n rots, kleef ons krampagtig vas aan wat ons het, te bang om te laat skiet om die onbekende groter wêreld van God se visie in besit te neem.
C. PLANTE
Die aardoppervlak was nou gereed om beplant te word – ook was daar reën om die ganse aarde te besproei, daarom het die Heer voortgegaan met sy skeppingswerke.
Gen 1:11 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. 12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.
Weereens ‘n onmenslike taak. Stel jou voor: ‘n Boer wat uitkyk oor sy saailand maar die grond beslaan ongeveer 30% van die aardoppervlak en daarin moet Hy elke soort plant wat ooit benodig sal word, vestig, sommige deur hul saad te saai en andere deur biljoene bolle, knolle en wortels in die klam aarde te plant; elke plant op die regte plek waar dit sal floreer, ook die seeplante. Boonop sou Hy dit alles uit niks moes laat voortkom.
Maar Hy is God en gee net die bevel: Laat die aarde voortbring .. En dit was so. Die aarde het voortgebring . .
Die Royal Botanic Gardens, Kew, het onlangs bepaal dat daar nou 390,900 soorte plante op aarde groei en dat steeds meer ontdek word. (As dit so moeilik is om hulle te tel, dink net hoe ingewikkeld dit was om hulle almal te bedink en te skape.) Hulle is bedoel as voedsel en ander gebruike vir mens en dier en vir die verfraaiïng van die omgewing. Kyk net om jou na die verskeidenheid wat die Heer vir jou geskape het, sommige so klein soos jou pinkie se nael en andere, soos die kremetart en bloekom, troon hoog bo jou uit. Sommige bied net skadu aan die wild of aan jou vee; andere gee hulself as hout vir jou meubels en nog andere lewer elke jaar ‘n groot drag vrugte.
Bedink ‘n bietjie wat die planteryk alles oplewer vir die mens se tafel: koring vir brood, mielies vir pap, aartappels vir skyfies, kool, slaai, kwepers, papajas, druiwe, okkerneute, amandels, grondboontjies, waatlemoene en pampoene, granate, nartjies, patats, rys en mieliegruis, suiker en suurlemoene, spanspekke, koffie, tee en kakao, kookolie en pypkaneel, en, en, en.
Die kameelperd eet die boomblare bo aan die boom se takke, die bees wy in die gras daar onder, die mossie pik grassade van die pad af op en die vlakvark dobbel die grond om, om by die plantwortels uit te kom. So het die Here die tafel gedek vir alle wesens wat sou kom.
Let ook daarop dat niks vir homself bestaan of lewe nie; alles is daar vir iets of iemand anders.
Maar kom ons kom by die uitstaande belangrikheid van die derde skeppingsdag; dit was naamlik die dag waarop lewe op ons aardbol gevestig is; dit wat ons klein planeet onderskei van, en belangriker maak, as alle ander hemelliggame in die kosmos. Plantlewe is wel die laagste vorm van algemene lewe, nogtans is dit so wonderbaar dat geen wetenskaplike dit nog kon namaak nie.
Ons het ‘n naam daarvoor, “lewe” maar kan dit nie definieër nie. Ons kan net die kenmerke beskryf naamlik dat dit iets is wat sigself in selvorm kan organiseer en in stand kan hou, kan voortplant, energie gebruik, op sy omgewing kan reageer en kan aanpas by veranderende omstandighede. Dit sê nog nie veel nie. Net God, Die Gewer van lewe, verstaan werklik wat dit is.
In dierelewe is die misterie daarvan treffender as in plantlewe. Jy hou ‘n lewende voëltjie in jou hand vas, sien en voel hoe hy spartel en beleef die lewe wat in hom is. Dan sterf hy en onmiddellik weet jy dat jy nou niks meer as vlees en vere in jou hand het nie; sy lewe het hom verlaat en kan op geen natuurlike wyse in hom teruggeplaas word nie; en nou praat ons maar net van dierelewe wat geen gees het nie.
Ons lees hoe dat die towenaars van Egipte twee of drie van die wonderwerke wat die Here deur Moses gedoen het, kon naboots, maar toe Hy voortgaan na die vierde, vyfde en verdere wonders moes hulle erken, “Dit is die vinger van God”. Die mens kan ook verstommende fisiese “wonders” verrig en selfs ruimtetuie na verafgeleë planete stuur, maar lewe uit die niet, of selfs uit ‘n lewelose voorwerp voortbring, dit kan hy nie; dit kan net die hand van God.
Plante is daar in oorvloed. Ongeveer 82persent van alle lewende biomassa bestaan daaruit. Daar is dus sowat 7500 plante vir elke mens; 7500 vingers rondom elkeen van ons wat na ons Skepper heenwys en sê, “Hy het my gemaak”. Daarom, kom ons kyk opnuut met verwondering na die plantelewe en bring hulde aan Hom, hul Skepper, ons Vader.
Deur die eeue heen sou Hy ook herhaaldelik intree om wat gesterf het, weer lewend te maak. Tewens, om iemand uit die fisiese dood op te wek, is vir hom so maklik as om een wat slaap wakker te maak. Vir die rouklaers by die huis van Jairus het Hy gesê sy gestorwe dogtertjie slaap net. Hulle het hom uitgelag maar toe gryp Hy haar hand, roep uit, “Dogtertjie, staan op!” en haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan (Luk 8:54,55).
In Jes 53:2 lees ons dat toe die mensdom in geestelike dood versink het, Jesus, soos ‘n wortel uit droë grond uitgespruit het en nadat hulle hom gekruisig, in doeke toegedraai en in ‘n graf weggelê het, Hy op die derde dag self weer lewend geword en opgestaan het. Hy IS die lewe (Joh 11:25) en die Gewer van lewe (Joh 6:47, ens).
Voel jy soos die eindelose barre aarde op die derde skeppingsdag? Sien Jesus staan met uitgestrekte hande en hoor hom uitroep: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is … . Sien nou in jou geestesoog hoe dat 390,900 soorte plante deur die kors van die oppervlak breek en groen lower en kleurryke blomme die aardbol in ‘n kunswerk omskep.
Fokus nou op jouself. Strek elke oggend in geloof jou hande uit en spreek daardie geloofswoorde oor jou dorre eensame bestaan, jou verdroogde huwelik, jou jarelange finansiële woestyn, die vrugtelose lewens van jou afgedwaalde kinders en jou siekte geteisterde liggaam en sien hoedat die Here nog ‘n skeppingswerk doen en groen, kleurryke, nuwe lewe vir jou uit jou dorre aarde laat voortspruit.
SHALOM
……….