Skepping van die atmosfeer: Gen 1:6-8

A. INLEIDING

Hierdie Bybelstudie gaan, soos die opskrif aandui, oor die skepping van die atmosfeer, maar kom ons sluit by die vorige studie aan deur nog ‘n gedagtetjie of wat oor LIG te wissel.

Die lig wat die Heer op die eerste dag bokant sy werksprojek aangeskakel het, het aangeskakel gebly; daar was nooit enige tekort aan krag of noodsaaklikheid vir onderbrekings om noodsaaklike instandhoudingswerk te kon doen nie. Tot op hede is dit die enigste betroubare, volhoubare, eko-vriendelike ligbron hier op aarde.

Lig is vir alle praktiese doeleindes self onsigbaar maar sy funksie is om voorwerpe te openbaar of sigbaar te maak. Kyk ek na ‘n kersvlam in ‘n donker kamer kan ek die vorm, kleur en beweging van die bron, die vlam, sien deur die lig wat dit uitstraal. So word die bron vir my sigbaar.

Lig openbaar ook die voorwerpe  waarop dit skyn deur vanaf die voorwerp in alle rigtings te weerkaats. Sommige van die lig wat vanaf die blaker waarin die kers staan, weerkaats, bereik my oë. Nou sien ek dat die blaker van geelkoper gemaak en met ‘n oor toegerus is waaraan ek dit en die kers kan ronddra. Die meeste voorwerpe op aarde straal nie lig uit nie maar weerkaats dit. Sodoende kan ek dan ook die pragtige vrou sien wat die Heer vir my gegee het.

Sommige van die sterre is ligbronne (fabrikante) maar andere weerkaats net die bestaande lig en raak so vir ons sigbaar. Ons moet natuurlik fyn ontwerpte oë hê om die lig wat op hulle skyn te kan inneem en deurvoer na die brein – maar di’s ‘n ander onderwerp.

Vir die gewone mens is die ligbronne nie daar om te bestudeer en verstaan te word nie, maar net om waardeer en benut te word.

Jesus het gesê dat Hy die Lig van die wêreld is. Daarmee bedoel Hy dat Hy enersyds gekom het om God aan ons te openbaar – sigbaar te maak; nie hoe Hy vir die mens se oog lyk nie want Hy is Gees en gees is onsigbaar. Hy het gekom dat ons kan sien hoe God geestelik lyk; naamlik hoe Hy is; al sy eienskappe soos heiligheid, liefde, almag, ens.

Die meeste mense wil Hom nie sien nie en knyp hulle geestelike oë toe sodat hulle mettertyd geestelik blind word soos ‘n vlermuis of mol wat nie die aardse lig kan sien of benut nie. Die mens wil nie dat God se lig op hulle skyn nie want dit laat hulle sien hoe vuil en lelik hulle voor sy oë is. Hulle val en struikel lewenslank in geestelike duister, loop hulself teen mure vas en val in slote en vernietig hulleself. Uiteindelik beland hulle in die put van ewige duisternis.

B. DIE ATMOSFEER OF “HEMEL

Behalwe vir die lig, was daar, soos ons reeds gesien het, ook ‘n oorvloed van water wat die Heer tevore reeds geskep het.

Water was natuurlik besonder bruikbaar in sy drie vorms: as vloeistof, vastestof en damp. As vloeistof kon dit ‘n habitat vorm vir die menigte seediere en as vastestof ‘n leefwêred bied vir die diere wat op die miljoene vierkante meters van ys by die pole daarop sou floreer.

Maar, die waterdamp wat op die waters gelê of gesweef het, het egter ‘n probleem geskep omdat die lewende wesens wat die Heer later sou skape, nie gerieflik daarin sou kon bestaan nie. Om maar een voorbeeld te noem: hulle sou mekaar skaars kon sien! Daar moes dus vir hulle ‘n eiesoortige ruimte geskep word.

Die waterdamp kon ook baie beter benut, en oor ‘n veel wyer veld aanwend word. Die Heer wou dit regoor die aarde gebruik om die plante wat uit die droë grond sou groei, te bevogtig; moontlik ook as ‘n beskermende laag vir alles wat sou lewe.

Daarom moes Hy die damp hoog bo die vloeibare waters opgelig. Dit het Hy gedoen deur ‘n atmosfeer bestaande uit verskeie gasse bokant die vloeibare waters te skep. Waterdamp wat heelwat ligter is as die gasse van die atmosfeer, sou daaruit opstyg tot op ‘n hoogte waar die gewig daarvan ongeveer gelyk sou wees aan dié van die omringende atmosfeer wat hoe hoër, hoe dunner word. En siedaar, soos wat die atmosfeer bokant die oseaan ontstaan, rys die waterdamp geleidelik al hoër op en kort voor lank was die aardbol oortrek met pragtige wit wolke wat hoog bo die waters gesweef het asof dit deur ‘n magtige, onsigbare hand daar opgehou was. So het die Heer dit dan ook moontlik gemaak dat water wat op een plek uit die waters verdamp, geruisloos na ‘n ander plek gedra kan word om daar reën te gee.

Voorwaar ‘n baie slim plan. As ‘n groot vliegtuig enigsins lagerig oor ons koppe vlieg, maak dit so ‘n verskriklike lawaai dat ons, ons selfoongesprek moet onderbreek; nie so met die reuse wolke nie; hulle beweeg geruisloos oor ons heen en doen hulle magtige werk sonder om ons in ons dagtaak te steur.

 Die atmosfeer het ook aan die aarde ‘n derde lewens dimensie gegee. Aardbewoners sou nie meer net noord, suid, oos of wes op die oppervlak kon beweeg nie, maar ook op en af en heen en weer bokant die oppervlak. In ‘n digbewoonde stad, vergroot die mens tans sy lewensruimte deur reuse wolkekrabbers in die lug in op te bou waarin honderde mense kan woon. Die Here het eerste aan so ‘n oplossing gedink toe Hy, deur die skepping van die atmosfeer, ‘n ontsaglike, 8 tot 15km hoë, bykomende lewensruimte reg rondom die aarde geskep het. Hierdie lewensruimte was bedoel vir alles wat vlerke het; insekte, voëls en vliegtuie.

Nog ‘n belangrike funksie van die atmosfeer is dat dit lewensnoodsaaklike suurstof aan mens en dier en koolsuurgas aan die plantelewe sou bied.

Nee, dit alles het nie sommer vanself uit ‘n selletjie gebeur soos wat Darwin en sy proseliete verkondig nie; ons Skepper het dit haarfyn beplan en uitgevoer en toe Hy teen die aand van die tweede dag terugstaan en daarna kyk, het Hy bevind dat dit goed was. Enige paneel van deskundiges sou heelhartig met hom saamgestem het.

Die nuuskieriges onder ons wil dalk weet waaruit die atmosfeer bestaan en hoe die Heer dit geskep het. Dit is huidiglik ‘n komposisie van die volgende gasse: stikstof 78%, molekulêre suurstof 21%, argon 0,93%, koolstof dioksied 0,0395% en waterterdamp, gemiddeld 2-3%.

Gedagtig daaraan dat Hy gewoonlik voortbou op wat Hy reeds tot stand gebring het, sou ons sê dat Hy hierdie gasse daargestel het deur die omskakeling van bestaande materie, soos wat hy Adam uit die bestaande stof van die aarde geskape het en Eva weer uit Adam se ribbebeen. Het Hy die gasse uit die oppervlak waters geformeer, of dalk deur vuurspuwende berge wat gasse deur die waters die ruimte in geblaas het of dalk op ‘n gans ander wyse? Hierdie antwoord vind ons nie in die Woord nie.

C. WAT LEER HY MY DEUR DIE ATMOSFEER OMTRENT HOMSELF?

  • DAT HY ALTYD BAIE, BAIE NABY AAN MY IS

Die atmosfeer is vir ons ‘n voorbeeld van hoe God as Gees is. Ons kan die lug hier om ons nie met ons vingers voel nie, so is God ook: teenwoordig, maar ontasbaar. Hy is hier maar ek kan Hom nie met my hand aanraak nie. Ook kan ons die atmosfeer wat ons omring nie sien nie; ons kyk dwarsdeur dit na ons omgewing. So kyk ons in der waarheid ook gedurig deur die alomteenwoordige Here na die sigbare wêreld om ons. Só na as wat die lug aan my liggaam is, so na is my God aan my gees.

Die alomteenwoordigheid van God is ook ononderbroke. Hy is oomblik na oomblik, na oomblik, alomteenwoordig. Hy is gedurig alomteenwoordig. Soos wat mens, dier en plant gedurig van die atmosfeer, die lug, omgewe is, so omsluit Hy alle fisiese dinge gedurigdeur; vanaf die reuse aardbol tot die kleinste goggatjie. Hoe vinnig die windswawel ook al vlieg of hoe hewig die boompie deur die storm beweeg word, die omringende lug vloei blitssnel met alles saam en hou gedurig daarmee kontak. Ons beland nooit in ‘n lugleegte wat ons skielik na asem laat snak nie of waar die Heer nie by ons, vas teenaan, ons is nie.

want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons  (Hand 17:28).

Die beskerming wat net Hy ons deur sy alomteenwoordigheid kan bied, is ‘n groot troos vir elkeen wat hulself in sy sorg geplaas het. Hiervan getuig Dawid in een van sy Psalms:

U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. (Ps 139:5-10).

  • DAT ALHOEWEL HY ONSIGBAAR, HY TOG WAARNEEMBAAR IS

Hoe weet ons dat ons van lug omring is? Die lug openbaar homself, maak homself sigbaar (waarneembaar) deur sy werke: deur die wind wat die palmbome krom buig deur sy krag, wat die wiel van die windpomp laat tol, die warrelwind wat deur die Karoo vlakte dans en die reuse wolke wat hoog daar bo deur onsigbare lugstrome na onbekende bestemmings vervoer word.  

Net so openbaar die Here homself aan die mens deur sy skeppingswerke: sy krag in die magtige golwe van die see; sy welwillendheid deur sy son wat Hy laat neerskyn en sy reënwater wat Hy uitgiet op slegtes en goeies, sy kunstigheid in die blomme in my tuin, sy tere hart in die sorg van ‘n moeder vir die kleinding wat sy in die lewe gebring het.

Hierdie openbarings van homself deur sy skepping is nie maar toevallig nie; Hy het dit so beskik soos dit ook in die Skrif bevestig word:

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, (Rom 1:20).

O ongelowige mens, aanskou die werke van jou Skepper waarin Hy homself aan jou vertoon! O kind van God, hef jou hande op na bo, juig en jubel in die heerlikheid van jou onsigbare Vader.

  • DAT HY DIE ONDERHOUER IS VAN ALLES WAT LEEF

Deur die atmosfeer onderhou die Heer alle lewe deur die suurstof en koolsuurgas wat Hy daarin geplaas het. En dan praat ons nie eers van die lugdruk waardeur die atmosfeer alle lewende wesens aanmekaar (“intact”) hou sodat hulle nie ontplof nie. Sou die atmosfeer eensklaps verdwyn, sal elke vorm van lewe ineens sterf en terugkeer tot lewelose materie – kyk maar na fotos van die oppervlak van die maan en van ander planete waar daar geen atmosfeer soortgelyk aan ons eie is nie.

Selfs die mees goddelose mens word so deur God se genade omvou en nie vir ‘n enkele oomblik begewe die Here hom nie. Soos wat Hy die asem van die lewe in die lewelose klei model van Adam ingeblaas het, adem Hy deur die suurstof in die lug, wat immers ook van Hom af kom, oomblik na oomblik, ook wanneer ons slaap, lewe in ons in. Hy alleen is die lewegewende Faktor van alle lewe in die wêreld waarin ons leef.

  • DAT HY DIE ENIGSTE BRON VAN ONS GEESTELIKE LEWE IS

Soos wat God deur middel van die atmosfeer die mens fisies onderhou, onderhou Hy hom ook deur sy Gees. Aan dié mens wat erken dat hy geestelik dood is en na Hom toe uitreik, skenk Hy geestelike lewe. Skielik staan hy op uit die dood en vind dat hy die vlerke van ‘n voël het. Hy sprei hulle uit en soos wat die arend die derde dimensie van die fisiese skepping benut, benut die wedergebore mens die geestelike dimensie van God; die ruimte waar God woon.

Terwyl die aardse mens deur middel van sy siel en verstand net horisontaal beweeg en hom met aardse dinge besig hou, styg die hemelse mens op na bo en kyk hy neer op die geskarrel hieronder. Sy visie is wyer, sy horison verder, hy kyk selfs tot in die vêrre toekoms van God se beplanning en aanskou die Nuwe Jerusalem en die Nuwe Hemel en Aarde waarin geregtigheid woon en die diere weer in vrede saam sal neerlê. Hy haal vryer asem want hy beweeg in hemelse sfere, bokant die geestelike besoedeling van die stof van hierdie aarde.

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus uit genade is julle gered en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, (Efes 2:4-6).

maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende;  (Isa 40:31).

  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. (Joh 3:8)

Die atmosfeer, of “hemel” soos wat dit in die ’53 vertaling genoem word, spreek dus tot ons van ‘n hoër dimensie van lewe, die dimensie waarin God leef en wat Hy ook open vir die wat Hom as Koning aanneem.

Maar die alomteenwoordigheid van God strek nog verder, dit stel hom in staat om deur te dring tot my verstand en my gees, en my gedagtes en emosies te lees en te genees.

D. HOE BENUT ONS HIERDIE OPENBARING?

Deur onsself aan die Heer oor te gee en in die derde dimensie, die geestelike dimensie op te gaan en daarin te sweef op die wieke van die Wind van sy Gees.

Jy het sekerlik ook al die verhaaltjie van die visarend gehoor? ‘n Boer het hom langs die rivier opgetel waar hy op die grond rond gefladder het omdat sy een vlerk beseer was. Hy sit hom toe in ‘n kampie by sy kalkoene.

Na ‘n ruk het hy heeltemaal herstel maar was toe so gewoond aan die lewe tussen die koeloe, koeloe, koeloe kalkoene en hulle visgeur korrels, dat hy nie eers daaraan gedink het om te probeer om oor die kamp se heining te vlieg nie.

Maar toe, eendag, hoor hy ‘n visarend hoog bo hom uit die bloute roep. Skielik het dit herinneringe en begeertes in hom wakker gemaak, en kyk hy op. Maar hoe kom hy daarbo? Hy hardloop so ‘n paar treetjies klap sy vlerke en met groot inspanning vlieg hy tot op ‘n droë boom se tak waar hy uitasem sit en wieg. Weer hoor hy die roep daarbo en weer klap hy die vlerke en haal net-net ‘n uitstaande rots daar naby.

Toe was die gort gaar en toe die windjie weer oor sy vere streel, duik hy af, sprei sy vlerke wyd uit en daar gaan hy vort met die lugstroom. Al hoër en hoër sirkel hy na bo totdat hy jubelend by sy maat aansluit. Hy kyk af en doer vêr onder sien hy die boer in die kalkoenkampie waaruit hyself ontsnap het.

Om in die Gees te sweef, moet die kind van God begin met die bedinking van verhewe gedagtes; so sê die Gees:

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. (Kol 3:2).

Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik iswatter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. (Fil 4:8).

“Scan” deur die Burger maar verdiep jou in die Bybel. Jou gedagtes lig jou op in die hemelruim of hou jou gebonde aan die aarde. Wat jy bedink, bepaal die dimensie waarin jy jou bevind. Jy kan hier op aarde reeds ‘n hemelse mens wees, net soos wat Jesus was.:

 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. (1 Kor 15:47,48).

Kind van God, jy is mos ook deur wedergeboorte ‘n hemelse mens; kom nou deur geloof uit, uit die kalkoenkampie van ‘n vleeslike lewe en sweef saam met God se arend kinders in die geestelike ruimte wat Hy vir jou geskep het. Kalkoene word vet gevoer vir die slagdag, maar jy is bestem vir die ewige lewe met God, in die hemele.

SHALOM

……….

Ons verwelkom u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha