A. INLEIDING TOT VINNE, VLERKE EN VOETE
Die pragtige nuutgeskape son het in glorie bo die oosterkim verrys om die vyfde skeppingsdag aan te kondig. Op hierdie, en die dag daarna, sou drie ontsaglike pojekte aangepak en voltooi moes word: die vulling van die onmeetlike oseane, die uitgestrekte grondmassas en die nog groter lugruim met honderd-duisende soorte van dierelewe. Maar, glo ek, hierna het die magtige Skepper uitgesien.
Dierelewe sou lewe van ‘n hoër orde as plantelewe wees. Hierdie wonder wesens sou kon rondbeweeg, dink en hul lewens volgens ‘n ingeboude kode wat ons sommer instink noem, beplan.
Gen 1:20 En God het gesê: Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. 21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 22 En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. 23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
Soos wat ons weet, het die latere sondeval van die mens ook die diereryk nadelig geraak sodat spesies begin het om mekaar aan te val en te verorber. Vandag sien ons dus ‘n erg verminkte, verwronge diere menigte om ons, tog kan ons steeds veel van die grootheid van hul Skepper te wete kom deur hulle te bestudeer maar moet ons in gedagte hou dat ons nie weet presies hoe dit alles toentertyd was nie en sekere aannames kan dalk foutief wees.
(Die volgende inligting het ons uit Wikipidea en ander soortgelyke internet bronne bekom en die groepering daarvan is algeheel ons eie en nie dié van die belese natuurkundiges nie. Sommige data mag dalk ook nie die mees onlangse wees nie of dalk net die siening van sommige navorsers. Beoordeel dit asseblief nie te krities nie; die doel daarvan is om die Heer vanuit ‘n leke oogpunt te verheerlik en nie om die wetenskaplike navorser se kennis uit te brei nie. Die wetenskap is die speelveld van manne en vroue veel slimmer as ekself. Vir hulle bydraes tot Adam se eerste navorsingswerk, dank ek die Heer.)
.
B. SEELEWE
- Seekos
Voordat daar met ‘n gesin begin word, moet die kamer en wiegie reggekry en gesorg word dat daar voldoende geld in die bank is om die regte kos, medisyne en wat ookal vir die nuweling aan te koop. Ons het dit van die Heer geleer want Hy het sy waterspens behoorlik volgepak voordat Hy sou begin om seediere daarin te skape. Dit het Hy in die vorm van plankton gedoen. Dié organismes sluit in alge of bakterië in die waters van oseane, riviere en vleie. Die meeste daarvan is mikroskopies klein soos die fitoplankton wat maar 0.02 mikrometer groot is maar nogtans deur die oog van die Almagtige gevolg word waar dit ookal gaan.
(Die jellievis, van piepklein tot hoe groot, word ook in hierdie kategorie van lewe geplaas en word deur haaie, seeskilpaaie, seevoëls, ens geëet, maar ons hier op droë grond, eet liewer net gewone jellie. Maar sny die jellievis middeldeur en siedaar, elke helfte hergenereer tot ‘n nuwe jellievis. Dit is nou vir jou lewe by uitstek.)
Jammer vir die onderbreking in my gedagtegang: terug na Plankton.
Daar word algemeen onderskei tussen plantaardige- en diereplankton. Aangesien slegs plantaardige organismes daartoe in staat is om organiese stowwe te produseer wat as voedsel vir ander lewende organismes kan dien, is die diereplankton en alle ander diere wat in die water leef, direk of indirek van plantaardige plankton afhanklik. Plantaardige plankton vervul dus dieselfde rol in water as wat groen plante op land doen; dit dien as voedsel. Om hierdie rede staan hulle soms as die weivelde van die see bekend. Miskien kan ons ook sê dat die see ‘n groot pot sop is waarin die seediere rond baljaar.
Ironies is dit dat juis hierdie mikro-organismis soveel as 70 tot 90% van alle marine massa uitmaak.
- Seediere
Daar is al meer as 200,000 soorte waterwesens gevind en beskryf, maar waarskynlik ‘n verdere twee-miljoen wag nog om ontdek te word – sò baie soorte het die Heer gemaak. Die taak wat Hy aan Adam opgedra het om vir die diere name te gee, is dus nou nog nie afgehandel nie.
Wanneer ons aan die see dink, dink ons eerstens aan visse waarvan meer as 20,000 soorte al geïdentifiseer is.
Waar die landdiere met longe toegerus is om broodnodige suurstof uit die lug te absorbeer, spog die visse met kiewe wat suurstof direk uit die water absorbeer wanneer dit daardeur vloei. Dolfyne, walvisse otters en robbe moet egter elke nou en dan deur die oppervlak breek om hul longe weer met suurstofryke lug te vul. Hierin vermaak die walwisse ons deur die ingeademde lug in aanskoulike spuitfonteine die lug in op te blaas.
Van walvisse gepraat: die blouwalvis hou nog altyd die rekord vir die grootste dier en spog met ‘n allemintige 33meter lange liggaam. Met oorgewig het hy of sy ook nie ‘n saak nie en hul kan tot soveel as 193048kilogram (190 ton) weeg. Ongeveer 38,6 olifante (@5000kg) sal in die anderkantste skaalbak moet instap om hierdie reus van die grond af te lig.
Die manta (manta ray) met sy diamantvormige lyf, sywaartse vinne wat soos vlerke lyk en tot 7meter van punt tot punt kan strek, is die breedste onder die visse en lyk of hy eerder ‘n voël wou wees. Hy kan dan ook tot 2meter hoog bo die wateroppervlak uitskiet voor hy weer daarop neerplof. Verder is hy ‘n genie in die diereryk met die hoogste brein tot liggaamsgewig verhouding en kan homself in ‘n spieël tussen sy maats herken. Die lewe gun hom egter nie ‘n oomblik se rus nie want hy moet aanhoudend aan die swem bly om genoeg suurstof deur sy kiewe vir sy lewensbehoefte te kan absorbeer.
Die Groenlandhaai geniet die oseaan blykbaar meer as alle ander werweldiere en word tot 400 jaar oud voordat hy besluit, genoeg is genoeg. Deur al hierdie baie jare onderhou die Heer hom. Wat ‘n nagmerrie sou hy nie vir ‘n pensioenfonds wees nie.
Die 20cm kleine “cuskeel” wil afgesonderd leef in ‘n eksklusiewe “cuskeel” wêreld, vêr, vêr weg van die mega-skole van haringvis, sardyntjies en diesulkes en selfs van die mensgemaakte spioenerende duikbote. Daarom koers hy na die eksklusiewe woonbuurte van die Puerto Rico Moot (Trench) waar ‘n vis op ‘n diepte van 8,37km onder die oppervlak veiligheid en vrede kan vind. Net die waterdruk is daar meer as wat andere kan verduur: 837 x soveel as die lugdruk wat jy en ek belewe wanneer ons op die seestrand baljaar. Praat van onder druk lewe! Dit bly ook nou maar eenmaal ‘n reël te wees dat jy duur moet betaal vir privaatheid.
Kan visse doer onder in die pikdonkerte sien waar om te gaan? Wel, hulle kan hulle weg vind; nie dat hulle kan sien nie, maar hulle het rye druksensitiewe organe weerskante van hul lywe waardeur hulle as gevolg van veranderende druk in die omringende water, bewus raak van ander diere wat naby hulle beweeg.
Ouerskap is ook in die seediereryk nie ‘n maklike taak nie en elke spesie dink hy weet net hoe om die kleinspan te beveilig. Die oscar, engelvis, bloedrooi papegaaivis en talle ander, is oortuig dat die moeder se bek net die veiligste plek is. Sommige sal selfs die bevrugte eiers daarin uitbroei. Daarna spoeg sy hulle uit om in die omringende water te baljaar maar suig hulle blitsig weer terug wanneer gevaar dreig. (Vis moeders praat natuurlik nie so baie as hulle menslike eweknieë nie, daarom kan hulle, hul mondholtes ook anders benut.)
Seeskilpaaie swem duisende kilometer vêr na hul geboortestrand, kruip daarop uit, lê hul eiers, elk kompleet met ingeslote lewensaanwysings vir die kleinding, krap dit toe onder die sand, en koers weer haastig terug in die diepblou oseaan in – “mission completed”.
.
C. VOËLS EN ANDER VLIEËNDE WESENS
Wat is mooier as ‘n Mahem?
Natuurkundiges beskryf voëls as warm-bloedige werwel-(ruggraat-)diere met horingagtige tandlose bekke. Om te vermeerder lê hulle hardedop eiers waaruit kuikens vir hulle uitbroei. Hulle spysverteringstelsel verteer hul voedsel vinnig en effektief. Verder het hulle ‘n vier-kamer hart, ‘n liggewig maar baie goedontwerpte skelet en liggame bedek met vere. Hulle belangrikste kenmerk is dat hul nie aardsgebonde is nie maar hoog bo die oppervlak in die blou lug kan opstyg en van horison tot horison daarin kan ronddartel. Landsgrense en paaie raak hulle nie. Vryheid is hulle wagwoord. Vlerke het die Heer vir hulle gegee, net soos vir die engele.
Van alle diere geniet hulle die meeste ruimte, naamlik die lugruim, die derde dimensie van beweging.
Die asiatiese gans kan bv tot 4000m (4km) bo die aardoppervlak rondkuier – wat ‘n wonderlike uitsig oor die aardbol geniet hy nie – vêrsiendheid, perspektief. Hy vlieg sommer dwarsoor die Himalayas in net 8 ure.
Die swerfvalk kan weer onbetwisbaar die vinnigste afkom aarde toe en haal tot 300km/uur wanneer hy sy vlerke toevou en afduik op sy prooi. Sy rem en navigasiestelsel moet natuurlik uitsonderlik wees om hom in staat te stel om sy prooi net bo die grond op te raap en ongedeerd weer die lug in op te skiet – geen ruimte vir ‘n oordeelsfout nie.
Die malgas wat juis binne-in die water moet induik om sy prooi te bekom, oorkom die impak skok met lug sakkies onder die vel van die bors en gesig. Wanneer hy die water teen 100km/uur binnegaan, laat hy ‘n lugspoor na wat hom soos ‘n wafferse vegvliegtuig laat vertoon. Die lugkussingkies funksioneer dus soos “bubble-wrap” en verminder die skok met die wateroppervlak – slim nê?
Die albatros met ‘n vlerkspan van tot 3,63meter is die grootste van alle seevoëls. Hierdie reuse vlerke wat in hul uitgestrekte posisie kan sluit, stel hom in staat om tot ‘n 800 km/dag te sweef sonder om ‘n vlerk te klap. Hulle is ook in ander opsigte meesters van die vliegkuns en benut die lugstrome naby voorwerpe soos groot golwe en kranse sowel as die draaibeweging van die aarde om moeiteloos oor die waters te swerf en besoek landmassas slegs om te broei. Sommige spandeer die eerste 6 jaar van hul lewens uitsluitlik op see. ‘n Broeimaat is ‘n maat vir ewig en aangesien hulle tot 70jaar oud kan word, beteken dit vasbyt.
Swaeltjies is kosmopoliete, migreer heen en weer oor kontinente en veroorloof hulself die luuksheid van twee huise; een in die suidelike- en een in die noordelike halfrond. As “jet-set” moet hulle tweemaal per jaar afstande van duisende kilometer deur die lugruim van talle lande aflê om ‘n lewenslange somer te kan geniet. Hul voedsel bestaan uit insekte wat in die lug, in vlug, gevang word. Gevolglik is hulle baie goeie vlieërs en kan by hul duisende heen en weer en op en af draai en swaai sonder om met mekaar te bots. Op die grond is hul egter maar taamlik hulpeloos.
Maar laat ons tog nie ons eie volstruis vergeet nie. Aardsgebonde is hierdie ou groot loopvoël met sy lang nek en bene wat sy kop sowat 2-meter bo die grond lig en tot 130kg kan weeg. Hy het selfs ‘n Griekse naam, strouthokamelos, oftewel “kameelmossie”. Maar moet nie dat hy hoor dat jy hom so noem nie want ‘n verergde mannetjiesvolstruis kan die gemiddelde fietsryer teen 65km/uur gemaklik inhaal en met sy lang horingtoon in die stof laat byt.
‘n Voorbeeld wat nie navolgenswaardig is nie, is dié van die koekoek voëltjie wat jou wrintie haar eier heimlik in die nes van ‘n ander voël lê om dit uit te broei, groot te maak en vir altyd daarna te wonder hoe haar kleinding dan gladnie na pa of ma lyk of aard nie.
In die geledere van die gevlerktes is die suikerbekkie (en veral die by-suikerbekkie van Kuba) nie net die kleinste nie maar ook die enigste wat in enige rigting kan vlieg: vorentoe, agtertoe, op en af, links en regs.
Dan is daar nog die vaartbelynde “swifts” wat die wêrelrekord hou vir die meeste tyd in die lug/lugtyd. Data meters wat aan 19 sulke voëls vasgeheg was, het getoon dat hulle gedurende ‘n 10-maande periode meer as 99% van hul tyd in vlug spandeer het – praat van ‘n passie vir vlieg! Enkeles het letterlik nooit geland gehad nie. Die vraag is nou of hulle sommer so al swewende ‘n uiltjie knip of dalk gladnie tyd vir slaap kan inruim nie? Hoe maak hulle met die sewende dag se rus?
Laastens: Ai, kon ons tog maar oor voëlsang op ‘n luisterryke wyse skryf, maar nee, dít moet noodwendig beluister om geniet te kan word.
En nou moet ons afskeid neem van die voëlwêreld sonder om ‘n woord te gesê het van die aasvoël, pikkewyn, lepelaar, arend, flamink, uil, kwartel, kiewiet, riethaan, sterretjie, meeu, gans, patrys, bokmakierie, MOSSIE, lewerik, bontrokkie, vlieëvanger, drawwertjie, reier, bloukraanvoël, korhaan, bokmakierie, duif, laksman, loerie, tinktinkie, korhaan, diederikkie, neushoringvoël, muisvoël, tarentaal, troupand, ooievaar, kwêvoël, hadeda, hamerkop, hoep-hoep, jangroentjie, flap, tiptol, kelkiewyn, sysie, kraai, mahem, piet-my-vrou, katlagter, …… , ….
Die Heer het hulle almal uitgedink en geskape; ek kan hulle nie eers lys en beskryf nie.
.
D. LOPENDES, KRUIPENDES EN SEILENDES
Gen 1:24 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. 25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
Die landdiere ken ons almal mos maar ewe goed; ek hoof slegs die naam te noem en die prentjie dy voor jou op:
-
- Leeu: Koning van die diereryk; as die maanhaar brul staan die diereryk stil; met ‘n jong os in sy bek, spring hy oor die kraalhek.
- Olifant: Grootste en swaarste onder die landdiere, weeg tot 5000kg of meer, kan ongeveer 25% van sy liggaamsgewig dra, dws 16,6 volwassenes (@75kg); sy slurp bevat 150,000 spiere; trompetblaser soos min.
- Kameelperd: Die bosveldtoring, 5,5m van hoef tot horing; langer as ‘n leer, op die diere kyk hy neer; die ene nek en bene. Van bene gepraat, hulle is sy vier horings; net een raakhou met die hoef, kadoef, en die kordate leeuwyfie se kakebeen breek hy middeldeur.
- Renoster: Sy horing is sy ondergang maar moenie dat die Swarte jou onverhoeds vang. Iesegrimmigheid is sy handelsmerk. Boonop is sy bril gedurig verlê en loop hy jou eers uit die aarde voordat hy omdraai om te snuffel of jy vriend of vyand is.
- Seekoei: Ou grootmond Malie; Skrik vir niks, swaai om in ‘n kits, kan selfs ‘n krokkedil in twee stukke byt. Luilekker sink hy weg in die diep waterpoele; gewigtig voorwaar, tot 1,480 kg vir ‘n bul.
- Buffel: Vreesloos, slim; draai terug as hy vlug en wag jou agter ‘n bos weer in. Vra geen genade en gee geen genade.
- Luiperd: Snoesig lyk hy, soos Madeleintjie se teddiebeer, maar keer hom vas en hy ontplof in ‘n bondel verskeurende naels en tande; hoog in die kameeldoringboom sleep hy sy rooibokprooi op waar leeu en hiëna nie saam daaraan kan smul nie.
- Tuinslak: 0,048 km/h – volspoed.
- Jagluiperd: Hond, nie kat nie, kyk na sy naels; windhond se moses, 80 – 130 km/uur; vinniger uit die blokke as baie sportmotors.
- Hiëna: Leer haar kinders eers om te lag en dan om te jag; en byt kan sy, selfs ‘n motor se band dat hy nooit weer kan ry.
- Jakkals: Altyd lippelekkend vir ‘n skaap- “tjoppie.”
- Kangaroe: Geboortepyne was Eva se straf, nie haar voorsate s’n nie, daarom bring sy haar naamgenootjie klein-klein al in die lewe en maak hom verder in ‘n buidelsak aan die buitekant van haar liggaam groot – so maklik as dit. (Sommige menslike moeders volg dit na deur die spruit in ‘n kombers op die rug rond te dra.)
- Bokke: Springbokke, rooihartbees blesbokke, koedoes, nyala’s, duikers en klipspringertjies, lang horing gemsbokke en kleine dik-dikkies, …
- Slange: Nagadder, kobra, boomslang, gaboenadder, geelslang, eiervreter, molslang, mamba, pofadder, rinkhals, tabakrolletjie, luislang: 6,25 meter en omhels sy prooi met ‘n hartlike 0,4137 bar druk voordat hy hom kop en pote insluk.
- Vlakvarke, verkleurmannetjies, bobbejaanspinnekoppe, skoelappers, skilpaaie, molle, slakke, duisendpote, erdwurms, naaldekokers met oë wat duisende lense bevat en hom in staat stel om bykans 360 grade in die rondte te kan kyk, bye, koggelmanders, paddas, miere, muskiete, vlieë, brommers en wat nog anders …
- Mak diere: Perde, beeste, skape, bokke, varke, hoenders, kalkoene, eende, ganse, makoue, poue, honde, honde, honde, katte, …
.
E. DIE DIERERYK OP DIE NUWE AARDE
Voordat ons naspeur wat ons uit die diereryk kan leer, laat ons, onsself net weer daaraan herinner dat ons nou deur die bril van die wetenskap na ‘n gevalle ryk kyk. Hoe die oorspronklike gelyk het, kan ons maar net raai en ook kers opsteek by die profeet Jesaja wat moontlik vir ons toestande tydens die Millennium beskryf en iets van die heerlikheid van die Ryk in die komende Nuwe hemel en aarde teken.
Jes 65:17 Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Jes 11:6 Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. 7 Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; …
Nou sien ons ‘n erg verminkte ryk waarin die mens se sondige natuur op een of ander wyse in die diere neerslag gevind het sodat hulle mekaar verorber en elkeen veg vir ‘n plek in die son; selfs die planteryk is van dorings en distels deurdronge. Nogtans het die Heer voldoende van die grootheid van die oorspronklik skepping vir ons bewaar dat sy beeld helder daaruit kan skyn.
.
F. WAT LEER ONS UIT DIE DIERERYK?
In paragrawe B, C en D het ons probeer om die dierewêreld deur ‘n piepklein venstertjie, ‘n patryspoortjie, ‘n sleutelgaatjie te beloer. Wat ons gesien het, was net ‘n pinkienael grootte prentjie van die ontsaglike kaleideskoop van die skepping. As Johannes sê dat dit wat Jesus gedoen en gesê het, soveel was dat die ganse wêreld die boeke nie sou kon bevat nie (Joh 21:25) is dit eweneens waar dat geen mens in woord, klank en beeld God se diereryk kan beskryf nie. Ook kan ons alles wat Hy ons daardeur wil leer, nie onderskei nie.
Ons verre voorsate wat dag vir dag, in wind en weer, op die trekpad en op hul plase in die die diereryk gewandel het, het daardie Boek sekerlik dieper bestudeer, meer waardeer en meer omtrent hul Skepper daaruit geleer. Ons generasie van jongmense kyk daarna deur die glasskerm van ‘n rekenaar en sien, maar beleef nie; versteen nie voor die leeu wat skielik uit die lang gras voor jou opstaan nie, vlug nie haastig voor die buffeltrop wat skielik uit die ruie bosse breek nie, spring nie opsy vir die pofadder in die voetpaadjie nie; klim nie in die boom op om in die mossie se nessie die oopbek, skreeuend honger kuikentjies te bewonder nie; adem nie die geur van die bos behaaglik in die someroggend in nie.
Maar laat my ook aanhaal wat ‘n hedendaagse godsman hieroor skryf. (Vertaalde weergawe). Eerstens haal hy twee Skrifgedeeltes aan:
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, … .
Dit is alles vir Hom. Die eiddoel van die heelal is om die heerlikheid van God te vertoon. Dit is die rede waarom alles bestaan, insluitende jyself. God het dit alles tot sy eer gemaak. Sonder die heerlikheid van God, sal daar niks wees nie.
Wat is die heerlikheid van God? Dit is wie God is. Dit is die essensie van sy natuur, die gewig van sy belangrikheid, die uitstraling van sy prag, die demonstrasie van sy krag en die atmosfeer van sy teenwoordigheid. God se heerlikheid is die uitdrukking van sy goedheid en al sy ander inherente, ewige eienskappe.
Waar is die heerlikheid van God? Kyk net om jou heen. Alles wat deur hom geskape is, reflekteer sy heerlikheid op een of ander wyse. Ons sien dit orals, vanaf die mikroskopiese klein vorm van lewe tot die uitgespreide Melkweg. (Rick Warren, The purpose driven Life, Zondervan Publishers, bl53.)
.
G. IN DIE DIERERYK AANSKOU ONS ONDER ANDERE DIE HEER SE:
-
- Vindingrykheid, sy skeppende denke. Hy bedink diere vir drie dimensies, drie totaal verskillende habitate, omgewings: see, lug en vaste grond; die Meester Argitek.
- Vernuf: Hy omskep die prentjie van die voël wat Hy in sy verbeelding oor die oseaan sien sweef in ‘n lewende albatros met sy eie unike liggaamsbou en lewensgewoontes; die droom word ‘n werklikheid. Die Hoofingenieur in aksie. (Die planne op die tekenbord word ‘n wolkekrabber waarin mense woon of ‘n blitsige sportmotor waarmee jongmanne hul kan vermaak).
- Kunstigheid: In alle kleure tooi Hy sy skeppings: die volstruiswyfie in grys, die mannetjie in swart en wit vere wat op die dames se hoede kan pryk, die mossie is ook weer vaal maar die lepelaar, “toucan” en “macaw” is kleurryk soos die Oosterlinge daarvan hou, en vergeet tog nie die pronkende pou nie wie se stertvere die Meester Kunstenaar met ‘n baie klein kwassie in ragfyne detail versier het.
- Milddadigheid: Aan elke dier het Hy ‘n unieke liggaam gegee, in die reël kompleet toegerus met sig, gehoor, smaak, reuk en gevoel waardeur hy homself volkomelik kan uitleef, kan versorg en kan dupliseer. Hoe saai sou die wêreld gewees het as daar net een soort vis, een soort voël en een soort viervoetige dier was. Boonop sou elk in sy ryk vir dieselfde soort kos gekompeteer het. Maar nee Hy maak selfs elke kraai anders as sy maat.
- Verantwoordelikheid: Eers die plaas met sy damme, weivelde en boorde en dan die diere wat daarvan sal leef.
- Liefdevolle sorg: Alles wat Hy geskape het, onderhou Hy nou al vir meer as 6000 jaar.
.
H. DIE DIERE WYS ALMAL NA HOM HEEN:
-
- Die mier en heuningby se ywer demonstreer sy arbeidsaamheid en hul samewerking, die volmaakte eenheid tussen Vader, Seun en Heilige Gees.
- Die voëls getuig van sy vryheid en alomteenwoordigheid.
- Die duif is ‘n embleem van sy opregtheid.
- Die os, kameel en esel is toonbeelde van sy dienstigheid soos wat sy Seun na die aarde sou kom, nie om deur die mens gedien te word nie, maar om hom te dien.
- Die krokodil met ‘n spartelende dier in sy kake waarsku ons teen die verskrikking van sy oordeel as ons aanhou en aanhou om sy genade te vertrap.
- Die skoelapper sê met sy kleurryke vlerke, “Nog veel mooier as ek, is Hy wat my gemaak het.”
- Jou troetel hond met sy immer waaiende stert getuig van jou Hemelse Vriend se getrouheid en opsoekende liefde te midde van afjakke en uitsluiting uit jou huis.
- Pollie papegaai se opgewektheid en vrolike soet fluit is ‘n toonbeeld van sy Gees wat jou siel verkwik sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.
- Die maanhaarleeu wat statig voor jou motor oor die pad stap of vannag donderend uit die bos brul, is ‘n toonbeeld van die forsheid van sy wese.
- Die arend wat doer bo in die bloute sweef, gee my ‘n besef van die verhewenheid van sy karakter.
- Die hoenderhen wat haar kuikens al kloekende bymekaar roep en onder haar vlerke versamel om hulle te beskerm teen die valk daarbo en teen die vuur wat rondom haar woed, spreek tot my gees oor die liefdevolle sorg van sy hart vir sy skepping.
Vir die dier is Hy die volmaakte Herder; vir die mens die volmaakte Vader; vir die engele die volmaakte Koning.
.
I. KON DIE SKEPPING HOMSELF GESKEP HET?
Om hierdie vraag te vra, is eintlik, nadat jy al die bostaande getuienis voor oë gehad het, ondenkbaar. Daar is egter hulle wat, soos die Skrif dit stel, ‘n bedekking oor die hart het (2 Kor 3:14,15) en wonder of alles tog nie sommer vanself met verloop van tyd ontwikkel het soos wat Darwin se evolusie leer dit wil hê nie. Vir hulle wil ons voorhou wat twee gelowige wetenskaplikes gesê het:
Louw Alberts: As ‘n vloot vliegtuie, klip, sand en sement uit die lug oor ‘n gebied sou strooi, sou ‘n stad soos Johannesburg mettertyd spontaan daaruit kon verrys het? Net so min sou die heelal en intelligente lewe blindweg en per ongeluk uit lewelose materie kon ontstaan het. (Verkorte weergawe).
Gerald Schroeder skryf dat wetenskaplikes deur middel van natuurwette alle veskynsels kan verklaar, behalwe twee:
-
- Die ontstaan van die heelal en,
- Die verskynsel van lewe.
Gideon Joubert, ‘n joernalis, wat ook ‘n diepgaande studie van die skepping gemaak het, kom tot die volgende gevolgtrekking:
Sòveel faktore moet op die regte tydstip presiese waardes binne eng parameters gehad het sedert die eerste oomblikke van die Skepping, dat die kanse een uit duisende miljoene is dat dit toevallig so kon gebeur het. Die skepping is a “put-up job”, het Einstein by geleentheid uitgeroep.
Tot vandag toe nog sien ons nie dat lewelose voorwerpe, lewendige wesens word of voortbring nie – dat ‘n klip geleidelik in ‘n skilpad verander of ‘n palmtak in ‘n volstruis nie. Slegs die lewende God het die vermoë om lewende plante, diere en mense te skape.
Die mens wat nie glo in die enige Skepper en Onderhouer van alle dinge nie, glo nie omdat hy nie wil glo nie, want hy weet dat die oomblik wat hy Hom erken vir Wie Hy is, hy noodwendig die knie voor Hom sal moet buig en Hom as God moet dien.
.
J. HOE SLUIT ONS AF?
Deur saam met Johannes die Doper te besluit:
Hy moet meer word, maar ek minder. (Joh 3:30).
SHALOM
……….