Skepping van die Hemelruim: Gen 1:14-19

A. INLEIDING

Op die vierde dag het die Heer die son, maan en sterre geskape.

Gen 1:14  En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. 15  Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. Gen 16  God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. Gen 17  En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde 18  en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. 19  En dit was aand en dit was môre, die vierde dag. 

Onverstoord, rustig, doelgerig, het Hy dag vir dag voortgegaan om die volgende boustene volgens plan op die voriges te lê. Alles was goed en mooi: die kleurryke vlaktes en berge, omring deur die blinkende, golwende water van die see, en bokant dié albei, die blou lugkoepel met sy wit wolke wat hoog bo daardeur dryf.

Vir die plante was daar voorsiening gemaak om te kon groei. Al wat hulle nodig gehad het, was lig en grondstowwe. Aan laasgenoemde was daar geen gebrek nie en die lig kon by wyse van ‘n proses van fotosintese, soos u weet, in die blare in voedingstowwe omgeskakel word. Die plante kon dus oor die ganse aarde groei, maar nie oral ewe veel floreer nie.

Het die lig wat deur die ligbron uitgestraal is, ook hitte op aarde tot gevolg gehad, of is daar genoeg hitte uit die aarde se kern na die oppervlak gelei? Dit weet ons nie. Daar moes ten minste ‘n hoeveelheid hitte gewees het, so nie sou die waters gevries het; so ook die vog in die plantweefsel en sou dit tot niet gegaan het.

Wat ons wel kan aflei is dat, sou die aarde toentertyd ook naastenby rond gewees het soos wat dit nou is en doodstil daar in die ruimte gehang het terwyl dit in die rondte draai, dit nie oral op sy oppervlak eweveel lig sou ontvang nie. Waar die lig loodreg daarop geval het, sou dit meer lig ontvang as verder weg waar die lig skuins ingeval het en op die bo en onder ente, sou dit die minste ontvang. ‘n Redelike afleiding sou wees dat die plante op die middellyn (die ewenaar) weliger sou groei as dié wat verder weg was, terwyl daar by die pole dalk geen plantlewe sou wees nie.

B.     SKEPPING VAN DIE SON

Maar die tyd het aangebreek dat die Heer die aarde met mens en dier sou bevolk. Hulle sou vryelik kon rondbeweeg en kon kies waar hulle wou woon. Meeste sou dan waarskynlik na die warmer dele toestroom waar die klimaat aangenamer en plantvoedsel meer volop was, en die res van die aardoppervlak sou leeg gelaat wees en nie behoorlik benut word nie. Hoe nou gemaak?

Die Heer bedink toe ‘n slim plan en skep ‘n son. Miskien het Hy die eerste ligbron omskep in hierdie reuse vuurbal wat lig sou uitstraal. Waar die lig met voorwerpe op aarde kontak maak, sou dit ook in hitte-energie omskep word. Hy bewerk dit toe ook so dat dit vir ‘n tydlank meer direk op die noordelike halfrond van die aarde, en daarna weer vir net solank, op die dele suid van die ewenaar sou skyn – (soort van beurtkrag?). Die daglig tye, dws. daar waar die son loodreg op die aarde sou skyn, sou ook baie langer duur. So sou die lig en hitte meer eweredig oor die aardoppervlak versprei wees en sou ‘n groter deel daarvan bewoonbaar word.

Die mense van die vroegste tye het natuurlik net belewe dat sommige tye van die jaar warmer en ander kouer was, en nie geweet watter ingewikkelde proses nodig was om dit te bewerk nie. Deur middel van wetenskaplike navorsing het ons dit intussen geleidelik te wete gekom. Die Heer het naamlik die aarde, op ‘n goeie afstand vanaf die son, in ‘n vaste baan daaromheen laat wentel. Verder laat Hy die aarde nie regop in sy baan staan nie, maar laat dit ‘n bietjie vooroor hang; vooroor kantel op sy as. Ook bly die kanteling altyd in dieselfde rigting wys. Die gevolg was dat, soos ons hierbo verduidelik het, die gedeeltes bokant en dié onderkant die ewenaar, om die beurt meer direkte sonstrale ontvang en dus warmer sou wees. Wat ook gebeur het, is dat die dae daar waar die son meer loodreg sou skyn, heelwat langer sou wees en die nagte baie korter. So het die seisoene van somer, herfs, winter en lente ontstaan.  (Maar dit weet meeste van u seker van kleins af al.)

Op dié manier kry die planteryk jaarliks ook ‘n blaaskansie. Gedurende die wintermaande dra die bome nie vrug nie en baie verloor selfs hul blare. Ook die gras en graansade ontkiem nie in die winter nie. Ja die mens sou ook ‘n bietjie agteroor kon sit en net die nodigste doen; sy landbou-implemente versien, die huis se dak waaroor vroulief lankal kla, afdig vir die somereëns en selfs soms die wasgoed was. In die diereryk sou die skilpad en ysbeer behoorlik op vakansie kon gaan deur in ‘n skuiling in te kruip en te hiberneer, om sommer dwarsdeur die winter te slaap! Hoe vindingryk is die Here onse God: vir elke probleem het Hy ‘n oplossing en dit wat goed werk, laat Hy beter werk.

Die boonste kring (breedtegraad) waarop die son loodreg kan skyn voordat dit begin om weer suidwaarts te skuif, noem ons, soos u stellig ook weet, die Kreefskeerkring en die suidelike een, die Steenbokskeerkring.

C.     SKEPPING VAN TYD

Ons lees ook in bogemelde teks (Gen 1:14) van die vaste tye wat die Heer ingestel, en daardeur vir ons die beginsel van TYD geskep het.

Die EERSTE VASTE TYD was natuurlik die gesamentlike lengte van dag en nag. Hiervoor het Hy die son gebruik. Soggens sou hy in die Ooste opkom en al hoër klim tot die middag toe; daarna weer stadig afsak en teen die aand in die Weste onder gaan.

‘n Dag sou ‘n vasgestelde tydsduur hê sodat mens en dier daaraan gewoond kon raak en hul lewens daarvolgens kon beplan. Die mens moes enige tyd van die dag net na die son kon opkyk om te wete te kom hoeveel van sy werkstyd al verstreke, en hoeveel nog oor was. (Selfs sommige vee stap kraaltoe wanneer die son sak.) Ons het die dag mettertyd in 24 ewe lang ure opgedeel en horlosies ontwerp om dit mee te meet.

Die TWEEDE VASTE TYD was die week van 7 dae: 6 werksdae gevolg deur ‘n rusdag, in navolging van die Heer self wat die skepping in 6 dae voltooi en op die 7de dag gerus het.

Die DERDE VASTE TYD was die periode wat dit vir die aarde sou neem om eenmaal om die son te wentel, naamlik 365 ¼ dag en dit het Hy ‘n JAAR genoem.  Twee-en-vyftig weke (52) pas ongeveer daarin.

Dae en jare is, soos gemeld, aan die beweging van twee hemelligame gekoppel en omdat ons hulle gang nie kan verander nie, kan ons daardie twee vaste tye ook nie wysig nie en staan dit vas deur al die eeue.

Die week het ons ook behou alhoewel dit vervaag het omdat almal nie die sewende dag as ‘n rusdag hou soos wat die Heer die voorbeeld vir ons gestel het nie. Ons het darem aan elke dag ‘n naam gegee sodat dit makliker sou wees om in ons kommunikasie met mekaar, te weet van watter dag ons praat: “Laasweek Woensdag my tand laat trek”, “Sien jou eerskomende Saterdag.”

Verder het ons mettertyd die lange jaar in 12 maande opgedeel, ook om beter tyd te kan hou want ons het ingesien dat die tydsbeginsel wat die Here in ons wêreld ingebou het, baie belangrik, en vir ‘n meer ontwikkelde samelewing, onontbeerlik is. God het vooruit die breë tydraam geskep en ons het dit verder ontwikkel, ingekleur.

So vas het die son se gang deur die eeue bly staan en sal dit in die toekoms ook wees, dat ons tabelle kan opstel waarvan ons kan aflees hoe laat dit op ‘n bepaalde plek op aarde op ‘n bepaalde dag sal opkom en ondergaan. Soos die Skrif dit stel; dit is ‘n VASTE TYD. Die dag se lengte of die wisseling van lig en duisternis, kan ons ook nie na willekeur bewimpel nie, weereens omdat ons die gang van hemelligame nie kan verander nie. Dank die Heer daarvoor anders sou volkere al oorlog gevoer het met mekaar om elk sy eie wil af te dwing.

Let ook op hoe sagkens die Heer met sy skepsels te werke gaan. Die daaglikse oorgang van lig na duister en duister na lig het Hy so geleidelik laat geskied, dat ons nie eensklaps deur die donker oorval word (soos wanneer ons beurtkrag aanbreek), en ook nie met ‘n skok deur die blakende son uit die bed geruk word nie.

Ons moet ook daarop ag gee dat alhoewel die Heer die duur van dag en nag voortaan laat varieër het, Hy die beginsel van lig en duisternis nie verander het nie omdat ‘n bepaalde geestelike beginsel daaraan gekoppel is.

D.     SKEPPING VAN DIE MAAN

Die son het nou in al die behoeftes aan daglig voorsien, maar die Heer wou darem ook die donkerte van die nag vir mens en dier so ‘n bietjie verlig, daarom het Hy nog ‘n hemelliggaam geskep. 

Die maan, waarvan ons net een het, beweeg natuurlik in ‘n baan om die aarde en genereer self geen lig nie. Dit is soos ‘n spieël wat snags aan die donkerkant van die aarde in die ruimte opgehang word. Wanneer die sonlig wat verby die aardbol skyn, daarop val, weerkaats dit daardie lig na die aarde. Wat ‘n heerlike sagte, strelende, selfs romantiese lig (?) is dit nie. Dit steur nie dié wat wil slaap in hul rus nie, maar laat die nagdiere toe om hul weg in die donker te vind. So kan die groot-ogige uil dan die snuffelende muis raaksien en hom vir ‘n nag maal opraap.

Die maan was, en word soms nog gebruik om die jaar in twaalf periodes op te deel maar ons kalenders is nie op die maan se rotasie om die aarde gebaseer nie, maar gekoppel aan dié van die son.

Sommige van ons mag saamstem dat die maan iets van die Heer se teerheid en liefdevolle aanraking van sy skepsele uitbeeld. Wanneer sy haar/hy sy lig op ons laat skyn, is dit soos die hande van ‘n moeder wat haar suigeling vertroetel en herinner dit ‘n mens aan die sagte werking van die Gees van God in die harte van sy kinders.

E.      SKEPPING VAN DIE STERRE

Behalwe die maan, het die Heer ook vir ons sterre aan die hemelruim gegee om die nag so ‘n bietjie op te helder. Die meeste van hulle is soos ons son wat self sy krag opwek en uitstraal; die Heer se hemellampe wat Hy ter wille van ons vervaardig en aangesteek het. Van binne funksioneer hulle baie soos kernkragstasies. Hul lampolie en pit bestaan uit watersof in hul kern wat onder die onhoudbare druk oopbars en energie uitstraal wat biljoene kilometer vêr, tot hier by ons, as lig, hitte en ander stralingsenergie ervaar word.

Omdat hulle so ontsaglik vêr van die aarde af is, lyk hulle vir ons baie klein, maar sommige is tot 100 maal groter as ons son. Deurdat hulle tot in die oneindigheid reg rondom ons in die ruimte “opgehang” is, hoof hul lig nie aan en af geskakel te word nie, nee dit is gedurig beskikbaar om gesamentlik die donker kant van die aarde met hul sagte lig te bestraal.

Dink net hoeveel grondstowwe soos grond, rots en gasse moes die Heer nie skep en hoeveel werk moes Hy nie verrig om al hierdie “lampies” vir ons te vervaardig nie. Dit alles het Hy uit liefde gedoen om ons vertroue te wen om onsself te gee as bruid vir sy Seun, soos wat Abraham kosbare goue armbande, ringe en oorbelle aan Rebekka gestuur het om haar te oorreed om met Isak te trou (Gen 24:22).

Daar is waarskynlik geeneen van die werke van God wat sy grootheid en heerlikheid so duidelik uitbeeld as die hemelruim met sy galaksies van sterre nie en elke kind van God behoort moeite te doen om so veel as moontlik daaroor te wete te kom – dit laat jou geloof hemelhoog opvlam. Hoe meer jy daarvan leer (al verstaan jy net ‘n fraksie) hoe meer sal jy groei in geloof in jou Skepper-Vader. Dan sal jy ook begryp hoeveel hoër sy gedagtes en toekomsbeplanning bo jou eie is:

Jes 55:9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. 

Miskien moet ons hier ook net meld dat sommige van die hemelligame wat in die Woord as sterre bekend staan, deesdae planete genoem word. ‘n Planeet “vervaardig” nie lig, hitte en ander energie nie. Hy wentel in ‘n baan om ‘n ster en weerkaats net daardie ster se lig. Ons aarde is so ‘n planeet en behalwe hom, is daar nog agt ander wat elk in sy eie baan om ons son wentel. Omdat hulle so na aan die aarde is, is hulle baie helder “sterre”. Ons ken hulle as Mercurius, Venus, (Aarde), Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus en Pluto, in daardie volgorde vanaf die son.

Dit alles het die Heer sommer met sy vingers (of te wel met die uitspreek van ‘n opdrag) geskape – die ganse kosmos/sie:

Ps 8:4  As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het— 

.

F.      PLASING VAN DIE HEMELLIGGAME IN DIE RUIMTE

Job 26:7  voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor ‘n niks; 

Wat ons ook moet vermeld is die vindingrykheid van onse Heer om al hierdie hemelliggame, elkeen afsonderlik op ‘n bepaalde plek in die hemelruim te hou sonder om hulle aan iets vas te maak of op iets neer te sit. Dit doen Hy naamlik deur hulle in bane om mekaar te laat wentel. ‘n Planeet se spoed deur die ruimte wil dit in ‘n reguit lyn laat voortsnel maar soms trek dit verby ‘n baie groter liggaam wat dit deur swaartekrag na homself toe aantrek. As hierdie aantrekkingskrag groot genoeg is, buig dit die kleiner voorwerp se baan al meer totdat dit om die groter voorwerp begin wentel. Wanneer die spoedkrag (momentum) en die aantrekkingskragte mekaar net mooi uitbalanseer, kom die kleiner voorwerp heel tevrede in ‘n baan tot ruste waarin dit bykans vir ewig geruisloos wentel.

So is dit met menigtes en menigtes van sterre en planete wat om mekaar wentel en in groepe weer om ander groter voorwerpe draai en so gaan dit dwarsdeur die heelal sodat ontsaglike sterrestelsels of galaksies daardeur ontstaan. Dit word beraam dat daar 2 triljoen galaksies in die sigbare hemelruim is.

Ons sonnestelsel is deel van die galaksie bekend as die Melkweg, bestaande uit ongeveer 50 galaksies waarvan die Groot Magellaanse Wolk die grootste is. Dit bestaan uit 10 biljoen sterre en het ‘n deursnee van 14,000 ligjare. (Lig beweeg teen ‘n spoed van 300,000km/sek en ‘n ligjaar is die afstand wat lig in ‘n jaar aflê.) Die volgende naaste galaksie is Andromeda. Maar genoeg oor die tegniese sy.

.

G.     WAT LEER ONS UIT DIE SON, MAAN EN STERRE?

  • Afstande, Massas, Groottes, Spoed, Temperature en ander Mates

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, … 21  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie . 

Die sterrestelsels buite ons eie sonnestelsel, dra nie veel by tot die mens se welsyn op aarde nie, behalwe om snags ‘n hoeveelheid lig te gee. Waarom het Hy dan so ‘n enorme belegging in lewelose voorwerpe gemaak? Daar is net een logiese gevolgtrekking: omdat Hy sy eie grootheid, sy Godheid, aan die mens deur daardie hemelliggame wou openbaar: sy ewige krag en goddelikheid – dit is wat hierdie teks sê! En waarom is dit vir hom so belangrik dat die mens hom in die regte perspektief moet sien; hom as die ewige, enige God sal sien? Omdat die mens vir hom so uiters belangrik is; omdat Hy die mens vir homself as metgesel geskape het.

Al is die aarde in terme van deursnee en massa net ‘n speldeprikkie binne die ontsaglike hemelruim van sterre en planete, is dit vir die Here die middelpunt van sy skepping; die planeet waarom alles draai; die planeet waarop Hy mens geword en sy lewe aan ‘n kruis gegee het om die bewoners vir homself terug te wen.

Die vroegste mens kon deur ‘n onbesoedelde atmosfeer opkyk in die hemelruim. Vir hulle was die skouspel waarskynlik tweemaal so skitterend en indrukwekkend as vir ons en hulle het dus geen verskoning as hulle die bestaan en grootheid van God nie daarin raakgesien het nie.

Vir ons wat nou lewe en die hemelruim deur ‘n waas van besoedeling sien, is dit steeds ongelooflik aangrypend maar ons beskik ook oor ‘n menigte wetenskaplike hulpmiddele om tot in die diepte van God se skepping in te kyk en dit te ontleed, sodat ons in der waarheid ‘n steeds groeiende openbaring van sy goddelike heerlikheid ontvang.

Die syfers wat daaraan gekoppel word, laat ons stom van verbasing: die aantal galaksies en sterre daarbinne, die deursnee van die sterrestelsels en van elke ster, hul massas (gewig), temperature, die helderheid en spoed van lig, ens. Ons bekyk dit maar kan hoegenaamd geen begrip van die omvang daarvan vorm nie. Behalwe God self, kan niks, maar niks, groter as die heelal met al sy sterre wees nie. Wat meer kon die Bruidegom doen om sy Bruid te oortuig dat sy haar met volle vertroue aan hom kan oorgee?

  • Hemelliggaam Bane

Wat my verder so beïndruk, is dat elke ster of planeet se baan so presies deur ons wyse Plannemaker, Argitek, Ingenieur uitgewerk is, dat hulle eeu na eeu rustig saam verkeer en voortsnel sonder om ooit met mekaar te bots en dit net omdat hulle elkeen onvoorwaardelik aan hul Skepper se beplanning oorgegee is.

AI tog Heer, hoe sleg steek ons as mens teen hulle af; ons wat elke dag bane met andere kruis, bots, koppe stamp, uitmekaar spat, nuwe bane soek waarin ons gelukkiger, voorspoediger kan wees, net om ontnugterd uit te vind dat ook daardie baan nie glad, rustig en sonder kruisings is nie.

Mag U Koninkryk tog ten volle kom, soos in die hemele, net so ook in my lewe. Help my om soms stil te staan sodat ‘n ander wat moedswillig my baan kruis, eers verby kan gaan.

Die hemelse baan word gekenmerk deur toegeetekens, spoedbeperkings en rooi robotte. Ignoreer ek hulle, beland ek in ‘n botsing waaruit ek nie sonder letsels weer in my godgegewe baan terug kan kom nie. Sommige van ons gee later moed op en verlaat eerder die ewige weg as om daagliks deur dié keuses wat indruis teen die begeertes van die vlees, gekonfronteer te word.

Ps 139:23  Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 24  en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! 

.

H.     TYD

Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: 

Ons het gesien hoedat die Heer die beginsel van tyd in drie periodes naamlik dae, weke en jare vasgelê het. Dikwels lees ons egter daaroor heen sonder om veel ag daarop te slaan, terwyl tyd inderdaad ‘n baie belangrike element van die skepping is en van die begin tot die einde van die duur daarvan, ‘n kardinale rol speel. Die Here het self dan ook by die beginsel van tyd gehou.  

ONS NOEM NET ‘N AANTAL VOORBEELDE UIT DIE OU-TESTAMENT:

  • Die 6 skeppingsdae en die sewende dag van rus.

Ex 20:11  Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. 

  • Die geboorte- en lewensjare van al die aartsvaders vanaf Adam tot Noag is noukeurig opgeteken en dit het daartoe bygedra dat ons die aantal jare vanaf die skepping tot nou toe, naastenby kan bereken. ‘n Voorbeeld:

Gen 5:3  Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. 4  En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad. 5  So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar, en hy het gesterwe. 6  Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. 

  • Die sondvloedhet 40 dae en veertig nagte geduur:

Gen 7:4  Want oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg. 

  • ‘n Week bestaan uit sewe dae, ses werksdae, gevolg deur ‘n rusdag – so het die Heer Israel se weke bevestig:

Ex 20:9  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; 10  maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie— … 11  Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. 

  • Bewerking van landerye: ses jare lank moes die landerye bewerk word maar die sewende jaar moes dit rus:

Lev 25:3  Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel; 4  maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie. 

  • Sewentig jaar ballingskap: omdat Israel voorgaande voorskrif nie nagekom het nie, het die Heer hulle sewentig jaar lank in ballingskap laat gaan:

2Kron 36:21  sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremía vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.

NUWE-TESTAMENTIESE VOORBEELDE:

  • Jesus se geboorte was in die volheid van die tyd:

Gal 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 

  • Jesus se ouderdom toe Hy met sy bediening begin het:

Luk 3:23  En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; …

  • Jesus se opstanding uit die dood was op die derde dag:

Luk 24:46  En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, 

Indien u die Skrif ken, sal u weet dat bogelde voorbeelde maar ‘n druppel in die emmer van die groot totaal is.

Verder kan ons ook dink aan al die vasgestelde tye in die natuur waarvan een van die belangrikste die periode van nege maande is wat ‘n moeder haar baba dra voordat sy geboorte gee. Wat ‘n chaos sou dit nie wees indien hierdie periode kon wissel van 3 weke tot 3 jaar of wat ookal nie! Ook in die plant- en dierewêreld is die tye voorspelbaar. Vir ‘n lemoenboom neem dit 3-5 jaar voordat dit vrug dra. Terwyl ‘n muis binne 22 dae ‘n hele werpsel kleingoed die lig kan laat sien, neem dit ‘n olifant 22 maande om net een outjie in die wêreld te bring; maar terwyl die olifant tot 70 jaar oud kan word, haal die muis weens sy talryke vyande selde meer as 18 maande. Elke lewende voorwerp het sy voorgeskrewe tyd.

En die mens?

Psa 90:10 Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. 

Psa 90:12  Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! 

(Psa 90:12 Teach us to use wisely all the time we have. (CEV))

Die Heer het aan die einde van elke skeppingsdag sy werk bekyk en bevind dat dit goed was. As ons aan die einde van elke dag ook ons werk en lewe vir daardie dag bekyk, sal ons die foute vinnig by wyse van sondebelydenis kan regstel en die volgende dag met ‘n skoon rekord begin. Skoon dae is boustene vir skoon jare.

Deesdae slaag die medici daarin om ons tot selfs oor ‘n honderd jaar oud te laat word. Dit lyk na ‘n lang tyd maar omdat die mens na sy aardse bestaan, geestelik in ‘n ander gedaante tot in ewigheid bly voortleef, vertoon die lengte van sy aardse bestaan soos ‘n sandkorreltjie in die sterrehemel. Daarom dan is dit vir die mens so voordelig dat hy die lengte van sy lewe in jare kan afmeet om te bepaal hoe hy vorder in sy voorbereiding vir die ewigheid.

Sommige mense is geseënd met besondere intelligensie en dryfkrag. Ek herinner my hoedat ek ongeveer vier jaar na matrikulasie gesien het dat sommige van my matriek klasmaats reeds gegradueer was en ingegrawe in beroepe wat ‘n blink toekoms vir hulle verseker het, terwyl ek steeds rondgeploeter het en geen rigting kon vind nie. Net daar het ek besluit om nie ‘n oomblik langer te verspil nie. Ek het ‘n aanlegtoets ondergaan, ‘n beroep bekom, baie hard gewerk, by ‘n universiteit ingeskryf en vyf jaar later kon ek darem ook saam gesels.

Nou moet ek met droefheid ook sê dat verskeie van my dierbare maats wat akademies so blitsig uit die blokke was, op 60 jarige leeftyd nog nie die pad na die ewige heerlikheid gevind het nie. Die wedergeboorte is vir hulle ‘n vreemde woord; Jesus, die Naam wat elke kind van God se hart vinniger laat klop, kan hulle haas nie uitspreek nie. Hulle staan nou nog op die aanloopbaan en beplan vir hul verdere aardse lewe en bemerk nie dat die lugwaardin besig is om die deur van die laaste vlug hemeltoe, toe te trek nie.

Vir hulle, en vir elkeen wat nog ‘n tydelike bewoner van hierdie planeet is, is my raad: wees wys soos Mercurius, Venus, ons Aarde, Mars en die ander vyf planete wat rustig, elk in sy godgegewe baan om die son wentel. Gee jouself oor aan die Heer; laat hom toe om jou in ‘n hemelse baan te plaas waarvan hyself die middelpunt is. Daar sal jy veilig en gelukkig wees en gereed wanneer die Heer sy engel stuur om jou te haal.

Ek groet u met die woorde van Fil. 2:12:

Daarom, my geliefdes, … werk julle eie heil uit met vrees en bewing 13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

SHALOM

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → GEN1v14-19 Hemelruim  . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm onderaan hierdie bladsy daarvoor.




    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend