DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
SOUT IN DIE OU TESTAMENT
Sommer vroeg in die Ou Testament al, (Lev 2:13) lees ons dat spysoffers aan God met sout voorberei moes word. Daarmee wou Hy die mens, en veral Sy priesters, leer dat dit wat aan Hom geoffer word, smaaklik moes wees sodat Hy dit sou geniet soos wat ons, gesoute skaapribbetjie of biefstuk geniet. Dit het natuurlik ‘n simboliese betekenis gehad want God is Gees en Hy sou nie die offers soos ons in die vlees kon geniet nie. Dit het dus meer gegaan om ‘n geestelike waarheid by die mens te vestig.
In 2 Kon 2:20 vind ons nog ‘n voorbeeld van hoe sout simbolies aangewend is om brakwater bruikbaar te maak. Die profeteseuns wat by Elisa in opleiding was, het naamlik vir hom gevra of hy tog nie iets kon doen vir die fontein wat digby Jerigo uitgeborrel het nie want die stad was goed geleë maar het ‘n waternood beleef; ja selfs die grond rondom die fontein was so geaffekteer dat niks daar wou groei nie. Elisa het beveel dat hulle ‘n nuwe skottel vol sout vir hom bring wat hy toe in die fontein gegooi het en eensklaps was die water heerlik soet en drinkbaar. Weereens het dit gegaan om die simboliese betekenis van die sout en nie om die chemiese eienskappe daarvan nie; sout bring lewe.
DIE SIMBOLIEK VAN SOUT IN JESUS SE LERING
Jesus het sout as beeld gebruik van hoe Hy wou hê dat Sy kinders moes lewe: Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. (Matt 5:13).
Na aanleiding van die Ou Testamentiese simboliek van sout, sou Jesus sekerlik in gedagte gehad het dat die Christen ‘n tweërlei funksie moes vervul: eerstens moes hy smaak aan die lewe te gee en tweedens moes hy die bederf en agteruitgang wat oral in die samelewing voorkom, teenwerk.
Om hierdie roepings te kan vervul moet ons seker maak dat ons lewens met hemelse sout gevul is en moet ons onsself in die Here se hand stel sodat Hy ons na Sy goeddunke kan gebruik.
LEES OOK: “‘N SOUTPOT VIR CHRISTUS.”
……….