Verheerliking op die berg; Luk 9:28 – 36

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

Lees asb Luk. 9:28-36

Jesus se fisiese swaarkry.

Ons lees dikwels van Jesus se swaarkry terwyl hy hier op aarde bedien het; Sy stap langs die warm stowwerige paaie om veraf geleë plekke te bereik, teistering deur ‘n storm terwyl hy die meer van Galilea in ‘n skuit oorsteek, slaap in die veld wanneer mense geweier het om hulle huise vir Hom beskikbaar te stel, bedreiging deur mense wat Hom van ‘n krans naby sy tuisdorp wou afgooi, beswaddering van sy Naam deur godsdienstige leiers, ens. Dit is waarom ons in die vorige versies  gelees het dat Hy Sy dissipels gewaarsku het dat diegene wat agter Hom aan wou kom, hulle kruise moes opneem en Hom volg. Sy lewe op aarde was nie dié van ‘n koning in ‘n paleis wat in gemak deur sy bediendes versorg word nie; nee, Hy het gekom om die mensdom te dien en dit het ‘n goeie porsie ontberinge ingesluit.

Jesus se emosionele lyding.

Hy het sy volgelinge ook gemaan om nie hul genot te vind in verering wat mense vir hulle kon gee nie maar veel eerder die opregte, weldeurdagte aanprysing wat op waarheid gegrond is en van God kom, te soek. Joh. 5:44: “Hoe kan julle  glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?”  Wanneer jy met toegeknypte oë jou verlustig in die aflek van die heuning wat om jou mond gesmeer is, sien jy die Here nie meer voor jou oë nie en daal jou geloofsvlak soos ‘n watertenk waarvan ‘n stuk van die boom uitgeval het.

Wanneer die Vader jou verhoog, is dit eg en kan jy jou daarin verbly.

Die keersy is net so waar; wanneer jy jouself verootmoedig, sal God jou verhoog. In ‘n vroeëre hoofstuk lees ons dan ook van ‘n insident waar God die Vader juis dít vir sy Seun gedoen het. Jesus het by dié geleentheid naamlik saam met  al die ander mense wat berou oor hul sonde gehad het, in die tou geval om deur Johannes die Doper gedoop te word, alhoewel Hyself nooit gesondig het nie. Hierdie nederige gehoorsaamheid het die Vader so verbly dat Hy Hom uit die hemel toegeroep het: “U is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Mark 1:11)  Waarom het God dit so gedoen?

Redes vir Jesus se verheerliking.

In die eerste plek het Hy hierdeur persoonlik vanuit die hemele teenoor die dissipels en andere wat daar teenwoordig was (en deur hulle getuienis aan die ganse mensdom deur alle eeue) op ‘n bonatuurlike wyse bewys gelewer dat Jesus inderdaad Sy enige Seun was.

Tweedens het dit ook gegaan om Jesus self. Hy was mos nie net ten volle God nie, maar ook ten volle mens. Vir ‘n mens om dag vir dag op ‘n bonatuurlike vlak te lewe, verg groot genade en daarom het die Vader daardie voorval in Sy lewe beskik om Sy Seun te versterk en voor te berei vir Sy bediening.

Nader tot God en Hy sal tot jou nader.

In die huidige Skrifgedeelte lees ons van nog ‘n uitsonderlike geleentheid waartydens God die Vader Sy Seun op nog groter wyse verheerlik het. Wat gebeur het was dat Jesus drie van sy dissipels, dié  wat die naaste aan Hom was, saamgeneem het na die top van ‘n berg waar hulle nie deur die mense gesteur sou word nie. Hy het daarheen gegaan met die voorneme om tyd in gebed met sy Vader te spandeer en moontlik ook om met Hom te praat oor Sy bediening waarvoor Hy na die aarde toe gekom het. Gemeenskap met Sy vader was vir Hom die eertse ptioriteit in Sy lewe en Hy sou nie toelaat dat die behoeftes van die duisende mense wat voortdurend om Hom saamgedrom het om na Sy woorde te luister en Sy wonderwerke te ervaar, inbreuk maak op Sy gemeenskap met Sy Vader nie.

Ons moet Jesus se voorbeeld volg en daarteen waak dat ons dienswerk hier op aarde ons so besig hou, dat daar  nie voldoende tyd is vir kontak en interaksie met God nie.   Moeders het baie verpligtinge in hulle huise en kan maklik gebedstyd gebruik vir wêreldse take, terwyl die pa’s voor die TV onspan na die dag se spanningsvolle dag..

Jesus het net drie van Sy dissipels met Hom saamgeneem, Petrus, Jakobus en Johannes, want Hy het geweet dat dit ‘n baie spesiale tyd sou wees; heilige oomblikke en Hy het daardie dissipels bevoordeel wat naaste aan Hom was in geloof, liefde en gehoorsaamheid. Laat ons daaruit leer om Hom met oorgawe te dien en wanneer ons dit die minste verwag, sal Hy ons oplig om so ‘n ietsie van die hemelse glorie te ervaar.

Terwyl hulle op die berg was, is die dissipels deur swakheid oorval en het aan die slaap geraak. Miskien het hulle begin deur sy aan sy met Jesus te bid maar is toe mettertyd deur die slaap oorweldig. Hulle het darem betyds wakker geword om ‘n unieke wonder te aanskou.  Terwyl Jesus bid, is Hy ineens beklee  met hemelse heerlikheid. Sy aangesig het onbeskrylik anders geword en Sy klere skitterend wit (flitsende soos weerlig (AMP)). Dit is moontlik dat dit in die nag gebeur het, wat dit nog soveel meer asemrowend en ontsagwekkend sou maak.

Moses en Elia kom om Jesus te versterk.

Twee hemelse wesens, bekleed met soortgelyke heerlikheid, het skielik uit die niet verskyn en met Hom in gesprek getree. Dit was twee mans wat honderde jare tevore op die aarde gelewe het. Die drie dissipels het hulle nooit in lewende lywe gesien nie, maar God het deur sy Gees aan hulle bekend gemaak dat dit Moses en Elía was. Hulle het met die Here gepraat oor sy komende kruisiging en hemelvaart.

Waarom het God juis hierdie twee manne gekies om Hom te verteenwoordig om sy Seun te versterk?  Moses was die man wat God se volk verlos het uit die mag van die duiwel wat deur die Farao van Egipte hulle in slawerny gehou het en hulle uitgelei het uit na vryheid, net soos Jesus nou die mag van satan sou verbreek en die mensdom van geestelike slawerny na vryheid sou lei.

Elía was ook ‘n magtige geestelike krygsman. Op die berg Karmel het hy die duiwel openlik gekonfronteer, hom oorweldig deur geloof, sy valse profete van Baäl en Asjéra doodgemaak, en God se almag aan Sy mense gedemonstreer. Jesus sou ook op Golgota teen die duiwel en al sy bose geeste veg en hulle oorwin om almal wat op Hom vertrou, te bevry.

Opmerklik ook dat manne, en nie engele nie, gestuur was, want engele het nooit die worstelstryd hier op aarde ervaar wat ons as mense belewe nie. Waarom het die Vader hulle gestuur? Moontlik om Hom te bemoedig; om met hulle woorde Sy geloof te versterk vir die geveg wat vir Hom voorgelê het; nie net die pyn en vernedering van die kruis en die stryd teen die owerstes van die Jode en teen die Romeinse mag nie, maar teen satan self en teen sy miljoene onsigbare krygers, sy demone wat met velle haat in Jerusalem op Hom sou toesak. Moses en Elía wat soortgelyke gevegte beleef het, was God se uitverkore boodskappers om hierdie funksie te vervul en Jesus, die nederige Dienskneg van die Vader het Hom dit laat welgeval om  deur mensekinders geestelik versterk te word.

Petrus bid sommer sonder om te dink.

Uiteindelik het Petrus  en sy twee vriende voldoende tot verhaal gekom om te kon praat, maar hy was so oorweldig deur die hemelse gesig en die geloof, blydskap en vrede wat sy hart gevul het, dat hy nie helder kon dink nie. Hy sê toe sommer die eerste ding wat in sy gedagte opkom, naamlik:  “O, Jesus dit is tog so wonderlik hier, laat ons hutte bou vir die drie van U.” Met ander woorde, “Kom ons bou sommer gou ‘n satelliet kampus vir die hemel hier op die berg.” Duidelik het hy in gedagte gehad om sommer vir altyd daar te bly woon. Maar hierdie heerlikheid was nie bedoel om onbepaald voort te duur nie. Jesus moes nog gekruisig word om ook vir ons ewigdurende glorie te verdien. (As die Here al ons gebede moes beantwoord, sou dit chaos gewees het hier op planeet aarde.)

Aan Petrus se versoek is dus nie voldoen nie en die twee manne het tot sy terleurstelling terstond in ‘n wolk vertrek. Die wolk was simbolies van die teenwoordigheid van God. Hulle het hulle deel van swaarkry op aarde gehad en na ‘n kortsondige herbesoek, het hulle teruggekeer na hul ewige tuiste in die hemele waar hulle vroeëre aardse lyding vergete was.

Die gevaar van emosies wat nie nie in die goddelike wil gewortel is nie.

Toe die dissipels die manne in die wolk sien verdwyn, het hulle blydskap in vrees verander. Waarom? Ons lees dikwels dat hulle gevrees het, tog was hulle sterk manne. Hierdie drie was vissermanne wat gewoond was aan gevaar. Die mens vrees so dikwels.

God se teenmiddel teen vrees.

In 1 Joh. 4:18 word ‘n rede waarom ons vrees, vermeld:  “Daar is geen vrees in liefde nie; maar die  volmaakte  liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”

Uit hierdie vers lyk dit asof ons vrees omdat ons verwag om gestraf te word. Hoe dit ook al sy, hoe meer ons God liefhet en hoe meer  ons ander mense liefhet, hoe minder sal ons deur vrees geteister word want as liefde ‘n kamer van die hart binnedring en enige vrees daar vind, dryf dit die vrees by die deur uit. Liefde is soveel sterker as vrees.

As jy nog diep in jou hart bang is dat God jou sal straf, vra Hom om jou te help om Hom meer lief te hê en soos jy Hom meer liefhet sal jy nie meer bang wees dat Hy jou sal straf nie. Hoe liewer jy Hom het, hoe sekerder sal jy wees dat Hy jou gedurig beskerm en as iets onverwags gebeur, sal jy nie skrik nie want in jou sal jy die stille oortuiging hê dat Hy jou te hulp sal kom en jou deur die bedreiging sal dra.

As jy bang is vir ander mense, vra God om jou hart met liefde vir hulle te vul en die meeste van jou vrees sal verdwyn. Dit beteken nie dat jy jouself onnodig aan bose mense mag blootstel nie, nee jy sal in wysheid teenoor hulle optree, maar vanaf ‘n basis van rustige vertroue op God sal jy sal dan van Hom hoor hoe om hulle te hanteer.

Die afskeidsgroet van die Vader.

Ons gaan voort. Uit die wolk waarin die twee hemelwesens verdwyn het, spreek God nou: “Dit is My geliefde Seun; luister na Hom!” Watter wonderlike vrede moes dit nie vir ons Here Jesus Christus gebring het om te hoor hoe Sy geliefde Vader so goed van Hom praat nie. En hoe was die geloof van die drie dissipels nie versterk deur die aanhoor van hierdie bevestiging van hulle geloof nie. In latere jare tydens hulle bediening, sou hulle altyd hierdie heilige oomblikke herroep het. Petrus het hierdie insident opgeteken in sy brief in 2 Petrus 1:17: “..want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.“

Moet nie jou heilige oomblikke goedkoop maak deur dit onbedag met een en almal te deel nie.

‘n Laaste opmerking. Dit was so ‘n heilige ondervinding dat hulle dit nooit teenoor andere genoem het nie. Elke Christen wat intiem met die Here wandel, sal een of ander tyd in sy lewe ‘n ondervinding ervaar wat net tussen hom en die Here is.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JESUS VERHEERLIK . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha