HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
VREES (Lees asb Luk 12:4-12)
Twee soorte.
Twee soorte vrees word hier genoem: vrees vir God en vrees vir mense. Die een doen ons goed en die ander doen ons kwaad. Om God te vrees is positief; dit beteken dat ons God as die enigste God eer, aanbid en gehoorsaam. Om mense te vrees, is om bang te wees vir wat hulle aan jou kan doen; dat hulle jou kan beseer, doodmaak, kwets, uitlag of beswadder.
Skadelike vrees.
Hierdie skadelike vorm van vrees strek selfs wyer en sluit in vrees vir die geeste van afgestorwenes, bose geeste en toordokters of dat iemand ‘n vloek oor jou kan uitspreek. Dit sluit ook in uitermatige vrees vir weerlig, wind, ongelukke en sulke dinge. Natuurlik moet ons versigtig bestuur, binneshuis bly wanneer daar ‘n swaar donderstorm is en nie ‘n stormagtige see met ‘n klein seilbootjie aandurf nie. Ons moet versigtig wees maar nie vreesagtig nie.
‘n Wêreld sonder vrees.
In die Paradys het Adam en Eva ‘n totaal ontspanne verhouding met God gehad. Alhoewel hulle bewus was van Sy almag as Skepper, was hulle nie daardeur geïntimideer nie. Pyn en dood het gladnie bestaan nie en dit sou nooit by hulle opkom dat Hy hulle moontlik leed sou aandoen nie. Net so was hulle ook nie bang vir die diere of enigiets anders in hulle omgewing nie. Die leeu het gras geëet en die heuningby het nie ‘n angel gehad nie. Hulle het ‘n volmaakte sorgelose bestaan gevoer. Wanneer hulle lê en slaap het, was daar geen waghonde, alarmstelsels, omheinings of sekuriteitswagte om hulle te beskerm nie. Selfs hulle drome (indien enige) sou rustig en verkwikkend gewees het. Gesien die vlakke van geweld waaraan ons in ons hedendaagse samelewing blootgestel is, is dit haas onmoontlik om onsself nou in so ‘n volkome vreesvrye bestaan in te dink.
Vrees vir vergelding.
Maar die oomblik toe die mens besluit het om God nie meer te gehoorsaam nie, het Hy hulle Regter geword en het vrees vir straf hulle oorweldig sodat hulle weggekruip en hulself met vyeblare bedek het. Hierdie “bang wees vir God” het gekom om te bly en word alleenlik opgehef wanneer die mens met God versoen raak deur die vergifnis van sonde wat deur Jesus se kruisdood moontlik gemaak is.
Vrees verander in ontsag.
Die geredde mens is nie meer bang vir God nie; sy “vrees van God” bestaan eerder daarin dat hy Hom eer as almagtige, alwyse Skepper en liefhet as liefdevolle Vader. Vrees verander in ontsag.
Vrees strem vooruitgang.
Die ongeredde mens is egter meer vreesagtig teenoor sy medemens wat hy kan sien en wat hier al om hom beweeg as teenoor die God wat hy nie kan sien nie. Vrees is egter ‘n onding, ‘n pynigende emosie wat die mens se lewe versuur en verhoed dat hy tot sy volle potensiaal ontwikkel. Die sakeman wat gedurig vrees dat die land se ekonomie in duie sal stort of dat mededingers hom uit die mark sal druk, sal nie gesond en weldeurdag beplan nie. Elke besluit sal ‘n kleur van vrees weerspieël.
‘n Christen se vrees vir vervolging.
Vrees om as Christen vervolg te word, werk net so nadelig in op ‘n persoon se geestelike groei. Wanneer iemand uit die duisternis oorstap in die lig deur sy saak met God reg te maak, word hy ‘n vyand van die breë ongeredde mensdom wat die duiwel as aanvoerder het en het hy meer as ooit rede om hulle te vrees. Dit het Jesus se dissipels dan ook gedurig ervaar in die vervolging wat die godsdienstige leiers teen Hom en Sy volgelinge geloods het. Jesus het geweet dat daar ‘n groot aantal mense was wat kinders van God wou word, maar dat hulle bang was om uit die kerk geban, geslaan of selfs doodgemaak te word.
Waarom ‘n Christen nie nodig het om te vrees nie.
Gedagtig hieraan het Hy spesifieke lering oor die onderwerp van vrees, en in besonder vrees vir vervolging gegee. Eerstens wys Hy op die onverstandigheid om vir die mens banger te wees as vir God (en, by implikasie jouself nie met God te versoen nie omdat jy vrees dat die mens jou sal vervolg.) Hiervoor gee Hy vier redes:
Die mens se beperkte mag teenoor God se almag.
Eerstens is die mens slegs in staat om die liggaam dood te maak maar daarna magteloos om die gees van die mens wat die liggaam verlaat het, enige leed aan te doen. God daarenteen het die mag om nie net die liggaam te dood nie maar die persoon daarna in die hel te werp. Daarom is dit tog logies om ‘n veel groter vrees vir God te hê.
God se kinders is vir Hom baie kosbaar.
Tweedens: God het ‘n intense belang in elke dingetjie waaraan Hy lewe geskenk het, soos byvoorbeeld in ‘n mossie. Die mens ag ‘n mossie van so min waarde dat hy vyf van hulle vir twee stuiwers (pennies?) verkoop, maar vir God is elke mossie op aarde so belangrik dat Hy elkeen van hulle ken en bewus is wat met hulle gebeur. Hoeveel te meer is ‘n persoon wat homself aan die Here toevertrou het, nie vir die Here werd nie. Hy is so uiters kosbaar vir God, dat die Here gedurigdeur selfs sy hare tel en daarvan boekhou sodat wanneer selfs een haar uitval, Hy dit weet. As elke haar dan vir Hom kosbaar is, hoeveel te meer nie die persoon in sy totaliteit van gees siel en liggaam nie?
Die Vader eer die vertroue wat sy kind in Hom het.
Derdens: Die mens mag voel dat hy maar baie klein en gering hier op aarde is, ja onbeduidend voor die almagtige God op Sy troon in die hemele. Nee, sê die Here Jesus, wanneer ‘n persoon teenoor andere bely dat hy homself aan Jesus se kant geskaar het, is dit vir Hom so kosbaar dat Hy die naam van daardie persoon voor die ganse hemelse skare sal vermeld. Die keersy is egter ook waar, naamlik dat indien ‘n persoon vir Jesus hier op aarde ontken, sal Hy ook in die hemel verklaar dat hy daardie persoon nooit geken het nie.
In vervolging sal die Heilige Gees die regte antwoorde en argumente in Sy kind se mond plaas.
Vierdens: Ook in die hier en die nou, sal Jesus sy kind nooit aan sy lot oorlaat nie. Wanneer hy voor die hof gedaag word, sal Sy advokaat, die Heilige Gees, die woorde vir sy verdediging in sy mond lê sodat hy nie nodig sal hê om homself te bekommer oor wat hy sal sê nie.
Lastering teen die Heilige Gees.
Vers 10 bevat ook ‘n ernstige waarskuwing naamlik dat ‘n persoon wat teen die Heilige Gees laster, nie vergewe sal word nie. Lastering behels die venynige kwaadpraat of veragting van die Heilige Gees wat in tere liefde by ons pleit om ons tot God te bekeer. Die persoon wat in so ‘n vyandigheid volhard, tree mettertyd oor die drumpel van God se genade waarna daar vir hom geen hoop tot in der ewigheid is nie. Die Fariseërs wat die Seun van God daarvan beskuldig het dat Hy met die satan geheul het, was daardeur besig om op die rand van hierdie afgrond te beweeg.
Die Here vrywaar ons nie teen vervolging en lyding nie, maar beloof om gedurig by ons te wees en ons te ondersteun sodat ons dit kan dra.
Laastens: Let daarop dat die Here nooit belowe het dat ‘n mossie nooit sal sterf nie; wat Hy belowe het is dat wanneer die mossie sterf, hy nie alleen sal wees nie maar dat die Here by hom sal wees. Net so het Hy nie belowe dat ‘n Christen nie vir sy geloof sal sal sterf nie, maar dat sy Here en Redder met hom sal wees, hom sal troos en sal lei deur die deur van die dood na die ewige huis van Sy Vader.
HEBSUG (Lees asb Lk 12:13-21).
‘n Man wat nie die hulp wat hy gevra het, van Jesus ontvang het nie.
Dikwels, wanneer ‘n ryk man te sterwe kom, is daar ‘n stryery tussen sy kinders oor die verdeling van die boedel. Die vermeende verontregte persoon gaan dan gewoonlik hof toe om sy sin te kry. Die klaer in hierdie spesifieke verhaal het moontlik nie sy weg oop gesien om daardie roete te volg nie of nie die uitspraak gekry wat hy wou gehad het nie en hom toe tot die Here Jesus vir hulp gewend, seker omdat hy Hom as ‘n baie regverdige man gesien het; ‘n man wat onreg gehaat het en wat hom, die verontregte gelyk sou gee.
Die Regter sê “Hier is die beginsels, gaan bereg jou eie saak.”
Die Here het dit egter goed gedink om liewer vir hom, en almal wat teenwoordig was, ‘n belangrike les te leer aangaande materiële besittings en dit dan aan hulle oor te laat om self hulle sake te bereg. Die storie wat Jesus toe vertel het van die ryk man wat sulke goeie oeste gehad het, is heel eenvoudig, daarom sal ons nie daarby stilstaan nie maar net kyk na enkele belangrike beginsels wat Hy Sy hoorders daaruit wou leer.
Rykdom is ‘n gawe van God.
Jesus het hom nie veroordeel vir sy rykdom nie. Hy het dalk hard gewerk en goed beplan en kon nou die vrugte van sy arbeid geniet wat ook ‘n seëning uit die hand van God was. God seën eerlike harde werk en wyse beplanning.
Gierigheid vir meer en meer. “Ek is nie gierig nie, maar ek hou van baie.”
Sy sonde was gesetel in sy gierigheid vir meer en meer; hebsug; die hart wat sug en sug en sug om meer en meer en meer te hê, te versamel, op te stapel, weg te bêre. Hy wou ‘n oordadige oorvloed vir homself gehad het, meer as wat God geoordeel het as voldoende om in sy behoeftes te voorsien – meer as wat hy redelikerwys nodig gehad het om ook vir sy afsienbare toekoms te voorsien. Hy wou soos ‘n beker wees wat nie net tot by die rand toe vol is nie, maar wat oorloop en dan wou hy dit wat oorloop ook nog in ‘n piering of skottel opvang. Hy wou elke greintjie vir homself bewaar deur sy skure verder te vergroot om nog meer te kon bevat en bewaar.
“Ek het daarvoor gewerk en ek maak daarmee wat ek wil.”
Om tot die besluit te kom om sy stoorplekke buitengewoon te vergroot, het hy nie vir God geraadpleeg nie maar dit met homself beredeneer en sy eie kop gevolg. As hy oor die saak gebid het, kon die Here hom gelei het om die oorloop weg te gee want hy het reeds skurevol gehad. Aangesien die Here hom reeds so geseën het, moes hy die Here vir soortgelyke groot seëninge in die daaropvolgende jare vertrou het, maar sy eie gedagtes het vir hom gesê om veilig te speel en elke korrel graan vir homself te spaar omdat hy nie seker was of God hom weer soveel sou gee nie.
Waarop leun jy?
Behalwe dat hy gierig was, was hy ook dwaas om op materiële dinge te vertrou. En dit was eintlik die kruks van Jesus se boodskap. Hy wys toe daarop hoe vinnig hierdie valse fondament waarop hy gebou, verkrummel en hom in die afgrond gestort het. Hy het nog nie eers begin om die groter skure te bou nie, toe hy skielik, onvoorsiens sterf, moontlik aan ‘n hartaanval en dit was die einde van sy droom van ‘n sorgvrye lewe want hy het God nie geken en daarom nie na die heerlikheid van die hemel gegaan nie maar na die afgryslikheid van die hel afgedaal … en sy besittings? Wie sou dit erf; wie sou daaroor baklei?
‘n Dwaas!
Kom ons let nog ‘n keer daarop dat God hierdie man ‘n dwaas noem. ‘n Dwaas is iemand wat nie oor die wysheid beskik om gesonde besluite te kan neem nie. Hy is geeneen se respek werd nie. Hy is ‘n dom mens. Hierdie man se besluite was aardsgebonde en het geen voorsiening gemaak vir ‘n regte verhouding met die God van die ewigheid nie.
Erfgenaam, wees nou jou eie regter.
Die vreeswekkende waarheid wat in hierdie verhaal van Jesus opgesluit was, was inderdaad goeie advies vir die man wat Sy hulp kom vra het oor die verdeling van sy vader se boedel. Kan dit wees dat hierdie juis die storie van hierdie man se vader was?
Laat jou seëninge uitkring na buite; weg van jou af.
Rykdom is seëninge van God en moet gedeel word met diegene wat minder in staat is om vir hulleself te sorg en moet in besonder gebruik word om dissipels te maak vir die Koninkryk van God. Belê in die ewigheid!
Gierigheid het ‘n kamer in elke mens se hart.
Gierigheid lei tot die val van ‘n groot deel van die mensdom. Hierdie sonde skuil selfs in die harte van arm mense wat, hoewel hulle nie veel materiële besittings het nie, die rykdom van andere aanbid. So dikwels sien jy arm mense onder ‘n boom of op die straathoek sit, terwyl hulle die bietjie wat hulle het, wegdobbel of met koorsagtige haas ‘n loterykaartjie uitneem met die hoop dat hulle skielik, sonder om te werk, hulle sakke met geld sal kan vul. Dwaasheid noem Jesus dit. (Lees gerus 1Tim 6:6-10).
WANTROUE (Lees asb Luk 12: 22-34).
Die sonde van die behoeftige; waaraan ons almal skuldig is.
Almal van ons is egter nie ryk nie, inteendeel, sommige is brandarm. Alhoewel armes miskien nie begerig is na ‘n oormaat van besittings nie, is hulle dikwels weer bekommerd oor die voorsiening in hulle daaglikse behoeftes aan kos en klere. Ook sulke minderbevoorregtes en armes kan God mishaag en vir hulself baie innerlike ongeluk veroorsaak deur nie kinderlik op die Here te vertrou om in hul daaglikse behoeftes te voorsien nie.
As God lewe kan gee, kan hy alles gee om daardie lewe te bewaar.
Weereens gebruik Jesus voorbeelde uit die natuur as argumente om hierdie vrese te besweer.
Eerstens wys Hy op die wonder van lewe. God gee lewe aan ‘n baba in die skoot van sy moeder, selfs nog lank voordat hy gebore word, en onderhou daardie lewe na geboorte tot in die gryse ouderdom toe; daar is mense wat meer as ‘n honderd jaar oud word. Lewe is ‘n wonder wat die mens nie kan gee of onderhou nie. Lewe is iets wat die wetenskaplike nie kan namaak of selfs kan verklaar nie. Kos en klere is nietig en niks in vergelyking met lewe. As God so ‘n groot wonder kan doen deur aan ‘n baba lewe te skenk en hom daardeur in staat te stel om te huil, te lag, sy arms en bene te beweeg, rond te kyk, te kruip, loop en praat, is dit tog baie makliker vir Hom om vir daardie mens aan wie Hy lewe geskenk het ‘n rok, broek of skoene te voorsien. Wat is ‘n broek, hemp of rok in vergelyking met lewe?
Die Here se kraaie is goed versorg.
Verder sê Jesus om jouself te vergelyk met ‘n kraai. ‘n Kraai is bitter min werd; jy kan hom nie eers eet nie. Hy het geen praktiese waarde nie. Hy het ook nie ‘n stoorkamer waarin hy kos tot die volgende dag kan opgaar nie. Hy lewe een dag op ‘n slag. Elke oggend sit hy op ‘n tak of op ‘n telefoon-draad tot hy honger is. Dan vlieg hy rond oor die aarde waarin hy niks geplant het nie maar vind spoedig iets wat die Here vir hom opsy gesit het en teen die aand is sy maag vol en slaap hy rustig sonder om hom te bekommer oor die dag van môre. Maar jy, jy is veel meer werd as baie, baie kraaie want jy is gemaak om soos God te wees en as jy jou lewe aan Hom gegee het, is jy ook Sy kind, nie sommer een van die baie kraaie wat daar bo rondvlieg nie. Verder het jy ‘n land waarin jy jou mielies plant, dit skoffel en dit oes of jy werk in ‘n winkel of in jou eie besigheid. Jy werk hard, doen baie moeite om in jou eie behoeftes te voorsien. As die Here dan so getrou vir die waardelose kraai wat geen werk doen nie voorsien, sal Hy nie soveel meer rede hê om in jou behoeftes te voorsien nie?
As jy net so ernstig en aanhoudend kon bid as wat jy kan bekommer, dink net waar sou jy nie al in die lewe gewees het nie.
Jy bekommer jou altyd oor kos en klere. Dink nou nugter hieroor: kan ‘n persoon enigiets verander deur hom daaroor te bekommer? Sê byvoorbeeld die dokter ondersoek jou en deel jou mee dat jou hart baie swak is en dat jy binne ‘n week sal sterf. As jy nou in jou kamer ingaan, die deur toemaak, op die bed gaan lê, jou lyf ineen krimp, jou voorkop plooi met ‘n ernstige frons en jou brein inspan om jou oor hierdie saak te bekommer, sal jy daardeur in staat wees om jou lewe selfs met net een uur te verleng? Nee, jy sal nie. Watter voordeel het jy dan behaal deur jouself te bekommer? Niks. Deur selfs net eenvoudig te ontspan, kon jy dalk ‘n paar dae langer geleef het.
Bestaan daar ‘n blom met die naam, “Die bekommerde blom?”
Wat die bekommernis oor klere betref, verwys Jesus ons na die blomme. Hulle werk nie vir God nie, maar nogtans is dit Sy plesier om hulle nog mooier te maak as die koninklike klere wat die ryk en wyse koning, koning Salomo gedra het. Die Here vind plesier daarin om hulle so mooi te maak. Dink jy nie dat Hy ook plesier daarin vind om jou pragtig aan te trek nie, jy wat soveel meer werd is as die pragtigste blom? “O watter kleingelowige mense is julle tog nie!” het Jesus waarskynlik kopskuddend gesê.
Bekommernis is die lot van die heidene.
Wanneer ons, ons verknies en angstig is oor wat ons sal eet en drink, beskaam ons die Here want dan tree ons net soos die heidene op, soos die volkere van die wêreld wat Hom nie as hulle Vader ken nie. Die Here is mos ons Vader en Hy weet baie goed dat ons al hierdie dinge benodig. So, waarom daaroor bekommer?
Ons moet ons met beter dinge besig hou.
Wat Hy wil hê ons móet doen is om ons gedagtes besig te hou met die soeke om Sy koninkryk te bou, beide in ons eie lewens en in die lewens van die mense wat oor ons pad kom. Wanneer ons toegewyd en arbeidsaam ons tyd daaraan bestee, sal die Here sonder moeite al hierdie dinge vir ons voorsien.
Wees rustig; die Herder hou ‘n oog oor jou.
Verder herhaal Jesus ook in hierdie perikoop dat ons nie bang moet wees nie. Ons is God se ou klein, kosbare kuddetjie skape en Hy vind groot plesier daarin om ons te versorg net soos ‘n skaapwagter dit geniet om na sy kudde skape om te sien, hulle na groen gras en helder skoon water te lei en in al hulle behoeftes te voorsien. Om dit te doen is nie vir God ‘n oorlas nie; Hy geniet dit. En die velde en waters wat Hy vir ons gee om te geniet, is Sy Koninkryk.
Plaas jou besittings buite bereik van die duiwel en sy trawante.
Hy gaan selfs verder en sê dat jy jou besittings moet verkoop en die opbrengs gebruik om bydraes te gee aan die arm mense wat dit nie verdien nie. Dit beteken nie dat jy daardie skatte verloor het nie, nee jy het dit na die hemel toe oorgeplaas. Wanneer daardie aardse skatte in die hemel aankom, sit die Here dit in ‘n reuse beurs wat plek het vir nog baie meer wat sal kom en daarop skryf Hy: “Bydraes onvang van “Jan van der Merwe (Skryf jou naam hier in)” vir veilige bewaring totdat hy self hier sal arriveer.” (My prentjie van ons hemelse beurs!) Daardie beurs sal nooit oud word en gate in kry waardeur jou geld sal uitval en verlore raak nie. Geen dief kan in die hemel inbreek om jou besittings te steel nie. Daar kan ook geen mot inkruip om gate daarin te vreet nie.
“Waar jou skat is, sal jou hart ook wees.”
Onthou: daar waar jou skatte opgegaar is, sal jou hart ook wees. As jy ‘n klomp geld opgegaar het in ‘n trommel onder jou bed, sal jou gedagtes gedurigdeur by die trommel onder jou bed wees. As jy baie, baie beeste in jou kraal het, sal jou hart by jou beeste in die kraal wees. Maar as Jesus die vreugde van jou hart is en jy plaas voortdurend skatte oor na die hemel deur dinge te doen wat Hom verbly en Sy Koninkryk bou, sal jou hart en gedagtes ook gedurig daar in die hemel by Hom wees.
Hou vas en verloor; laat los en behou.
Dit wat jy krampagtig op die aarde wil bewaar, sal jy bes moontlik verloor, maar dit wat jy op aarde “verloor” deur dit in die Here se Koninkryk te belê, sal vir ewig behoue bly.
……….