A. NATUURLIKE GOEIE DADE
Die vrug van die Gees moet onderskei word van natuurlike goeie gedrag en dade wat eie is aan alle mense en wat inderwaarheid die oorblyfsels is van God se genade. Indien God sy Gees algeheel van die mensdom sal onttrek, sal ons soos demone word.
Jesaja het al ingesien hoedat die goedheid van God in Israel werksaam was en hulle weerhou het van algemene verval.
As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. (Jes 1:9).
Wêreldse mense kan soms prysenswaardige dade verrig, terwyl belydende Christene mag verval in lelike onchristelike gedrag wat dit moeilik maak om alleenlik deur die beoordeling van gedrag te bepaal of ‘n persoon met Christus verbind is of nie. As ons egter fyn oplet, sal ons tog wel die verskil sien. Nie-Christene mag bv genot daaruit put om vriendelik te wees teenoor, en geskenke te gee aan, mense van hulle eie ras, maar sal ‘n wrewel daarin hê om so teenoor ander rasse op te tree. Dit is gewoonlik op die lange duur dat die verskil tussen die Christen en nie-Christen duidelik na vore kom.
Die ware vrug van die Gees is die lewe van Christus wat deur ‘n gelowige vloei en neem toe in kwaliteit en kwantiteit soos wat die tyd verbygaan en wat hy dieper in Christus ingeplant word. Die Here Jesus het die wingerd-stok en sy ranke gebruik as ‘n illustrasie van hierdie beginsel. Die Heilige Gees is die sap wat vanaf die wortels opvloei tot in die puntjie van elke ran-kie en dan trosse druiwe voortbring (Joh 15:1-8).
Sommige van die vrug(te) van die Gees word gelys in Gal hoofstuk 5.
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie. (Gal 5:22,23).
Ons beskou nou drie van die vrugte van naderby naamlik liefde, geloof en blydskap.
B. LIEFDE
1 God is liefde
Ons het God se liefde behandel toe ons na sy karaktertrekke of wesensvoortreflikhede gekyk en gesê het dat God die vergestalting (essensie) van liefde is.
2. Liefde is ‘n kenmerk van die hemelse lewenswyse
Liefde vervul elke hemelse wese. Dit is die wyse waarop elkeen wat daar woon, dink en optree. Hulle bestaan en lewe allereers vir God, dan vir andere en dan vir hulself.
3. Die konstitusie van God se Nuwe Koninkryk is gebaseer op liefde
Elke reël wat Hy vir die mens maak, is op liefde gebaseer, daarom is sy grondwet vir die mens, liefde wat uitdrukking vind in reëls – die vergestalting van liefde.
En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. (Mat 22:37-40).
4. Die rede waarom mense gered word, is omdat God hulle liefhet, nieteenstaande die feit dat hulle sondaars is.
… maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (Rom 5:8).
Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16).
5. Die mens se nuwe natuur is een van liefde
Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. (1Joh 4:8).
En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. (1Jn 4:16).
… en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. (Rom 5:5).
6. Definisie van liefde
Iemand het gesê dat liefde die welwillende gesindheid van die gemoed van ‘n mens teenoor sy medemens is en dat dit spruit uit die opregte en vurige toewyding aan God.
7. Liefde soos uitgebeeld in 1 Kor 13:
-
-
-
-
- Liefde is groter as die gawes van die Gees. Om al die gawes van die Gees te hê soos die spreek in tale, profesie, bonatuurlike kennis en geloof om uitsonderlike situasies die hoof te bied, maar hulle nie te beoefen vanuit ‘n hart van liefde nie, dit wil sê om in die beoefening daarvan nie die voordeel of welsyn van die ander persoon te soek nie, maak dat die beoefenaar van die gawes is asof hy glad nie bestaan nie of dat hy soos ‘n koper simbaal is wat ‘n groot lawaai maak, maar geen hart het vir die persoon wat na hom luister nie (13:1,2).
-
-
-
-
-
-
-
- Liefdelose gawes beteken niks. Om al jou besit-tings weg te gee en selfs jou liggaam oor te gee om verbrand te word, bring vir jou geen krediet as jou motief om dit te doen nie een is van liefde vir die persoon vir wie jy dit doen nie (13:3).
- Liefde is verdraagsaam en kan aanhou en aanhou om koel-kop te bly glimlag wanneer dit sleg behandel word; dit kan provokasie en uittarting geduldig die hoof bied. By die skool, in ‘n huwelik of by die werk, kom situasies dikwels voor waaruit jy nie kan ontvlug nie en wat jy dag vir dag, maand-in en maand-uit maar net in liefde moet verdra totdat die Here besluit dit is genoeg en jou daaruit verlos (13:4).
- Liefde is vriendelik. Om te alle tye vriendelik te wees teenoor alle mense, selfs teenoor hulle wat nors en onbeskof teenoor jou optree terwyl jy self siek voel of geestelike pyn verduur, verg gewel-dige selfopoffering; liefde kies om vriendelikheid uit te straal (13:4).
- Liefde is nie jaloers nie. Jaloesie is om ‘n ander se goed te begeer of selfs ongelukkig of omgekrap te raak oor wat hy het. Koning Agab was behoorlik siek omdat hy nie Nabot se wingerd kon kry nie (1 Kon 21:4). Daar sal altyd iemand wees wat meer as jy het: meer geld, ‘n pragtiger huis in ‘n ryker woonbuurt, ‘n duur kragtige motor, mooier gelaatstrekke, sagter hare, ‘n fietser lyfie, meer bewonder word deur andere, dus moet jy nou al besluit dat jy nie sal toelaat dat dit jou omkrap nie (13:4).
-
-
-
Dit is verbasend om te sien watter misdade gepleeg is as gevolg van jaloesie. Kain het sy broer Abel vermoor omdat God meer guns aan hom betoon het as aan hom wat Kain was. Jesus is ge-kruisig deur die Joodse Godsdienstige leiers omdat hulle ja-loers was op die genesings wat Hy bewerk het, dooies wat hy opgewek en die eerbetoon wat hy van die skares ontvang het.
Man en vrou kan jaloers wees op mekaar en die huwelik ‘n pynbank maak in plaas van ‘n rusbank waarin hulle na ‘n dag se harde werk kan ontspan. Pastore, leraars en predikante kan baie jaloers wees op die mate waartoe God die ander een gebruik of op die aansien wat hy in die oë van gemeentelede geniet.
Jaloesie is selfsugtig. Liefde begeer ook al hierdie dinge, maar begeer dit vir andere. Wanneer ons iemand liefhet, sal ons bly wees om sy onthalwe wanneer God hom meer seën as vir onsself. Ons sal ook rustig wees omdat ons weet dat God op sy eie goeie tyd ook vir ons menigvuldiglik en oorvloediglik sal seën. Sy stoor-kamer van seëninge bly te alle tye propvol, ongeag die hoeveel-heid daarvan wat Hy aan ander mense bestee.
-
-
-
-
- Liefde praat nie groot nie. Daar is ‘n gesegde, “Jakkals prys sy eie stert”. Nebukadneser is deur God tot die vlak van ‘n wilde dier verneder toe hy homself geprys het vir dit wat God deur hom ge-doen het (Daniel 4:33). Selfs Christene kan subtiel spog wanneer hulle getuienis gee van dit wat God deur hulle gedoen het. Getuig jy om God te ver-heerlik of om die aandag op jouself te vestig? (13:4)
- Liefde is nie opgeblase nie; loop nie met die neus in die lug nie en kyk eerder op na andere as af op hulle (13:4).
- Liefde handel nie onwelvoeglik nie; maar het respek vir God wat hoër is as hy en vir die mense met wie hy die vertrek, of bus, vliegtuig, of ten-nisstadion deel (13:5).
- Liefde soek nie sy eie belang nie; gryp nie eerste die sappigste stuk vleis uit die skottel of die groot-ste perske uit die bak nie; duik nie vir beste sit-plek voor die verhoog nie, trek nie toutjies om die hoogste aanstelling te kry nie (13:5).
- Liefde word nie verbitterd nie en reken die kwaad nie toe nie; word nie maklik uitgelok om heftig te reageer nie en broei nie snags op sy bed oor onreg wat hy dié dag gely het nie (13:5).
- Liefde verbly hom nie in ongeregtigheid nie maar is bly oor die waarheid; liefde begeer die beste vir ‘n ander en dit is slegs in geregtigheid te vind, daarom kan liefde hom nooit in ongeregtigheid verbly nie (13:6).
- Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Liefde sal liewer stilbly oor die donker ge-heime in ander mense se lewens, tensy dit sy plig is om dié dinge openbaar te maak. Wanneer lief-de slegte gerugte omtrent andere hoor, sal dit eerder glo dat daar ‘n misverstand is, of dat daar ‘n goeie rede was waarom die persoon so opge-tree het en wanneer dit gekonfronteer word met bewyse van die persoon se skuld, sal dit nogtans hoop dat hy dit sal oorkom (13:7).
- Liefde oorleef alles wat ons ken. Profesië sal tydens hierdie lewe vervul en gevolglik beëindig word. In die hiernamaals sal kennis nie meer ‘n begeerlike kommoditeit wees nie, want almal sal alles weet wat hulle moet weet. Maar die liefde wat God in ons uitgegiet het deur sy Gees, is onveranderlik; soos wat dit hier op aarde is, sal dit in die hemel ook wees. Liefde is en bly liefde. Liefde is dus ewigdurend. Liefde is selfs groter as geloof en hoop want in die ewigheid sal daar geen verdere behoefte aan geloof of hoop wees nie maar liefde sal vir ewig bly en gestalte vind in ons lewenswyse (13:8-12).
-
-
-
8. Liefde is die kragtigste motiverende mag
Vrees vir straf in die hel dryf baie mense daartoe om te soek om verlossing of redding te vind, maar die liefde vir God en die wete dat Hy jou liefhet, is ‘n baie sterker rede en motivering om vir hom te lewe en te sterwe. Liefde vir die mensdom was Sy rede waarom Hy die luuksheid van die hemel verlaat, tussen ons kom woon, en vir ons gesterf het.
C. GELOOF
1. Geloof verkry/neem in besit
Geloof is die arm en hand wat die mens uitsteek om die rykdomme wat Christus deur sy dood bekom het, te gryp en vir homself toe te eien.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (Efes 2:8,9).
2. Die duiwel het Eva van God vervreem deur haar geloof in Hom te ondermyn
Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. (Gen 3:4,5).
Eva het nie meer in God geglo nie maar in die duiwel.
3. Die mens moet meer vertroue in God hê as in homself.
Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. (Spr 3:5).
4. Definisie van geloof
Geloof is om met die ganse persoonlikheid op God te leun. Dit is soos wanneer jy jou been gebreek het en jy jou arm om iemand anders se nek en skouers slaan sodat hy jou kan help om te beweeg; die oomblik wanneer jy hom laat los, sak jy pynlik inmekaar.
Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde? (Hgl 8:5).
5. Niks sal vir die gelowige onmoontlik wees nie
En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. (Mat 17:20).
Wanneer dit waarvoor jy God vertrou in lyn is met sy wil, sal alles wat jy uitspreek, geskied. Joshua het die son en maan selfs beveel om stil te staan en dit het onmiddellik gebeur.
Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ajalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. (Jos 10:12).
Jy kan God nie in die geloof gebruik om jou eie begeertes te bevredig nie.
6. God beloon ware geloof deur teenoor die gelowige te getuig dat hy Hom behaag
Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegne-ming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. (Heb 11:5).
7. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag
En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. (Heb 11:6).
So eenvoudig as dit!
8. Geloof verheerlik God
Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? (Joh 11:40).
Geloof het tot gevolg dat God sy heerlikheid deur sy handelinge openbaar waardeur Hy verheerlik word.
9. Geloof in aksie
Hebreers hoofstuk 11 gee baie voorbeelde van wat God gedoen het in, en deur, mense wat ware geloof in hom gehad het. Lees gerus deur daardie hoofstuk en mediteer oor die inhoud om jou geloof te versterk want geloof kom deur middel van die hoor (lees) van God se Woord.
C. VREUGDE
Ook blydskap is ‘n vrug van die Gees. Inderdaad is dit baie belangrik vir ‘n Christen om blydskap, die blydskap van die Gees, te beoefen want dit beskerm hom teen versoeking en verander sy lewe in ‘n voortdurende fees.
Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting. (Neh 8:11).
Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees. (Spr 15:15).
U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; (Heb 1:9).
……….