Waarom bid ?

20160721_141900

Dit is tog ‘n logiese vraag: as God dan die ganse skepping tot stand gebring het voordat daar nog mense was wat Hom in gebed kon ondersteun; as Hy self sê dat Hy alreeds weet wat ons nodig het nog voordat ons begin het om te bid,  – waarom dan bid?: En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Matt 6:7, 8)

Hoe moet ons hierdie feit en hierdie uitspraak van Jesus versoen met tekse soos: “ … julle het nie omdat julle nie bid nie.” (Jak 4:2d) en “Bid sonder ophou.” (1 Thes 5:17) ?

En dan vind ons ook nog dwarsdeur die Bybel voorbeeld op voorbeeld van mense wat gebid en wonderlike antwoorde op hul gebede ontvang het. Jakobus hou byvoorbeeld Elía se gebed aan ons voor: “Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.” (Jak 5:17, 18) As die Here die sluise van hemel wou toesluit om sy volk te straf en dit later weer wou ontsluit om hul straf op te hef, kon Hy, die Almagtige dit mos moeitevry sonder Elia se gebede gedoen het; dit was immers Hyself wat die droogte beplan het.

‘n Treffende illustrasie vind ons in Ex 17:10-13. Die Amalekiete het naamlik na Israel in die woestyn opgeruk om teen hulle te veg. In opdrag van God het Joshua en ‘n weermag van uitgesoekte manne hulle in die dal aangeval terwyl Moses op ‘n heuwel stelling ingeneem het. Ons lees verder: “Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Ámalek die sterkste.  Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Ámalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.” (Ex 17:9-13). Onbetwisbaar was die verloop van die geveg gekoppel aan Moses wat op die heuwel sy hande in gebed na die hemel uitgebrei het. Wat ‘n treffende illustrasie van die noodsaaklikheid en van die krag van gebed.

Wat die Skrif ons leer as ons dit boek vir boek nagaan, is dat die Here Sy persoonlike betrokkenheid by die bestuur en ontwikkeling van alles op aarde, inkort om ruimte te maak vir die mens om sy deel te kan bydra, sy rol te kan speel. Hy staan dus so ‘n bietjie terug sodat ons, ons deel kan doen. Dit sien ons  reeds in die Tuin van Eden gebeur waar die Here Sy rol aan Adam delegeer om die Tuin te bewaak en te bewerk. Dit geld natuurlik net vir dié wat aan Hóm behoort. Die mens wat Hom nie ken of erken nie, laat Hy maar grootliks aan sy lot oor om na eie goeddunke te handel alhoewel Hy hulle natuurlik begunstig met reën, sonskyn, gesondheid en baie ander seëninge.

Vir Sy kinders egter, geld gans ‘n ander reël. Hy wil dat hulle deel moet hê aan die ontginning van die aarde se vele moontlikhede maar meer as dit: Sy kinders moet deur hierdie interaksie met Hom, Hom intiem leer ken sodat Sý gedagtes húlle gedagtes kan word.

Hierdie wisselwerking tussen die Heer en Sy mense, kan ons vergelyk met ‘n skatryk en besonder wyse boer wat aan elk van sy talle seuns ‘n eie plaas beskikbaar stel om elk tot sy eie voordeel te bewerk, maar op ‘n voorwaarde; hulle moet naamlik daagliks in noue kontak met hom bly, hom skakel, hom besoek, sommer net sit en gesels maar ook hulle planne met hom deel sodat hy daarin inspraak kan lewer. Hy sal dan alles verskaf wat hulle vir die boerdery benodig. Hy sal dus nie net so eenmaal per maand na goeddunke ‘n vrag voorraad daar laat aflewer nie want alhoewel die boerdery op ‘n manier so sou voortgaan, sou die verhouding tussen vader en seun tot niks verval en sou hy ook nie sy kennis, insig en mooi karaktereienskappe aan hulle kon oordra nie.

So staan die saak ook tussen God en Sy kinders: Hy wil nie net soos ‘n onpersoonlike verskaffer in hul behoeftes voorsien nie, maar wil allereers ‘n hegte verhouding met elkeen aanknoop. En dit is hier waar gebed inkom. Wanneer ons in kinderlike gebed tot Hom nader, groei daar ‘n al hegter geestelike band.

Daardie tye wat PA en seun saam “op die stoep” sit en gesels, “koffie drink en beskuit eet,”word vir die seun al hoe kosbaarder. Dan vra hy Hom al die geheime vrae van sy hart. Sommige daarvan sal sy Vader nie dadelik beantwoord, maar ander moet wag totdat hy volwasse genoeg is om die antwoord te kan verstaan. Op sommige van sy versoeke sal sy PA “Nee” antwoord. Ook daaruit sal hy leer wat voordelig is en wat nie. Sou hy egter so hard boer dat hy versuim om sy Pa te skakel of by Hom besoek te gaan aflê, sal die vragmotor met die voorraad mettertyd nie meer by sy hek indraai nie en sal die nood hom na die selfoon van gebed wat met ‘n pap battery êrens in ‘n laai lê, laat soek en skaam laat bely: “Jammer Pa, ek was tog so besig.”

Kom ons luister weer wat die Here Jesus se broer, Jakobus, vir ons sê: “… julle het nie omdat julle nie bid nie.” So eenvoudig as dit:  “… julle het nie omdat julle nie bid nie.”

Kom ons kyk net nog na een van ons Heer se onbegrensde beloftes:  “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!  (Matt 7:7-11)

Nou waarom dan langer liggaamlik of geestelik honger ly. Ons Vader beskik nie net oor plase nie maar oor fabrieke, besighede, skeepsrederye en ‘n onuitputlike voorraad van liefde, verdraagsaamheid, volharding, vrede, blydskap of waarmee jy ookal wil boer; stof sommer nou daardie gebedsfoontjie weer af en skakel Hom waar Hy gereed sit om jou oproep te beantwoord.


SÊ JOU SÊ:

Iets op jou hart oor hierdie studiegids ?
Ons lees dit graag.

(Die naam/titel van die studiegids verskyn bo-aan hierdie blad.)

.

    Naam van hierdie studiegids wat jy bestudeer het

    Jou naam en van

    Jou e-posadres

    Sê jou sê:

    DEEL MET ANDERE: As jy die studiegids geniet het, deel dit asb. met jou vriende en kennisse deur middel van die sosiale media soos Facebook, ens. So vat ons hande om die Goeie Nuus uit te dra.

    KOPIEËRING: Hierdie studiegids mag gratis vir persoonlike gebruik afge-laai en gedruk word.

    R196G105B55