WOESTYNPAAIE

Onlangs is die volgende e-pos van een van ons lesers ontvang: “Ek is op soek na n studie oor waarom ons deur n woestyntyd in ons lewens gaan. Kan julle my dalk met so iets help?” Hier volg die antwoord daarop.

Die term, “Woestyn ondervinding”, word nie in die Skrif gevind nie, dit het maar in die Christen volksmond ontstaan. Vir doeleindes van hierdie studie, ag ons dat dit betrekking het op uitsonderlike onaangename situasies waardeur ‘n kind van God in sy wandel met Hom beweeg. Ons kyk nou na ‘n paar Bybelse voorbeelde en probeer om daaruit die rede vir sulke ondervindinge te verstaan.

A. DIE VERSKILLENDE SOORTE WOESTYNPAAIE 

  1. DIE ONVERKLAARBARE WOESTYNPAD VAN GOD SE VOORSIENIGHEID; JOB SE PAD

Vir geval u hierdie gebeurtenis nie duidelik onthou nie, haal ons die volledige teks daarvan aan.

Job 1:1  Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. 

Job 1:6  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. 

Job 1:7  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 

Job 1:8  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. 

Job 1:9  En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 

Job 1:10  Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 

Job 1:11  Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 

Job 1:12  Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE. 

Job 1:13  En op ‘n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer, 

Job 1:14  kom ‘n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle, 

Job 1:15  het die Sabeërs ‘n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 

Job 1:16  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 

Job 1:17  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ‘n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 

Job 1:18  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, 

Job 1:19  toe daar meteens ‘n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 

Job 1:20  Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval 

Job 1:21  en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! 

Job 1:22  By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie, 

 

Job 2:1  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom om hom voor die HERE te stel. 

Job 2:2  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 

Job 2:3  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad; en hy volhard nog in sy vroomheid, alhoewel jy My teen hom opgehits het om hom te vernietig sonder oorsaak. 

Job 2:4  Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; 

Job 2:5  maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 

Job 2:6  En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe. 

Job 2:7  En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel. 

Job 2:8  En hy het vir hom ‘n potskerf geneem om hom daarmee te krap, terwyl hy in die as sit. 

Job 2:9  Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! 

Job 2:10  Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie. 

Wat ‘n verhaal! Wat ‘n man van God! Lees ons verder, sien ons dat selfs sy mees intieme vriende hom boonop van geheime sondes beskuldig het. Hy het sy gesin verloor, sy besittings en personeel, sy gesondheid, die ondersteuning van sy vrou en die vertroue van sy vriende. Waarom dit met hom gebeur het, was vir hom ‘n raaisel want die gesprek wat elke keer vooraf tussen God en die satan plaasgevind het, was nie aan hom geopenbaar nie; daardie onthulling het eers later gekom toe die boek Job geskryf is. So, Job moes in blinde geloof voortgaan om te glo dat God goed is, al het dit volgens die omringende omstandighede voorgekom asof die die teendeel waar was. Wat ‘n woestyn ondervinding het hierdie gelowige, uiters vrome man nie beleef nie!

Maak die hele episode vir óns sin? Jy haal diep asem en antwoord: “Ek weet nie so reg nie”. Kom ons probeer agter die kap van die byl kom.

God wou met die skepping vir Homself metgeselle skape: kinders, ‘n bruid vir sy Seun, burgers en bestuurders van sy Koninkryk. Met hulle wou Hy intelligent kon gesels en beplan. Hul moes elk ‘n eie opinie kon vorm. Hulle moes dus baie soos Hyself wees; ‘n eie persoonlikheid hê. Maar om soos Hy te kon wees, moes hulle elk ‘n vrye keuse kon maak; daarsonder sou hulle blote robots wees wat Hy deur die “druk van ‘n knoppie,” sou laat doen sou Hý wou. Hy sou net die “heilig” knoppie kon druk en hulle sou vir ewig perfek heilig lewe – maar, dit sou nie húl keuses wees nie.

So skape Hy Adam en Eva toe elk met ‘n eie keuse tussen goed en kwaad en plant ‘n boom in hul tuin waarvan hulle nie toegelaat was om te eet nie. Dit sou vir hulle die geleentheid bied om die goeie te kon kies en die kwade te verwerp. Sou hulle volhard om die goeie te kies, sou dit daarop neerkom dat hulle uit vrye wil sou kies om die Heer as Koning, Vader en bruidegom te hê. Hulle sou die kwade uit vrye wil verwerp.

Vir ‘n tydlank het dit goedgegaan, maar toe laat die Heer die satan toe om Eden persoonlik te besoek en vir die mens ‘n finale toets te stel. Sou die twee volhard om die vrugte van die verbode boom te verwerp, sou die Heer dit waarskynlik as hul finale keuse aanvaar en dit verewig verseël het. Daarna sou hulle soos Hy gewees het wat nie meer deur die kwaad veroek kan word nie.

Jak 1:13  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

Eva is egter deur die duiwel mislei om te glo dat die Heer nie goed is nie deurdat Hy die beste dinge van die lewe van hulle weerhou het. So het dit gekom dat sy haar vertroue in God verloor, die verbode vrug geeët en Adam verlei het om dit ook te doen. Hierdeur het die duiwel in beheer van hul lewens gekom en deur hulle, ook in beheer van die skepping wat aan hulle toevertrou was. So is dit nog tot vandag toe.

1Jn 5:19  Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.

Die proses van vrye keuse gaan steeds voort. So ook die duiwel se aanslag op die mensdom. Sodra ‘n kind die ouderdom bereik dat hy tussen goed en kwaad kan onderskei, verwerp hy die goeie en kies die kwade (Jes 7:15,16). Die duiwel het ‘n geweldige vryheid om voort te gaan om die mens te versoek en word soms selfs deur God toegelaat om sy besittings, gesondheid en alles wat vir hom kosbaar is, aan te tas soos wat met Job gebeur het.

Wanneer hierdie aanvalle buitengewoon fel is, of baie lank aanhou, voel dit vir ons of ons in ‘n geestelike woestyn beland het en vandaar die term “woestyn ondervinding”.

Die goeie nuus is egter dat alles wat die duiwel teen ons mik om ons geloof in God te kelder, deur die Here ten goede vir ons aangewend word. Dit is soos in krieket waar die bouler die bal met alle mag en vernuf afstuur om sy opponent se paaltjie te laat kantel en hom van die veld af te stuur, maar die kolwer die geleentheid gebruik om ‘n ses te moker en die bouler bedroë laat terugstap om nog ‘n keer te probeer. Ons kan dan ook sê dat sonder die aanslae van die bouler, die kolwer, nooit enige punte sal kan aanteken nie. Die kolwer kom daardeur op die telbord, maar die bouler wen niks nie. Die toernooi kan nie gespeel en gewen word sonder die bouler se “overs” nie. So kan ons dan seker ook sê dat die Heer die bose se aanvalle gebruik om sy kinders die geleentheid te bied om vir die ewigheid punte aan te teken want hoe sterker ons teenstand bied, hoe handiger ons die kolf hanteer, hoe groter ons ewige beloning.

(LET WEL, ons kan nie die ewige lewe beërwe deur ons sogenaamde goeie werke nie want dit is ‘n genadegawe van God. Die dag wat ek boedel oorgee, myself ‘n verlore sondaar verklaar en Jesus se kruisoffer vir my sonde aanvaar, word ek deel van Sy krieketspan en kan ek begin om lopies aan te teken. Voor dit speel ek vir die duiwel se span.)

So het dit dan ook met Job gebeur. Die duiwel se aanslag het aangehou en aangehou en die arme Job moes vasbyt om nie toe te laat dat die balle wat selfs deur sy gelowige vriende afgestuur is, sy geloofspaaltjies laat kantel nie maar, 40 hoofstukke verder, lees ons die volgende:

 Job 42:5  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.

Geestelik het hy geweldig gebaat deur hierdie woestynpad wat hy geloop het. Aan die begin van die pad  was sy kennis van, en omgang met God, asof hy maar nog net by iemand anders van Hom gehoor het, maar Hom nou was dit asof hy Hom met sy eie oë, van aangesig tot aangesig, aanskou en met Hom gepraat het. ‘n Reuse verskil!

Wil jy die Here ook so ken? Goed so, maar dan moet jy gewillig wees dat Hy jou met die woestynpad langs daar bring, die pad van die kruis, die pad waarop die ou mens sterf; daar is nie ‘n ander pad nie. Daar is nie ‘n teerpad na die opstandingslewe toe nie. Jesus kon nie in sy verheerlikte liggaam opstaan uit die graf voor Sy aardse liggaam nie aan die kruis gesterf het nie. nie. Ook daarna eers kon Hy opvaar na die troon. Sonder die kruis is daar vir ons geen opstandingslewe en ook geen ewige kroon nie.

Maar Job het ook ander ryke belonings ontvang:

Job 42:10  En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. 

Job 42:11  Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom en met hom saam brood geëet in sy huis; en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het. En hulle het hom elkeen ‘n geldstuk gegee en elkeen ‘n goue ring. 

Job 42:12  En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertien duisend stuks kleinvee en ses duisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. 

Job 42:13  Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad. 

Job 42:14  En hy het die eerste genoem Jemíma en die tweede Kesía en die derde Kerenhappug. 

Job 42:15  En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle ‘n erfdeel gegee onder hulle broers. 

Job 42:16  En Job het daarna honderd en veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte. 

Job 42:17  En Job het gesterwe, oud en afgeleef. 

Hoe heerlik om dit te lees. Later praat ons meer oor belonings.

  1. DIE ONEINDIG LANGE WOESTYNPAD

‘n Dienskneg van God wat die tweede wêreldoorlog meegemaak het, het gesê dat soldate op tweërly wyse op die spanning reageer. Sommige kan, wanneer die bevel om te storm kom, vreesloos opspring en die aankomende leër tegemoetgaan, maar hul senuwees gee heeltemal in wanneer hulle week vir week in die loopgrawe moet lê en wag dat iets moet gebeur.

Abraham was ‘n man wat só moes wag dat die Here Sy belofte van ‘n seun en ‘n nageslag deur wie die ganse wêreld geseën sou word, aan hom sou vervul. Twintig jaar moes hy volhard om te glo dat die Here sou bewys dat Hy ‘n waarmaker van Sy Woord was. Gedurende hierdie periode het sy volharding geknak en het hy ‘n seun, Ismael, by sy slavin verwek, maar toe die Here sy belofte mondeliks herhaal, het hy weer moedgeskep en bly glo totdat hy 100 jaar oud was en die beloofde seuntjie, Isak, uiteindelik in sy 80 jarige vrou se arms gelê het. Wat sê die Woord hiervan?

Heb 11:12  Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. 

Vir hulle wat die die laaaang woestynpad van onvervulde hoop geduldig enduit stap, is daar ‘n asemrowende beloning, al sou hulle die omvang daarvan dalk eers in die lewe hierna aanskou.

(Bedink ook die woestynpad wat Moses, Josef en Dawid moes loop om bruikbaar te kon wees vir die bedienings waarvoor God hulle bestem het.)

  1. DIE WOESTYNPAD VAN GOD SE SKYNBARE AFWESIGHEID

Hierdie is waarskynlik die ergste van alle woestynpaaie: die pad waarop die kind van God nie meer bewus is van sy Heer se teenwoordigheid nie; die gevoel van Godverlatenheid. Dit is die pad wat Jesus vir ons gestap het toe Hy aan die kruis gehang en Sy Vader Sy aangesig van Hom af weggedraai het. Die skuld van die mensdom wat op Hom gerus het, was so weersinwekkend dat Hy dit nie langer kon aanskou nie.

Mat 27:45  En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; 

Mat 27:46  en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? 

Deur hierdie beproewing te deurstaan, het Jesus Sy aardse roeping vervul die grootste van alle weldade aan die mens bewys, naamlik om hom vry te koop van die ewige oordeel. Vir ons as gewone mens is hierdie woestynpad op die langduur onhoudbaar, maar dit is juis dan wanneer die vurige gebed van ons Heiland waar Hy aan die regterhand van die Vader sit, ons deursien.

Luk 22:31  En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. 

Luk 22:32  Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. 

 

  1. DIE WOESTYNPAD VAN KORREKSIE

Hierdie skrywe sal nie volledig en getrou aan die Skrif wees as ons nie meld van die woestynpaaie wat ons deur ons ongehoorsaamheid vir onsself skep nie. Dit is wat met Israel gebeur het toe hulle uit vrees en ongeloof, ongehoorsaam was aan die Here se opdrag om die land Kanaän wat God aan hulle gegee het, in besit te neem (Num14). Hulle moes in hulle voetspore terugdraai en nog 40 jaar in die woestyn rondswerf totdat daardie ongelowige geslag uitgesterf het. So hoof dit met ons nie te wees nie. Laat ons liewer gou wees om ons kleingeloof of ander sondes te bely sodat ons vergifnis kan kry en ons, ons aardse roeping kan voltooi.

 B. DIE WAARDE VAN WOESTYNPAAIE

  1. DIE WOESTYNPAD VERSTERK ONS GEMEENSKAP MET GOD

Op die woestynpad raak ons al hoe meer afhanklik van ons Heer want dit is onmoontlik om dit te bewandel sonder sy onderskraging. Ek leun nou met my volle gewig op Hom. Die resultaat of produk daarvan is ‘n voorheen ongekende intimiteit met Jesus soos wat Job getuig het:

Job 42:5  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.

Paulus stel dit soos volg:

Filip 3:10  sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,

  1. DIE WOESTYNPAD VERANDER ONS KARAKTER NA DIE BEELD VAN JESUS

Op die woestynpaaie word ons karakter gebou sodat ons die beeld van ons Meester aan die wêreld om ons kan vertoon. Dit is wat Jesus se broer, Jakobus, vir ons sê:

Jak 1:2  Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 

Jas 1:3  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 

Jas 1:4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 

Dit is in die skroeiende son van beproewing wat ons leer om op te hou om te kla en leer om sonder die  gewone genietinge van die lewe en goedkeuring van ander kinders van God klaar te kom en ons net in Hom alleen te verlustig.

  1. DIE WOESTYNPAD LOOP UIT OP ‘N EWIGE BELONING

Almal van ons sal hul beloning egter nie hier en nou ontvang soos wat met Job gebeur het nie. Daar is hulle vir wie die woestynpad in die graf eindig maar O, die heerlikheid hierna. Anderkant die graf wag daar ‘n reuse beloning op hul aankoms. Dit was hoe dit ook met Jesus was:

Heb 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 

Ons Heer hou noukeurig boek van alles wat ons ter wille van sy Naam ly en sal ons elke jota en titel in die komende lewe daarvoor beloon. Lasarus het voor die rykman se poort gelê en gely en niks verder op aarde ontvang nie, maar is aan die einde van sy woestynpad na die boesem van Abraham weggevoer. Daar was sy beloning veilig weggebêre in afwagting van sy aankoms.

C. SLOTSOM

Vergelyk ons die Christen se lewe met dit wat die mens voor die sondeval in die Paradys gehad het, kan ons nie anders nie as om te sê dat ons ganse bestaan eintlik ‘n woestyn ondervinding is; sommige dele is net droër as andere. In Sy wysheid gebruik die Here egter juis hierdie dorre woestyn wêreld om vir ons die geleentheid te skep om geestelik soos kaktus plante, pratige blomme voort te bring en skatte vir onsself vir die ewigheid te versamel. So dan, laat Hy alles ten goede vir ons meewerk.

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

HALLELUJA

—————————————-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → WOESTYNPAAIE C. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    —————————————