Alhoewel ek my bes gedoen het in die bestudering van God se Woord oor hierdie onderwerp en navorsing gedoen het oor wat ander erkende leraars daaroor deur die eeue geskryf het, kan ek nie sê dat my interpretasie, sonder enige twyfel, in elke detail korrek is nie. So as jy van my verskil, laat ons dit daarby en mag die Heer ons mettertyd meer lig oor hierdie onderwerp gee.
My siening van die profesië is dat God dit gegee het, eerstens sodat diegene wat voor daardie tyd leef, ten minste ‘n idee sal hê van wat God beplan om te doen en gevolglik ‘n wonderlike vooruitsig aangaande die toekoms sal koester. Tweedens is hulle gegee aan diegene wat ten tyde van hul vervulling sal leef sodat, wanneer die gebeurtenisse waaroor geprofeteer is, plaasvind, hulle die twee in verband met mekaar sal bring en hul geloof versterk sal word en hul ook sal weet hoe om daarop te reageer.
Ons moet ook in gedagte hou dat profesië God se gedagtes en planne is en dat hulle oneindig hoër is as ons s’n. Die profeet Jesaja sê hieroor:
Jes 55:9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Byvoorbeeld: Christus se eerste koms na die aarde is deur verskeie profete geprofeteer, maar toe Hy later mens word op aarde, het die meeste gelowiges hom nie herken as die beloofde Messias nie. Meer nog, diegene wat dit wel mettertyd ingesien het, het nie die volle doel van Sy koms verstaan nie. Hulle het maar bly dink dat Hy gekom het om hul van die Romeinse juk te bevry en die koninkryk van Irael weer op te rig. Jesus se wêreldwye evangelisasievisie was vir hulle ‘n verborgenheid. Net so sal ons net genoeg van die toekoms uit die profesië wysword om ons opgewonde te laat uitsien na die wegraping en alles wat daarop sal volg. Halleluja!
Baie van dit wat in die eindtyd profesië vervat is, is meer spesifiek bedoel vir hulle wat dan sal leef en die Heilige Gees sal hulle insig verlig om in te sien hoe elke profesie in vervulling gaan, sodat hulle daarby kan baat.
Wat ons betref, laat ons die Here prys dat ons kan sien dat Hy presies weet waarheen Hy met die wêreld op pad is. Hy ken elke tree van die weg en alles gaan verseker volmaak eindig. Ons deel is nie om alles te weet nie, maar om alles te doen wat ons wel weet Sy wil te wees. En, laat ons, ons dag vir dag in Hom verbly en Hom prys “met opheffing van heilige hande” (1 Tim 2:8).
TEN SLOTTE:
WAT IS DIE SENTRALE BOODSKAP VAN DIE BOEK OPENBARING:
DAT JESUS DIE OORWINNAAR IS
EN IN HOM,
ELKE HEILIGE DIT OOK IS!
HALLELUJA!
//////////
……….