Wyse Manne uit die Ooste

A. INLEIDING

Dink ‘n mens aan Kerstyd, dink jy aan geskenke; veral dit wat ouers, reg of verkeerd, aan hul kinders gee. Hierdie gebruik het natuurlik sy oorsprong in die Bybelverhaal van die wyse manne uit die Ooste wat die Jesus-kind in Betlehem besoek en koninklike geskenke aan hom gebring het. Die verhaal is so besonders dat die Heer dit vir ons laat opteken het om die les wat daarin vervat is, na te speur en uit te leef. Kom ons maak dan so.

.

 B. DIE WYSE MANNE EN HUL HERKOMS

Dié verhaal is opgeteken in Matt 2:1-12 en ons ondersoek dit nou stukkie vir stukkie:

Mat 2:1  En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom 2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. 

 Hulle was uit die Ooste. Vergelyk ons Skrif met Skrif, vind ons vermelding van die Ooste reeds in Gen 2:8 waar geskryf staan dat God die Tuin van Eden in die Ooste gevestig het, ‘n gebied wat Bybelkenners as die hedendaagse Irak identifiseer en waarvan die suidelike grens aan die Persiese Golf is.

Nie te ver noord van die Golf nie, was die stad Ur waar Abraham gewoon het toe hy deur God geroep is om hom in die land Kanaän te gaan vestig en in die verre noord-weste, Haran, waarheen Jacob later na sy oom toe gevlug het:  

Toe lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste. (Gen 29:1).

Ook in daardie omstreke, is die gebiede van die latere Meders en Perse; ook die goddelose stad Babilon waarheen Daniël en sy vriende in ballingskap weggevoer is. Ons kan dus met ‘n redelike mate van sekerheid aanvaar dat die Wyse Manne êrens in hierdie wyere omgewing, destyds bekend as die Ooste, woonagtig was toe hulle die ster gesien het.

Dit was natuurlik baie ver vanaf die plek waar Jesus gebore was. Die afstand vanaf die huidige Bagdad in Irak, Noordweswaarts tot na aan die Middellandse see en daarvandaan Suidwaarts na Betlehem, dws langs die roete wat hierdie manne sou moes reis, het ten minste 2000km beloop. Vandag is daar natuurlik korter roetes.

Kom ons kyk nou na die manne wat die reis onderneem het. Hulle word beskryf as wyse manne. Hulle word ook Magi genoem, wat ‘n mens laat dink aan die Engelse woord magicians, oftewel towenaars. Die heidense konings het vir hulself raadgewers uit hul volk versamel wat natuurlik towenaars ingesluit het. So lees ons van die Farao van Egipte wie se towenaars selfs ‘n herdersstaf in ‘n slang kon verander, maar Moses se staf het hulle s’n verslind. Die Here het dikwels toegesien dat sy eie wyse manne soos Josef, Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego prominente posisies binne hul “kabinet” en as hoofde van staatsdepartemente soos verdediging, polisiëring, landbou, en so meer, beklee het en selfs drome en visies wat van Hom gekom het, kon uitlê want ware wysheid kom van God. Toe die Here vir Salomo as koning aangestel het, het Hy hom met besondere wysheid beklee:

 1Kon 4:29  En God het aan Salomo wysheid gegee en n baie groot verstand en n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê, 30  sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte. 

Ons kan dus tweedens aanvaar dat hierdie manne, gemeet aan die standaarde van daardie tyd, hoogsgeleerd was en boonop wysheid van God ontvang het omdat hulle, soos ons later sal aantoon, hom geken en met hom gewandel het. Hulle het, onder andere, ook die sterrehemel wetenskaplik bestudeer. Hulle was egter nie sterrewiggelaars soos diegene wat rubrieke in tydskrifte het om mense se toekoms sogenaamd vanuit die sterrehemel te voorspel nie. Hulle was astronome, sterrekundiges, en nie astroloë nie.

Hoe sou hulle die Here leer ken het; wie het hulle van Hom vertel? Was daar dan in die rou heidendom ook ware gelowiges? Ja, dit was daar waar Abraham en andere was toe hulle Hom gesoek en gevind het:

Hand 17:26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 

Han. 10:34  En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. 

Ja, oral op aarde was daar mense wat deur die aanskouiïng van die sterrehemel en die natuur om hulle, tot die slotsom gekom het dat daar ‘n Skepper moes wees. Hom het hulle in gebed gesoek en aan hulle het Hy meer lig en insig omtrent homself gegee.

Die Israelitiese geloof wat deur Moses op skrif gestel was, was tot in afgeleë lande bestudeer. Ons lees bv van ‘n hooggeplaaste amptenaar wat vanuit Ethiòpië na Jerusalem gereis het om God in sy tempel te gaan aanbid (Hand 8:27e.v.). Hy het selfs oor ‘n Jesaja boekrol beskik. So was daar wêreldwyd, selfs reeds lank voor die geboorte van Christus, talle proseliete van die Israelitiese geloof en aanbidders van die ware en enige God.

Met die wegvoering van die volk van Israel in ballingskap, is ‘n aantal Ou Testamentiese Bybelrolle sowel as tien-duisende gelowiges natuurlik oor die ganse ontwikkelde wêreld versprei. Sommige was toegeweide gelowiges wat deur God gebruik kon word om soekende siele tot geloof in hom te bring. Dit kon langs een van hierdie weë gewees het dat hierdie manne te wete gekom het van die God van die Jode wie se hoofstad Jerusalem was.

Laaste vraag: wat die ster betref: dat dit ‘n totaal buitengewone en bonatuurlike verskynsel vir hierdie sterrekundiges was, is begryplik, maar waarom het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat dit heengewys het na die geboorte van die Jode se Messias? Wel, hiervoor moes hulle ‘n verdere openbaring van God ontvang het soos Josef, toe hy die Farao se droom uitgelê en verklaar het dat die sewe maer koeie wat uit die Nyl opgekom het, sewe jare van droogte voorspel het wat toe ook gebeur het. Die wyse manne moes dus ook verdere lig (insig) van God ontvang het om die skielike verskyning van die ster te kon koppel aan die profesië dat ‘n buitengewone koning wat oor alle mense sou heers, vanuit die Joodse volk gebore sou word (Gen 18:17,18; Mig 5:1; Jes 7:14; 9:5). Om tot hierdie gevolgtrekking te gekom het, is nie vergesog nie want toe Natánael vir Jesus ontmoet, het hy onmiddellik bely:

Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel! (Joh 1:50).

Bes moontlik het die wyse manne ook besef dat hierdie Koning, die Skepper van die mensdom was wat in menslike gestalte na die aarde gekom het. Die geleentheid om Hom persoonlik te kon ontmoet, wou hulle nie misloop nie, daarom het hulle, hul hoë posisies, bronne van inkomste, families, gerief en veiligheid prysgegee om, soos Jesus dit later sou stel, hierdie kosbare pêrel te bekom (Matt 13:45,46).

Verder sou hulle hulself die spot van die ongelowige heidendom op die hals haal. Ook hul kollegas, vriende en familie sou snedige opmerkings gemaak het oor hul geloof in, en opoffering vir ‘n God wat hulle nog nooit gesien het en wat nou skielik in menslike gestalte op aarde sou verskyn. Niemand anders, ook nie die handelaars uit Israel, het tot nog toe tyding van die geboorte van so ‘n koning gebring nie. Maar dit alles kon hulle nie van hul voorneme om hulde aan Hom te gaan bring, laat afsien nie.

Hoeveel van hulle het uiteindelik hierdie geloofstog aangepak? Op Kerskaartjies word drie reisigers gewoonlik uitgebeeld, na aanleiding van die drie soorte geskenke wat hulle gegee het, maar die Skrif self swyg oor die aantal persone. Die geselskap kon selfs groter as drie gewees en slawe en gewapende soldate ingesluit het om hulle teen rowers te beskerm.

.

C. DIE REIS NA BETLEHEM

Die reis vanuit die verre Ooste, eers noord-weswaarts langs die Eufraat tot na aan die Middellandse See en daarna suid na Betlehem, kon maklik 2000km beloop het. As ryk manne sou hulle waarskynlik oor vervoermiddele beskik het soos die Ethiopiër wat met ‘n wa gereis het, of kamele soos wat Abraham en die koningin van Skeba gebruik het; statige diere met pragtige gekleurde versiersels en goue kettings om die nekke. Kenners meen dat ‘n kameel met vrag op die rug, sowat 30km per dag kan aflê, dus sou ‘n ononderbroke reis 67 dae geduur het, maar met oponthoude weens die weer en ander oorsake, kon hulle maklik 90 dae op pad gewees het.

Wat ‘n lang tyd en wat ‘n lang afstand om in geloof te volhard. Eintlik het hulle maar net God se openbaring, in watter vorm hulle dit ookal ontvang het, gehad om hulself op te verlaat, want dit wil voorkom of die ster mettertyd verdwyn het.

Vanaf Dan, in die Noorde van Palestina. sou hulle deur plekke soos Damaskus, Kapernaúm, Magdala en Tiberias aan die meer van Galilea gereis het, dan verder suid, wes van die Jordaan na Jerigo en uiteindelik suid-wes na Jerusalem.

Onderweg sou hulle waarskynlik ook dikwels van reisigers uit die suide verneem het of hulle enige inligting gehad het oor ‘n Koning wat onlangs vir die Jode gebore was, maar dié het hulle verbaas aangestaar en die koppe geskud. “Nee so iets het verseker nie gebeur nie, anders sou ons dit te wete gekom het. Waar het julle tog aan dié wolhaar storie gekom? En julle het al die pad uit die verre Ooste hierheen gereis? ‘n Ster gesien? Nee wat, julle het julle dit seker net verbeel. Draai liewer nou om en spaar julleself die verdere moeite en verleentheid!”

Uiteindelik het Jerusalem voor hulle opgedoem. Opgewonde het hulle die kamele aangespoor want daar, waar die reuse tempel uitgetoring het, sou hulle die Koning van die Jode vind.

.

D. DIE TERLEURSTELLING VAN JERUSALEM

Daar aangekom het hulle dringend oral rond vrae gevrae, uitgevis, dalk belonings aangebied, maar van die Koning wat gebore was, het niemand geweet nie. Boonop het die nuus die inwoners hewig ontstel; veral die godsdienstige leiers. ‘n Joodse koning sou net een ding beteken: rebellie teen die magtige Romeinse Ryk wat die Joodse volk dan sou uitwis.

Uiteindelik kom daar tog ‘n deurbraak toe koning Herodus hulle in die geheim laat roep. Hy vra hulle noukeurig uit oor wanneer hulle die stêr die eertse keer gesien het en meld dan dat hy inligting ontvang het dat die Joodse geskrifte praat van ‘n koning wat in Betlehem vir hulle gebore sou word, maar dat honderde jare verstryk het en niks van die voorspelling gekom het nie. Hulle moes maar daarheen reis, ondersoek instel en vir hom berig bring, sodat hy ook aan die Koning hulde kon bring. (Wat hy verswyg het, was dat hy van plan was om hom dood te maak.)

.

E. BETLEHEM

Met so ‘n bietjie meer hoop in die hart, het hulle die 20km na Betlehem aangepak. En toe, skielik, gebeur dit: reg voor hulle verskyn die ster weer uit die niet reg bo die pad waarop hulle reis en beweeg stadig voor hulle uit. ‘n Groot gejuig gaan op en die kamele word aangpor tot ‘n moordende galop. Ook nie lank nie of hulle jaag Betlehem binne en volg die lig tot waar dit tot stilstand kom reg bo ‘n sekere huis en dit so duidelik bestraal dat hulle nie verder hoof te soek of te verneem nie. Die Heer het hul geloof beloon en sy Seun se aardse tuiste met sy vinger vir hulle uitgewys.

En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. 10  En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. 11  En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. 

 (Nog ‘n wonder was dat die inwoners van die stad salig onbewus was van hierdie wonderlig wat bo hulle hoofde gehang het, net so onbewus as wat hulle ook was van die Koning en Skepper van die heelal wat in ‘n wiegie daar deur sy moeder versorg geword het.

Aan hulle wat in geloof handel volgens die lig wat hulle van God ontvang, gee Hy meer lig, maar van dié wat hulle blind staar na die verleidinge van die wêreld om hulle, weerhou Hy ook die openbaring waardeur hulle die Ewige Lewe kan ontvang.

‘n Soortgelyke voorval is in Handelinge 9:3 e.v. opgeteken aangaande Saulus wat op pad na Damaskus op die middag deur ‘n lig, helderder as die son, uit die hemel omstraal is, so skerp dat hy sy sig verloor het terwyl sy reisgenote slegs ‘n ligter glans daarvan belewe het wat hulle van skrik op die grond laat neerval het.)

.

F. WAT ONS UIT HIERDIE VERHAAL LEER

Eerstens vervul dit ons met ontsag om te sien hoedat die Heer natuurverskynsels kan skep om met die mens te kommunikeer. Hierdie manne het oneindig ver vanaf die brandpunt van God se verlossingswerk in Jerusalem en Betlehem gewoon, tog het Hy deur ‘n bonatuurlike lig te skep, hul aandag getrek en soveel geloof in hul harte opgewek dat hulle bereid was om ‘n geweldige opoffering te maak om hom persoonlik te ontmoet.

Tweedens sien ons dat die afstand tussen God en mens nie gemeet word in hoe ver die hemel bo die aarde is nie, maar in hoe ver jy in jou gees van hom af is; hoe ver jou hart van Hom af is. Die wyse manne was daar in die Ooste nader aan die Heer as die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat langs die tempel in Jerusalem gewoon het.

Derdens: wyse manne en vroue volg die lig wat hulle van God ontvang tot op die bitter of soete einde, ongeag die opoffering van wat dit hulle kos. Geloof, is om positief te reageer op ‘n openbaring wat ‘n mens van God ontvang. Sulke dade van geloof is waarmee die Here sy Koninkryk bou.

Josef en Maria was twee kleine mensies soos jy en ek. Hulle moes glo dat die kindjie wat vir hulle gebore was, inderdaad die Seun van God, die Skepper van die heelal was – dit was veel gevra, veral toe die Here nie ‘n paleiskamer vir sy geboorte voorsien het nie, maar hulle met die krip in ‘n stal tevrede moes wees. En nou, uit die bloute, daag hierdie ryk, skrander, geleerde, hooggeplaasde manne op met die getuienis van hoe hulle op bonatuurlike wyse deur ‘n goddelike lig daarheen gelei is. Hiervan sou die kindjie nog niks verstaan het nie, maar die ouers se harte sou gejubel het vir die bevestiging dat hulle geloof nie tevergeefs was nie.

Kort daarna sou dit verder beproef word toe hulle na Egipte moes vlug, maar ook toe sou hulle die hand van God die Vader in die lewe van die Jesus Kindjie sien wat deur die Wyse Manne, vooruit goud in hul beurs geplaas het om in al die bykomende uitgawes wat die versorging van sy Seun sou meebring, te voorsien.

G. WAT VRA DIE HEER DEUR HIERDIE VERHAAL VAN JOU EN MY?

Die antwoord is eenvoudig: kinderlike geloof en gehoorsaamheid, ongeag die koste. Dit begin met klein dingetjies soos om jou kamer dag vir dag netjies te hou, jou bed op te maak voordat jy werk of skool toe gaan, jou pyp se steel af te breek en dit in die asblik te gooi, jou luidrigtige buurman vriendelik te groet, te eet wat jy nodig het en nie tot oorlopens toe nie, ‘n wag voor jou mond te plaas sodat net dit wat opbouend is, oor jou lippe sal uitgaan, en dit eskaleer soms na groter geloofsdade soos om jou tasse te pak en na Thailand te gaan om dissipels vir Jesus te gaan maak. Ons elkeen se uitdagings is verskillend en verander daagliks, maar die basis bly dieselfde: kinderlike geloof en gehoorsaamheid ongeag die koste.

Die Heer het ‘n ware verhaal gesoek wat Hy in sy Woord kon gebruik as inspirasie vir pelgrims deur die eeue en die Wyse Manne het dit vir hom voorsien. Dink net hoe hulle op pad terug na hul land teenoor ander reisigers van hul ondervinding getuig het en hoe beskaamd hul bespotters was toe hulle tuis kom en vertel hoe die Heer hul geloof beloon het!

Kom ons skryf elkeen ons eie verhaal deur Hom gelowig te volg waarheen Hy ons ookal lei.

 

SHALOM

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → WYSE MANNE UIT DIE OOSTE . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm onderaan hierdie bladsy daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha