Category archives: Nuus

M2819 Aug 2018 Namibie uitreik, Terugvoer

Op Woensdag 8 Augustus het ons weer die lang pad na Karasburg aangedurf. Die keer het Mart saamgegaan “om na my om te sien” soos sy dit meewarig gestel het. Blykbaar is daar êrens op die ouer word pad ‘n hek waardeur ‘n mens onwetend gaan, waarna andere dit nodig ag om soms na jou om te sien, soos bv as jy uit die dorp uit wil ry.

Maar was dit vir jou koud; in die Karoo vlaktes tussen Hanover en de Aar lees die meter -11 maar genadiglik werk die Merc se verwarmer oortyd en hou ons snoesig warm in die kajuit. “Here dit moet darem onplesierig wees om dié tyd van die jaar in ‘n sinkkaia met louwarm water in ‘n “plastic” skottel te moet bad,” dink ek so in die verbygaan.

Maar dan duik die T-aansluiting net noord van Britstown voor ons op en trek ek af vir oggendete – toebroodjies, frikkadelle en koffie – my mond  water al vir die afgelope halfuur. Die houers met eetgoed is op die agterste sitplek maar die toebroodjies? Seker in die kattebak. Sluit oop; niks. “Mart hoe lyk die houer; is dit nie so ‘n mooi bont blik met ‘n toeknipdeksel nie? Ek het gesien jy was met so ‘n blik en nog ander goed in jou arms op pad na ons “kluis” toe!” Totsiens toebroodjies; ten minste is julle veilig weggebêre.” Ek bly maar stil want ek het die eerste fout van die dag gemaak deur duskant Hanover weg te draai in plaas van die de Aar pad aan die anderkant te vat; so het ons toe ‘n draai van sowat 60 km oor Philipstown gery. Ai die ouderdom tog. Geen probleem; ons draai links na Britstown wat binne sig is en daar koop ons die heerlikste vetkoek met ‘n maalvleis vulsel en eet tot versadigings toe.

Op Burgershoop maak ons die tenk vol duur petrol waarna ek nog ‘n slag verkeerd ry en moet terugdraai na Upington, maar daar aangekom luister ons fyn na die Here se leiding sodat ons sonder moeite ‘n bekende koerierdiens in ‘n nywerheidsgebied vind en ‘n skootrekenaar wat vir ons span in Mosambiek bestem is, na Pretoria kan versend.

Dan sing die bande oor die teer en ‘n 150km verder, glip ons soos ‘n koekie nat seep deur die twee grensposte. Die Merc ruik al vir Karasburg en ek moet elke nou en dan die leisels intrek of die spoedwyster tik-tik so aan die 150/160. Daar aangekom kry ons dadelik plek by die gastehuis waar ek laas tuis was en dit weer teen ‘n afslagprys want ek het ook al slim geword; ‘n mens betaal nie sommer summier die standaard tarief nie; veral nie as jy die Heer aan jou kant het nie.

Terwyl Mart aandete maak, bel ek rond om die volgende dag se vergaderings te reël en weer is die Heer my genadig want die een na die ander stem in om my om 10 vm in Pastoor Tony se kerk te ontmoet. Ek slaak ‘n sug van verligting en sit saam met Mart aan vir die oorblywende vetkoek en nog goetertjies wat sy bymekaar kon skraap.

Maar ons is moeg, behoorlik moeg want ons het 4vm opgestaan en saam met al die verkeerd ryery en plekke waar ons moes aangaan, het ons 1003 km afgelê. Die Merc blink veilig in die halfdonker onder die afdak en soos twee geboue wat inplof, syg ons in die dubbelbed neer. En dit was nag en dit was môre; die eerste dag.

So kom ons toe nou die volgende oggend bymekaar. Ons is dié keer net ‘n klein klompie, naamlik die pastore van die onderskeie Pinkstergemeentetjies. Ek verduidelik dat dit nou die vierde keer is dat ek Karasburg besoek en dat ek die werk nou aan hulle wil oordra. Hulle het die nege klasse wat ek aangebied het, bygewoon en as leiers van gemeentes behoort hulle geen probleem te hê om dit net so te kan aanbied nie.

Ek het ook al 11 lesings in klank opgeneem en dit op geheuestafies geplaas wat ek aan hulle skenk  tesame met ‘n stel kriptiese notas en elk ook ‘n handboek met die volledige lesings. Vir drie van hulle het ek ook nog “boom boxes” gekoop om die klankopnames te kan speel. As hulle wil, kan hulle dus ‘n kort gedeelte van ‘n lesing speel en dan eers die “pause” knoppie druk om aan almal die geleentheid te gee om dit te bespreek en vrae te vra.

Verder stel ek voor dat almal vir ‘n begin onder leiding van pastoor Jooste se vrou, Sandra, bymekaarkom en elkeen ‘n gedeelte van die dag se lesing aanbied. Sodoende kan almal ondervinding opdoen en dan later elkeen ‘n klas in sy eie gemeente begin. Almal stem in om dit so te doen. Dit op sigself is ‘n groot wonder want toe ek daar gekom het, was daar tussen sommige van hulle heelwat wrywing. So neem Mart en ek toe hartseer van hierdie groepie afskeid.

Daardie middag vergader ons met die Roomse Kerk se Priester en ‘n aantal van sy lidmate wat ons dissipelskapklasse bygewoon het. Die byeenkoms begin ‘n uur laat maar ek hou my oë op die Here en ons sing al die tyd lofliedere dat die dak lig. Uiteindelik kan ons begin en met die intrapslag getuig ek hoe ek tot redding gekom het en wat ons met die dissipelskapklasse beoog en hoe die gemeente daarby kan baat.

Summier wil ‘n man wat ek nooit vantevore gesien het nie, van my weet wie die oorspronklike inwoners van Kanaan was en hoe kon die Here hulle land dan afgevat en vir Israel gegee het en so volg sy soortgelyke vrae die een op die ander en ek moet net bontstaan om te antwoord. Mettertyd vertrek die Priester vir ‘n ander afspraak en moet Mart en ek haastig Spar toe jaag om ‘n stukkie kos vir aandete te koop – twee “Russians” en al die oorblywende aartappelskyfies.

Terug by die vergadering begin die oorblywende groepie oopmaak en vertel wat die dissipelskapklasse vir hulle beteken het. Een moeder bring haar seun wat in Windhoek in die hospitaal was en vir wie daar min hoop op herstel was na my en sê “Dit is nou … vir wie pastoor gebid het en die Here het hom aangeraak en hy is nou feitlik heeltemal gesond. Bid asb verder vir hom.” En toe kom die andere ook een vir een en herinner my aan hulle behoeftes waarvoor ek tevore gebid het en vra vir verdere gebed.

Daardie aand gaan ons daar weg met ‘n groot danklied in ons harte en op ons lippe. Ek het reg gehoor gehad toe ek gehoor het dat die Here my roep om in Karasburg met dissipelskapklasse te gaan begin en ek het reg gedoen om te gegaan het, al was dit dan ook al twyfelende, en die Here wat my geroep het om die saad van Sy Woord daar te gaan saai het, Hy sal dit laat groei en laat vrugdra al kan ek weens die afstand nie weer gaan nie.

Soms kan ons net ‘n ou klein stukkie doen van ‘n werk wat God gedoen wil hê en moet ons dit aan ‘n ander oorlaat om die saad water te gee en aan God oorlaat om dit te laat groei en vrug te laat dra. Daardie aand terwyl ek eers vir Mart dankie sê vir haar bydrae en daarna vir die Here dankie sê vir wat Hy gedoen het, hoor ek Sy stem so duidelik vir my ook sê “Dankie Ben.” Ja my broer en suster, die almagtige God het klein mensies soos ek en jy ook nodig om Sy magtige werk gedoen te kry.

Liefde in Christus Jesus,

Ben (en Mart) Lubbe

(Ps. Mag ek net byvoeg dat ek in Priester Karwapa ‘n opregte vriend gevind het, wat my agterna skriftelik bedank en verseker het dat hy heelhartig met my verstaan en uitleg van die Woord akkoord gaan.)

(Bank besonderhede: ABSA, (takkode 632005) MM Lubbe, spaarrek, 9275383644).

Namibië uitreik Junie 2018, Terugvoer

Op Donderdag 14 Junie het die lankbeplande dissipelskap-uitreik na Karasburg, Namibië ‘n werklikheid geword. Om 5 vm het Mart en ek vir laas met ‘n innige drukkie en vogtige oë in die donker by die motorhek afskeid geneem met die vertroue dat ons ouerige 97 Merc die bykans 900 km met gemak sou kon aflê. Dié keer het ek die suidelike roete gevolg; oor Colesberg, Hanover, De Aar, Britstown, Prieska, Groblershoop, Upington; daarna deur die grenspos by Ariamsvlei en uiteindelik Karasburg.

Laat namiddag het ek daar aangekom en haastig blyplek gesoek. Die Heer se hand was op my en by die Zebra gastehuis kon ek inboek vir R250 per nag in plaas van die gewone R350. Die kamer was ruim en het oor al die fasiliteite beskik, want ek sou vir myself moes kosmaak. Dit was net ‘n bietjie koud met klein hoë venstertjies; boonop het ‘n koue front vanaf die Kaap saam met my daar aangekom.

Voordat ek nog my bagasie kon aflaai, moes ek eers by ‘n selfoon cum-naelboetiek ‘n uur spandeer om my selfoon op die lug te kry sodat ek ten minste vir Mart kon laat weet dat ek veilig daar was.

Ja, dié keer was Mart om verskeie redes nie saam nie; enersyds sou dit ons verblyfkoste halveer. Tweedens sou sy meer effektief vir my kon bid. Terwyl Josua en sy weermag met die swaard in ‘n stofwolk en sweet met die Amalekiete slaags was, het Moses op die berg stelling ingeneem en gebid (Ex 17:10-12). Josua se oë was op die vyand gerig en Moses s’n op God. Dit was die regte strategie en so is ‘n groot oorwinning behaal.

Die volgende oggend het ek vroeg-vroeg vir Pastoor Tony Jooste opgespoor en die reëlings dat die byeenkomste in sy kerkgebou gehou kon word, gefinaliseer. Daarna het ek die pastore met wie ek tydens my vorige besoek kontak gemaak het, besoek om hul in te lig sodat hulle hul lidmate kon betrek. Die Rooms Katolieke Priester was ongelukkig nie beskikbaar nie omdat hulle besig was om ‘n nuwe biskop in te huldig. Sommige van hul lidmate het wel ‘n paar dae later by ons begin aansluit.

Ons het by die begin, begin, by Genesis 1:1. “Genesis” beteken mos juis “begin” of “oorsprong”. Stappie vir stappie het ons nagespeur hoedat die Here wat van ewigheid af bestaan, begin het om ons wêreld en alles wat daarop is, te skape om vir mens en dier ‘n asemrowende wêreld daar te stel waarin ons saam met Hom sou kon woon. In Sy wysheid het Hy elke dingetjie só geskape dat dit iets van Sy eie karakter (Sy wesensvoortreflikhede) sou uitbeeld. In die verskeidenheid van plante en diere sien ons Sy onbegrense verbeelding en wysheid; ook in die wyse waarop Hy die kanteling en draai van die aarde en sy omwenteling om die son gebruik om vaste tye te skep. In die reuse son waarin 1,3 miljoen aardes kan inpas en wat na meer as 6000 jaar nog net so lustig brand met die “hout en kole” waarmee die Here dit destyds aangepak het, asook in die grenslose sterrestelsel, die haas onmeetbare see waters en reuse berge, sien ons Sy almag en in die gedetailleerde voorsiening in die behoeftes van die plante, diere en mense sien ons Sy eindelose liefde en sorg vir Sy skepping.

Daarna het ons gekom by die toets wat God vir die mens gestel het om seker te maak dat hulle Hom as hul God gekies het; die Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Dan volg die tragiese sondeval van die mens, maar ook God se bemiddeling in die diere wat Hy geslag het om vir hulle skorte te maak om hul naaktheid te bedek en hoe dit heenwys na die kruiswerk van Jesus. (Ag, my hart loop opnuut oor van lekkerte as ek so aan alles terugdink.)

Die eerste byeenkoms is Sondagaand al gehou en daarna elke aand vir die volgende 9 aande. My vurige hoop was dat ons darem so ‘n 15 volwassenes per aand sou hê, want ‘n groot prediker uit Amerika wat kort tevore daar dienste gehou het, het maar ‘n karige opkoms gehad. Boonop is die gemeentes se erediens opkomste oorwegend minder as 10 persone per gemeente en dan moes die mense ook nog in die koue wintersnagte vêr ente stap (sommige ‘n kilometer en meer) om ons klasse te kon bywoon. Maar die Here wat my daarheen geroep het, was groter as dit alles. Die eerste aand was daar reeds 21 en elke aand het die getalle aangegroei sodat ons met ‘n bywoning van 49 persone geëindig het. ‘n Totaal van 71 verskillende mense het die kursus bygewoon. Halleluja, hoe groot is ons God om klein mensies vir Sy groot werk te gebruik.

En, ja, dit was nie Evangelisasie dienste nie; tewens die oorgrote meerderheid wat bygewoon het, was geredde lidmate. Dit was juis wat ek graag wou hê, want my doel was om gemeentes toe te rus om self die ongereddenes in hul omgewings vir die Here te wen.

So het ons, ons aand vir aand in Hom verlustig en het een na die ander van die mense vir my kom sê hoe heerlik hierdie  woorde vir hulle was en hoe dit hulle versterk en hul insig verbreed het.  Die een pastoor se vrou het die laaste aand getuig en gesê dat die Here sommer haar hele huis nuut gemaak het.

Vanaf die derde aand het twee van die pastore se vrouens ingespring en uit hul eie sakke begin om aan een en almal na die diens verversings te verskaf; eers koffie en koekies, toe reuse potte kragtige, warm sop en een aand selfs ook heerlike bakkies nagereg. So het ons saamgewerk om die Heer groot te maak en Sy Koninkryk te bou.

Die kersie op die koek was dat drie jongmense hul harte aan die Here gegee het. Ook het die Here op ‘n onverwagte wyse die vroutjie wat by my vorige besoek haar lewe aan die Here gegee het, na my toe gebring sodat ek verder in haar lewe kon inbou; sy lees nog elke aand haar Bybel en bid daarna, maar het hulp nodig om te kan groei.

Die laaste aande het ek na elke diens vir individue gebid sodat ek na drie tot vier ure se ononderbroke werk, stokflou huistoe is. Maar die versoeke om vir mense tuis te gaan bid, het so toegeneem dat hulle selfs na my woonplek gekom het om my te haal. Soms het my hart gebreek om die tragiese verhale van hul lewensomstandighede te hoor.

Die heel laaste aand, die tiende aand, het ek net met die pastore vergader om die pad vorentoe te bespreek en het hul ‘n ernstige begeerte uitgespreek dat ek weer kom om hul verder by te staan. In die tussentyd sal sommige self met dissipelskapklasse begin en die boek wat ek oor Génesis geskryf het, asook die kriptiese notas en die aantekeninge wat hulle self gemaak het, daarvoor gebruik.

Net soos die fietstoer wat ek van dorp na dorp in Februarie vanjaar onderneem het, was hierdie vir my n unieke ondervinding. Nog nooit in my lewe het ek myself so ontledig in gebed en smeking voor God om die werk waartoe Hy my geroep het, suksesvol te kon uitvoer nie. Sommige dae het ek letterlik twee tot drie ure ononderbroke voor Hom gepleit om my van myself te bevry en my met Sy Gees te vul. As die “magtige” Paulus skryf  “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;” (1 Kor 2:3) hoeveel te meer nie ek nie. My afskeidsteks aan die pastore was dan ook  Joh 12:24 “ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Ons is nooit te klein om deur God gebruik te word nie maar dikwels te groot. Dit is nie ons briljante uitleg van die Skrif wat mense se harte sal raak nie, maar die sagte werking van die Heilige Gees wanneer Hy ongehinderd deur ons kan vloei. Dikwels gebruik Hy dan ons persoonlike getuienis van oorwinning deur Sy krag. Dit laat die hoop weer opvlam en die oë weer blink.

Deur hierdie suksesvolle uitreik, het my vertroue om reg van God te hoor en daarop te reageer, ook ‘n hupstoot gekry. Soveel van hulle wat na aan my is, het gevra “Hoor jy reg van God; jy is so oud; dit is so vêr; waar gaan jy die fondse kry?” Soms wou my eie geloof ook knak maar dan het die Heer my elke keer weer teruggebring na Matt 28: Gaan dan heen; maak dissipels van al die nasies. Wanneer die Here met ‘n mens praat, gloei jou hart weer en vlam jou geloof weer op!

Aan die praktiese kant het ek geleer om vir myself te sorg; eers was dit sommer net blikkieskos oopmaak, maar later wortels geskraap, aartappels geskil, beet gaargemaak en tot slaai verwerk; kortom om ‘n gekookte maaltyd vir myself op die tafel te sit. Tweemaal het iemand ‘n bord kookkos by my deur afgelewer.

Verder het Hy vir my, soos vir Elia, bonatuurlike krag gegee. Op die laaste dag, nadat ek vir verskeie mense by hul huise en werkplekke gaan bid het, gepak het, die aandbyeenkoms en opvolgende gesprekke gehad het, het ek direk in die Merc geklim en die 881 km huistoe aangepak; in die nag en deur die grensposte. Drie maal moes ek aftrek en in die kar sit en slaap wanneer die moegheid my oorrompel en die pad voor my geswem het, maar die volgende oggend 11 uur was ek tuis want die verlange na Mart was net te sterk om die volgende dag eers te ry.

Die pad vorentoe? Die logiese ding om te doen is om so gou moontlik weer te gaan (sé binne 4-6 weke van nou af) om die Boek Génesis verder met hulle te behandel, maar veral ook om met individuele gemeentes (10 van hulle) bymekaar te kom om hul geloof te bou en praktiese weë te baan om die massa ongereddenes in te bring. Bid dan asb dat die Here my hiertoe in staat sal stel en dit ook finansiëel vir my moontlik sal maak.

Baie, baie dankie ook vir u voorbidding. U is my Moses wat op die berg sit met arms opgehef na die hemel. Ek kan nog eerder sonder blyplek en kos klaarkom, maar u kragtige oorwinnende gebede is vir my ‘n kosbare bydrae in hierdie stryd teen die duiwel en sy magte. Daarsonder sal ek bedroë huistoe kom of selfs daar in die tronk beland, want of ek vryelik daar mag bedien, bly ‘n ope vraag en ek is nie sonder vyande nie. So bid asseblief.

Ek maak ook verskoning; ek het vanaf Karasburg Whatsapp boodskappe aan elke ondersteuner gestuur, maar blykbaar het dit baie van u nie bereik nie. Die internetdiens is daar maar bewerig. Sal volgende keer probeer om e-posse te stuur.

Aangesien die sosiale media deesdae baie onder skoot kom, stuur ek hierdie nuusbrief eerder per e-pos en sal miskien net ‘n geredigeerde weergawe daarvan op ons webwerf plaas.

In Jesus se liefde,

Ben (en Mart) Lubbe.

(BANK BESONDERHEDE: ABSA, (TAKKODE 632005) MM LUBBE, SPAARREK, 9275383644)

Namibië Junie 2018 uitreik

Daar is ‘n groot opgewondenheid in my hart omdat my volgende besoek aan Karasburg, Namibië, nou net om die draai lê. Ek het met die pastoor van die Volle Evangelie Kerk gerëel om Donderdag 14 Junie daarheen af te reis en die volgende oggend met hom te ontmoet.

Wanneer ek dan daar is, beoog ek om met ‘n aantal ander gemeentes oorleg te pleeg oor hul inskakeling by ons eerste dissipelskap byeenkomste. Die gedagte is om beide die pastore en hul gemeentelede te betrek sodat elke gemeente dan, wanneer ek terug is in SA, weer onder leiding van hul pastoor na die gemeenskap om hulle kan uitreik. Sodoende kan ‘n dubbele slag geslaan word.

Gedurende hierdie komende sessie wil ek die eerste vier hoofstukke van die handboek behandel. Dit dek die ses skeppingsdae, God se rusdag en die sondeval van die mens.

Die doel van die lering is allereers om die grootheid, wysheid en liefde van God soos in Sy skeppingswerke gesien kan word, by die student tuis te bring, asook die feit dat Hy die alleeneienaar van die ganse heelal is en dat die mens wat logies hieroor besin, nie anders kan as om homself onvoorwaardelik aan sy Skepper oor te gee nie.

Hierdie eerste hoofstukke van Génesis bevat ‘n rykdom van geestelike lering, veral vir diegene wat nog nie die Here ken nie en bied aan hulle ‘n gulde geleentheid om hul lewens aan Hom te gee en versoening te vind deur die bloed van die Lam. Hierdie Ou-Testamentiese lering word deurentyd vanuit die Nuwe-Testamentiese gebeure, naamlik die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Christus belig – dit is dus nie net ‘n stuk geskiedenis van lank, lank gelede wat aan die luisteraar voorgehou word nie.

Bid asseblief dat die Here Sy magtige Boodskap uit die mond van Sy baie klein boodskappertjie buite mate sal salf en dat hy sal terugkeer met ‘n loflied op sy lippe oor wat God gedoen het.

Bid asb ook vir ‘n veilige heen en weer rit – dit is ongeveer 881km daarheen. Bid ook vir gepaste huisvesting. Die gastehuise is peperduur en ek moet my eie kos kan voorberei en ‘n bietjie ekstra ruimte hê om ‘n beknopte kantoortjie te kan inrig, want die werk aan die webwerwe moet deurentyd op datum gehou word. Bid asb ook vir materiële voorsiening waarsonder selfs die vurigste prediker ingeperk bly soos ‘n leeu in ‘n hok.

Vir hoe lank ek gaan? Tien tot veertien dae, maar dit kan langer duur.

Dit wil voorkom asof ek nie formele toestemming nodig het om in Namibië die Evangelie te bedien nie, solank ek dit nie vir langer as 3 maande per jaar doen nie – maar bid maar asb hiervoor ook – ‘n mens weet nooit.

En nee, Mart gaan hierdie keer nie saam nie, maar ons sal gedurig met mekaar in kontak bly en van haar gebede is ek verseker.

Baie dankie dat ek op u kan staatmaak om my te onderskraag.

Bydraes kan elektronies inbetaal word op die volgende rekening en voeg maar asb iets by soos “Marie” of “Helpmekaar” of wat ookal sodat, wanneer ons op hierdie webwef onder “Nuus” ontvangs erken, u daarop sal kan sien dat u bydrae ontvang is. Hier is die bankbesonderhede:

MM Lubbe, ABSA, takkode 632005 , spaarrek 9275383644.

Ben Lubbe

Hande Vat; 2018-05-14

Ons vertrou dat u nog die “Pottebakker” soms besoek en die studiegidse leersaam vind.

Toe Jesus Sy dissipels na die naburige dorpies uitgestuur het om die Evangelie aan hulle te verkondig, was Sy opdrag, “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Matt 10:8). Maar Hy het ook gesê dat hulle nie ‘n beursie of reissak moes neem nie, maar moes tuisgaan by wie ookal aan hulle herberg sou bied. Nogal ‘n uitdaging!

Kan dit vandag nog so gedoen word? Ek het dit onlangs beproef deur my rugsak te pak en op my trapfiets af te sit om 7 dorpe agtereen-volgens te besoek. Ek het ‘n totaal van 303 km in 5 dae afgelê, met baie mense lang geestelike gesprekke gehad en honderde biljette versprei. Ek was nie deur ‘n voertuig vergesel nie, maar het algeheel op God staatgemaak en elke nag is ek slaapplek aangebied sonder dat ek iemand daarvoor moes vra. Talle mense, vreemdelinge, wat ek op die pad ontmoet het, het op die Here se influistering ag gegee en my oor die weg gehelp. Dit was ‘n onvergeetlike ervaring.

Sondagaande om 7.30 skakel ons in op ‘n program getiteld “Sterre en planete,” en reis ons in die verbeelding saam na hemelliggame soos Venus en andere waar wetenskaplikes hul ruimtetuie laat land en selfs hul “motortjies” laat rondry om opnames te maak. Ruimtereise is natuurlik ‘n reuse spanpoging wat geweldig baie kos en waarin ontsaglik baie mense ‘n aandeel het; sommige vervaardig net ‘n klein komponentjie, soos ‘n metertjie; andere weer, bou ‘n vuurpyl wat ‘n paar ton weeg om die satelliete mee te vervoer. Kortom, ruimtereise en eksplorasie is ‘n spanpoging; een persoon of selfs een volk kan dit alleen nie vermag nie.

‘n Veel groter hedendaagse projek is die Koninkryk van God waaraan duisende dwarsoor die wêreld meedoen, en dit nader voltooing. Dit verg fondse, mannekrag en gebed. Ons aandeel is om wêreldwyd burgers vir hierdie asemrowende Koninkryk te werf en paraat te kry. Dit doen ons deur middel van webwerwe. Gedurende die afgelope 30 dae het 1663 mense ons “Pottebakker” webwerf besoek en 5211 blaaie daarvan geraadpleeg. Dit is natuurlik vinniger en geriefliker om so, met die elektroniese golwe deur die lugruim na afgeleë huisie te snel, as om met die tydsame trapfiets oor berge en deur dale daarheen te kruie, maar een nadeel is dat jy nooit die persoon sien aan wie jy jou boodskap aflewer nie; ook nie ‘n koppie koffie of dalk ‘n sny warm, tuisgebakte brood uit hul hand kan geniet nie.

Die elektroniese bediening het natuurlik ook sy sonderlinge behoeftes  soos die akkommodering van die webwerf, tegniese hulp met die opstel en instandhouding daarvan, rekenaars, drukkers, databundel kontrak, selfone, naslaanwerke en ‘n kantoor om alles in te huisves. Die afgelope tyd het ons ook begin met ‘n proses om die studiegidse in klank op Cd te plaas om dit vir die minder geletterdes en gesiggestremdes toeganklik te maak, want ons wil tog nie hê dat iemand geestelik afgeskeep moet word nie. Ons gaan nou selfs so vêr as om na afgeleë plekke te reis om klein groepies daar op te lei om die studiegidse te gebruik. Ag nou-ja, dan moet die skrywer van die studiegidse en sy gesin ook nog daagliks ‘n stukkie eet om al hierdie take te kan uitvoer.

Benewens die “Pottebakker” bedryf ons ook ‘n tweede webwerf, te wete rivoni.org waarop min of meer dieselfde materiaal in Engels en Shangaan geplaas word – alles wat in Afrikaans geskryf word, moet in daardie twee tale vertaal word en andersom. Maar genoeg oor wat agter die skerms van Pottebakker gebeur – dit bly steeds ‘n vreugde om geestelike brood te kan knie, bak en gratis op die wêreld-tafel te kan plaas.

Net soos wat ruimtereise ‘n spanpoging is, is die daarstel van Christelike webwerwe ook ‘n bediening waarin die bedienaar van die gawes van sy lesers of hoorders afhanklik is; daarsonder kan die bediening nie bestaan nie. Daarom wil ons u vra om in hierdie bediening deel te hê by wyse van u voorbidding en finansieele ondersteuning.

Bydraes kan elektronies inbetaal word op die volgende rekening en voeg maar asb iets by soos “Marie” of “Helpmekaar” of wat ookal sodat, wanneer ons op hierdie webwef onder “Nuus” ontvangs erken, u daarop sal kan sien dat u bydrae ontvang is. Hier is die bankbesonderhede:

BJ Lubbe, ABSA, takkode 632005 , tjekrek 1460514009.

Kom ons wandel elke dag onder die sambreel van God se vreugde (Neh 8:10/11),

Ben Lubbe.

Namibië uitreik nuus; 2018-04-02

 

Hierdie man deurkruis Namibië met ‘n kruis van 30kg en klere en tent wat ook nog 30kg weeg en preek die Evangelie sovêr hy gaan. Hy het die afgelope vyf-en-‘n-half jaar (?) al 23000km te voet en 74000 met sy trapfiets afgelê. Uit die donasies wat hy langs pad ontvang, onderhou hy homself sowel as sy vrou by die huis. Ja, die Here het allerhande soorte boodskappers; as die hart reg is, sal die voete padvat.

 

‘N SUKSESVOLLE SENDINGREIS

Laat ek nou sommer met die intrapslag baie dankie sê vir elkeen wat gebid en/of finansiëel bygedra het tot ons onlangse besoek aan Karasburg, Namibië. Gemeet aan die doel waarvoor ons gegaan het, naamlik om steun te werf vir ons voorgenome dissipelskapklasse, was dit ‘n groot sukses. Ons het teruggekom, nie net met sewe lyste vol name nie, maar ook met die sekere wete dat daar baie mense is wat uitsien na ‘n geestelike tafel wat ons hoop om vir hulle te kan dek.

U bydraes en gebede en ons lang reis was beslis nie ‘n verkwisting van tyd en geld nie; nee die Here het dit gebruik om die grondslag te lê vir dit wat Hy van voorneme is om later daar te doen.

DIE MATERIëLE KANT

REIS EN VERBLYF

Karasburg is nie hier nie; 1850 km heen en weer. Lekker langs die pad stilgehou, die ˝cool box˝ op die ˝bonnet˝ geplaas en Mart se padkos verorber en koffie uit ons nuwe ˝plastic˝ warmfles gedrink; so op die ou Boere manier; nie ˝bacon, eggs en cuppacino˝ in die restaurant nie.

Die Roomse Kerk het ons een van hul gastekamers met volle ablusiegeriewe en ‘n aangrensende deelkombuis aangebied teen R1200 vir die  agt aande; andersinds sou dit ons R3600 gekos het. Veilig soos ‘n tronk. Bietjie beknop want ek moes my papierwerk op ons eie opslaantafeltjie tussen die twee enkelbeddens doen. Warmwater. Stort het nog net drie straaltjies gespuit, elk in sy eie rigting. Nadat ek die kop drie maal in ‘n koppie asyn gedoop het, was die kalk en daarmee die probleem opgelos, en kon ons stilstaan en stort.
LINKS: Mart doenig om ete voor te berei in ons deelkombuis.

FONDSE:

‘n Paar dae voor ons vertrek vanaf Philippolis, het ek vir die selgroep waarvan ons deel is, gesê ˝Ons beurs is nog boomskraap maar ek waarborg julle: voor ons vertrek sal die fondse inkom. ˝ Ek het so ’n sekerheid in my hart daaroor gehad. Daardie aand kom die eerste R1000 in en daarna R3500 elektronies en terwyl ons daar onder was, nog ‘n elektroniese inbetaling. Ons sendingrekening wat in diep skarlakenrooi gedompel was, het verbleek na pienk; en dit ná die uitreik. Ons het selfs nog die Roomse kombuis geseën met ’n nuwe elektriese ketel in die plek van die oue wat met ’n woeste blou flits heengegaan en sommer die krag daarmee saam ook nog uitgeskop het.

DIE KERKE VAN KARASBURG

Wat ons probeer doen het, was om die pastore, leraars,  of welke leiers ookal, van al die gemeentes op te soek en ons missie aan hulle te verduidelik, naamlik om Bybel gefundeerde dissipelskapklasse gratis aan te bied, op ‘n boek vir boek basis, beginnende by Génesis. Sodoende het ons toe met bykans al die gemeentes kontak bewerk. Die resultaat was as volg:

GEREFORMEERDE KERKE

Aan die drie Blanke gemeentes, dws die NG-, Geref–Kerk en AGS. het ons nie veel tyd spandeer nie omdat hul top leiers nie beskikbaar was nie en omdat ons meer na die Bruin gemeenskap geroepe voel. Die NG Kerk hoop om binnekort weer ‘n voltydse leraar te hê — wonderlik! Ons sal nietemin probeer om nouer bande met hierdie gemeentes te smee tydens ons volgende besoek. Die Bruin VGK (NG) se raad is gunstig teenoor ons aanbod maar hul leraar te Keetmanshoop moet nog goedkeuring verleen. Die Evangelies Lutherse Kerk se leraar was uitstedig.

DIE ROOMSE KERK:

 

Hier het ons, behalwe met die priester, ook met die leiers van verskillende groepe persoonlike onderhoude gehad en met een groep bymekaargekom. Hulle staan bekend as die ˝Charismate˝. Dit was nou sommer ‘n baie aangename ontmoeting en hulle het dit terdeë geniet en die nuwe koortjies wat ons hul geleer het, vinnig opgetel en hartlik saam gesing.

 

 

Sondag het ons hul “Heilige Mis” bygewoon. Dit staan bekend as  “Palm Sondag,” en het begin met ‘n saamtrek op ‘n perseel oorkant die straat, waartydens groot dele uit die Skrif deur verskillende lidmate en die Gemeente gesamentlik voorgelees is, waarna almal in prosessie na die kerkgebou gestap het. Ongeveer 500 persone, waaronder ‘n goeie komponent jongmense, het die diens bygewoon en die Mis (nagmaal) is bedien. Ons het die diens meer as waarnemers bygewoon en nie so veel as deelnemers nie.

Die priester, vader Karwapa, ’n Ovambo (?) is ‘n baie skerp persoon en het vir drie jaar lank opleiding in Rome ontvang waar hy binne drie maande homself in Italiaans kon behelp. Hy kan ook Engels praat en is besig om Afrikaans aan te leer. Hy is my baie goedgesind en het met nadruk verklaar dat sy verwagting is dat sy leiers, deur hierdie dissipelskapbediening in ‘n dieper verhouding met God sal kom.

Presies hoeveel lidmate die Kerk het, weet ek nie, maar dit is ongetwyfeld, verreweg die grootste denominasie op Karasburg en het ook wyke op die naburige nedersettings, insluitende Ariamsvlei.

DIE PINKSTERKERKE

Daar is ses van hulle, waarvan die meeste êrens elders aan ‘n moedergemeente gekoppel is: Gospel Mission, Volle Evangelie Kerk, Potter’s House, Acts Mission, Moria Gemeentes (Qorban) en Smirna Pinkster Kerk.  Drie van die vyf pastore met wie ons kontak kon maak, was baie gretig dat ons hulle gemeentes kom bedien, terwyl die ander twee eers daaroor wou besin.  Met die “Vollies” (Volle Evangelie) gemeente het ons ‘n baie wonderlike byeenkoms gehad en het ek die landsreëls oortree deur sonder magtiging so ‘n bietjie te bedien, maar met soveel afwagtende gesigte voor jou, kan geen evangelis die versoeking weerstaan om die teuels te laat skiet en die Heilige Gees toe te laat om die dorstiges om hom met woorde te verkwik nie.

GEVOLGTREKKING

Nou dat ek self die geleentheid gehad het om die dorp te fynkam, het ek bevind dat daar baie meer arbeiders is om die oes in te samel as wat my  te kenne gegee was, maar by almal was daar een gemeenskaplike versugting: geestelike diepte. Die Roomse Kerk het dit presies so verwoord: “Ons soek verdieping”.

Die Pinkster kerke het gekla: “Ons weet nie wat aangaan nie. Vroeër was daar so ‘n salwing op ons bediening; ons het wondere beleef; kanker en ander siektes is genees, maar nou verdwyn die lidmate een vir een uit ons gemeente. Sommige sluit by ander Pinkster gemeentes aan en andere weer, vorm hulle eie klein gemeentes van net ‘n paar lede. Hulle verlaat ‘n gemeente oor onbenullighede. Sommige gemeentes het groot geboue opgerig en bly nou agter met die skuld. Pastore moet sekulêre werk gaan soek om aan die lewe te bly. Dit lei tot verwaarlosing van hul gemeentes. Ons weet nie waar die probleem lê en hoe om dit op te los nie.”

DIE “OPLOSSING”

Ja, ek plaas die “oplossing” in aanhalingstekens want dit sou verwaand van my wees om te dink dat ek met ‘n kits oplossing op ‘n skinkbord daar kon aankom. Sommige van daardie pastore en hul vrouens is geestelik diep mense en, hoor my, hulle ken die Woord so goed of beter as ek. Daar is werklik niks, maar niks nuuts wat ek hulle kan leer  wat hulle nie reeds weet nie. Nou wat dan?

My antwoord is GELOOF.  Dit is wat die Here die afgelope tyd besig was om vir my in te prent; veral ook gedurende my fietstoer waartydens ek Hom uur na uur moes vertrou; ook vir slaapplek vir die nagte en gesien het dat Hy dié wat op Hom vertrou nooit, nooit, nooit in die steek laat nie.  In hierdie laaste dae het gemeentes bowe alles, leiers nodig wat so intens op God fokus dat hulle bo die alledaagse lewe met sy versoekinge en beroewinge uitstyg en sigbaar met Jesus op die golwe wandel. Geloof inspireer geloof in andere waardeur hul die berge in hul lewens uit die pad kan skuif.

Heb 11:6: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

 Heb 11:8; Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom

Dink daraan:  Hy het sy kamele gepak, sy vee bymekaar gemaak en begin trek, “sonder om te weet waar hy sou kom.” Hy het God met sy ganse toekoms en die van sy vrou en van sy kind wat baie later eers gebore sou word, vertrou. Hy het vas op God gefokus en agter Hom aan beweeg en geglo dat  dit die heel beste was wat hy in hierdie lewe kon doen. En dan sit jy en ek op en af, op en af in ons rystoel en wieg en wieg en sê ons glo in die Here en neem ons nie eers die kleinste geloof stappie wat duidelik aan ons as God se wil geopenbaar is nie.

Ek voel so verskriklik klein om te dink dat ek soos Nehemia na Jerusalem moet gaan en die mense moet oorreed om saam met my die rommel op te ruim, die omgestote mure te herbou en nuwe poorte in te sit. Tog weet ek verseker dat ek ten minste ‘n mostersaad grootte geloof vir daardie taak ontvang het en saam met hom kan sê, Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou;

Die plaaslike pastore, hul eggenotes en ekself sal, voor enigiets anders, die Here moet vertrou om ons geloofs-vlakke te lig, vêr bo wat dit tot hiertoe was; dan sal ons die gemeentelede en die ongereddes daarbuite kan inspireer om opnuut hul vertroue in God te plaas.

 DIE EERSTE STAP

Wat ek nou moet doen, is om ‘n werkspermit van die Namibiese Regering te verkry en daarvoor wil ek môre aansoek doen. Kom ons vertrou saam die Here dat dit nie sal sloer nie.

BID ASSEBLIEF VIR

Moet asseblief nie ophou om te bid en te gee nie; hierdie is nie ‘n “job”‘ vir een ou nie, dit is ‘n spanpoging. As ‘n haker sien hy sak alleen in die skrum, hardloop hy daar en dan van die veld af; nee hy het twee fris voorrymanne weerskante van hom nodig, twee slotte agter hom, twee flanke langsaan hulle en ‘n agsteman om af te rond. So kan hulle saam die bal en die wedstryd wen. So bid asseblief vir:

  • Voorbereiding van ons harte terwyl ons wag vir die werkpermit: toenemende geloof, beide vir myself en vir die leiers en hul vrouens en ‘n dors na God by die gemeenskap.
  • Wysheid: my gedagte, op hierdie stadium is om eers die klasse vir die leiers aan te bied en dat hulle dit dan aan groepe bestaande uit hul lidmate en belangstellendes aanbied terwyl ek sovêr moontlik van groep tot groep beweeg en ondersteuning gee.
  • Middele vir die taak.
  • Genade en geloof vir Mart hier aan die tuisfront; oumense is ‘n teiken vir boosdoeners.

Hartlike dank vir jul ondersteuning en geniet jul reis hemeltoe.

Ben Lubbe

Kontakbesonderhede: Selfoon: 083 276 1887; e-pos: ben@pottebakker.co.za
Bankbesonderhede: ABSA, geen takkode (of 632005 indien ‘n kode vereis word), BJ Lubbe, tjekrek, 1460514009.
Whatsappgroep: M2819 Ben Lubbe Namibie.

Namibië uitreik nuus; 2018-03-14

JONGSTE NUUS OOR MY BEOOGDE UITREIK NA NAMIBIË
Wanneer ‘n mens oor landsgrense heen werk, is een van jou grootste oponthoude die rompslomp verbonde aan die verkryging van visums en permitte. Om Namibië binne te gaan, het ‘n SA burger gelukkig nie ‘n visum nodig nie, maar om daar werk te mag doen, moet jy ‘n werkpermit hê en om vir ‘n werkpermit aansoek te kan doen, moet jy polisie klaring hê en om dit te kry, kan baie lank duur.
Terwyl ek daarvoor wag, het ek gedink om solank Karasburg toe te gaan en studente te werf om vir ons dissipelskapkursus in te skryf sodat ek die bewyse van inskrywing, tesame met die polisie klaring by die Namibiese Hoëkommissaris kan indien.
Vir dié doel het ek ‘n biljet opgestel om die kursusse te adverteer. Dit sal ek dan op strategiese plekke uitdeel en aan leiers soos ouderlige uitgee omdat daar, behalwe vir die Roomse vader, nie ander leiers soos leraars is nie.
Verder hoop ek om nou reeds met die afgaan, die waters te toets deur ‘n aantal klasse aan voornemende studente aan te bied.
Vir dié doel het ek ‘n brosjure geskryf en 20 eksemplare gedruk, maar nou het die drukker se ink eers opgeraak en moet ek watertrap totdat ‘n nuwe houer vanaf Bloemfontein afgelewer kan word, want hier by ons waar die vullisverwyderingsdienste sonder moeite vir twee weke gaan staan weens ‘n tekort aan fondse om diesel te koop, is drukkersink van minder belang.
Die onderwerpe soos in die brosjure vervat, is die volgende:

  • God se belofte dat dié wat na Hom soek, Hom sal vind (Matt 7:8).
  • Is daar ‘n God; drie bewyse.
  • Is die Bybel deur God gegee; ses bewyse.
  • Wat behels hierdie kursus?
  • God se droom.

Kom ons bid dat die Here die harte van diegene wat Hy na die kursus sal trek, se harte sal voorberei om die saad van Sy Woord met blydskap te ontvang.

Sal laat weet sodra ek gereed is om te vertrek.

In Christus Jesus,

Ben Lubbe

Kontakbesonderhede: Selfoon: 083 276 1887; e-pos: ben@pottebakker.co.za
Bankbesonderhede: ABSA, geen takkode (of 632005 indien ‘n kode vereis word), BJ Lubbe, tjekrek, 1460514009.
Whatsappgroep: M2819 Ben Lubbe Namibie.

Namibië uitreik nuus; 2018-02-23

TERUGVOER OOR MY FIETSTOER OM ONDERSTEUNING TE WERF VIR ‘N UITREIK NA NAMIBIË

In ‘n vorige skrywe het ek vermeld dat ek ‘n fietstoer wou onderneem om ondersteuning te werf vir dissipelskapklasse wat ek later in Namibië wil aanbied. Hiermee wil ek nou terugvoer gee oor die toer maar ek sal net hier en daar iets kan aanraak, anders sal dit boekdele beslaan.

Die aanloop tot die rit was alreeds ‘n toets, want ek het op vier agtereenvolgende dae lang afstande met of die berg-, of die padfiets met verskillende rugsakke en ladings onderneem om te bepaal wat die beste sou werk en of ek enigsinds dag na dag sulke afstande sou kon handhaaf. Uiteindelik het ek op die bergfiets en ‘n rugsak met baie kompartementjies besluit.

Liggaamlik het ek les opgesê deurdat ek soveel rugpyn gehad het dat ek soms vir tye op die bed moes gaan lê.

Geestelike was dit ook vir my ‘n moeilike tyd want die vrees om te misluk, het gedurig by my gespook; sou ek op ouderdom 77 sulke afstande en besige dae kon baasraak en dit na laasjaar se haartaanval; sou mense enigsinds na my luister en ‘n strooibiljet uit my hand aanvaar; sou mense my slaaplek aanbied of sou ek nagte op die sypaadjie moes deurbring want ek wou God vertrou vir kos, verblyf en gesondheid; net soos wat Sy dissipels gedoen het toe Jesus hulle twee-twee uitgestuur het? Ons leef tog in moderne tye en in ‘n ander kultuur; kon God nog op toentertyd se wyse voorsien, of moes ons nou alles vooruit weet en bespreek voor ons vertrek.

Kortom, is Hy nog so betroubaar as destyds? Kan ‘n mens jouself op Hom werp soos ‘n kindjie wat van die kraalmuur af in sy pa se arms spring? Ja dit is maklik om dit by wyse van ‘n loflied in die kerk te bely, maar kan jy uitstap op jou belydenis soos Petrus op die water? Tot op die laaste het ek nog getwyfel of ek sou gaan maar toe, soos ‘n “bungee” springer besluit om te spring en op Dinsdag, 6 Feb om 6 vm het dierbare Mart my by die hek afgesien.

Die eerste dag was merendeel teëspoedig. Die pad Trompsburg toe, was hoofsaaklik opdraend en dit, tesame met ‘n sterk wind van voor, het my stokflou daar laat aankom en toe ek koeldrank by die Waterwiel wou koop, was my beursie skoonveld en moes ek met ‘n bottel warm kraanwater tevrede wees. Tweedens moes ‘n vriend wat aangebied het om my te huisves, later verneem dat hy nie gemagtig was om dit te doen nie en daarna moes ek, na ‘n uur se wag hoor dat ‘n dame wat ek daar sou ontmoet, vir die dag uit was. Die vierde voorval was die ergste toe ‘n man op wie ek twee ure sit en wag het, my haastig ‘n paar note in die hand wou stop om van my ontslae te raak. Ek het dit geweier.

Teen dié tyd het die duiwel my uitgekoggel met ‘n “Het ek jou nie gesê dat dit so met jou sal gaan nie, maar jy dink mos jy hoor van God en dat jy Hom kan vertrou.” Maar God … Toe die son reeds oorkantel na die weste het ‘n man met wie ek gepraat het, vir my slaapplek aangebied sonder dat ek hom daarom gevra het. In daardie huis is ek behoorlik op die hande gedra. Ons kon selfs saam uit die Woord lees en bid en my fiets het hy in my kamer staangemaak.

 

Ses-uur die volgende oggend het ek na Jagersfontein vertrek. Dit was basies afdraende en ek het heerlik gery. Van toe af het ek begin om by elke plaasingang ‘n biljet in die hek te laat; sodoende kon ek nie net die dorpenaars nie, maar ook die boere bereik. Een van hulle het, nadat ek vir hom gebid het vir ‘n boedelprobleem wat hy op pad was om te gaan oplos, R200 in my hand gestop. Op die dorp aangekom het ek reeds ‘n groot hoeveelheid werk gedoen gehad en kon ek behaaglik op die droë visdammetjie se muurtjie gaan sit, die toebroodjies met stroop en grondboontjiebotter wat Mart vir my ingesit het, uit die rugsak uithaal en saam met my oorblywende Energade behaaglik afsluk.

 

 

Kort na twaalf is ek verder na Fauresmith, ongeveer 11 km daarvandaan, waar ek weer op straat en in geboue die biljette aan talle mense afgegee het.

Toe die winkels al wil toemaak, wink ‘n man my van ‘n winkelstoep af nader en vra “Het jy slaaplek – nee? Ek het ‘n gastehuis en sal jou afslag gee; R200 vir die nag”. So het God voorsien en kon ek hom met die R200 wat die boer geskenk het, betaal. Op al die ander plekke verderaan het die Here keer op keer gegee dat mense vir my oornagverblyf aangebied het sodat ek nooit nodig gehad het om daarvoor te vra nie.

Ek het wel ander uitgawes gehad soos middagete, Energade, selfoontyd, ens en een oggend vra ek die Here om kontant vir my te voorsien want ek wou nie met minder geld by die huis aankom as waarmee ek daar weg was nie. Daardie dag, in een van die dorpe, kom ‘n motor skuins oor die strraat reg op my af gery. Ek was so verbaas om te sien dit is ‘n egpaar uit my tuisdorp, en na ons gesels en ek vir hulle gebid het, gee die man vir my R500 in die hand. God hoor gebed.

Een nag het ek regtig sleg gevoel oor my bors, min of meer soos kort nadat ek die hartaanval gehad het en het ek nie geweet hoe ek die volgende dag verder sou kon ry nie, maar toe ek dou voor dag wakkerword en die Here begin loof en prys, begin ek beter voel en kom die teks in my gedagte waar van die manne van geloof gepraat word (Heb 11:34) en gesê dat hulle “krag uit swakheid ontvang het” en sê ek vir my liggaam “Word versterk uit die krag wat God vir jou gee”, en voel ek ‘n gloed oor my skouer en bors sprei en staan ek op en ry daardie en al die volgende dae sonder enige probleme.

Met hoeveel mense ek gepraat en vir wie ek gebid het, het ek nie ‘n benul nie. In sommige gevalle het ek met iemand begin praat oor my visie vir Namibië maar het dan gelei gevoel om te praat oor sy persoonlike verhouding met God  en vir hom of haar te bid. Een so ‘n persoon was ‘n jong vrou wat so aangegryp was dat sy my om die skouers gegryp en met haar kop op my skouer gesnik het dat die trane loop.

Dan weer was daar ‘n boer met wie ek by sy plaashek gesels het. Hy het bely dat hy nou betrokke was in sy gemeente en selfs die EE3 evangelisasiekursus geloop het maar nie meer seker was of hy die Bybel kon glo nie en dat almal vir hom daaroor kwaad was. Ek kon teenoor hom vars getuienisse gee oor hoe die Here my gebede net op daardie toer een na die ander beantwoord het en ek is oortuig dat God daardie ontmoeting gereël het en hom verder sou help om sy vertroue in die Almagtige te herwin; selfs die manne agter op sy bakkie was geraak.

Saans, in die huise waar ek tuis was, het ons knypstukke gepraat oor die Here en wat Hy vir ons beteken het en kon ek sovele se vrae beantwoord en vir hulle bid en het van hulle ook vir my gebid.

Na Fauresmith is ek na Koffiefontein, Jacobsdal, Modderrivier, Ritchie, Kimberley en toe, op pad na Bloemfontein het ‘n dame aan wie ek ‘n strooibiljet op Jacobsdal gegee het, my herken en aangedring om my op te laai. Aangesien my taak toe afgehandel was, het ek ingestem en het sy my na Petrusburg geneem om teenoor haar pastoor te getuig van my wedervaringe. Daar het Martie en een van ons vriende my met ons motor kom oplaai en huistoe geneem. Daardie dag het ek 83km met die fiets afgelê.

 

Om meer te vertel van my rit, kan ek nie want hierdie nuusbrief is alreeds so lank, maar een ding kan ek getuig en dit is dat die Here leef en dat Hy werksaam is vir die wat op Hom wag (Jes 64:4). Soms, wanneer ek Hom ‘n vraag wou vra oor wat ek moes doen, het ek nog net begin om my oë te sluit of het ek reeds sy duidelike antwoord gehad. In al my behoeftes het hy voorsien, my veilig bewaar van die verkeer, reënbuie, verkoues en wat ookal, vir Mart by die huis bewaar en ons weer bymekaar gebring. Dit was ‘n onvergeetlike belewenis en ek is die Here so dankbaar dat Hy, toe ek koue voete wou kry, my knakkende geloof versterk, sodat ek die toer gewaag het. Ek het ons Heiland op ‘n nuwe manier leer ken – iets wat geld nie kan koop nie.

Of ek my doel bereik het deur ondersteuning te werf vir my beplande uitreik na Namibië? Tot nou toe lyk dit nog nie so nie maar wanneer die tyd aanbreek, sal die Here voorsien. Sommige van die honderde biljette wat ek uitgegee het, lê soos suurdeeg in huise en Bybels en rys en op die regte oomblik sal die Here met Sy gehoorsame diensknegte praat om Sy werk te ondersteun. Intussen sal Martie en ek daarvoor bid.

Miskien meen sommige dat ek te oud is vir so ‘n onderneming en dat hulle nie hul geld op so ‘n ou perd wil waag nie; maar as ek nie gaan nie, wie sal dan in my plek gaan? En lees ‘n bietjie in Jes 40:29-31 wie is dit wat opvaar met arendsvlerke.

Ek het nou aansoek gedoen om SAP klaring wat ek nodig het om aansoek te kan doen om in Namibië te mag werk maar, so hoor ek, mag dit tot ‘n maand duur om dit te kry. Intussen is ek hard besig om die studiegidse wat ek daar wil gebruik, in ‘n ander formaat op te stel. Met die klaring in my hand,  wil ek Karasburg toe gaan om studente vir die klasse te werf (en dalk sommer so in die stilligheid ‘n paar klasse aan te bied ook.) Miskien gebruik die Here dit om ‘n paar visse vir Homself te vang; dan tel my rit dubbel soveel.

Baie dankie vir jul gebede en volhard asb om te bid dat die Here my lamp elke dag met vars olie sal vul; en bid vir Mart wat ook wat nie meer jonk is nie en alleen die mas moet opkom wanneer ek weg is. Bid dat sy sal voortgaan om rustig die Here te vertrou en nie bekommerd sal wees nie, soos wat sy nog deur al die jare gedoen het wat ons saam in die Here se werk staan.

Vrede vir julle,

Ben en Martie Lubbe.

Kontakbesonderhede: Selfoon: 083 276 1887; e-pos: ben@pottebakker.co.za
Bankbesonderhede: ABSA, geen takkode (of 632005 indien ‘n kode vereis word), BJ Lubbe, tjekrek, 1460514009.
Whatsappgroep: M2819 Ben Lubbe Namibia.

Namibië uitreik nuus; 2018-01-31

 

TERUGVOER OOR MY BESOEK AAN NAMIBIë

 

(SIEN VERAL PLAN VAN AKSIE HIERONDER ASB).

 

In my vorige nuusbrief het ek gemeld dat ek gelei gevoel het om Namibië te besoek om ondersoek in te stel na die geestelike welstand van die inwoners.

So gesê, so gedaan; ek het toe die suid-oostelike hoekie van die land besoek, te wete Ariamsvlei en Karasburg, en wat ek daar gesien het, was vireers genoeg. Dit wat die Here hier in Philippolis (waar ek woon) in my gees aan my openbaar het, het ek daar as werklikheid ervaar.

Daar is ‘n wesentlike geestelike behoefte by die inwoners van daardie streke as gevolg van ‘n gebrek aan geestelike leiers.  Dit het ontstaan deur die uitvloei van boere na die stede en selfs na Suid-Afrika, wat die reeds lae bevolkingsdigtheid net vererger het. Die gevolg was dat lidmaatgetalle sorgwekkend verminder het en daarmee saam, die finansiële vermoë van gemeentes om leraars te kan onderhou.  Leraars was genoodsaak om na die stede te verhuis waar hulle ‘n bestaan kon maak en hul kinders op skool kon plaas. Pragtige kerkgeboue, soos die NG Kerk op Karasburg, is grootliks onbenut.

Op Ariamsvlei word die reuse pastorie deur ‘n afgetrede leraar en sy vrou bewoon wat, as ek dit reg het, elke tweede Sondag daar preek.

Die VGK (Verenigde Gerevormeerde Kerk) vir Bruin lidmate wat heelwat finansiële ondersteuning van die NG kerk ontvang het, het natuurlik ook onder die uitvloei van boere gely en ook hulle leraars het na die stede verhuis waar daar meer lidmate is wat  ‘n inkomste verdien en die dienste van ‘n leraar kan bekostig.

Die derde groot denominasie in daardie streke is die Rooms Katolieke Kerk, waaraan meeste van die Bruinmense behoort. Ook vanuit hierdie kerk vloei daar, weens ’n personeel tekort, nie soveel  lewe na die landelike gebiede as wat nodig is nie.  Tot onlangs toe nog was daar ‘n ou Vader op Karasburg wat twee maal per maand ook op Ariamsvlei gaan preek het, maar omdat hy sy boodskap in Engels gebring het, kon sommige hoorders dit nie behoorlik verstaan nie. Drie weke terug is hy weg en het ‘n nuwe jonger Vader op Karasburg oorgeneem. Hy lyk baie op en wakker maar is ‘n Ovambo van geboorte en is nou eers besig om Afrikaans en Engels aan te leer, en om beide die Karasburg- en Ariamsvlei distrikte geestelik behoorlik te versorg, sal vir hom bykans onmoontlik wees.

Alles inaggenome ontvang die plattelandse gebiede nie die geestelike insette wat elke mens nodig het om  geestelik te kan ontwikkel nie. Moet ons nou maar skouers optrek of sal ons probeer om daar ‘n bietjie hulp te verleen—en is dit enigsinds moontlik om daar verligting te bring?

HOE VOEL GOD OOR SO ‘N SITUASIE ?

Elke iedere mens is vir Hom baie belangrik. Hoor wat sê Hy by monde van die profeet Esegiël: En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.  (Esg 34:31) .

Dit gee ons ’n kykie in God se hart. As ek ‘n méns is, sien God my potensiëel as sy eiendom, Sý skaap  vir wie Sy Seun aan die kruis gesterf het en sal Hy êrens ‘n herder vind, al is dit ook aan die anderkant van die aarde,  wat Hy na my toe kan stuur om vir my te kom vertel hoe ek weer in Sy kraal kan inkom.

Selfs toe Hy in ontsaglike pyn aan die kruis gely het, het Hy sy eie ellende vir ’n paar oomblikke vergeet en uitgereik na ’n moordenaar wat langs hom besig was om te sterf en hom op die nippertjie voor die duiwel se neus weggeraap en in sy kudde in ingetrek!

Verder staan Sy laaste en Groot Opdrag nog vas: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Matt 28:19).

Die vraag is dus nie “óf” nie maar eerder “hóe”, hoe ons kan help.

Namibië is immers ons buurland met wie ons baie dekades lank hegte bande gehad en baie ondervindinge gedeel het.

GEESTELIKE BEARBEIDING GEBASEER OP DIE VROEGSTE CHRISTELIKE GEMEENTES

Die “hoe” antwoord is eintlik reeds in die Bybel self opgesluit; in die boek Handelinge. Daar sien ons hoe die Christendom op aarde gevestig is; hoe die eerste Christelike gemeentes as klein huisgemeentes tot stand gekom en gegroei het. Die “lidmate” van so ‘n gemeente was merendeels ongeletterd en die Nuwe-Testament was nog nie opgeteken nie. Die persone wat by so ‘n byeenkoms lering gegee het, kon nie ‘n mooi lang preek met Skrifverwysings opstel en voordra nie; nee hulle het maar die geestelike waarhede wat deur Jesus verkondig en later deur Paulus, Petrus en andere aangevul was, met mekaar gedeel. Lidmate het mekaar dus bedien. Die klem was nie op hoeveel jy geweet het nie, maar hoe diep gewortel jou geloof was en hoe jy dít wat jy geweet het, uitgeleef het. Jesus se beeld moes in die gemeentelede sigbaar word.

Maar hoe het hulle dit reggekry om so dinamies in getalle te groei sodat selfs die magtige Romeinse Ryk hul invloed gevrees het. Die antwoord is dat die Heilige Gees Wie hulle vervul het, hulle bekragtig het. Dit is immers wat Jesus hulle voor Sy hemelvaart beloof het: maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. (Hand 1:8). Toe sulke Geesvervulde manne en vroue begin saamgroepeer, het God daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. (Hand 2:47).

Hulle kon nie duur geboue oprig nie maar het in mekaar se huise bymekaargekom. Hulle kon nie bekostig om mense te betaal om hulle geestelik te bedien nie, maar so tussen hulle gewone dagtake deur, het hulle dit self vir mekaar gedoen.  Is so-iets vandag nog moontlik? Ja, beslis soos hieronder verduidelik sal word.

Maar voor ons daar kom, laat ons eers oor groot gemeentes praat. Groot gemeentes met deeglik opgeleide leraars het ‘n rol te speel in die bou van God se Koninkryk. Hulle moet rigting gee, ko-ordineer en projekte aanpak wat te groot is vir klein huisgemeentes, so dit is nie te sê dat hulle moet wegval nie, maar daar waar hulle deesdae nie meer kan bykom nie, moet huisgroepies opgerig word, sodat God’s Koninkryk nie skade sal ly nie. En selfs binne daardie groot gemeentes moet klein dinamiese huisgroepies gebou word sodat elke lidmaat ‘n funksie sal vervul.

Groot gemeentes kan alte maklik ‘n skuilplek word vir droë hout; geestelik lewelose lidmate wat nooit werklik met God ontmoet het nie en maar net onder die kerksambreel skuil en hulleself wysmaak dat hulle saak met God reg is. Hulle word ‘n kopseer vir ‘n Geesvervulde leraar.

Maar hoe kan sulke huisgroepies of huisgemeentes opgerig word?

IN MOSAMBIEK WERK DIE STRATEGIE VAN KLEIN GROEPIES

Sowat 12, 13 jaar gelede het die Here vir Martie en my na die afgeleë binnelandse gebiede van Mosambiek gestuur om dissipels te gaan maak van die Tsonga bevolking; mense wat nie die dienste van besoldigde leraars kon bekostig nie. Hy het ook vir ons Sy strategie gegee.

Ek moes naamlik dissipelskapklasse begin waardeur  ons alle belangstellendes, maar veral die leiers van die menigte klein kerkies, die inhoud van die Skrif leer, maar hulle ook lei om Christus te ontmoet en om op hul beurt weer andere na die Here te lei.

Om hulle die Skrif te leer, moes ek studiegidse skryf oor die ganse Ou-Testament, die Evangelies en ook oor die Sendbriewe.

Ons het met drie persone begin, maar die groep het gegroei en vermenigvuldig. Baie van die studente het hulle tot God bekeer en Sy kinders geword deur die Heilige Gees wat in hulle kom woon het en so het hulle in ‘n nuwe lewe ingegaan want die Skrif sê: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan’ kyk dit het alles nuut geword. (2 Kor 5:17).

‘N KLEIN BEGIN MAAR  KRAGTIGE GROEI

Na 10 jaar het die dissipelskapklasse  in Mosambiek versprei oor ‘n afstand van 300km van noord na suid en 300km van oos na wes en kon ons die werk aan ‘n jonger man afgee. Vandag is daar 86 klasse wat dwarsdeur die jaar aan meer as 1000 studente aangebied word en dit deur oudstudente wat die krag van God belewe en die Woord met vertroue en gesag aan andere kan oordra—manne en vroue wat self ook moet stoei om in ‘n arm land ‘n bestaan te maak, maar tog tyd vind om die Koninkryk van God te bou. So het die eerste gemeentes in Bybelse tye ook gegroei.

Daar is vir my ‘n groot ooreenkoms tussen die situasie wat ons in Mosambiek aangetref en dit wat nou in Namibië ontwikkel het: mense op pad na die ewigheid maar wat nie die dienste van ‘n leraar kan bekostig nie en dus langs ‘n ander weg die Woord moet hoor, en gered en geestelik opgebou moet word. Na my mening is daar ‘n goeie kans dat daardie landelike bevolking ook kan baat by dissipelskapklasse gebaseer op weldeurdagte, Bybelgefundeerde studiegidse. Leraars kan hul lidmate dan nog, wanneer moontlik, besoek en insette lewer. In Mosambiek is daar 17 denominasies wat baat vind by die Rivoni dissipelskap bediening. Gemeentes word dus nie uitgeskakel nie maar word eerder onderskraag en gebou.

(Lees meer  omtrent die werk in Mosambiek by www.rivoni.org  en besigtig die Afrikaanse weergawe van die studiegidse wat ons gebruik, op hierdie webwerf waarop u nou is).

‘N EERSTE VRUG

Sal die mense op my boodskap ag gee? Met my besoek aan Karasburg  soek ek toe na ware kinders van God wat ek as ankers vir die uitreik kan gebruik; ‘n vastrapplek in dié vreemde dorpie.  Ek ry oor die werf van ‘n besigheidjie. Dit is so netjies gehark dat ek voel die kar se bande ontheilig dit. Ek praat met die vroutjie agter die toonbank. Nee sy ken nie sulke mense nie en kom vir ‘n paar jaar al nie meer in haar kerk nie, maar sy lees wel haar Bybel; sommer ‘n paar keer elke dag. Ek sien ‘n stapeltjie Nuwe Testamente links van haar op die toonbank lê.

Ek kyk haar lank stip aan en voel die Here sê in my hart ,”Gaan aan.” Ek sê-vra, “So jy ken nie die Here nie, maar wil jy Hom leer ken?” “Baie graag ja, meneer”, antwoord sy. “Dan moet jy in Hom glo,” sê ek, “maar nie sommer so bo-langs nie; jy moet, vas, vas, vas in Hom glo. Jy moet glo Hy is jou Skepper en het daarom die reg op elke flentertjie van jou liggaam en gedagtes en dat Sy  Seun Jesus vir jou sondes betaal het sodat jy vergewe kan word. Wil jy so glo?” “Ja meneer, ek wil.” “Nou bid dan agter my aan.” So bid ek toe en sy bid agterna.

Toe ons klaar is, vertel ek haar van Abraham wat God geglo het toe Hy hom belowe het dat sy nageslag so baie soos die sterre daar bokant hulle koppe in die hemelruim sou wees. Toe glo Abraham die Here en die Here sien hy glo en die Here reken hom die ewige lewe toe, net omdat hy geglo het, want God het gesien Abraham glo met ‘n geloof wat Hom nooit weer sou laat los nie.  “En wat nou van jou?” vra ek haar. Sy kyk my stil in die oë, sonder om weg te kyk en antwoord, “Ek glo nou ook so meneer.” So het die Heer sonder sukkel vir Hom ‘n skaaplam in Karasburg aangekeer.

‘N STEWIGE FONDAMENT

Die Boek Génesis wat ek ten aanvang met belangstellendes wil behandel, is vol van geestelike slote, riviere en berge wat oorgesteek moet word en elkeen verg ‘n besluit , geloof en aksie. Jakob het baie jare lank vasgekleef aan die oneerlike streep in sy lewe voor hy die nag by die Jabbok daarvan bevry is. Ek het lank op Rookspruit se walle, suigende aan my pyp oor die watertjie sit en staar, voor ek my afgod in ‘n bos gegooi, die spruit oorgesteek het anderkant toe en vir 47 jaar aanhou loop het, sonder om terug te draai.

Dit gaan nie net om Bybelstudie nie; ek moet mense deur die Rooi See lei en hulle leer om met God te wandel; so nie kan ek net sowel iemand huur om vir hulle aardrykskunde of koekversiering te gaan aanbied.

PLAN VAN AKSIE

Die eerste stap nou is om steun te werf vir hierdie onderneming want alleen kan ek dit beslis nie aandurf nie.

Om met die motor na ander dorpe te ry, het ‘n mens alreeds weer brandstof nodig. Toe ek dit voor die Here bring, voel ek Hy sê vir my: Moses was slegter af as jy, hy moes te voet na Egipte gaan met net ‘n staf in sy hand. Met daardie staf het hy al die plae oor Egipte gebring, die Rooi see gekloof en water uit ‘n rots laat vloei. Jy het mos nog ‘n ryding, ‘n fiets; gebruik dit!

So haal Hy my toe oor. Binne die volgende paar dae wil ek dan met my bergfiets en ‘n rugsak met net die allernodigste voorrade, vertrek en by Trompsburg, Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein, Jacobsdal, Modderfontein (en dalk Ritchie) en laastens Kimberley aandoen. By elk van dié plekke wil ek kennisgewings oor my voorgenome werk in Namibië uitgee en probeer om elke aand met ‘n klein groepie mense te vergader en hul vrae te beantwoord.

(Ek sal belangstellendes wat op my Whatsapp groep M2819 Ben Lubbe Namibia, ingeteken is, of later inteken, daagliks op die hoogte hou van my vordering.)

Ek sal die Here ook vir verblyf moet vertrou want as ek in gastehuise moet oornag, sal dit oor ‘n periode van 7 tot 10 dae ‘n aardige bedraggie beloop. Soggens wil ek dan graag so teen 6vm weer na die volgende dorpie vertrek.

Nou ja, op 77jarige ouderdom kan dit makliker gesê as gedaan wees, maar miskien sal dit my leer om nie op myself nie, maar op God te vertrou. Jesus het ook maar so van dorp tot dorp deur die land gegaan om die Evangelie te verkondig en dit, nie met ‘n fiets of donkie nie, maar te voet. Soms kon Hy nie eers ‘n plat klip in die hande kry om Sy kop op neer te lê wanneer Hy genoodsaak was om in die veld te slaap nie. Ek meen ek sal myself en Hom so op ‘n nuwe manier leer ken.

Miskien sal die feit dat ek gewillig is om so ‘n bietjie gerief op te offer om my uiteindelike doelwit te kan bereik, andere ook motiveer om op te offer om my hierin te help. Hy het immers aan ‘n kruishout gesterf om aan ons die ewige lewe te kon gee; sal dit dan vir ons te veel wees om so ‘n bietjie in Sy lyding te deel om hierdie wonderlike verlossing weer met andere te kan deel. Daar is duisende in Namibië wat wag dat ons die Kruis Boodskap duidelik en kragtig aan hulle moet bring, sodat hulle ook kan hê wat ons reeds het.

 MY MODUS OPERANDI IN NAMIBIë

Wanneer ek hierdie fietstoer suksesvol voltooi het, vertel ek meer oor my beoogde volgende stappe en hoe ek die werk in Namibië wil benader.

GEBED

Bid asseblief vir my. Die gees is gewillig maar die vlees is swak. Ek sal u deur middel van WhatsApp boodskappe daagliks op die hoogte hou van my vertrek en my vordering van dorp tot dorp.

Bid asb ook vir my dierbare vrou, vir Martie; bid vir gemoedsrus en dat daar geen krisisse sal ontstaan terwyl ek weg is va die huis af nie.

OM MET MY KONTAK TE MAAK

As u vir my op die groep forum ‘n boodskap wil stuur, hou dit asb kort en bondig en beperk tot die onderwerp waarvoor die forum geskep is, sodat ons nie die ander lede van die groep met gedurige nuwe boodskappe belas nie.

Indien u my wil kontak in verband met akkommodasie of vir watter ander rede ookal, gebruik asb eerder my persoonlike selfoonnommer 083 276 1887. Onthou net dat ek meeste van die tyd nie dadelik u oproep sal kan beantwoord nie, omdat ek op die fiets of op ‘n ander wyse besig sal wees..

BYDRAES

Indien u gelei voel om tot my uitgawes by te dra, kan u, u bydrae in die volgende bankrekening inbetaal: ABSA, geen takkode (of 632005 indien ‘n kode vereis word), BJ Lubbe, tjekrek, 1460514009. Sodra ek terug is van my fiets ekskursie, sal ek DV reël vir ‘n afsonderlike bankrekening vir hierdie missie.

Groete,

 

Ben Lubbe