2025-05-23A
A. INSAMELTING VIR DIE CHRISTENE IN JERUSALEM
8:1-9:15
1. Paulus het dit vir ‘n geruime tyd op sy hart gehad om ‘n insameling te hou om die armoede van die Christene in Jerusalem te verlig – hierdie twee hoofstukke handel oor sy voortsetting van hierdie poging.
2. Tydens hul vorige besoek aan die Korintiërs het Titus, op versoek van Paulus maar ook uit eie beweging, hulle aangemoedig om tot hierdie saak by te dra en hulle het baie entoesiasties gereageer en belowe om oorvloedig te gee (8:6,16).
3. Paulus het hieroor by die Masedoniese kerke (Filippi, Tessalonika en Berea) gespog, wat ‘n geweldige ywer in hulle aangewakker het.
a. Eerstens het hulle hulself meer volkome aan die Here gegee (8:5).
b. Toe, alhoewel hulle baie arm was en deur allerhande verdrukkinge gegaan het, het hulle met groot vreugde gereageer en ver bo hul finansiële vermoë bygedra (8:2).
c. Toe Paulus huiwerig was om hulle offergawe te neem, het hulle hom eintlik gesmeek om dit te doen (8:4).
4. Paulus gebruik nou hierdie getuienis, sowel as ander argumente, om die Korintiërs te motiveer om dieselfde te doen en skryf as volg daaroor:
a. Net soos hulle reeds ryk is in geloof, kennis van die Woord, ywer en liefde, laat hulle nou ook hierin ryk wees, naamlik in die gee van gawes (8:7).
b. Dit is ‘n toets of hulle ywer eg is (8:8).
c. Die Here Jesus het hierin die voorbeeld gestel deur die rykdom van die hemel te verlaat en een te word met die geestelik armes hier onder, sodat hulle kan deel in sy hemelse rykdom (8:9).
d. Titus gaan voor hom (Paulus) uit om hierdie saak te reël sodat hulle nie verleë sal wees wanneer hy daar aankom (moontlik vergesel van een of twee Masedoniërs) en vind dat hulle nie gereed is met hulle gawe nie (9:3-5).
e. Indien ‘n gawe haastig bymekaargeskraap word, sal dit nie uit hulle harte kom nie, maar sal dit lyk asof dit op hulle afgedwing is (9:5).
5. In hierdie twee hoofstukke gee Paulus ook ‘n aantal algemene riglyne en aansporings rakende die gee van gawes:
a. Wanneer jy belowe het om te gee, gee dan wat jy belowe het (8:11).
b. As jy spaarsamig in die lewens van andere saai wanneer hulle in nood is, sal hulle spaarsamig in jou lewe saai wanneer jy in nood is (9:6).
c. Gee uit wat jy het (moenie geld leen om te kan gee nie) (8:12).
d. Die gewer moet homself nie verarm om ‘n ander te verryk nie; die idee is om te probeer om mense op ‘n meer gelyke vlak te bring (8:14,15).
e. Elkeen moet self bepaal hoeveel om te gee (9:7). (Hy moet nie onder druk swig of probeer om die gawe van ‘n welgestelde persoon te ewenaar nie.)
f. ‘n Gewer moet nie berou hê oor wat hy gegee het en dit as ‘n verlies sien nie, maar moet bly wees dat hy iemand anders gelukkig kon maak (9:7).
g. God het ‘n blymoedige gewer lief (9:7).
h. Die Here is die bron van beide ons saad en ons oes en Hy kan aanvul wat ons weggegee het (9:8-10).
i. Gee het die glorieryke newe-effekte dat:
i. Dit lei tot ‘n lofoffer aan God deur diegene wat die gawe ontvang.
ii. Dit smee ‘n band van liefde tussen die gewer en die ontvanger en tussen die geeende- en ontvangende gemeente.
6. Paulus spreek ook die aspek van verantwoordelikheid in die hantering van fondse aan:
a. Dit moet hanteer word deur lede wat hulself as getrou bewys het.
b. Die verrekening (boekhouding) van sulke fondse is nie net ‘n saak tussen die bewaarder en God nie, maar daar moet ‘n openheid teenoor die gewers wees sodat hulle (8:18-23) oortuig sal wees dat alles eerlik gedoen word.
c. Wanneer fondse so openlik hanteer word, sal die Here se Naam nie in die gedrang kom deur skinderpraatjies oor oneerlikheid nie.
7. Dan slaan Paulus sy oë op na die hemel en gee aan God die eer vir sy Gawe (van sy Seun) wat groter is as wat in woorde beskryf kan word (9:15).
B. PAULUS VERDEDIG SY APOSTOLIESE GESAG
10:1-18
1. Alhoewel die meeste Korintiërs nou Paulus se gesag aanvaar, was daar steeds diegene wat dit bevraagteken het, daarom moet hy voortgaan om homself te verdedig, alhoewel hy dit onwillig doen, en in die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus. (Soos ‘n vriend teenoor sy vriend sou doen om hul vriendskap te bewaar).
2. Diegene wat hom teëstaan, sê dat:
a. Sy bediening in die vlees is (nie gesalf deur die Gees nie) (10:2).
b. Alhoewel sy briewe gewig dra, hy ‘n swak woordvoerder (spreker) is (in vergelyking met sommige van die Griekse redenaars) (10:10). (Laat ons in gedagte hou dat Moses en Jeremia dit ook moeilik gevind het om te praat, maar tog kragtig deur God gebruik was. Om ‘n welsprekende spreker te wees, is ook nie die hoofvereiste om ‘n sterk leier te wees nie.)
3. Paulus se antwoord op hierdie beskuldigings is:
a. Terwyl hy nog in die liggaam is, is hy net soveel ‘n Christen as wat hulle is (10:7).
b. Hulle moet ook let op die dade (wonderwerke) wat God deur hom verrig wanneer hy by hulle is (10:11).
c. Dat die wapens wat hy gebruik (die Woord, geloof, liefde, gebed, waarheid, Efesiërs 6:13-18) in sy oorlogvoering vir hulle redding, is nie menslike idees nie, maar is van God en is kragtig om (10:4,5):
i. Die duiwel se planne (van teenkanting teen die bou van God se Koninkryk) te vernietig.
ii. Vestings (sterk menslike argumente en leerstellings) neer te werp.
iii. Mure van weerstand (teen die aanvaarding van Jesus as Verlosser – mure van onafhanklikheid en liefde vir die wêreld) af te breek.
iv. Rebelse gedagtes van die mens gevange te neem en te herlei om Christus te gehoorsaam.
d. Dat hierdie valse leraars hulself meet aan hul eie menslike standaarde, wat nie is hoe God hulle sien nie; hulle behoort hul lewens aan God se standaarde te meet (10:12,17,18).
e. Hy nie met ‘n gemeente praat wat deur iemand anders gestig is nie, maar met een wat hy en sy medewerkers tot stand gebring het (10:13-15).
f. Sodra hulle behoorlik in Christus gevestig is, sal hy hul gemeente as ‘n basis gebruik om dieper landinwaarts te reis en meer gemeentes te stig. (10:16)
C. PAULUS KONTRASTEER HOMSELF MET DIE VALSE APOSTELS
11:1-33
1. Hy herhaal dat dit dwaasheid is om jouself te verdedig in plaas daarvan om Christus te verkondig, maar dat hy geen ander keuse het as om met hierdie dwaasheid voort te gaan nie, want hy is jaloers op hulle toewyding aan die waarheid en daar is geen ander manier om dit te bereik as om homself te kontrasteer met daardie leraars wat hy nou openlik daarvan beskuldig dat hulle valse apostels, bedrieglike werkers, is (11:1).
2. Aangaande sy eie bediening:
a. Hy is jaloers op hulle liefde en toewyding, nie vir en aan homself nie, maar teenoor Christus (11:2).
b. Toe hy hulle die eerste keer aan Christus voorgestel het, het hy eenkant gestaan sodat hulle, afkomstig uit die heidendom, hulle heel eerste vertroue (trou), hulle heel eerste geestelike liefde aan Christus self kon gee soos ‘n maagd haarself vir die eerste keer aan haar bruidegom gee (11:2).
c. Alhoewel hy dalk nie so ‘n kragtige spreker was nie, het dit hom nie aan kennis ontbreek nie (11:6).
d. Hy het geen geld van hulle geneem nie, maar fondse gebruik wat deur ander gemeentes voorsien was om hulle nie te belas nie – het hy dalk hierin verkeerd gedoen; om vir hulle die Evangelie te bring sonder om hulle iets daarvoor te vra (11:7-9)?
3. As die Korintiërs werklik so wys was soos hulle hulself beskou het:
a. Waarom aanvaar hulle predikers wat (11:20):
i. Opgeblase is van trots en oor hulle heers?
ii. Slawe van hulle maak (allerhande harde arbeid, wette en beperkinge op hulle lê)?
iii. Hulle verslind (eis dat hulle, hul groot bedrae vir hulle bediening betaal)?
iv. Hulle beetpak (soos om hulle aan die skouers te gryp, hulle te skud en op hulle te skree; ‘n Evangelie sonder genade verkondig wat hulle in voortdurende vrees en bewing hou)?
v. hulle in die gesig slaan (skande op hulle hoop sonder die uitweg van vergifnis en genade)?
b. Waarom aanvaar hulle so geredelik (11:4):
i. ‘n Ander Jesus (’n leer en persoonlike voorbeeld wat nie die karakter van Christus verheerlik of weerspieël nie)?
ii. ‘n Bediening in ’n ander gees (arrogansie en trots).
iii. ’n Vreemde Evangelie (Wat nie in lyn is met die leer van Christus nie)?
c. Sou hulle glo dat so ‘n arrogante bediening van ‘n liefdevolle God afkomstig was?
d. Sou hulle hierdie leraars nie as valse apostels herken het nie, dienaars van die duiwel, wat hulself as God se engele van die lig voordoen (wat nie vreemd is nie want die duiwel is verseker daartoe in staat). (Maar hulle sal mettertyd ontmasker word want hulle werke sal openbaar dat hulle dienaars van die duiwel is.) (11:13,14).
4. Verder vrees Paulus dat, soos Eva deur die duiwel in die Tuin van Eden mislei was om sy lasterlike woorde van beskuldiging teen God te glo, hulle ook deur die valse apostels mislei is tot die punt waar hulle in gevaar staan om hul oorgawe aan Christus te verloor (11:3).
5. Laat hulle eerder op sy eie bediening let en sien hoe dit kontrasteer met dié van hierdie valse leeraars:
a. Soos reeds uitgewys, alhoewel hy dalk nie so ‘n groot spreker was, het dit hom nie aan kennis ontbreek nie (11:6).
b. Verder, soos vermeld, het hy glad nie geld van hulle geneem nie, maar fondse gebruik wat deur ander gemeentes voorsien was om hulle nie te belas nie – het hy dalk verkeerd gedoen deur dit te doen; om hulle die Evangelie te bring sonder om hulle iets daarvoor te vra; was dit geestelike swakheid (11:8,9)?
c. Wat die dinge betref waarmee die valse leraars spog en as geloofsbriewe voorhou, kan hy hulle maklik ewenaar, want hy is ook ‘n Hebreër, ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham en ‘n dienaar van Christus (11:22,23).
d. Maar kan hulle hom ewenaar in die volgende voorbeelde van opoffering en verduur van pynlike omstandighede ter wille van Christus (11:22-29)?:
i. Oorvloedige diens?
ii. Verduring van pyn wanneer hy bo die maat geslaan (aangerand) was vir die Evangelie?
iii. Uitdien van onregverdige tronkstraf?
iv. Dikwelse vrees vir die dood?
v. Geseling deur die Jode (39 houe by elk van vyf geleenthede)?
vi. Deur die verduring van die pyn toe hy met stokke op die ruggraat geslaan was – tewens by drie geleenthede?
vii. Die trauma van gestenig te word?
viii. Die ly van skipbreuk, drie maal; waartydens hy per geleentheid vir ‘n dag en ‘n nag op die oop see rondgedryf het?
ix. Die ontbering van dikwels op reis te moes gaan ter wille van die uitdra van die Evangelie?
x. Trotsering van gevaar om te verdrink wanneer hy vol riviere moes oorsteek?
xi. Verduring van die gevaar van Christus vyandige familielede?
xii. In gevaar te verkeer deur die bedreiging van die heidene?
xiii. In gevaar in die stad, in die woestyn, op die see, van diegene wat voorgee dat hulle sy broers in die Here was?
xiv. In harde arbeid?
xv. In slapelose nagte – dikwels?
xvi. In honger en dors; dikwels sonder maaltye?
xvii. Deur koue en selfs naaktheid te moes verduur?
xviii. Deur arrestasie te moes ontkom deur, deur ‘n venster in die muur van Damaskus neergelaat te word?
xix. Om een struikelblok na die ander te oorkom?
xx. Boonop, sy intensiewe sorg vir al die gemeentes wat hy gestig het?
6. Paulus sou dus, wanneer dit kom by die spog of die aanbieding van sy geloofsbriewe:
a. Nie spog oor hoe groot hy was, hoe ‘n goeie spreker, of uit watter uitnemende stamboom hy was nie.
b. Hy sou eerder spog en as bewyse voorlê hoe klein hy moes word, hoeveel hy moes opoffer, hoeveel hy moes ly en hoe swak hy was in die loop van sy bediening: dit is die bewysstukke van ‘n ware dienaar van God.
D. PAULUS SE HEMELSE VISIOEN EN DORING IN DIE VLEES
12:1-12
Ter afsluiting van die bewys van sy apostelskap, noem hy ‘n buitengewone ervaring wat hy gehad het en die uitwerking daarvan op sy bediening:
1. Hy was naamlik weggeruk na die derde hemel (bo die atmosfeer, bo die sterrehemel, na die Paradys, die woonplek van God).
2. Hy kan nie sê of hy in liggaam en gees, of bloot in die gees weggeneem was nie.
3. Daar het hy dinge gehoor wat nie in menslike taal beskryf kan word nie, en selfs al kon dit, was hy nie toegelaat om enigiets daaroor te sê nie.
4. Dít is nou iets waaroor ‘n persoon sou kon spog, maar hy sal dit nie doen nie want dit het nie gebeur as gevolg van sy eie bonatuurlike krag waarvoor hy verheerlik moes word (krediet of erkenning moes kry) nie; dit was ‘n daad van God (nie syne nie).
5. Trouens, die Here self het gesorg dat hy nie in die versoeking sou kom om homself daaroor te verhef nie:
a. Hy het hom naamlik ‘n doring in sy vlees gegee.
b. Hierdie doring was ‘n engel van satan wat hom voortdurend (met die vuis) geslaan het.
c. Dit mergel sy krag uit.
d. (Wat hierdie kastyding was, kan ons maar net raai wat ons nie nader aan ‘n antwoord bring nie. Laat ons dus maar net herhaal wat Paulus gesê het, naamlik dat dit ‘n hewige demoniese pyniging was wat ook fisiese pyn veroorsaak het soos wanneer ‘n doring in ‘n mens se vlees insteek en daarin afbreek.)
e. Drie keer het hy in gebed tot God geroep om hierdie engel van satan te laat wyk.
f. Die Heer se antwoord hierop was dat Hy hom deur sy genade sou versterk (bemagtig, in stand hou) om daarmee saam te kon leef.
g. Deur hom op hierdie wyse swak en heeltemal afhanklik van God te stel, sou Hy hom nederig hou.
h. (En) Wanneer hy nederig is, is hy ‘n oop kanaal vir God se krag om ongehinderd deur hom te vloei.
6. Paulus sou dus oor sy swakhede spog, want sy talle swakhede was die rede waarom God hom magtiglik kon gebruik en nie die roem in die opwindende visie wat hy gehad het nie (12:10).
7. Daarom kla hy nie hieroor nie, maar koester hy eerder sulke mishandeling, vervolging, vrese en beledigings wat deur God toegelaat word, want dit maak dat hy swak is, waardeur God se krag deur hom vrygestel word.
8. Hierin is die geestelike paradoks: “Wanneer ek op my swakste is, is ek op my sterkste,” (12:10).
9. Hierdie krag van God wat deur hom vloei, het gelei tot baie tekens en wonderwerke wat God se wyse is om die egtheid van sy apostelskapbediening te bewys (12:11).
E. PAULUS SE LAASTE WAARSKUWING EN ADVIES
12:14-13:13
Hy was nou op die punt om hulle vir die derde keer te besoek en wou dus hê dat hulle van die volgende kennis neem:
1. Tydens sy vorige besoeke het nóg hy nóg sy medewerkers hulle belas met, of bedien ter wille van materiële gewin, want soos ‘n vader vir sy kinders moet sorg, sou hy liewer vir hulle sorg as dat hulle vir hom sorg (12:14).
2. Dit is ook die basis waarop hy tydens sy komende besoek te werk sou gaan (12:14 ).
3. Hy sou liewer aan hulle gee as om van hulle te ontvang; ja, hy sou homself met graagte aan hulle gee by wyse van oorvloedige liefde, al sou hulle hom nie terug liefhê (sy liefde beantwoord) nie (12:15).
4. Wat hy van hulle wil hê, is nie hulle materiële besittings nie, maar hulle lewens, en dit vir Christus (12:14).
5. Hy sê dit uit vrees om weer eens verneder te word deur hulle in ‘n toestand van onberouvolle sonde te vind; sonde soos rusie, jaloesie, woede, selfsug, laster, skinder, arrogansie en ander wanordelike gedrag of selfs seksuele immoraliteit en losbandigheid (12:20).
6. Deur vir die derde keer daarheen te kom, sal hy drie maal dieselfde dinge vir hulle sê, waardeur hy hulle geensins in twyfel (in die duister) oor God se wil sal laat nie (13:1; Deut 19:15).
7. As hulle wil hê dat God reguit en sonder omhaal van woorde tot hulle moet spreek, laat dit dan so wees (13:2,3).
8. Ja, met sy eerste koms is Christus in swakheid gekruisig, maar Hy het weer opgestaan en leef nou in Goddelike krag (13:4).
9. Net so het hy en sy medewerkers tydens hul vorige besoeke in sagtheid en swakheid gekom (13:4).
10. Hierdie keer sal hulle in krag kom en niemand spaar nie (13:4).
11. Soos wat hulle (Paulus en sy medewerkers) deel in Christus se aanvanklike swakheid; deel hulle ook in sy huidige krag, wat hulle tot voordeel van hulle (die gemeente van Korinte) aanwend (13:4).
12. Daarom moet hulle hulself weer eens noukeurig ondersoek om te sien of hulle geloof in Christus eg is en ware verlossing in hulle bewerk het; of Christus inderdaad in hulle woon en of hulle nie nog steeds as verlorenes in sonde leef nie (13:5).
13. Wat betref die gesag wat die Here (aan die leierskap) gee, dit is vir die opbou van God se volk en nie om hulle af te breek nie; bedienaars moet dus versigtig wees waarin, en hoe hulle, hul kuddes bedien (13:10):
a. (Oormatige teregwysing kan ontmoediging tot gevolg hê (‘n persoon se moed om in geloof te volhard, breek) .)
b. (’n Ligsinnige, oppervlakkige bediening kan weer daartoe lei dat die gemeente geen respek vir God het nie en ’n traak-my-nie-agtige, losbandige leefstyl handhaaf waarin allerhande sondes maar aanvaar word.)
c. (Dan is daar ook die ongebalanseerde bediening wat sekere leerstellings oorbeklemtoon en ander marginaliseer, of nooit daaroor praat nie, wat sal lei tot ’n ongebalanseerde kudde. Indien ons bediening, prediking of lering van die Skrif insluit, mag dit raadsaam wees om om by geleentheid ‘n lys van al die belangriker onderwerpe van die Woord vlugtig na te gaan en te bepaal of my vliegtuig se linkervlerk dalk baie groter is as die regter met die gevolg dat my lering al in ‘n regse of aweregse rigting neig.)
d. Ons moet voortdurend van die Heilige Gees hoor, want Hy is die Een wat God’s kinders moet vorm na die beeld van Christus. (Ons wil nie misvormde Christene hê met dubbelgrootte koppe, oë en ore en halfgrootte arms, bene, hande en voete (geestelik gesproke) nie.
14. Hier is ‘n paar deugde wat Paulus ons aanraai om te kweek (13:11):
a. Verbly julle – altyd. (Die duiwel vind dit baie moeilik om ‘n vreugdevolle Christen op ‘n dwaalspoor te lei, want so iemand is gelukkig met wat hy het, maar ‘n nors ongelukkige is ‘n maklike prooi, want so iemand soek rond na iets om hom gelukkig te maak.)
b. Word volmaak. (Soos Jesus volmaak is; hou jou oë op Hom en nie op jou onvolmaakte man of vrou nie).
c. Wees leerbaar. (Soos ‘n student op skool; anders sal jy nooit leer om soos Jesus te wandel nie en jou mede-Christene sal jou agterlaat.)
d. Werk en bid vir eenheid in die gemeente. (Eenheid kom deur lidmate wat die nederige gesindheid van Christus het).
e. Wees manne en vroue van vrede. (Dan sal die God van vrede jou naaste (boesem) vriend wees.)
f. Groet mekaar met ‘n heilige kus (13:12).
i. (Sommige mense voel ongeliefd en onseker, want hulle ontvang nie liefde in hul huise nie. Vir hulle beteken dit baie om net deur die hand van iemand anders aangeraak te word. Daarom moet daar fisiese kontak tussen gelowiges wees. Jesus het die man met die melaatsheid nie net genees nie, maar hom eerstens ook aangeraak).
ii. (Dit is dus nie voldoende om iemand net op ‘n afstand ‘n groet toe te roep of met die hand vir hom te wuif nie.)
iii. ‘n Heilige kus is nie die passievolle soen waarmee ‘n liefdevolle man sy vrou soen nie. Die soen moet nie vleeslike passie aanwakker tussen die twee wat soen nie. (Tussen Christenbroers en -susters is ‘n drukkie dalk beter om die duiwel nie die geleentheid te gee om goeie bedoelings slegte vrugte te laat dra nie.)
iv. Dit moet die liefde van Christus oordra, dus moet dit uit die Gees vloei.
v. (Om die verspreiding van siektes te voorkom, is dit dalk beter om mekaar op die wange te soen.)
15. Ten slotte spreek Paulus oor hulle die seën van al drie Persone in die Godheid uit (13:13):
a. Die liefde van die Vader. (Wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy geliefde Seun gegee het om daarvoor geoffer te word.)
b. Die genade van die Seun. (Wat in staat is om genade aan sondaars te skenk omdat Hy die straf vir hulle sonde gedra het.)
c. Die gemeenskap van die Heilige Gees. (Wat uit die hemel gestuur is om binne-in die gelowige te woon; in sy hart).
16. Hierdie brief openbaar aan ons Paulus se geweldige toewyding aan die bediening waartoe die Here hom geroep het, en veral sy liefde en sorg vir die gemeentes wat die Here hom gehelp het om te stig. Hy veg vir hulle soos ‘n moeder veg vir haar klein babatjie wat deur ‘n slang bedreig word. Sy is bereid om haar waardigheid en selfs haar lewe te verloor om hom te red. Wat ‘n uitdaging vir elke herder wat hierdie kragtige Skrifgedeelte lees wat tot ons voordeel bewaar is!
///////////