2025-07-13A
A. INLEIDING
Hooftema: God se ewige plan vir hierdie heelal: eenheid in denke en wandel.
Datum geskryf: 60-62 n.C.
Outeur: Paul
Plek: Romeinse tronk
Rolverdeling:
- Paulus het hierdie gemeente meer as drie jaar lank persoonlik bearby en het gevolglik ‘n hegte band met hulle gehad.
- Dit wil voorkom asof die brief nie uitsluitlik vir die gemeente in Éfese bedoel was nie, maar eerder as ‘n omsendbrief aan kerke in daardie gebied. (In sommige van die vroeëre manuskripte verskyn die woorde “in Éfese” nie, ens.)
- Dit is nie geskryf om dwaallering of afwykende gedrag aan te spreek nie, maar eerder om die lesers na hoër grond te lei rakende:
- Insig in God se ewige voorneme met die skepping (hoofstukke 1-3).
- Hul wandel in Christus (hoofstukke 4-6).
- Paulus gebruik verskeie beelde om die eenheid van God se mense in Christus te illustreer:
- Die Kerk is soos ‘n gebou waarvan Christus die hoeksteen is.
- Dit is ook soos ‘n liggaam waarvan Christus die hoof is.
- Verder is dit soos ‘n huwelik waar Christus die man is en die Kerk die vrou.
- Sommige geleerdes meen dat hierdie brief ‘n dieper openbaring van die Christelike leer as selfs die boek Romeine bevat.
B. PAULUS GROET DIE GEMEENTE
1:1, 2
- Soos reeds vermeld, bevat sommige van die vroeëre manuskripte nie die woord “Éfese” nie.
- Hy meld:
- Dat hy, Paulus, die skrywer is.
- Dat hy ‘n apostel is.
- Dat hy hierdie apostelskap ontvang het omdat dit God se wil was (Hy dit so wou hê).
- Hy spreek hulle aan as “Gelowiges” en “Heiliges”.
- Hoe vertroostend om te weet dat God ons as “Heiliges” sien. Dit is natuurlik wat ons in Christus is.
- Soos in bykans al sy ander briewe, spreek Paulus ‘n seën oor sy lesers uit, voordat hy sy lering aan hulle oordra.
C. GOD SE PLAN VIR SY SKEPPING
1:3-14
- Aangaande God se plan vir die heelal en veral vir die mensdom:
- Hy het die beplanning daarvan gefinaliseer nog lank voordat Hy enigiets geskep het (1:4,5).
- Hy het dit uit eie vrye wil gedoen en nie omdat daar enige druk op hom was nie (1:5,11).
- Hy was diep tevrede en verheug daaroor (1:5,6).
- Dit demonstreer sy vindingrykheid en sy oorvloedige genade (1:6,7).
- Dit is ‘n verborge misterie wat Hy op sy eie tyd en volgens sy eie welbehae openbaar (1:9).
- Dit het as einddoel om alle dinge, in die hemel en op die aarde, onder Jesus Christus as Hoof te verenig (1:10,22).
- Aangaande die seëninge wat die mens daardeur sal toeval:
- Hy sal volkome verlos (vrygemaak) word van die regverdige oordeel wat oor hom sou kom as gevolg van sy misdade (1:7,8).
- Hy sal in die familie van God gebore en sodoende deur God as kind aanvaar word (1:5).
- Hy sal al die seëninge van God in die vorm van ‘n erfenis ontvang (1:18).
- Hy sal elke druppel seën ontvang wat in die hemel beskikbaar is (1:3).
- Hy sal onberispelik in heiligheid wees; sonder enige gebrek of tekortkoming (1:4,23).
- Sodra hy hierdie ooreenkoms aanvaar, sal hy versekering ontvang dat die ooreenkoms deur God beklink is, deur die Heilige Gees wat in sy lewe sal inkom en beheer daaroor sal neem (1:13,14).
- Wat die basis betref waarop hierdie plan berus:
- Dit is gebaseer op die uitnemende oorvloed van God se genade (1:7).
- Dit word teweeggebring deur die offerdood en opstanding van sy geliefde Seun, Jesus (1:7).
- Aangaande die uitkoms van hierdie plan: dit sal oorweldigende eer en lof aan God se Naam toebring (1:12).
D. PAULUS SE GEBED VIR DIE VERVULLING VAN GOD SE PLAN
1:15-23
Gebed is die sakmes wat God gebruik om die seëls van sy geheime plan te breek ten einde hulle in werking te stel; dit is so deur Hom verorden. Daarom gaan Paulus, toe hy te hore kom van die ontvouing van God se plan in die lewens van sy lesers, onmiddellik op sy knieë en laat die Heilige Gees sy hart vul met gebed wat sou lei tot die breek van elke daaropvolgende seël, sodat hulle elke seëning kon ontvang wat God vir hulle in gedagte (vooruitsig) gehad het.
Hy bid vervolgens tot God vir die lesers en dank hom terselfdertyd:
- Dat hulle die enorme grootsheid (omvang) van Sy se plan vir hulle lewens, duidelik sal kan insien (1:17,18).
- Dat dit ‘n vonk van hoop vir hul eie toekoms in hulle mag laat ontvlam (1:18).
- Dat hulle ‘n begrip sal kan vorm van hoe geweldig ryk hulle geword het as gevolg van wat hulle van Christus geërf het (1:18).
- Dat hulle ‘n idee kan vorm van God se enorme krag wat nou in hulle werk en wat Sy volmaakte, voorafbepaalde plan in hulle sal vervul. Hierdie is in der waarheid dieselfde krag waardeur Hy (1:19-23):
- Christus uit die dood opgewek het.
- Hom verhef het bo alle gesag, mag en heerskappy en elke naam wat genoem word, beide in hierdie, en in die toekomstige wêreld.
- Alle dinge onder sy voete onderwerp het.
- Hom aan sy regterhand in die hemel laat sit het.
- Hom as Hoof oor alle dinge aangestel het.
- Hom gegee het as Hoof van sy liggaam, wat die gemeente van die heiliges is.
- Hom gegee het om sy plan in sy liggaam te vervul.
E. VAN DOOD TOT LEWE
2:1-3
Nadat hy vir hul geestelike verligting (sig) gebid het, hervat Paulus nou sy onderrig en wel oor die volgende onderwerpe):
- Die toestand waarin God die mensdom gevind het.
- God het na hulle (ook die gemeemte) gekom terwyl hulle in ‘n toestand van geestelike dood was (2:1).
- ‘n Dooie liggaam is salig onbewus van al die aktiwiteit wat rondom hom plaasvind; net so is ‘n persoon in ‘n toestand van geestelike dood onbewus van, en reageer hy nie, op die lewe van God wat deur die heelal pulseer nie.
- Dit is in ‘n proses van verval (verrotting) wat veroorsaak dat dit al hoe verder van God af wegdryf en daar is geen middel hoegenaamd aan die mens bekend waardeur dit tot geestelike lewe teruggebring kan word nie.
- Dit gee ‘n slegte reuk af wat erg afstootlik is vir die geestelik lewendes en soveel meer, vir die God van lewe.
- Die oorsaak en gevolg van hul dood:
- Hulle het gewandel op die weg van die mensdom, die hoofpad van hierdie wêreld (2:2).
- Hul voetstappe was gerig deur die monarg van die bose magte (geeste) wat in die lug rondom hulle woon (2:2).
- Hulle was beheer deur die gees (houding, gesindheid) van ongehoorsaamheid (aan God) wat steeds werksaam is en kinders baar wie se hoofkenmerk rebellie teen God is (2:2).
- Hulle het, uit eie keuse, sondes, beide gruwelik en minder ernstig, teen God gepleeg (2:2).
- Almal wat nou gered is, het voorheen op hierdie hoofweg gewandel, meegesleur deur die kragtige begeertes van hulle vlees (sondige natuur) (2:2).
- Toe hulle die heel eerste tree op hierdie pad gegee het, het God hulle onmiddellik verlaat en toe sy lewe (sy manier van dink en wandel) hulle verlaat het, het die dood ingetree – sonde was die siekte wat die mens gedood en die aarde met lyke bedek het (2:1).
- Hulle het geword soos kinders wat die huis van hulle vader in oneer gebring het deur die totale verdorwenheid van hulle karakters en oor wie sy toorn uitgestort sou word (2:3).
2:4-9
God se optrede in hierdie dooie wêreld: Dit was hierdie wêreld van lyke dat God betree het, waar Hy Sy voet geplaas en sy werk begin het:
- Hy het dit gedoen vanweë sy groot medelye en liefde vir ons, selfs in die toestand waarin ons was (2:1).
- Wat Hy gedoen het, was aan niks anders as genade toe te skryf nie, want ons het sy barmhartigheid nie verdien nie (2:1).
- So, wat Hy gedoen het, was om ons as in Christus te beskou (nie fisies of geestelik nie, maar wetlik) toe Hy uit die graf opgestaan het (2:5).
- In eenheid met Christus het Hy ons in Hom verhoog en in Hom in die hemele laat sit (2:6).
- Hy het dit gedoen sodat Hy deur al die eeue wat kom, ons met al die rykdom van sy genade kan oorlaai soos Hy dit op Christus uitstort, in wie ons is (2:7).
- Sy genade is die kern van ons verlossing, want selfs die geloof wat ons beoefen het toe ons sy aanbod van verlossing aanvaar het, was ‘n geskenk wat ons van God ontvang het (2:8).
- Ons opstanding tot die lewe was nie deur ons eie pogings nie, sodat ons nie daarop kan roem nie (2:9).
- Nou is ons geestelike wesens wat deur God van binne deur Christus geskep (herskep) is (2:6).
- Ons is so geskape sodat ons in goeie werke kan wandel wat God vir elkeen van ons beplan het, selfs voor die skepping van die aarde (2:10).
F. HEIDEN EN JOOD, EEN IN CHRISTUS
2:11-22
Paulus verlig hulle denke verder deur te wys hoe, in Christus, die geestelike vyandskap wat tussen nie-Jood en Jood bestaan het, uitgewis is en die twee volke in een enkele liggaam van gelowiges saangesmee is.
- Die vorige staat van die heidene:
- Hulle was ver van God af, (2:13).
- Hulle was vreemdelinge wat geen deel gehad het aan die burgerskap van God se Koninkryk nie (2:12).
- Hulle was vreemdelinge met betrekking tot die verbonde (beloftes) van God met sy volk (2:12,19).
- Hulle het nie God se verbondsteken, die besnydenis van die vlees, in hulle liggame gedra nie (2:11).
- Hulle was sonder hoop (2:12).
- Hulle was sonder God (2:12).
- Hulle het op aarde as plakkers geleef wat geen regte gehad het nie, maar bloot deur God geduld was (2:12).
- Tussen hulle en die Jode was daar ‘n skeidsmuur wat hulle uitmekaar gehou het (2:14).
- Die voormalige staat van die Jode:
- Hulle was nader aan God aangesien:
- Hulle bewaarders van sy geskrewe wette (Woord) was (2:12).
- Hulle ingesluit was in sy verbond (die aanbod wat Hy aan hulle voorvader, Abraham, gemaak het om hulle God te wees) (2:12).
- Hul mans God se verbondsteken, die besnydenis van die vlees, in hul liggame gedra het (2:11).
- Hulle was egter nie een met God nie:
- Omdat hulle nie sy gebooie kon onderhou nie.
- Dit tot vyandskap tussen hulle en God gelei het.
- Hul geestelike voordele bo die heidene (sien 1. hierbo) hulle trots gemaak en tot vyandskap gelei het.
- Hulle was nader aan God aangesien:
- Ons kyk nou na Christus se versoeningsdaad. Sy sterwe aan die kruis waartydens Hy die mens in sy eie liggaam meegeneem het, het tot gevolg gehad dat die mens ook daarna in Hom uit die graf te voorskyn kon kom, vry van skuld en innerlik herskep tot ‘n nuwe skepsel. Dit het die volgende gevolge vir beide die Jode en heidene gehad:
- Hy het die heidene wat ver van hom af was tot digby homself getrek (2:13).
- Hy het alle vyandskap uitgewis en vrede gebring tussen God en die mens en tussen Jode en heidene (dié wat in Hom glo) (2:14,15).
- Die vyandskap wat die Jode teenoor Hom ervaar het, het verdwyn die oomblik toe Hy elke jota van die vereistes van die Wet namens hulle nagekom het (2:16).
- Hy het Jood en nie-Jood verenig in een enkele liggaam van gelowiges (2:14,15).
- Sy boodskap en aanbod van verlossing, wat die Evangelie van vrede is, is een en dieselfde vir Jood en nie-Jood (2:17).
- Beide volke het nou gelyke toegang tot die Vader deur een Gees (Sy Heilige Gees) (2:18).
- Die gelowige heidene (in Christus) is nie meer vreemdelinge en plakkers op God se aarde nie, maar burgers saam met al die heiliges en lede van die huisgesin van God (God se kinders en Christus se broers en susters) (2:19).
- Terwyl die huis van Israel slegs vir die Jode was, is hierdie nuwe huis wat God bou vir die hele mensdom, gebou op die fondamente wat deur die apostels en profete gelê is, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (die lid wat alles bymekaar hou) (2:20).
- Die stene van hierdie gebou is baie stewig aan mekaar vasgemessel (2:21).
- Die gebou verrys in hierdie wêreld as ‘n pragtige tempel (’n huis waarin God saam met sy mense woon) (2:21).
- Nie net rys die huis al hoe hoër op nie, maar elke steen (gelowige) vergroot soos wat hy of sy in begrip en heiligheid groei (2:21).
- Dit is die Joods-heidense huis waarin God nou deur sy Gees woon (2:22).
///////////
NA INDEKS NA VOLGENDE HOOFSTUK