2025-09-05A
EK GAAN NET EENMAAL DEUR HIERDIE LEWE; HOE KAN EK DIE MEESTE DAARVAN MAAK?
As dit jou vraag is; hier het jy die antwoord by monde van die wysste man wat ooit geleef het en koning was van die die mees geseënde volk op aarde. Toe hy die troon die eerste dag bestyg, sê die Skepper van hemel en aarde vir hom hy kan kies net wat hy wil hê en hy sal dit vir hom gee. Hy kies toe wysheid en daar en dan kry hy dit -in so ‘n oormaat dat konings en koninginne van oor die wye wêreld oopmond kom kyk, en luister, hoe hy regeer. Al daardie wysheid, en baie meer, het hy vir ons in hierdie boek by wyse van ongeveer 900 spreuke opgeteken sodat ons nie tyd hoof te verspil deur uit ons foute te moet leer nie.
Spreuke is ‘n slim manier om kennis oor te dra want dit is kort en bondig, gryp jou aandag en maak nes in jou geheue. Ons hou van spreuke; ons taal en kultuur is vol daarvan, byvoorbeeld:
- ‘n Donkie stamp nie sy voet tweemaal teen dieselfde klip nie.
- Hoe kaler jonker, hoe groter pronker.
- Vluks by die bak, lui by die vak.
- Laaste lag die lekkerste.
Ons dieper denkende staatsmanne en ander leiers het ook hul lewenswyshede vir ons in klein happies nagelaat, bv.:
- “Ek het meer geleer uit my foute as deur wat ek reg gedoen het en daardeur gevorder na wat ek nou is.”
- “Om te weet of jy ‘n leier is, kyk net om of andere jou volg.”
- “As jy van sonde verlos wil word, maak dit jou vyand want die Here verlos jou tog nié van jou vriende nie.”
Sulke bondige sêgoed is die taal van die Groottes en dit is Salomo, die wysste onder die wysses se skryftaal in die Boek Spreuke. Die belangrikste van hulle almal, is die volgende een:
Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. (1:7).
Voordat ons aanstryk en die individuele wyshede van nader bekyk, laat sweef tog net eers jou gedagtes oor al die Bybelboeke, van Genesis tot Openbaring en let op hoe die Grotere Salomo die mensdom met ‘n verskeidenheid van skryfwyses bedien om elke leser se smaak te bevredig en die aandag op Hom as die allergrootste Skrywer te vestig. Deur sy hartskneg, Dawid, skryf Hy byvoorbeeld in Psalm formaat wat die taal van die hart is, die sagte woorde van die Goeie Herder wat sy skape na rustige waters en groen weivelde lei en deur die intellektuele reus, Paulus, spreek Hy diep, diep teologies, tegniese gedagtes uit in Romeine, Efésiërs en Hebreërs. In Eségiël en Openbaring weer, teken Hy eienaardige woordprente en glimlag vanuit die hemele wanneer ons daaroor kopkrap tot die rook draai.
VREDE EN VREUGDE EN GENIET KONING SALOMO SE WYSHEDE.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS