2024-07-04
A. REDDING DEUR DIE WET IS SO MOEILIK – REDDING DEUR GELOOF SO MAKLIK (10:5-13).
Christus se kruisdood het dit eens en vir altyd baie duidelik gemaak dat die mens moet ophou om in die regte verhouding met God te probeer kom deur sy wette te onderhou, maar bloot op die Seun van God moet vertrou vir genade en vergifnis.
God se Wet, wat deur sy kneg Moses aan Israel oorgedra is, bepaal: “Hy wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.” Die geregtigheid (regte stand tot God) wat deur geloof kom, bepaal egter:
• Moenie redding vir jouself moeilik maak deur te beplan vir iemand om die hele pad hemel toe reis om Christus na jou af te bring of om te reël dat iemand na die hel toe afdaal om Christus na jou op te bring sodat jy gered kan word nie: nee, verlossing verg nie een of ander werk van jou kant af nie, dit is sommer net daar by jou:
• Dit is in jou hart en in jou mond, want as jy met jou hart glo dat Jesus uit die graf opgewek is sodat jy as een van God se eie aangeneem kan word, en met jou mond bely dat Jesus nou die Here van jou lewe is, sal jy gered word (10:9,10).
• Niemand wat op hierdie manier sy vertroue in God stel, sal ooit beskaamd staan deur nie deur God aanvaar te word nie.
• Die Here bied Homself aan, aan beide Jood en nie-Jood en sal een en elk wat sy Naam aanroep, red en ryklik seën.
B. DIE NOODSAAKLIKHEID EN HEERLIKHEID OM HIERDIE EVANGELIE TE VERKONDIG (10:14,15).
In die lig van wat pas gesê is, wys Paulus nou daarop dat hierdie Evangelie so ‘n wonderlike aanbod aan die mensdom is, dat een en almal daarvan te hore moet kom:
• Persone moet deur God geroep en uitgestuur word om die Evangelie aan die mensdom te verkondig.
• Wanneer hulle dit dan gehoor en oorweeg het, is dit vir elkeen om self sy vertroue in Christus te stel en gered te word.
• Hierdie daad om uit te gaan en die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig, is ‘n verhewe taak. Dis is so verhewe dat selfs die stowwerige voete van hulle wat berge oorsteek om by die mense aan die ander kant daarmee uit te kom, as lieflik gesien word omdat hulle draers is van so ‘n wonderlike boodskap (tyding).
C. DIE UITWERKING VAN DIE GOEIE NUUS VAN VERLOSSING OP ISRAEL (10:16-21).
Paulus betreur egter weer Israel se verwerping van God se Goeie Nuus en sê:
• Het hulle nie hierdie goeie boodskap gehoor nie? Nee, hulle het beslis gehoor want selfs die Psalmis sê dat die stemme van die predikers oor die hele aarde uitgegaan het en hulle woorde tot aan die eindes van die wêreld (Die mondelinge verkondiging van die Evangelie was net so wyd hoorbaar as wat die heerlikheid van God in die natuur sigbaar was – Psalm 19:4).
• Selfs vroeër het die profeet Jesaja Israel se hardheid van hart betreur en gesê: “Here, wie het ons boodskap geglo?” (Jesaja 53:1).
• Die tweede vraag wat by Paulus opkom is of Israel dan nie verstaan het nie? Die antwoord is, nie werklik nie en hulle gebrek aan begrip was te wyte aan die feit dat hulle ‘n ongehoorsame en hardnekkige volk was wie se begrip van geestelike konsepte afgestomp geraak het (Jes. 65:2).
• Jesaja beskryf ook hoe God weggedraai het van Israel af en Homself aan die heidene geopenbaar het, wat nie eintlik na Hom gevra het nie. Hy het gehoop om Israel daardeur jaloers te maak en op dié manier na Hom te trek.
D. DIE OORBLYFSEL TEENOOR DIE GROOTSTE GEDEELTE VAN ISRAEL (11:1-10).
Die vraag ontstaan of dit dan nou finaal en al verby is vir Israel as die volk van God. Hierop antwoord Paulus met ‘n baie besliste “Nee”, en gee die volgende redes as bewys:
• Eerstens het die Here vir hom, Paulus, Jood in murg en been, kragdadiglik gered.
• God sal selfs nou nog ‘n groter oorvloed van Sy genade skenk aan dié van Israel wat Hy vantevore geken het, sodat hulle gered kan word; dié wat Hy vir homself uitgekies en as oorblyfsel opsygesit het. Elia het byvoorbeeld gedink dat hy die enigste regverdige man was wat in Israel oorgebly het. Die Here het hom egter verseker dat Hy nog 7000 persone vir Homself uitgehou het wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (1 Kon 19:18).
• Wat die oorgrote meerderheid van Israel nie deur hulle werke bekom het nie, sal die klein groepie uitverkorenes by wyse van geloof in sy genade van hom verkry.
• Aangesien Israel soveel jare lank hardnekkig volgehou het om hulleself vir God deur hulle werke aanneemlik te probeer maak, in plaas daarvan om hulself te verootmoedig en op sy genade te vertrou, het God ‘n sluier oor hulle oë getrek en hulle in ‘n diepe sluimering laat wegsink sodat hulle nie meer die waarheid van sy openbaring, soos vervat in die Evangelie, sal raaksien (begryp) nie (Deut 29:4 en Jes 29:10).
• Hierdie toestand sal egter nie vir ewig voortduur nie.
E. ‘N OLYFBOOM AS BEELD VAN DIE TOEKOMS VAN DIE HEIDENE EN VAN ISRAEL (11:11-24).
Die situasie rakende Israel en die heidense nasies is as volg:
• Israel is soos ‘n olyfboom, deur God geplant, maar waarvan al die takke behalwe vir ‘n klein oorblyfsel, afgesaag is, omdat hulle nie vrugbaar was nie.
• Die heidene het groot voordeel hieruit getrek, want hulle is soos ‘n loot van ‘n wilde Olyfboom deur hulle geloof in die stam van God se Olyfboom (Israel) ingeënt. Hierdeur put hulle nou uit Christus, die wortel, krag en dra hulle vrugte tot eer van God.
• Dit is nie iets waarop hulle kan roem nie, want dit is nie hulle, die loot wat die Wortel dra nie, maar die Wortel wat hulle dra; daarom moet hulle nie hoogmoedig wees nie, want as God die takke van die natuurlike Olyfboom afgesaag het, hoeveel te meer sal Hy nie die takke van die wilde Olyfboom afsaag nie?
• Met betrekking tot Israel, is hierdie stap deur God geneem om hulle jaloesie op te wek en hulle na Hom toe terug te trek sodat hulle weer op die stam van God se Olyfboom ingeënt kon word.
• En as die takke van ‘n wilde Olyfboom suksesvol in die stam ingeënt kon word, hoeveel makliker sal die takke van die natuurlike Olyfboom nie teruggeënt kan word sodra dit tot geloof terugkeer nie?
• Let dan hierin op God se gestrengheid teenoor die wat val, maar ook op Sy goedhartigheid teenoor diegene wat deur geloof na Hom terugkeer.
• Sodra God meen dat die heidene ‘n regverdige geleentheid tot verlossing gehad het, sal Hy spesiale barmhartigheid betoon aan die natuurlike (fisiese) afstammelinge van die volk Israel, waardeur Hy die hardheid van hul harte sal verwyder en sal gee dat hulle, hul deur geloof tot Hom sal laat wend.
• Intussen moet onthou word dat hulle die natuurlike afstammelinge is van die aartsvaders, hulle voorvaders Isak en Abraham, wat God geroep, en aan wie Hy spesiale beloftes gemaak het. Aangesien God hulle uitverkies en geroep het om Sy volk te wees en Sy roeping onherroeplik is, hou dit tot nog toe stand en sodra die volle getal heidene gered is, sal die oorblyfsel van Israel hulle ook tot God wend. So sal die hele Israel dan gered word, naamlik almal wat in Hom glo; dié wat uit die natuurlike nageslag van Israel kom, sowel as dié wat uit die heidense nasies kom. So sal God se Israel dan voltallig wees, net soos wat Hy dit oorspronklik beplan het.
F. DOKSOLOGIE (AANBIDDING EN LOFPRYSING; EER AAN GOD) (11:33-36).
Nadat Paulus die verstommende grootsheid van God se verlossingsplan vir al die volke van die aarde, insluitend die volk Israel in diepte bedink het, staan hy stil om eer aan hom te bring en besin hy oor:
• Die diepte van die rykdom van God se wysheid en kennis.
• Hoe ondeurgrondelik sy oordele is.
• Hoe onnaspeurlik sy paaie (weë) is.
• Hoe onmoontlik dit vir die mens sou wees om vir hom raad te gee oor wat Hy moet doen en wat nie.
• Aangesien alles wat ons het van, en deur God kom, wat kan ons hom van ons kant af aanbied waarvoor Hy ons dan moet vergoed?
• Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
• Al wat ons kan doen, is om Hom vir ewig te verheerlik; dit is die waaragtige waarheid; die volle, aangrypende waarheid.
Hiermee eindig Paulus sy teologiese leer oor die beginsel van verlossing deur geloof alleen, sonder die werke van die Wet met betrekking tot beide die volk van Israel en die heidene.
(Die feit dat hy soveel aandag hieraan wy, wys op die geweldige belangrikheid daarvan, ook vir ons wat 2000 jaar later leef. Is baie van ons kerke nie soos Israel; banke gevul met lidmate wat ten diepste op hulself vertrou om God te behaag en hulle nog nie in wanhoop op hom gewerp het om uit sy genade op grond van die offer van sy Seun gered te word nie. Versluierde oë. Lewend in die vlees maar geestelik in ‘n diepe slaap, algeheel onbewus van die gevaar waarin hul verkeer. Laat ons vir hulle bid sodat die Gees van God hulle sal wakkerskud en sy heerlikheid vir hulle sigbaar en tasbaar sal word.)
//////////
NA DIE INDEKS NA VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.