2025-09-20A
A. “MY SEUN”
Na die inleiding in verse 1 tot 7 waaroor ons reeds in die breë gepraat het, begin Salomo in vers 8 om sy leser by wyse van spreukes aan te spreek. Hy praat met “sy seun”. Aangesien hy gedurende sy lewe 700 vroue en 300 byvroue versamel het, moes hy waarskynlik ‘n aansienlike aantal seuns verwek het. Vyf-en-veertig (45) maal spreek hy (en Lémuël) een of almal van hulle aan. Moet ons iets besonders daarin inlees? Wat dan van al die dogters wat hy verwek het?
‘n Moontlike antwoord lê daarin opgesluit dat Adam, eerste geskape was en dat hý die opdragte van God aangaande die bestuur van die wêreld ontvang het. Daarna het die Here konsekwent mans in leiersposisies aangestel om verantwoordelikheid te neem vir die vorming van sy volk. Salomo doen ook so. Ons moet die toepassing van die Spreuke egter wyer sien, naamlik dat dit gerig is aan een en elk en in besonder aan elkeen wat op een of ander lewensvlak leiding moet neem; in besonder ook op elke moeder wat haar kinders moet opvoed in die vrese van die Heer.
B. DIE TUG
8 My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; :9 want dit is ‘n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.
‘n Sekere oom, sê nou maar oom Jan, wat matige aansien in die samelewing geniet het weens die posisie wat hy beklee het, beland soos dit nou maar gaan, mettertyd in ‘n ouetehuis. Eendag besoek sy vriend hom en nooi hom om die oggendtee onder in die sitkamer nie mis te loop nie want hy het “cup cakes” aan die Tehuis geskenk en dit sal daar bedien word.
Oom Jan en vroulief maak toe so en ja, daar staan die trollie met die tee en koekies maar die “kelnerin” is afwesig, seker melk of suiker gaan haal. Oom Jan en tant Sannie, sit en sit en sit maar al wat kom is die dametjie. Mettertyd reken die oom dat aangesien hy deur sy vriend genooi was, hy seker maar vir hom en vroulief solank elk ‘n koekie kan neem en daaraan proe tot die tee kom. Net wat hulle behaaglik terugleun en lippelekkend smul, daag die tee meisie op, loop reguit op oom Jan af, kyk hom vas in die oë en spel die reëls helder en duidelik uit: “Oom Jan, laat dit die laaste keer wees wat jy jouself help. Sit en wag totdat jy bedien word!” Die Oom erg hom bloediglik maar deur genade van Bo sondig hy nie uiterlik nie en sit mettertyd weer bo in sy eie kamer in sy eie stoel en dink toe soos volg oor die gebeure: “Wel, na die letter het ek verkeerd gedoen en was dit die dame se verantwoordelikheid om my tereg te wys. Sy kon dit seker hofliker gedoen het, maar, as die Heer dit goed gedink het om my op so ‘n vernederende wyse te tugtig, het Hy sekerlik rede daarvoor gehad en is dit tot my beswil.” So aanvaar oom Jan die tugtiging met grasie en ontvang hy, volgens hierdie spreuk, ‘n sierlike krans vir sy hoof en ‘n lieflike ketting vir sy hals, bo en behalwe die heerlike “cup caky”.
Tugtiging, van wie dit ookal kom, is nooit lekker nie. Die Heer tugtig sy kinders eers deur sy Woord, maar, as hulle so ‘n bietjie hardhorend is, gebruik Hy een of ander roede wat soms behoorlik kan seermaak. Om dit in ‘n seën te omskep moet ons dit met danksegging aanvaar want die Heer tugtig hom wat Hy liefhet en kasty elke seun wat Hy aanneem (Heb 12:6). Die woord TUG verskyn 24 maal in die boek Spreuke.
HIER VOLG NOG ‘N AANTAL SPREUKE OOR DIE TUG
13:18 Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geëer. 15:33 Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf. 19:20 Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. 6:23 Want die gebod is ‘n lamp en die onderwysing ‘n lig en die teregwysinge van die tug ‘n weg tot die lewe, 10:17 ‘n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald.
Die eerste van hierdie groepie “tug” speuke het betrekking op die persoon wat goddelike tugtiging verwerp. Hy bly net soos hy is; geestelik armoedig en kom herhaaldelik in die skande oor die lelike dinge wat hy doen en sê. Hy moet homself voor God verootmoedig, gewillig wees om ‘n nederige posisie in te neem; gewillig wees om deur andere reggehelp te word, dan sal hy geeer word deur dié wat ook so ingestel is. Dit kom nie eensklaps nie, maar is ‘n pad wat bewandel moet word. Die Woord van God is die lig op hierdie pad en die tug bring jou terug wanneer jy van die pad afgetrap het. Hy wat dit verwerp sal algou heeltemaal van die goddelike weg af wegdwaal en verdwaal raak in ‘n wildernis van onsekerheid en verval in ‘n moeras deur al die verkeerde, dom, keuses wat hy gemaak het.
23:23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.….
Vergifnis van sonde kos nie ‘n sent nie want Jesus het klaar daarvoor betaal maar, om goddelike wysheid te bekom, sal jou sommer heelwat kos. Jy sal byvoorbeeld jou dunk van jouself en jou fyngevoeligheid oor wat andere van jou dink en sê, oor die hemelse toonbank moet inhandig om die kosbare item van hemelse wysheid in ruil daarvoor uit die Meester se hand te ontvang. Dít moet jy soos goud bewaar.
12:1 Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.
“Dom? Ek munt uit in elke vak wat ek bestudeer en ken selfs groot dele van die Bybel uit my kop. Vra my maar!” Pragtig, maar geestelike intelligensie, ware intelligensie word gemeet aan jou goddelike wysheid en dit kom deur gedurige teregwysings, dws. koersaanpassings, soos met ‘n vlug na Mars. Jy moet dit met dank aanvaar, anders gaan jy jou doelwit mis en al verder in die eindelose ruimte van alternatiewe denke in beweeg! Dit maak sin. Verwerp jy hierdie beginsel, is jy dus dom, dws is jou geestelike IK baie laag. Jammer.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS