2024-06-20
NOTA
Indien u nie die voorafgaande studiegids gelees het nie, klik asb. op ROMEINE 1 en 2 en lees dit vlugtig deur sodat u die huidige gids beter kan verstaan.
Om seën te put uit die gedagtes wat hieronder gedeel word, moet u vertroud wees met die Skrif waaroor dit gaan; so, bestudeer hierdie gids asb. met ‘n oop Bybel aan u sy.
A. WATTER VOORDEEL IS DAAR DAN DAARIN OM ‘N JOOD TE WEES? (3:1-8).
Na aanleiding van wat pas gesê is, kan jy sinies redeneer en sê: “Maar van watter nut is dan daarin om ’n Jood te wees of om besny te word: wat is die waarde daarvan dan?” Die antwoord is: “Natuurlik is daar baie waarde daarin: Eerstens is die Joodse volk ‘n baie bevoorregte volk om met die Wet van God toevertrou te wees; om die bewaarder van die boekrolle van God se Wet te wees. Dit is soos ‘n man op ‘n eiland aan wie ‘n Bybel geskenk is terwyl niemand anders een ontvang of ooit gesien het nie; hy is inderdaad ‘n baie bevoorregte persoon.
Die feit dat die Jood wat die Wet of Bybel gehad het nie daardeur tot ware geloof in God gekom het nie, doen geen afbreuk aan God se goedheid om dit aan hom te gegee het nie. Dit is nie God se skuld dat hy homself nie verootmoedig en sy genade tot redding aanvaar het nie. Nee, die feit dat God Sy Woord aan die Jood en aan die mensdom toevertrou het, sal in die oordeelsdag bewys dat Hy getrou teenoor hulle opgetree het, en hulle die geleentheid gebied het om Sy wil te ken en gered te word. Die feit dat die mens nie van hierdie geleentheid gebruik gemaak het nie, sal dan teen hom tel terwyl die goedheid en geregtigheid van God daaruit duideliker sal blyk; Hy het die wonderlike gawe van sy Woord aan die Jode en die mensdom gegee, al het Hy geweet dat die groot meerderheid dit nie sou waardeer nie.
Gesien dat dit so is, kan jy daarop voortbou en sinies redeneer: “O, maar as my ongeregtigheid God ophef deur te wys hoe regverdig Hy is, doen ek hom ’n guns, ’n goeie daad wanneer ek sondig. Hoe kan Hy my dan oordeel as my ontrouheid Sy waarheid beklemtoon en so Sy heerlikheid verhoog? Waarom word ek steeds as sondaar veroordeel?” Wel, dit is tipies hoe die mens redeneer. Dan praat jy et die heidene uit een mond. Hulle laster mos deur te sê dat Christene sê: “Laat ons kwaad doen sodat daar goeie gevolge kan wees.” Wel, sulke mense verdien om veroordeel te word.
B. NIEMAND IS REGVERDIG NIE (3:9-19).
Tot watter gevolgtrekking sal ons dan kom: “Dat Jode en heidene ewe sondig is”.
Paulus haal dan uittreksels uit verskillende gedeeltes van die Ou-Testamentiese Skrif aan om te bewys dat dit nie net sy siening is nie, maar nog altyd God se siening van die mensdom was (sien verse 10-18). Die Heer het dit gesê sodat “elke mond stilgemaak (“gezip”) kan word,” wat beteken dat niemand homself sal kan verskoon nie. Niemand sal deur God regverdig verklaar word deur sy poging om die Wet te onderhou nie. Niemand sal kan sê nie: “Kyk, ek het die wet volkome onderhou.” Die Wet ontbloot eintlik die sondigheid van elke mens se hart. Die Wet is ‘n lig wat die sonde openbaar wat verborge is in die innerlike kamers van die mens se hart.
C. REGVERDIGING DEUR GELOOF SONDER DIE WERKE VAN DIE WET (3:21-31)
Nadat Paulus afdoende bewys gelewer het dat geen mens vreesloos voor God kan staan en daarop aanspraak maak dat hy die Wet van God volkome nagekom het, kom hy by die vraag: “Hoe kan ‘n mens dan enigsinds met vrymoedigheid voor ‘n heilige, regverdige God verskyn?”
Die antwoord word in vers 21 gegee: “Die geregtigheid wat God vereis kom deur geloof in Jesus Christus.” Om in God se oë reg te wees, deur Hom aanvaar te word, kom slegs deur geloof. God sal die mens in die regte verhouding tot Hom verklaar, slegs wanneer daardie persoon in geloof na Hom toe kom. Dit geld vir alle mense; daar is geen onderskeid nie. Alle mense het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; die volmaaktheid van God. Alle mense het die Wet van God oortree. Daar is nie een wat voor God kan staan sonder dat die Here duisende dinge sal kan uitwys waarin hierdie persoon sy Wet oortree het, selfs alhoewel hy dalk probeer het om te doen wat reg was. Niemand is soos God wat sy eie Wet nooit in der ewigheid selfs eenmaal oortree het nie.
Maar hier is die oplossing: hulle wat algeheel onregverdig (onheilig) is, word deur God geregverdig (reverdig, heilig) verklaar sodat hulle vreesloos voor hom kan staan, net asof hulle nog nooit ooit ‘n enkele keer gesondig het nie. Ons kan sê dat hul status van “sondaar” tot “heilige” verander het. Daarvoor hoof hulle op geen manier te betaal nie. Hulle kan hierdie status in ‘n oogwenk deur sy genade ontvang. Genade is iets wat gegee word aan ‘n persoon wat dit nie verdien nie. Dit is gratis; ‘n geskenk. Dit gaan om die goedheid van die skenker en nie die goedheid van die ontvanger nie. Hierdie geskenk is moontlik gemaak deurdat Jesus daarvoor betaal het, met Sy lewe, Sy bloed. Die Vader neem jou terug in die geskiedenis na waar Jesus aan die kruis hang en die bloed van Hom af drup, en sê vir jou: “Dit is die manier waarop jy vergifnis kan ontvang. Glo dat my vlekkelose Lam daar in jou plek geslag (gepeinig en doodgemaak) word”.
God het dit so gedoen om Sy geregtigheid te demonstreer, want sonde kan nie vergewe word tensy dit gestraf is en daarvoor betaal is nie. Hy het egter die sondes van die mense wat voor sy kruisiging geleef het, ongestraf gelaat en hulle nie dadelik aan die oordeel oorgegee nie, totdat Christus gekom het en in hul plek daarvoor gestraf is.
Die vraag is dan: wie kan voor God staan en roem op sy eie goeie lewe? Niemand; nie Jood of nie-Jood nie. Niemand kan op homself vertrou om die Wet volkome te onderhou nie, maar slegs op die genade van God. So kan die mens vergifnis en ‘n nuwe natuur en die Ewige Lewe ontvang deur geloof in daardie Lam wat vir hom aan die kruis geslag is.
Is God dan die God van die Jode as gevolg van die voorregte wat hulle van Hom ontvang het? Nee, Hy is ook die God van die heidene. Daar is net een God en Hy sal beide die besnedenes en die onbesnedenes op presies dieselfde manier regverdig en dit is deur geloof en nie deur werke nie. Dit beteken dat beide Jood en nie-Jood na die kruis kom, glo dat Christus vir hulle sondes gesterf het en God antwoord: “Nou dat jy glo, sê Ek dat jy geregverdig is.”
Maar kan die Jood dan nie nou omdraai nie en sê: “Maar dan is die Wet niks werd nie, want geloof het sy plek ingeneem en dit maak die Wet nutteloos?” Nee; geensinds nie. Deur sonde so swaar aan die kruis te gestraf het, het God gewys dat Hy die Wet eerbiedig en gehoorsaam wat regmatige straf eis vir diegene wat dit oortree. God die Vader het in Christus die Wet vervul. Die Wet het sy geregtigheid gekry; dit het gekry wat dit vereis het. Dit het elke druppel bloed gekry wat nodig was om aan sy eise te voldoen.
Nou is God vry om die mens se sondes te vergewe en hul uit genade te aanvaar sonder dat hulle vir hul sondes gestraf hoef te word of eindelose goeie werke hoef te verrig. Amen.
Hierdie beginsel word pragtig saamgevat in 3:23,24:
… want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Hoe kan ‘n mens wat in die geloof gesien het hoe verskriklik die Here Jesus vir hom gely het, dan nadat hy volkome vergifnis ontvang het, voortgaan en verder in sonde voortploeter? Dit sou mos wees om daardie verskriklike offer te minag; onder die voete te vertrap.
D. REGVERDIGING DEUR GELOOF SOOS GESIEN IN DIE LEWE VAN ABRAHAM (4:1-25)
Hierdie hoofstuk gaan voort om te verduidelik hoe ‘n persoon deur God aanvaar kan word bloot deur in Hom te glo en gebruik twee ou-Testamentiese karakters wat aan die Joodse nasie bekend was, naamlik Abraham en koning Dawid as illustrasies van hierdie beginsel.
Daar is ‘n groot verskil tussen die verrigting van regverdige dade om deur God aanvaar te word aan die een kant, en om bloot te glo in die God wat onverdiende sondaars uit genade regverdig. Dit kan geïllustreer word deur die verskil tussen ‘n salaris en ‘n geskenk. Wanneer ‘n persoon vir ‘n salaris werk, kan hy teen die einde van die week, of maand, betaling van sy werkgewer eis, want hy is daarop geregtig. Hy kan dan met sy sak geld spog omdat hy dit deur sy eie inspanning bekom het.
Maar wanneer ‘n man glad nie gewerk het nie, kan hy nie na ‘n ryk werkgewer gaan en ‘n som geld van hom eis nie, want hy het nie vir hom gewerk nie en die ryk man het geen verpligting teenoor hom nie. As so ‘n man, wat behoeftig en honger is, dus na die ryk man kom, kan hy net om genade smeek en as hy iets vir hom gee, sal die ontvanger dit ‘n geskenk noem omdat hy dit uit genade verkry het.
Koning Dawid bevestig in Psalm 32: 1,2 dat dit die enigste basis is waarop ‘n persoon reg kan kom met God want hy sê;
Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie …
Dit is dan inderdaad hoe die Joodse nasie se heel eerste voorvader, Abraham, reg gekom het met God. Gen 15:5,6:
Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
As hy deur God aangeneem was weens sy goeie werke, sou hy iets gehad het om op te roem, maar hy het nie. Die Skrif sê dat Abraham in God geglo het en God het sy geloof aanvaar en dit vir hom as geregtigheid gereken, wat beteken dat God gesê het: “Abraham, jy is nou reg met My vanweë jou geloof in My.”
Die vraag kan nou gevra word: “Hierdie gawe om reg te maak met God deur geloof en nie deur werke nie, is dit slegs beskikbaar vir besnede mense soos Abraham?” Die antwoord is heel eenvoudig, naamlik dat Abraham hierdie gawe ontvang het voordat hy besny is. Dit beteken dat hy dit nie as beloning ontvang het omdat hy homself laat besny het nie. In werklikheid het God self aan Abraham die besnydenis gegee as ‘n teken in sy vlees dat hy in sy gees besnede was, bloot deur in Hom te glo.
Aangesien hy in die regte posisie (verhouding) tot God gekom het bloot deur in Hom te glo, kan hy gesien word as die “vader” van al die onbesnede mense wat ook reg kom met God deur bloot in Hom te glo. Dan is hy natuurlik ook die vader van al die besnyde mense (Jode) wat nie net in die vlees besny is nie, maar in die regte verhouding met God gekom het omdat hulle hulle vertroue in Hom gestel het. Op hierdie manier het Abraham die “vader” geword van baie nasies, beide van die besnedenes sowel as van die onbesnedenes.
Al God se beloftes kan ‘n werklikheid in ons lewens word deur geloof, wat beteken dat God dit aan ons gee deur Sy genade en nie deur ons prestasie nie. Hy is die God wat lewe gee aan diegene wat geestelik dood is. Vir sulke mense skep hy dinge wat nog nie bestaan nie en laat hulle lewe kry.
Abraham se geloof was eg. Dit het jaar na jaar aangehou en in plaas daarvan om swakker te word, het dit met verloop van tyd al sterker geword. Toe hy amper 100 jaar oud was en sy liggaam verswak het en sy vrou Sarai nie meer kinders kon baar nie, het hy nie hierdie tekens aanvaar as bewys dat hy sonder ‘n erfgenaam sou sterf nie, maar eerder aangehou om vas te hou aan die belofte van God dat hy vader van baie nasies sou word . Hy was ten volle oortuig dat God sou doen wat Hy belowe het. Die dag toe Abraham vir die eerste keer so in God geglo het, het die Here dit in sy hart gesien en op grond daarvan sy sondes vergewe en hom as een van sy eie aanvaar. So is Abraham se geloof in God hom as geregtigheid geakkrediteer (toegereken).
Hierdie woorde is nie net ter wille van hom geskryf nie, maar ook ter wille van ons wat op God die Vader vertrou wat sy Seun, Jesus Christus, vir ons sondes aan die dood oorgegee en Hom weer tot die lewe opgewek het sodat ons met God reg kan kom. Hierdie daad van God, wat verklaar dat mense reg is met Hom op grond van hulle geloof, word regverdigmaking genoem. (Net – asof – hulle nog nooit gesondig het nie.)
Al wat nou vir u oorbly is om te vra: “Is ek ook so reg met God?” Indien nie, is dit, so vertrou ons, nou vir u duidelik wat u moet doen reg te kom.
//////////
NA DIE INDEKS NA DIE VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.