2024-11-18
DIE BRUID: 7:10 Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my.
Die Bruid is in vervoering nadat sy na haar Beminde se minnelied geluister het waarin Hy haar voetstappe, skoene, nawel, liggaam, hoof, hare, oë neus, hals en liefde in besonderhede beskryf en gelykgestel het aan alles wat indrukwekkend en begeerlik is. Sy het nooit kon dink dat sy, ‘n Sulamitiese boerinnetjie só mooi is vir koning Salomo. die hooggeagste, rykste koning ter wêreld – oftewel, die Liefling van die Hemele, die Prins van die Heelal, die Seun van die Almagtige. Al wat sy daarop teenoor haarself kan fluister is: “Van my kroontjie tot my toontjie het ek myself aan Hom gegee en van van my kopvel tot my voetsool het Hy my geneem; wat meer kan ek begeer!”
DIE BRUID: 7:11 Kom, my beminde, laat ons uitgaan in die veld, laat ons in die dorpe vernag. 7:12 Laat ons vroeg na die wingerde gaan, laat ons sien of die wingerdstok uitloop, die druiwebloeisel oopgaan, die granate blom. Daar sal ek u my liefde gee. 7:13 Die liefdesappels gee geur, en by ons deure is allerhande kostelike vrugte, vars en oud; o my beminde, dit het ek vir u weggebêre.
By geleentheid geniet ‘n koningin dit om saam met die koning in sy ryk uit te gaan en haar te verheug in die werke wat hy van stapel gestuur het en nou besig is om vorm aan te neem. Sy besigheid is ook haar besigheid. Sy sit nie maar net in die luuksheid van die paleis rond en hou haar met beuselagtighede besig nie. Nee, sy reis saam met hom, lewer verstandig kommentaar op die strukture en paaie wat in aanbou is, die kuddes beeste, skape en bokke wat in die velde wei en sy landerye wat strek sovêr die oog kan sien.
Sommige is deur die landbouers verwaarloos en selfs met skadelike saad besaai. Hieraan sal die Koning aandag moet gee. Dit sal afgebrand moet word om die onkruid te vernietig sodat dit nie na die omliggende gesaaides versprei nie. So was dit in die geval van Sodom en Gomorra, maar Hy wou dit egter eers met sy Bruid, Abraham, bespreek en besoek hom by sy tent.
Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word? (Gen 18:17,18).
Hulle smul eers saam aan die vleis en roosterkoeke wat Sarai vir hulle voorberei het. Toe is dit tyd vir besigheid:
.. 20 Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. 21 Ek wil … sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet. … .
Daarna stap Jesus en Abraham saam tot op ‘n punt van waar hulle oor die Jordaanstreek daaronder kon uitkyk. Die twee engele wat hulle vergesel het, stap verder, na Sodom en Gomorra toe.
Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. 23 En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring? 24 Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? (Gen 18:20-22 ).
En so het die gesprek tussen die Bruidegom en Bruid voortgegaan. Mettertyd het hulle ooreengekom dat Hy ten minste die Bruid se broerskind, Lot, en sy familie van verdelging sou spaar. Die Ou Testament bevat honderde beskrywings van insidente waar die Bruid haar liefde aan haar Minnaar gegee het by wyse van interaksie tussen Hom en haar, rakende aangeleenthede wat betrekking het op sy Koninkryk..
Tot vandag toe gaan dit so voort. Dikwels vind jy haar op haar knieë voor die Troon van Sy Koning Vader waar sy in Sy Naam bid dat Hy arbeiders mag benoem, roep, toerus en uitstuur om sy oeste wêreldwyd in te samel.
Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur. (Luk 10:2).
Soms lyk dit of Sy weerloos en hulpeloos is, maar onsigbaar is Hy elke tree met Haar.
Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe. Moenie ‘n beurs of ‘n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad nie. (Luk 10:3,4).
Na een so ‘n uitreik het Sy teruggekeer en jubelend getuig:
… Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. (Luk 10:17). Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val. (Luk 10: 17,18)
So versamel sy geurige liefdesappels van oorwinning oor die Bruidegom se vyand. Sy het nooit ‘n tekort aan getuienisse van wat God deur Haar, lank gelede, maar ook in die hede, gedoen het nie. “Dit alles, my Beminde”, sê sy, “het ek vir U gedoen!”
DIE BRUID: 8:1 Ag, was u maar vir my soos ‘n broer wat aan die borste van my moeder drink! As ek u daar buite vind, ek sou u kus; en tog sou hulle my nie verag nie. 2 Ek sou u lei, ek sou u bring in die huis van my moeder; sy sou my leer; ek sou u laat drink van die gekruide wyn, van my granaatmos.
Die Bruid kan nie die hele dag agter ‘n geslote deur met haar minnaar verkeer nie, tewens, die meeste van die tyd is sy, soos die teks sê, “daar buite”, besig met haar daaglikse menslike lewensverpligtinge. Oral en in alles sien sy Hom, “skuur hulle skouers”. Dan vlam haar liefdesemosies op en is die “versoeking” groot om haar arms om sy nek te slaan en, al is dit dan net een soen, te gaps, maar dit sal beide Hom en haar nie tot eer strek nie. In die kultuur van haar tyd was so ‘n optrede deur ‘n vrou taboe. Sy sou as straatvrou aangesien word en haar optrede as ‘n skaamtelose poging om ‘n eerbare man helder oor dag te verlei.
Daarom neem haar gedagtes ‘n verbeeldingsvlug en dagdroom sy: “As Hy tog maar ir ‘n rukkie my jonger broertjie was, sou ek hom in my arms kon optel en na hartelus liefkoos en niemand sou dit snaaks vind of ‘n oog daaroor knip nie. As Hy ‘n bietjie groter was, sou ek Hom as ouer suster aan die hand kon neem en na ons moederhuis lei. Daar, wanneer die deur agter ons gesluit is, kan hy weer Hý wees en sal my geestelike Moeder my selfs leer om my liefde aan Hom te gee.
Ons het die verhaal nou reeds so effens vergeestelik, so, laat ons verder en enduit daarmee gaan. Die Bruid bevind haarself in ‘n geestelike wêreld wat vir die mense om haar verborge is. Hulle weet van God of, “Die Man Daarbo”, soos sommige wat hulself nog meer vir Hom skaam, na Hom verwys. Om in ‘n liefdesverhouding met Hom te leef, en in die openbaar daaraan uitdrukking te gee, is vir hulle ondenkbaar. Dit gee ook aanstoot aan hulle wat in hierdie wêreld hoë agting geniet. So ‘n persoon word deur die samelewing verag en verwerp. Dawid het dit ervaar toe Hy, die Koning van Israel, deur die strate van Jerusalem voor die ark van God uit met alle mag gedans het:
Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid was omgord met ‘n linneskouerkleed. Toe die ark van die HERE die stad van Dawid inkom, kyk Migal, die dogter van Saul, juis deur die venster en sien koning Dawid huppel en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag. (2Sa 6:14,16).
Liefde, sagmoedigheid, teerheid, verootmoediging, voete was en om die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, is vir dié wat as manne en helde in die samelewing geag word, verfoeilik en lafhartig. Hulle koning van duisternis het ‘n hekel daaraan en om in sy guns, en in tel by sy onderdane te bly, trap hulle ook op sulke gedrag. Maar, vir hulle wat die Prins van die Lig as Bruidegom belewe, is dit bloot natuurlik en innerlik verkwikkend om Hom in die openbaar te verheerlik.
Doen die Bruid reg om haarself daarvan te weerhou en Hom na die verborgenheid van die binnekamer te wil bring voordat sy haar liefde aan Hom gee? Jesus het ook daarteen gewaarsku om wat heilig is, aan die honde te gee, jou pêrels voor die varke te werp sodat hulle dit miskien met hulle pote vertrap en omdraai en jou verskeur nie (Mat 7:6). Soms kan ons openbare getuienis van ons liefde vir Jesus baie ander in die hart raak en oproep tot bekering. Dit kan egter ook misplaas wees, in die vlees wees en skadelik vir die Koninklyk. Ons moet, soos in alles, deur die Gees gelei word.
Hoe dit ookal sy, haar bedoeling was goed: sy wou Hom bring na daar waar sy Hom, onder leiding van die Heilige Gees, kon bedwelm met die keur van haar geestelike liefdesgawes: gekruide liefde en granaatstroop.
“Gees van God, leer ons om lief te hê, ons verstaan nog so min daarvan”!
DIE BRUID: 8:3 Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels.
Sy smag steeds na sy teenwoordigheid, meer as dit, na sy omhelsing. Hy moet langs haar lê met sy linkerarm, nie tussen hulle nie maar onder haar hoof deur sodat sy vas teenaan hom kan lê. Sy regterarm moet oor haar wees, om haar gevou wees, sodat sy in sy omhelsing is. Sy wil geborge, veilig, voel, snoesig aan sy boesem verkeer, sy hartklop aanvoel. Alles om hulle moet uitgesluit, vêr weg wees. Geen ander wese mag hul samesyn versteur nie. Sy wil haarself verloor in sy liefde en beskerming.
Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (Rom 8:38, 39).
DIE BRUID: 8:4 Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?
Die liefde van God gee alles en vra alles, daarom moet die mens deeglik besin voordat hy sy hart aan Hom gee. Dit is die begin van ‘n lewenslange proses van oorgawe aan die Bron waaruit dt kom.
En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: 26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. 28 Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — 29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot 30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. (Luk14:25-30).
ELKE DAG ONTDEK ONS NOG ‘N STUKKIE VAN ONSSELF WAT ONS AAN HOM KAN OFFER.
EN ELKE KEER WANNEER ONS NOG ‘N DEELTJIE OP DIE ALTAAR PLAAS, BELOON HY ONS MET DIE BELEWENIS VAN ‘N DIEPER VLOED VAN SY LIEFDE.
Toe die man na die ooste uitgegaan het met ‘n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die enkels. 4 Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan—waters tot aan die heupe. 5 Verder het hy nog duisend gemeet—’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys—waters om in te swem, ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie. (Eseg 47:3-5).
~~~~~~~~~~