2024-08-21
DIE BRUIDEGOM IN SY ROL AS KONING
Die Bruid van Christus moet Hom nie net as minnaar leer ken nie, maar ook as Koning van sy magtige ryk. Daardeur sal haar respek vir Hom toeneem asook haar vertroue in Hom om in al haar behoeftes te voorsien. Hierdie twee boustene is essentieël vir elke gesonde verhouding. (Ook vir ‘n kind-ouer en werknemer-werkgewer verhouding). In hierdie perikoop tree die Bruidegom pro-aktief op om homself in hierdie hoedanigheid aan sy Bruid te openbaar.
DIE BRUID: 6 Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?
Sy kyk uit oor die woestyn en sien ‘n optog in aantog maar kan nie uitmaak wie die groep of die hooffiguur is nie. Sy sien rook, maar nie ‘n rookwolk wat wegwaai nie. Dit is rookpilare, wat hul vorm behou en (asof vanaf wierook bakke) reguit tot hoog bo in die lug opstyg. Soos wat die optog nader beweeg, ruik sy van vêr die heerlikste geure: mirre, wierook, ja allerhande speserye. Maar dit is mos die aroma wat haar Beminde omring! Oomblikke later herken sy die Leier. Waarlik dit is Hy, haar beminde, Koning Salomo!
Het Salomo werklik sulke ekskursies die woestyn in onderneem? Blykbaar wel, anders sou hy dit nie so in sy lied beskryf het nie. Moontlik het hy, as geliefde koning, nedersettings van sy burgers by oases besoek om na hulle welstand te verneem, te wete te kom wat hul behoeftes was en hulle te verseker dat hulle hom as koning kon vertrou om hulle teen hul vyande te beskerm. Hy wou hê dat alle burgers van sy ryk rustig moes lewe in die wete dat hy werklik vir hulle omgee. Dit het persoonlike opoffering geverg want uit die teks blyk dit dat hy soms selfs snags moes reis.
Tweedens is dit interessant hoe hy sy koms bekendgemaak het: nie deur skielik oor die laaste duin met luide trompetgeskal te verskyn nie. Dit sou hulle hewig laat skrik het, vermoedende dat dit ‘n vyandige aanval was. Nee, hy het wierook seine in kolomme die lug in opgestuur. Rookseine wat oor lang afstande gesien kon word, was ‘n normale en effektiewe wyse van kommunikasie toe selfoontorings en satelliet-verbindings nog nie bestaan het nie. Die mense na wie hy op pad was, sou dit van vêr af reeds kon sien. Geen vyand sou sy aantog so verraai het nie. Sy koms was in vrede. Met wat Hy naderkom, sou hulle die heerlike geur van mirre, wierook, en van die duurste speserye ter wêreld gewaarword en behaaglik inadem. Net een koning op aarde sou dit kon bekostig en die hart hê om dit so mildelik op sy burgers te bestee: Salomo, hul geliefde leier en versorger; die magtigste, mees wyse, mees glansryke koning op aarde, maar ook ‘n nederige en sagmoedige man; ‘n man van vrede soos die Koning van Salem met wie Abraham bevriend was ( Heb 7:2).
Hy word ook genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, (Jes 9:5,6).
Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin. (Sag 9:9).
Hy is geen swakkeling nie, Hy is ‘n oorwinnaar; ‘n vors, ja, maar ‘n vredevors, nie ‘n geweldenaar om voor weg te vlug nie. Hy is nederig en sagmoedig. Hy verower harte, nie met oordonderende geweld nie, maar trek die mens na Hom met koorde van liefde (Hos 11:4). Hy is omgewe van die strelende geure van nederigheid en sagmoedigheid. Hy laat jou tuis en veilig voel. Soos Johannes, kan jy met jou kop teen sy bors rus (Joh 13:23). Sy vyand verower Hy met die swaard, maar sy Bruid se liefde wen Hy deur die geur van sy parfuum, dit is sy liefde en teerheid teenoor haar.
DIE BRUID: 3:7 Kyk, dit is die draagstoel van Salomo, sestig helde daaromheen, van die helde van Israel, 8 hulle almal met ‘n swaard gewapend, geoefend vir oorlog, elkeen met sy swaard aan sy heup vanweë die nagtelike verskrikking.
Konings en bevelhebbers het in oorlogswaens of koetse voorsien van wiele en getrek deur perde gery, maar Salomo moes deur sand woestyne en met kronkelende voetpaadjies langs berghange reis om by sy mense uit te kom. Hiervoor was ‘n fynontwerpte tipe van gemakstoel, voorsien van lang draaghoute aan weerskate en rustende op die kragtige skouers van uitgesoekte draers, baie doeltreffender. Met so ‘n voertuig kon hy basies enige terrein aandurf. Terwyl die wiele van die Farao se strydwaens in die modderige bedding van die Rooi see vasgeval het, sou hierdie sestientrek, of meer-voetige voertuig met gemak daardeur kon snel en anderkant rats teen die steil helling uitklouter.
Vandag nog reis die Hemelse Minnaar oor berge en deur dale op die skouers van sy toegeweide draers om die Goeie Tyding van Verlossing na die verste uithoeke van woestyne waarheen die mens weggedwaal het uit te dra:
Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! (Isa 52:7).
Is jy ook so ‘n draer? Dra jy jou Hemelse Kroonprins op jou skouers en gaan stel jy Hom voor aan hulle wat vêr anderkant die “Berge van skeiding” (2:17) woon. Lig jy Hom hoog op voor die nasies? (Mat 28:19). Dit is Hy wat jou daardie bultende geloofspiere gee om hierdie heerlike werk vir Hom te kan doen; vir Hom wat die swaar houtkruis op sy bebloede skouers vir jou gedra het!
Hierdie draers is soos die twaalf apostels en die profeet Jesaja: hulle verlaat hul huise in antwoord op die roepstem van hul Koning:
En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. (Mar 1:17).
Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my. (Jes 6:8).
Hulle offer alles op ter wille van Hom en ag hul lewens nie kosbaar nie. Hulle trotseer die dors en die skroeiende son. Soos hul Koning gedoen het toe Hy die voorbeeld vir hulle tydens sy aardse besoek gestel het, slaap hulle soms snags in die oop veld, sonder ‘n klip om die hoof op neer te lê.
Om Hom op die skouers te dra is natuurlik ook ‘n simbool van lofprysing en aanbidding waaroor ons moontlik later meer sal sê.
Maar kom ons kyk ook na na die sestig krygers wat die Koning en sy draers beskerm. Die Kroonprins sit nou aan die regterhand van die Vader waar Hy geen beskerming meer nodig het nie, maar hier op aarde moet sy Naam beskerm word . Dit is hier waar sy vyand sy Naam belaster. Dit is hier waar ‘n felle stryd woed want as sy Naam skade ly, sal ‘n Bruid nie uit die volke-woestyn vir Hom gewen kan word nie. Daarom is Hy vergesel van sy 60 helde, geoefen in geestelike oorlogvoering. Wat van die draers gesê word, is eweneens ook waar van sy krygers. Hulle is nie huursoldate nie, nee, elkeen van hulle is gewillig om tot die dood toe vir Hom te veg.
… hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. (Open 12:11).
Hulle swaarde is die vlymskerp Swaard van die Gees, die Woord van God (Efes 6:17). Hulle slyp dit gedurig deur bestudering van elke teks daarvan. Hulle ondersoek die snykant sorgvuldig of daar nie êrens ‘n skaar in hul kennis of begrip daarvan is nie. Hulle opdrag is om die bose daarmee te oorwin soos hul Koning hom in drie opeenvolgende veldslae in die woestyn verpletter het. Hul swaarde dring deur elke verweer en skei die waarheid van die leuen en laat die geeste wat in die nagtelike duisternis van die siel nader sluip, verward wegvlug.
Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. (Heb 4:12).
Hulle is sestig in getal dws 6 x 10. Die getal 6 simboliseer die mens (wat op die 6de dag geskape is) en 10 beteken “verteenwoordigend van”. Die 10 gebooie is bv. verteenwoordigend van al die menigte ander gebooie, ook die wilsopenbarings van God wat in die Nuwe-Testament gevind word. Die 60 krygers is dus die Heer se krygers deur al die eeue heen, waarvan u en ek ook een is en ons rol moet speel om sy Naam, die Naam bo alle name, te verdedig.
O, geliefde Bruid van Christus, u is tegelyk ook sy draer en sy krygsman! Dit is waarom die Bruidegom homself hier so aan sy Bruid openbaar. Sy moet Hom totaal en al verstaan en beleef en in niks kortkom nie.
Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. (Jak 1:4).
… omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, (Fil 1:29).
DIE BRUID: 9 Koning Salomo het vir hom ‘n draagstoel gemaak van die hout van die Líbanon; 10 die steile daarvan het hy gemaak van silwer, die leuning van goud, die sitplek van purper, die binnekant mooi opgemaak—’n liefdegawe van die dogters van Jerusalem.
Ons het reeds vroeër gepraat oor die voortreflikheid van die draagstoel as vervoermiddel. Kom ons bekyk dit nou van nader. Eerstens moet ons daarop let dat dit Salomo, die Koning, se idee was, nie dié van sy ondergeskiktes nie. So ook was die tabernakel, die Heer se aardse woonplek in die midde van sy volk en alles wat daarin was, God se plan (Ex 25:9). Die draagstoel, op die skouers van sy draers en omring deur sy helde, plaas die Koning in die midde van sy mense. So ook het die tabernakel die sentrale plek binne die laer van Israel beklee; die twaalf stamme het daaromheen gekamp (Num 2;1-34).
Wat ook baie belangrik is om op te let, is dat, alhoewel die Koning te midde van, en na aan sy mense was, hulle nie veronderstel was om aan hom te raak nie. Hy het ‘n koninklike privaatheid geniet. Ons kan dit ook weer vergelyk met die Allerheiligste kompartement van die tabernakel waar die ark van God gehou was en waar Hy deur sy Gees gewoon het. Net die Hoëpriester het toegang daartoe gehad en dit net eenmaal per jaar. Ons dink ook aan koning Dawid wat die ark, teenstrydig met God se voorskrifte, op ‘n wa vervoer het. Toe die osse struikel, het Ussa sy hand uitgestrek om te verhoed dat dit afval. Onmiddelllik het God hom met die dood gestraf omdat hy dit ontheilig het (2Sam 6:6,7). Dit leer ons dat, alhoewel die Almagtige in die gedaante van ‘n mens tussen ons kom woon het en ons Vader en Bruidegom is met wie ons in heerlike intieme oorgawe kan verkeer, Hy ook die hoogheilige, enige God is en dat ons Hom altyd met respek en binne die grense wat Hy vir ons gestel het, moet dien en liefhê.
Kyk ons na die kwaliteit van die materiaal wat gebruik was, sien ons dat dit net die beste was: hout van die Libanon: reguit, sterk en moontlik gepoleer en dus aanskoulik vir die draer sowel as die toeskouer. Die steile was van silwer, net soos die pilare (steile) van die tabernakel. Verder was die konstruksie van goud, ook ‘n edelmetaal, begeerlik en duursaam, bestand teen die elemente. Die binnekant van die sitkompartement of kajuit was versier deur kunstenaarshande. En dan was daar die sitplek van purper, die koningskleur en – ‘n geskenk van die dogters van die Godstad, Jerusalem. Hierdie was in besonder ‘n liefdesoffer soos wat net ‘n vrou dit kan gee.
Dit dan, is die openbaring van homself wat die Bruidegom op hierdie dag aan sy Bruid gegee het. Dit is die eertse keer wat Hy as koning aan haar verskyn het. Wat was haar reaksie?
DIE BRUID: 3:11a Kom uit, dogters van Sion, en aanskou met vreugde die koning Salomo, die krans waarmee sy moeder hom bekrans het op sy troudag en op die dag dat sy hart vrolik is.
Sy is in ekstase. Sy dink aan haar bevoorregte posisie om Hom so te kan sien. Sy dink ook onmiddellik aan haar mede bruide wat wel aan Hom verloof, maar so besig is met al hul huishoudelike take in hul huise hier in Jerusalem dat hulle nie bewus is van die skouspel wat buite die mure van die stad besig is om af te speel nie. Darom draai sy om na die stad, soos die vrou by die put van Samaria, om aan haar mense te vertel van die vreugde wat sy gevind het.
Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom (Joh 4:28-30).
Laat u en ek, wanneer ons die Liefling van die hemel as Bruidegom gevind het, dieselfde doen. Laat staan jou waterkruik, jou kosbaarste aardse besittings, by die put en hardloop na jou geliefdes en nooi hulle om in jou fonds te kom deel, om jou Beminde persoonlik te ontmoet.
DIE BRUID: 3:11b Kom … aanskou … die krans waarmee sy moeder hom bekrans het op sy troudag en op die dag dat sy hart vrolik is.
Wat kan dit tog beteken? Ons het vroeër daarop gewys dat die huwelik tussen hierdie Bruidegom en Bruid nog nie plaasgevind het nie; dat hulle slegs verloof was. Van watter huwelik word hier dan gepraat? Dit is ‘n profetiese visie op sy menswording; toe Hy op aarde gebore is en een geword het met die mens. Dit kan vergelyk word met die eenwording in ‘n aardse huwelik.
Die moeder waarvan hier gepraat word, kan dus slegs sy aardse moeder, Maria, wees en die krans waarmee sy Hom bekrans het, was die krans van sy mensheid. Ja, dit was ‘n vreugdevolle dag want so kon Hy nader aan ons kom, tussen ons kom woon, met ons gesels, ons vreugdes en pyn deel en uiteindelik ons skuld aan die kruis dra sodat ons ook sy geestelike bruid kon word. Sy geboortedag was ‘n groot stap in die rigting van sy einddoel, naamlik om sy Bruid weer vir homself terug te wen. Sy menswording was vir Hom ‘n krans van vreugde.
(Dink, ten slotte, ook daaraan dat die duiwel Hom hierin nie kon nadoen nie.)
~~~~~~~~~~
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.