DOKUMENTE MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Ps 119:9
Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u Woord.
Die jare so van 15 tot 25 is van die mens se gevaarlikste jare; die jare waarin hy gemaak of gebreek word. Het jy al gesien wanneer ‘n motorboot sommer so vanaf die strand af in die see ingaan? ‘n Man moet weet wat jy doen want jy moet deur die aanstormende branders beur en hulle keer vir jou sommer baie maklik onderstebo en val die boot bo-op jou, slaan hy jou stellig katswink en as daar nie iemand naby is om jou uit te red nie, is dit verby nog voordat jy ooit die oop see gesmaak het.
Nie elke jongmens is gelukkig genoeg om ‘n Christen ouer te hê wat op die strand staan en sy kaperjolle dophou sodat hy hom te hulp kan snel of iemand anders se hulp kan byroep as hy in die pekel beland nie. Daarom moet ‘n jongmens van vroeg af al seker maak dat hy weet wat hy doen.
Eerstens moet hy lank voordat hy self probeer om die golwe aan te durf, gereeld met ‘n ervare, verantwoordelike persoon uitgaan en fyn oplet wat hy doen. Hoe lyk die rolmodelle wie se voorbeeld jy elke dag navolg? Het hulle die wenresep of dopper hulle omgeslane vernielde boot in die vlakwater rond?
Tweedens: doen wat die digter van hierdie Psalm jou aanraai om te doen: bestudeer en handel volgens die Woord van God! Dit is die allerbeste handleiding vir ‘n jongman of meisie wat die lewenssee aandurf. As jy veilig deur jou eerste jare kan kom, is jy jou makkers ente voor; dan vang jy al doer vêr anderkant in die diep see groot visse terwyl hulle spartel om hul verflenterde lewensbootjie weer gerepareer te kry. Party moet dan ‘n tweede probeerslag waag met ‘n baba in die een arm. Nee maat, spaar jouself dié ellende en doen die ding sommer die eertse keer al reg! Sterkte!
……….