2024-05-12
A. GENESING VAN ‘N KREUPELE.
Ons lees Handelinge hoofstuk 3:1-26:
En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur. 2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan. 3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra.
4 En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons. 5 En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang. 6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! 7 Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8 En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys.
Die uitstorting van die Heilige Gees soos behandel in die vorige studiegids, was ‘n asemrowende geestelike gebeurtenis. Sou so-iets vandag gebeur, sou die 120, en veral die 12 apostels, wat dit beleef het, die volgende dag waarskynlik ‘n reuse evangeliesasieveldtog in Jerusalem geloods het. Maar nee, daardie geesvervuldes het voortgegaan om God te verheerlik en op hom te wag om geleenthede na sy wil te skep om die Woord uit te dra.
Petrus en Johannes het byvoorbeeld eendag, soos gewoonlik, om 3 uur die middag na die tempel opgegaan om te bid. Joodse gelowiges het gewoonlik dan ‘n paar muntstukke in die bedelaars se beurse laat val met die gadagte dat die Here hulle daarom sou seën. Daardie dag het die twee egter nie ‘n sent by hulle gehad nie. Dit was ‘n bestiering want die Here het meer as 40 jaar tevore al begin om die tafel vir hierdie dag te berei. Dit was toe hierdie lam man as baba kreupel gebore was. Al hierdie jare moes hy met muntstukkies tevrede wees. Aalmoese, andere se oorskiet, was al waarop hy elke dag gehoop het. Tydens Jesus se aardse bediening het hy sekerlik gehoor van andere wat wonderbaarlik genees is; maar sou sy dag ooit kom?
Petrus en Johannes se verleentheid oor hul onvermoë om hierdie arme man te help, was egter God se geleentheid om die lankverwagte wonder te laat gebeur. Diep in hul harte het sy gestuurdes die roering van die waters, die beweging van die Heilige Gees gewaar geword. Deernis vir hierdie hulpelose man het in hul harte opgewel. Daarmee saam ook die wete dat God hom wou aanraak. Geloof het in hul harte opgewel. Eers moes hulle daardie lank verlore verwagting in sy hart ook opwek, daarom het hulle hom beveel om sy oë op hulle te hou. Hy het opgekyk, moontlik hopende dat hulle ‘n groterige muntstuk in sy uitgestrekte handpalm sou plaas. Instede daarvan kom die bevel: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! Ineens gryp Petrus die uitgestrekte hand, ruk hom orent, en die volgende oomblik huppel hy rond op twee volmaak herskepte bene en enkels. Soms gee die Here vir ons meer as wat ons sal waag om te dink of te bid.
As Geesvervulde Christene, het Petrus en Johannes in die salwingskrag van God gewandel. Hulle was oop kanale waardeer die Heer kon gee soos wat net Hy kan gee. Hulle was in voortdurende hegte kontak met God; gereed om te enige tyd deur Hom gebruik te word.
B. PETRUS BENUT DIE GELEENTHEID OM DIE EVANGELIE TE VERKONDIG.
Ons lees Hand 3:9-26.
9 En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys. 10 En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel, en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. 11 En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word.
12 En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop? 13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat. 14 En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word, 15 en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is. 16 En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.
17 En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes; 18 maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly. 19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,
20 en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, 21 Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete. 22 Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. 23 En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. 24 En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig. 25 En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. 26 God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.
Die wonderwerk wat plassgevind het, het dadelik ‘n skare van mense gelok. Die skielike, bonatuurlike ingryping van God in hul midde het harte en gedagtes tot stilstand geskok. Alle skeptiese persepties en trots is platgevee. Die mens het stom gestaan terwyl hulle die almag van God aanskou het. So het die Heilige Gees het self hierdie byeenkoms gereël. Petrus sou sy mondstuk wees om die verhoogde Seun te verheerlik en die geskenk van die Ewige Lewe aan verlore “lidmate” aan te bied. Die kors was gebreek. Hy sou in vrugbare ontvanklike harte saai.
Sy preek was soortgelyk aan díe wat hy op Pinksterdag gelewer het. Hy sluit aan by die Skrif en lering wat die Joodse volk reeds ken. Hy wys hulle daarop dat dit geen vreemde mag of god is wat hierdie wonder verrig het nie, maar húlle God, die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy het hierdie wonderwerk gedoen om sy Seun, Jesus, te verheerlik. Díe Seun wat Hy na hulle gestuur, maar hulle gekruisig het. Vers 16: En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.
Dit moes vir die skare ‘n verskriklike skok gewees het. Die wonder wat so pas voor hul oë gebeur het, was verseker ‘n handeling van God en om nou te hoor dat hulle hierdie God, hul God, se Seun wat Hy na hulle gestuur, gekruisig het! Kan ‘n mens se sonde groter as dit wees? Wat sou die straf daarop wees? Kan so ‘n daad ooit vergewe word?
C. PETRUS BIED AAN DIE VOLK ‘N TWEEDE KANS OM JESUS AAN TE NEEM.
Petrus moes sien hoedat sy luisteraars, net soos op Pinksterdag, verwese, sprakeloos voor hom staan. Hulle wag dat God se oordeel oor hulle uitgespreek word. Dit is tog wat in die Wet geskryf staan: “Die siel wat sondig, die moet sterwe.” (Ex 18:4,20). Sou God wat die mag het om bonatuurlik te genees, sy mag aanwend om hulle uit te delg? Sou Hy vuur uit die hemel laat neerslaan om hulle soos Nadab en Abiram te verkool (Lev 10:1-7)?
Maar dan versag die spreker se gelaat. Sy stem is teer. Hy sê vir hulle dat hy weet dat hulle dit onwetend gedoen het. Hulle het nie verstaan wat hulle doen nie. Daarom dan, kry hulle nou ‘n tweede geleentheid om te kan kies. Nou kon hulle hul fout regstel. Nou kon hulle hul bekeer en Jesus as hul Messias en Velosser aanneem. Vers 19: Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, .
Jesus self het ook mos gesê het dat Hy nie gekom het om die mensdom te vernietig nie, maar om hulle te red. Ons prediking moet net so wees. Terwyl ons God se Wet, sy norme met die een hand omhoog hou om mense hul skuld te laat besef, moet ons altyd sy genadegawe met die ander hand omhoog hou. Die Heer wil nie hê dat die mens in vrees van Hom moet weg vlug nie, maar in vertroue na Hom toe moet hardloop om genade te ontvang. Die Vader wag gedurig met ope arms vir sy verlore kinders om na hom terug te keer.
D. DIE ONDERWÊRELD IS IN BEROERING.
Nou lees ons hoofstuk 4:1-22:
En terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, 2 baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig. 3 En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand.
4 En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyf duisend geword.
5 Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar, 6 ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; 7 en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?
8 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, 9 as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, 10 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. 11 Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. 12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
13 En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. 14 En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. 15 Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag 16 en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie. 17 Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie. 18 En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19 Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; 20 want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.
21 En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. 22 Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud.
E. NOG ‘N SIELE-OES INGESAMEL.
Hoofstuk 4:4: Petrus se prediking, volgende op die wonderbaarlike genesing, het die wonder van die redding van nog 2000 siele bewerk, sodat die “Jerusalem Christelike Kerk” tot 5000 wedergebore lidmate gegroei het. (Soos ons sou sê: “Dit wil gedoen wees”.)
F. DIE dUIWEL MOBILISEER SY MAG OM TE PROBEER OM DIE VLOED VAN GENADE TE STUIT.
Oral waar God begin om ‘n nuwe werk te doen, gooi die duiwel wal vir al wat hy kan. Toe Nehemia en sy werksmanne opstaan om die mure van Jerusalem te herbou, het Sanballat, Tobia en die Ammonietiese kneg onmiddellik opgestaan om hulle te weerstaan.
Die priesters en die Sadduseërs het ook die gejubel gehoor, soontoe gehaas en ten minste ‘n gedeelte van Petrus se preek gehoor. Die Sadduseërs was veral hieroor ontsteld want hulle het nie in die opstanding van die dooies geglo nie; daardie lering heftig teengestaan. Dit is presies dit wat Petrus verkondig het deur te beweer dat Jesus uit die dood opgestaan het. Intussen het dit reeds aand geword. Daarom het die tempelwag vir Petrus en Johannes vir die nag opgesluit.
Die volgende dag het die Sanhedrin in volle krag vergader onder voorsitterskap van die Hoëpriester, Kajafas. Die apostels is voorgebring en gevra deur watter krag en deur watter naam hulle die wonder gedoen het. Petrus, vervul met die Heilige Gees, was nie meer daardie bang man wat Jesus voor ‘n diensmeisie verloën het nie. Vreesloos het hy gepraat en gesê dat dit deur die Naam van Jesus was, dié Jesus wat hulle gekruisig het, maar God uit die dood opgewek het. Deur Hom is hierdie man, wat kreupel was, genees en staan hy nou voor hulle.
Let Petrus se woorde wat in vers 12 opgeteken is memoriseer:
En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
G. DIE “JESUS PROBLEEM”.
Die Sanhedrin was nou lamgeslaan oor wat om verder hieromtrent te doen. Eerstens was hulle verbaas dat sulke eenvoudige, onbelese manne, nie geskool in retoriek nie, so ‘n indrukwekkende toespraak kon lewer. Tweedens kon hulle nie ontken dat ‘n baie verstommende wonder en teken deur hulle plaasgevind het nie. Hulle het die twee apostels ook herken as metgeselle van Jesus ineens besef dat hulle “Jesus Probleem” nie verby was nie. Binnekort sou duisende mense volgelinge word van hierdie Jesus wat hulle gekruisig het, maar wat hierdie manne nou beweer dat Hy leef en nog steeds wondere doen soos wat toe Hy voor sy kruisiging tussen hulle gewandel het. Die verskil was net dat Hy nou nie meer in die vlees en vir hulle sigbaar was nie. Hoe beveg jy so ‘n “Vyand”? Onder die omstandighede het hulle besluit dat al wat hulle kon doen was om hulle te waarsku om glad nie weer in die Naam van Jesus te onderrig nie.
(Wat hulle nie besef het nie, was dat hulle algeheel nie meer relevant was in God se Koninkryk nie. Die Ou-Testamentiese Hoëpriester, tesame met die priesterorde, Leviete, die tempel met sy altare en offers was vir ewig verby. Die tempeltoebehore moes miskien in ‘n museum neffens die pragtige gebou uitgestal geword het. Die tempel self moes omskep word in ‘n ouditorium waar die Evangelie deur Jesus se nuutgekose geestelike leiers verkondig kon word. Hoe tragies dat tot vandag toe nog, hierdie wanbegrip van God se Koninkheidsplan nog voortduur en sal voorgaan tot aan die einde van die sewe jaar van verdrukking waarvan ons in Openbaring lees.)
H. PETRUS SE ANTWOORD.
Ons let nou op Petrus en Johannes se woorde soos opgeteken in verse 19 en 20:
Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; 4:20 want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.
Kom ons hou hierdie woorde in ons harte vir die dag wanneer ons dalk ook voor owerhede moet verskyn om rekenskap te gee van ons geloof in Jesus Chritus.
I. DIE GEMEENTE JUBEL EN MOBILISEER VIR VERDERE AKSIE.
Ons lees nou hoofstuk 4:23-31:
En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het.
24 En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, 25 wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? 26 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, 30 deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. 31 En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
Ons let op die volgende:
- Hoe hulle na hul mede-Christen broers en susters teruggekeer het om te getuig oor wat gebeur en en om hul ondersteuning vir die toekoms te verseker.
- Hoe hulle God geprys het omdat Hy hulle met sy magtige krag omgord het.
- Hoe die Ou-Testamentiese profesieë skielik vir hulle oopgegaan het.
- Hoe belangrik hulle gebed geag en hou hulle daarin verenig het om die magte van die duisternis te oorwin.
- Hoe God hulle versoeke beantwoord het deur die gebou waarin hulle bymekaar was, te skud, hulle weereens te vul met sy Heilige Gees en met vrymoedigheid om weer uit te gaan en die Evangelie te verkondig.
J. DIE HEDENDAAGSE HANDELINGE VAN DIE HELIGE GEES.
Hulle God is ook ons God, halleluja. So, laat ons ook met vrymoedigheid voortgaan om die Evangelieboodskap uit te dra, net soos wat Petrus en Johannes gedoen het.
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → Petrus genees, preek en word vervolg . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons geniet dit om van ons lesers te hoor. Die help ons ook in die ontwikkeling van hierdie webwerf. Gebruik sommer die volgende vorm daarvoor.