Galasiërs 1 tot 3

A. INLEIDING

Hooftema: Vryheid in Christus
Datum geskryf: 49 n.C.
Outeur: Paulus
Plek: Antiochië
Inhoud:

  1. In die vroeë kerk was een van die mees kontroversiële kwessies of die heidense Christene verplig was om die Joodse wette te onderhou.
  2. Leraars wat voorgegee het dat hulle lidmate van die Jerusalem gemeente was, het die gemeentes wat Paulus gestig het daarna besoek en verkondig dat hy nie die volle Evangelie aan hulle verkondig het nie en dat hulle naamlik ook sekere Ou Testamentiese wette moes onderhou om in die regte verhouding tot God te kon kom (met hom versoen te kon word).
  3. Hierdie nuus het Paulus bereik en wel dat sulke leraars in die suidelike Galasiese gemeentes doenig was en dat hulle valse leringe die Galasiërs tot die punt gebring het om hulle verlossing, wat alleenlik deur geloof in Christus bekom kon word, te laat vaar .
  4. Paulus skryf hierdie brief om dié valse leringe te weerlê en die Galasiërs in hulle geloof te herbevestig.
  5. Hierdie brief is van besondere belang vir elke Christen, want dit bevat kristalhelder lering, nie net oor die vryheid in Christus (wat ware lewe gee nie), maar ook oor wettisisme en die wandel in die vlees wat tot die dood lei.

B. PAULUS GROET DIE GEMEENTE

1:1, 2

Paulus groet die gemeentes van Galasië deur te sê:

  1. Dat die brief wat volg van hom, Paulus, is.
  2. Dat hy ‘n apostel is.
  3. Dat hy hierdie apostelskap nie deur die tussenkoms van ‘n mens bekom het nie.
  4. (Sien byvoorbeeld die aanstelling van Mattias, Handelinge 1:15-28).
  5. Dat hy direk deur God die Vader aangestel was deur Jesus Christus aan en in hom te openbaar.
  6. (Hy beklemtoon dus die feit dat sy roeping absoluut goddelik was (uit en deur God was en nie deur die tussenkoms van ‘n mens nie) ).
  7. Die brief is ook onderskryf deur sy medewerkers (in Antiochië, waar hy ten tyde van die skryf daarvan bedien het,1:2).

C. HY SPREEK GOD SE SEËN OOR HULLE UIT

 1:3-5

  1. Deur geloof en onder die salwing van die Gees spreek hy oor hulle uit die genade en vrede wat vanuit die Vader en die Seun vloei.
  2. Dit is hierdie genade wat die Vader en die Seun daartoe gelei het om die offerande te bring wat dit moontlik gemaak het om uit hierdie huidige goddelose wêreld gered te kan word.
  3. Vir hierdie verlossing moet Hy heerlikheid ontvang tot in alle ewigheid.

D. DAAR IS SLEGS EEN EVANGELIE

1:6-11

  1. Paulus spreek sy verbasing en skok uit dat die Galasiërs so gou, nadat hulle die Evangelie wat hy aan hulle verkondig en hulle aangeneem het, nou weer daarvan afwyk.
  2. As daar verskillende wyses was om met God versoen te kan word, sou hulle verandering in oortuiging nog verstaanbaar wees, maar die Evangelie sluit duidelik elke ander moontlikheid van verlossing uit.
  3. So, wat in werklikheid gebeur het, was dat hulle onder aanslag was van mense wat hierdie boodskap verdraai het om hulle te verwar.
  4. Dit is so ‘n verskriklike sonde teen God en ‘n misdaad teen die mensdom, dat Paulus ‘n vloek oor so ‘n wese, of hy nou ‘n mens of ‘n engel is, sou uitspreek en hom tot die hel sou veroordeel.
  5. Vir hom (Paulus) om so ‘n heftige standpunt oor hierdie kwessie in te neem, bewys dat sy motief nie was om hulle vir homself te wen nie want so ‘n konfrontasie sou beslis nie diegene wat by hierdie misdaad betrokke was na hom toe trek nie.
  6. Maar hoe dit ookal sy, as ‘n dienaar van Christus soek hy die waarheid en nie die applous van die mens nie.

E. PAULUS HET SY EVANGELIE DIREK VAN CHRISTUS ONTVANG

 1:12-24

  1. Om die egtheid van sy boodskap te bewys, begin Paulus deur daarop te wys dat hy hierdie boodskap nie van ‘n mens ontvang het nie, maar direk van die opgestane Christus.
  2. Dit was nie asof hy van sy jeug af geleer was om Christus te volg nie; inteendeel, hy was waarskynlik die lojaalste volgeling van die Joodse godsdiens ooit, en het probeer om die Wet tot die letter toe uit te leef; hy het die volgelinge van Christus vervolg en verwoes, tot op daardie dag dat God, wat hom voorbestem het om hierdie boodskap aan nie-Jode te verkondig, Homself aan hom geopenbaar het, nie net fisies nie, maar ook innerlik, in sy gees.
  3. So sterk en duidelik was hierdie openbaring dat hy nooit met enige mens oorleg gepleeg het of hy dit korrek gehad het nie.
  4. Wat hy gedoen het, was om na die Arabiese woestyn te vertrek waar hy drie jaar lank vertoef en die dieptes (implikasies) van hierdie openbaring oordink het.
  5. Eers daarna het hy vir die eerste keer na Jerusalem opgegaan waar hy Petrus ontmoet en 15 dae by hom oorgebly het. Gedurende daardie periode het hy ook vir Jakobus, die broer van die Here, ontmoet, maar geeneen van die ander apostels nie.
  6. Verder het hy nooit in die omstreke van Jerusalem, soos byvoorbeeld in Judea, waar hy meer van die inhoud van die Evangelieboodskap van die ander apostels sou kon optel, bedien nie, maar het in die noordelike provinsies, Sirië en Silisië, gaan bedien. Die apostels in die suide het slegs gehoor wat God deur hierdie voormalige vervolger besig was om te doen en Hom daarvoor geeer.

F. VERDERE VERLOOP VAN SY BEDIENING: DIE ANDER APOSTELS HET PAULUS SE BOODSKAP BEVESTIG

 2:1-10

  1. Nadat Paulus hierdie boodskap van vryheid in Christus veertien jaar lank verkondig het, het hy, in opdrag van God, na die leiers van die gemeente in Jerusalem gegaan en Barnabas en Titus, ‘n onbesnede Griek, saamgeneem.
  2. (Die Here het hierdie ontmoeting waarskynlik bewerk om die eenheid van sy Kerk te demonstreer en te bevorder, of die lidmate nou ookal eertyds Jode of heidene was, of hulle Jesus deur Petrus of Paulus se bediening gevind het.)
  3. Jakobus, Petrus en Johannes, wat as pilare van die kerk beskou word, het die vergadering gelei.
  4. Hulle het nooit, vir ‘n oomblik, oorweeg om toe te gee aan die valse “broeders” wat daarop aangedring het dat Titus besny word wat tot gevolg sou hê dat hy (en Christene oral en vir altyd) van hul vryheid in Christus beroof sou word.
  5. Inteendeel, hulle het gesien en erken dat dieselfde God wat Petrus bemagtig het as die apostel vir die besnedenes (Jode), ook vir Paulus bemagtig het om die apostel vir die onbesnedenes (heidene) te wees.
  6. Die vergadering is afgesluit met ‘n warm handdruk van welwillendheid en eenheid en die Jerusalem gemeente het selfs die vrymoedigheid geneem om Paulus te vra om nie die armes in hul midde te  vergeet nie, ‘n saak wat hy reeds ook op sy hart gehad het.

G. PAULUS HET SELFS VIR PETRUS WEERSTAAN TOE HY VAN DIE EVANGELIE AFGEWYK HET

 2:11-20

  1. Hierdie kosbare waarheid van die gelowige se vryheid in Christus wat Paulus so sterk verdedig het, kan so maklik die slagoffer word van wettisisme.
  2. Selfs Petrus en Barnabas het dit by geleentheid opgeoffer om nie Joodse Christen-besoekers uit Jerusalem aanstoot te gee nie.
  3. Hulle het dit gedoen (hul vryheid in Christus opgeoffer) deur hulself eenkant te hou en nie saam met die nie-Joodse Christene aan te sit om te eet nie, omdat die ou voor-Christelike Joodse wette geleer het dat die nie-Jode onrein was. (Die dieper rede was waarskynlik omdat die nie-Jode nie besny was nie en die Jode enige onbesnede persoon verafsku het).
  4. Paulus wou niks hiervan weet nie en het Petrus openlik gekonfronteer deur vir hom te sê: “Waarom verwag jy dat die heidene moet buig voor dieselfde wette wat jy as tradisionele Jood prysgegee het deur Christus as Verlosser te aanvaar?”
  5. Hy gaan dan voort om ‘n duidelike uiteensetting van die Evangelie van genade te gee en sê:
    • Niemand kan gered word deur te probeer om die Wet tot perfeksie te onderhou nie; daarom moes selfs die (besnede) Jode gered word deur hulle vertroue in Christus te stel wat sondaars uit genade vergewe.
    • Deur terug te keer na die nakoming van sekere ou wette om God te behaag, was dieselfde as om die muur van verlossing te herbou deur bakstene van goeie werke in te sement, ‘n muur wat hulle self as onmoontlik prysgegee en afgebreek het toe hulle Christus se aanbod van genade aanvaar het.
    • Die wet van God self maak ‘n persoon dood omdat dit hom veroordeel omdat hy dit, as gevolg van sy bedorwe natuur, nie ten volle kan onderhou nie .
    • Maar nou, nadat hy deur die Wet doodgemaak is, sê Paulus, is hy ook vir die Wet dood, wat beteken dat hy nie daarop reageer deur te poog om aan sy (die Wet se) vereistes en eise te voldoen nie; dit doen hy sodat hy vir Christus kan lewe wat hom verlos het van die dood wat die Wet oor hom gebring het.
    • Hy het eintlik saam met Christus aan die kruis gesterf en sy ou selfgeregtigheid leef nie meer nie, nee, dit is Christus wat in hom leef.
    • Hierdie nuwe lewe wat hy leef, leef hy deur volkome te vertrou en te leun op Christus wat hom liefgehad en Homself vir hom geoffer het.
    • Om weer te probeer om geregverdig te word deur die Wet te onderhou, sou wees om die genade en offerdood van Christus te verwerp, en dit sou Paulus nooit doen nie.
    • (Opmerking: Wanneer Paulus van die Wet praat, bedoel hy die Wet as ‘n middel om voor God geregverdig te word deur volmaak (tot die laaste druppel toe) aan die vereistes daarvan te voldoen.)

H. REGVERDIGING DEUR ONDERHOUDING VAN DIE WET TEENOOR GELOOF IN CHRISTUS

 3:1-29

  1. Weereens spreek Paulus sy verbasing uit oor hulle ongehoorsaamheid aan die waarheid; hulle tree op asof hulle betower is, asof ‘n bose towerspreuk oor hulle uitgespreek is, want die Evangelie is so duidelik aan hulle gebring; Christus was uitgebeeld asof Hy in hulle midde gekruisig was, en tog is hulle nou op die punt om van hierdie kern waarheid af te wyk.
  1. Hy beroep hom nou op hulle rede en voer ‘n aantal grondige argumente aan in ‘n poging om hulle van die pad van vernietiging te red en hulle terug te bring na nugtere denke.
  2. Sy eerste argument is dat hulle die heerlike aanraking van die Heilige Gees ervaar en sy kragtige werking aanskou het.
  3. Hulle moet hulself nou afvra: Hoe het dit gekom dat ons die Heilige Gees ontvang het: was dit deur te probeer om die Wet noukeurig (nougeset) te onderhou of bloot deur die boodskap van verlossing te glo?
  4. Tweedens moet hulle vra: Op grond waarvan doen God hierdie wonderwerke onder ons; is dit omdat ons die menige wette onderhou of omdat ons in Christus glo?
  5. Kon hulle tog so dwaas wees om, nadat hulle aan die begin die heerlike voedsel van die Gees gesmaak het, hul nou na die droë bene van die vlees wend?
  6. Hulle moet terugdink aan hoe hulle vervolg was omdat hulle die onderhouding van die Wet (as die wyse om vrede met God te vind) verwerp het  en nie nou terugdraai na dieselfde dinge toe waarvoor hulle destyds gely, toe hulle dit verwerp het nie.
  7. Sy tweede argument is om te oorweeg dat die verlossing deur geloof wat hulle nou ervaar, terug dateer na Abraham wat ook met God versoen was, bloot deur geloof en nie deur die Wet te onderhou nie, want die Wet van Moses is 430 jaar na die geboorte van Abraham eers deur God gegee – deur van verlossing deur geloof af te wyk, wyk hulle in werklikheid af van die geloof van Abraham.
  8. Diegene wat geregverdig word deur bloot die boodskap van verlossing deur geloof te glo, is die ware kinders van Abraham.
  9. Trouens, hierdie selfde Evangelie van verlossing deur geloof is aan Abraham verkondig toe God aan hom belowe het dat in hom al die nasies van die aarde geseën sou word.
  10. (En) hoe sou hulle hierdie seën ontvang wat Abraham ontvang het: deur bloot die boodskap van verlossing in Christus te glo, net soos wat Abraham gedoen het.
  11. Diegene wat probeer om gered te word deur die Wet te onderhou, leef onder ‘n vloek, want die Wet sê: Vervloek is elkeen wat nie elk van die wette wat in die boeke van Moses beskryf is, ten volle en voortdurend onderhou nie, (Deut. 27:26).
  12. Hierdie waarheid word ook elders in die Skrif bevestig, want dit staan ​​in die profete opgeteken: Die regverdige sal uit die geloof lewe (Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. Hab. 2:4).
  13. Die Wet bepaal presies die teenoorgestelde, want dit verklaar: Die mens wat hierdie dinge doen, sal deur dit te doen lewe (sal daardeur lewe).
  14. Hoe is ons dan vrygemaak van die vloek wat die Wet op ons gelê het: deurdat Christus daardie vloek op Homself geneem het, ‘n vervloekte namens ons geword het, toe Hy aan die kruis vasgespyker is en gesterf het om die straf van die vloek te dra, want daar staan ​​geskrywe dat een wat (aan ‘n kruis) opgehang, deur God vervloek is (Deut. 21:23).
  15. Dit was God se wyse om die eise van die vloek te vervul en die poort oop te maak sodat die seën wat Hy aan Abraham belowe het, na die heidene kon deurvloei.
  16. Dit is die weg van verlossing deur Christus, deur God berei, waardeur die beloofde seën van die ontvangs van die Heilige Gees na ons toe kom, die oomblik wanneer ons glo.
  17. Die verbond tussen Abraham en God rakende hierdie seën, is soos ‘n persoon se laaste testament, wat, sodra dit verseël is en die persoon gesterf het, nie meer verander (gewysig) kan word nie.
  18. Dit impliseer dat die belofte van verlossing deur geloof en die ontvangs van die Heilige Gees wat aan Abraham belowe was, nie deur God herroep kon word na Abraham se dood nie; daarom het die Wet van Moses wat 430 jaar later gekom het, daardie belofte glad nie verander nie.
  19. Let nou ook op die feit dat God belowe het dat die seën vir Abraham se saad was, nie vir sy (baie) sade nie, wat beteken dat die seën vir Christus bedoel en aan Hom geskenk was en slegs deur Hom aan almal wat in Hom sou glo, geskenk kan word.
  20. As hierdie seën ontvang moes word deur elke jota van die Wet stiptelik en volledig te onderhou, sou dit toegeken word op grond van prestasie en nie uit genade nie.
  21. Dit lei tot die logiese vraag waarom God dan die Wet deur Moses gegee het; watter doel het dit vir God en die mens gedien as dit nie kon red of die Heilige Gees kon skenk nie.
  22. Is die Wet en die beloftes van God dan in stryd met mekaar?
  23. Die antwoord is nee, die Wet het ‘n tweeledige doel, naamlik:
    • Dit het die volk van Israel daarvan weerhou om roekeloos te sondig tot die mate dat God hulle sou moes uitwis, en dit het hulle ietwat beskerm teen (bewaar van) hulle bose begeertes totdat hulle die boodskap van Christus kon ontvang en gered kon word.
    • Aangesien ‘n onderwyser nie net kennis oordra nie, maar ook die leerling se gebrek aan kennis uitwys, het die Wet voortdurend hul onvermoë om die wil van God in hul eie krag te doen onder hul aandag gebring, en hulle daardeur aangespoor om eerder God se vergifnis deur sy genade te soek, wat die weg vir hulle geopen het om die Evangelie van genade in Christus makliker te aanvaar wanneer dit sou kom.
  24. Noudat die boodskap van verlossing deur geloof in Christus egter gekom en die Galasiërs Hom aangeneem het, in Hom (in sy geregtigheid) beklee en daarna selfs gedoop is, het hulle kinders van God geword en het hulle geen verdere behoefte aan die Wet as beskermer, leermeester en bewaarder nie, want nou word hulle deur die verligting en krag van die Heilige Gees op God se weg gelei.
  25. Die eenheid in die Gees (tussen Christene) is selfs groter as hul verskille in die vlees soos Jood/Griek, slaaf/vry persoon en man/vrou, want hulle is nou een in Christus.
  26. Diegene wat nou aan Christus behoort, is die ware afstammelinge van Abraham en as sodanig ook erfgename van die belofte van verlossing en van die Heilige Gees wat God aan hom gegee het.

                                        ///////////                                    



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha