2025-10-05A
A. DIE MENIGTE EN DIVERSITEIT VAN SPREUKE
Die Boek Spreuke is nie soos sommige ander Bybelboeke wat oor een, of ‘n beperkte aantal onderwerpe handel wat in logiese volgorde gerangskik is soos bv die Boek Josua wat die inbesitneming van Kanaän beskryf nie. Spreuke is soos ‘n groot sak bevattende boontjies en bessies, papajas en pampoene, lemoene en waatlemoene, pynstillers en wasgoedpennetjies, levensessens en skeermiddel, grimeermiddel en granate; basies alles wat die mens benodig om sy lewe te bedryf en te geniet. Die leser steek sy hand daarin, besluit of dit wat hy raakvat en uithaal is waarna hy op soek is, laat dit gaan of proe daaraan, gryp dit vas en verorber dit, bewaar dit of dink nooit weer daaraan nie. Wat vandag nommer pas is vir sy behoeftes, pas môre nie aan sy voet nie. Daarom: lees dit weer en weer: vandag en dan miskien eers weer op ‘n ander dag. Die sentrale tema bly die wysheid wat uit God is, maar die verskeidenheid is so omvangryk soos die Skepper self. U sal dit nooit uitput of alles wat daarin opgeteken is, verstaan nie. Daarom ook, lewer ek nie in een of selfs in ‘n honderd studiegidse oor elke jota en tittel kommentaar nie.
B. “MOENIE VERGEET OM TE ONTHOU OM DIE SLEUTEL BY DIE HEK AF TE GEE NIE”
Spr 3:1 My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar;
Ons geheue laat ons dikwels in die steek wat die gewone aardse dingetjies betref; hoeveel te meer wanneer dit kom by geestelike moets en moenies. ‘n Preek tref my vandag diep in my hart, my trane vloei, maar ‘n uur later wanneer ek tuiskom en ontdek dat die yskas ontvries het en vervang sal moet word, wis die ontsteltenis daardie diep indrukke ineens uit. Daarom herinner die Heer ons in hierdie Boek weer en weer om nie te vergeet wat Hy ons reeds geleer het nie.
Deur die datum en wat die Here vir u sê in ‘n dagboek aan te teken, sal u help om daagliks aandag te gee aan die uitvoering van sy opdragte en na 40 dae of meer se beoefening van daardie gedragsreël sal dit deel van u leefwyse wees.
Maar, al is u (soos ek) nou nie eintlik ‘n dagboek mens nie, is die saad oor die bepaalde onderwerp in ons hart en geheue gesaai en solank ons daagliks op die Heer ingestel is, sal sy Gees dit weer later vir ons uitlig en ons motiveer om aandag daaraan te gee.
C. KEN HOM IN AL JOU WEË
3:5 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. 3:6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Die meeste kinders van God bid oor belangrike besluite wat hulle moet neem, bv watter studierigting om op universiteit te kies. Dit sal darem ‘n ramp wees as jy na 6 jaar se mediese studies ontdek dat jy gladnie kans sien om heeldag met mense se kwale te doen te hê nie. Sommige jongmense bid oor die keuse van ‘n lewensmaat maar dikwels eers wanneer die verhouding reeds so vêr gevorder het dat terugdraai onmoontlik is.
In hierdie teks word ons aangesê om Hom in AL ons wëe te ken, NIE op ons EIE INSIG TE STEUN NIE en Hom met ons HELE HART TE VERTROU. Dink mooi daaroor na: dit beteken dat ons absoluut op Hom moet fokus om te wete te kom wat Hy in ‘n elke situasie van ons verwag. Dit is om soos met ‘n kragtige teleskoop op ‘n bepaalde ster te fokus en gefokus te bly; om al jou aandag daaraan te gee; om elke aspek daarvan te bestudeer soos in watter sterrekonstellasie dit beweeg, hoeveel lig dit uitstraal, hoeveel mane daarom wentel, ens.
Beteken dit dat ek gladnie die verstand wat die Heer my gegee het mag gebruik om my lewensweg uit te werk nie? Allermins. Ek moet elke bron raadpleeg en elke middel gebruik om soveel moontlik oor die onderwerp te wete te kom, maar ek moet terselfdertyd heelhartig op Hom steun om my in my ondersoek te lei om tot ‘n wyse gevolgtrekking, volgens sy wil, te kom. Ek gebruik my verstand asof alles van myself afhang en ek steun op Hom asof alles van Hom afhang. Dit is die wysheid waarvan hierdie Boek praat.
So dikwels laat ons, ons gedagtes die loop neem oor wat vir ons reg of lekker lyk om te doen en eers wanneer ons al ‘n ent weg is met ons ondersoek, begin ons om die Here te raadpleeg. Teen daardie tyd het ons, onsself al so oortuig dat dit vir die Here moeilik is om ons anders te oortuig; so stoei ons dan daelank voort sonder om ‘n antwoord te kry en raak geïrriteerd of mismoedig omdat ons meen dat die Heer ons nie wil antwoord nie. Dalk antwoord Hy, maar is ons net te doof vir juis daardie anrwoord want dit is nie wat ons wil hoor nie. Ons wil nie Sý antwoord hoor nie maar wil hê dat Hy óns antwoord moet goedkeur; ‘n regmerkie daaragter moet plaas. Gestel nou Hy doen dit, dan gaan dit mos later blyk nie die regte ding te gewees het om te gedoen het nie en sal jy Hom in die toekoms nie weer vertrou nie. Nee, nee, die Heer laat Hom nie ompraat nie. Miskien het Hy vir ons iets anders, iets oneindig groters, in gedagte omdat Hy wyer oor die wêreld en verder in die toekoms in kan sien. Kom ons kyk na ‘n paar tekse:
Jes 55:8 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Nogal waar nê? Het Hy nie die sterrehemel lank, lank gelede beplan en gemaak nie en funksioneer dit nie tot vandag nog foutloos sonder die hulp van die mens nie.
Mat 6:9 Só moet julle dan bid: Onse Vader … laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
Hoe geskied ons Vader se wil in die hemel? Werk die engele elkeen hul eie planne uit? Besluit hulle wat hier op die aarde met ons moet gebeur? Gelukkig nie want ook hulle het nie die wysheid van Hom wat alles vooruit, voor die skepping reeds beplan het nie. Die engele hoor van Hom en voer dit uit. Selfs Jesus het tydens sy aardse lewe so gemaak:
Joh 8:28 … en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.
Daarom leer Paulus ons ook om oor ons gedagtes te waak dat hulle nie na willekeur rond hardloop nie, maar binne die wil van God gevange gehou word:
2Kor 10:5 terwyl ons … elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Om oor die groot dinge van God te kan hoor, moet ons met die klein dingetjies van elke dag oefen: as ek daarin aan hierdie teks uitvoering kan gee, sal dit baie makliker gaan met die groot dinge. Dan sal ek ook vertroue hê in my vermoë om reg van Hom te hoor en daarop te handel. Spring eers oor die 1 meter hoë dwarslat en werk dan al hoër op.
Selfs in die klein besluitjies kan dit ons baie tyd, en soms geld ook, spaar deur van die begin af die wyse, regte besluit te neem en uit te voer. Byvoorbeeld: Sal ek nou eers na die klerewinkel en dan na die slaghuis gaan? Ek besluit om eers klerewinkel toe te gaan maar daar aangekom moet ek uitvind dat hulle weens ‘n personeel-opleiding sessie ‘n halfuur later eers oopmaak. Nou het ek ‘n halfuur verkwis – ai, het ek tog maar eers ‘n skietgebedjie laat opgaan of na daardie sagte influistering geluister!
D. NOG VOORDELE WAT UIT DIE BEOEFENING VAN GODDELIKE WYSHEID VOORTVLOEI
Behalwe die “paaie wat die Here vir jou gelyk sal maak” (tyd en moeite wat so ‘n wyse lewenswandel jou sal bespaar) meld hoofstuk 3 ook die volgende voordele:
- Rustigheid van gemoed: 3:2 … dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Psa 27:1 … vir wie sou ek vervaard wees? Is jy dikwels vervaard? Gryp jy hier, dan daar? Ai, dis so lekker om jou dagtaak met rustige sekerheid, stappie vir stappie te kan verrig en as jy boonop ‘n spanleier is, bewerk jou rustigheid ook ‘n kalmte en vrede in almal om jou. Met die oë op die Heer is dit haalbaar.
- Waardering en agting van God en jou gemeenskap: 3:4 … dan sal jy genade vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense. Luk 2:52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense. Selfs die ongereddenes om jou sal heimelik respek vir jou hê.
- Goeie gesondheid: 3:8 … dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. Spanning is die oorsaak van baie van ons kwale.
- Veiligheid: 3:23: dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie; Die Heer weet vooruit van dreigende gevare en sal jou weg so uitwerk dat jy nie daarin beland nie soos wat Hy vir Josef gewaarsku het om met die Jesus kind na Egipte te vlug om die kindermoord van Herodus te ontkom (Mat 2:13).
- Goeie nagrus: 3:24: …as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. ‘n Skoon gewete gebaseer op die wete dat ek heeldag op die Heer vertrou het om my te lei en bely het waar ek gefouteer het, kan my dalk ‘n paar Rand aan slaappille spaar … (?)
E. KWEEK DIE REGTE INGESTELDHEID
Moet nie moedeloos raak nie. Rome is nie in een dag gebou nie. Die atleet wat nou daar oor die 2m hoë dwarslat gly, het nie vanoggend eers begin om hoog te spring nie – daardie prestasie is die resultaat van baie jare se daaglikse oefen. Oefen net gereeld; dag vir dag. Jy moet geestelike spiere bou sowel as die tegniek bemeester.
Jou gesindheid is belangrik. 1Th 5:16 Wees altyddeur bly. Jy moet nie net reg doen nie maar dit doen met lus. Geniet jou geestelike oefening. Wees hartlik teenoor die Heer: Psa 37:4 en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Sien die Heilige Gees as jou afrigter, nie as jou regter nie. Onthou, Hy wil jou help om jou beste te lewer sodat jy die mooiste kroon kan ontvang; indien nie in hierdie lewe nie, dan in die lewe wat kom. 1Pe 5:4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. Behou ‘n gesindheid van uitreik na steeds hoër hoogtes. Jesus se wysheidsgimnasium het nie ‘n plafon nie: Mat 5:48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is. Geestelike groei behels natuurlik dat: Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.
F. MY INTERAKSIE MET DIE MENSE OM MY
Terwyl ons in hierdie wêreld is, leef ons tussen mense. Hier is ‘n paar wysheidsgedagtes oor hoe my verhouding met hulle moet wees:
Wees vrygewig: 3:27 Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. 28 Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee—terwyl jy dit het. Van uitstel kom afstel. Wees bly dat die Here jou geseën het met soveel middele dat jou beker oorloop en jy iets het om met andere te deel. As die geleentheid kom dat jy kan gee, doen dit sodra dit in jou hart opkom of wat die behoeftige jou weg kruis – as jy uitstel tot môre toe, sal die duiwel 7 goeie redes in jou gedagte plaas waarom jy dit nie moet doen nie. Nog ‘n rede om nie uit te stel nie, mag wees dat die persoon wat die Heer oor jou pad gebring het, jou gawe nóu dringend nodig het; môre kan te laat wees.
Wees opreg: 3:29 Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. Die mense wat na aan my is, aan wie ek gunste bewys, moet rustig wees, wetende dat ek geen bybedoelings het nie, dat hulle my kan vertrou om aan hulle te doen soos wat ek aan myself gedoen wil hê. Nie soos Jakob se skoonpa, Jetro vir wie hy 7 jaar in wind en weer skape opgepas het vir die hand van sy pragtige dogter, Ragel. Op die bruidsnag ruil hy haar egter stilletjies om en toe Jakob die volgende oggend wakker word, ontdek hy met skok dat hy die nag met die ouer, nie so mooi Lea, deurgebring het en sodoende vir die res van sy lewe met haar as vrou sou moes saam lewe en vir haar sorg. Hoe sê ons nou weer? “Met sulke familie het ‘n mens nie vyande in jou lewe nodig nie”. Hoe vertrou jy so ‘n familielid ooit weer.
Moet nie skoor soek nie: 3:30: Twis nie sonder oorsaak met ‘n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie. Rom 12:18: as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. In Rigt 18:25 lees ons dat daar in die stam van Dan, manne was met ‘n “bitter gemoed”. As ‘n mens aan jou binnekant bitter is, is jy sommer oor alles bitter en twis jy baie vinnig met die mense om jou; is jy elke nou en dan betrokke in ‘n woordewisseling met die mense met wie jy daagliks skouers skuur. Ons moet tog nie toelaat dat bitterheid in ons harte wortel skiet nie. Die wyse ding om te doen, is om dit nie net uit te skoffel nie, maar dit te vervang met die teenoorgestelde karaktertrekke naamlik liefde en getrouheid. 3:3: Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, . Wanneer iemand ‘n bepaalde span heelhartig ondersteun, is hy nie skaam om ‘n T-hemp met die naam en embleem van daardie span in die openbaar te dra nie. Is ek so ernstig oor die karaktertrekke van LIEFDE en GETROUHEID dat ek graag ‘n T-hemp met daardie woorde sou wou dra? Doen ek dit, sal ek darem versigtig wees in wat ek doen en sê, gedurig bewus daarvan dat mense my dophou om te sien of ek dit uitleef! Wat ‘n uitdaging. Daardie woorde sal dan ook in my hart geskryf staan as ‘n gebed tot die Heer om my daartoe in staat te stel.
Moet nie jou buurman se besittings begeer nie. 3:31 Wees nie afgunstig op ‘n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. 32 Want die verkeerde is vir die HERE ‘n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes. 33 Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges. Dit is nou maar eenmaal so dat nie alle besittings op ‘n eerlike wyse bekom word nie. Sommige wonings is so begeerlik maar die eienaar se voorspoed is maar tydelik want hy het die goddelike verordeninge van eerbaarheid geweld aangedoen om dit te bekom en die Here se oordeel rus op daardie woning. Die Heer skenk hom eintlik net nog maar ‘n rukkie genadetyd om sy sonde te bely en hom van sy verkeerde weg te bekeer. Wees tevrede met dit waarmee die Heer jou geseën het en die vrede in jou hart terwyl jy dit geniet. Môre, oormôre slaan die geregsdienaar die boeie om jou buurman se polse en laai die balju sy meublels op ‘n vragmotor terwyl jy jou blomtuin natspuit en toekyk.
G. VERERING VAN GOD DEUR MY GAWES
- Spr 3:9 Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; 10 dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.
- Mal 3:8 Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. 9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! 10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. 11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. 12 En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.
- Mal 1:8 En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.
‘n Paar gedagtes na aanleiding van hierdie Skrifgedeeltes:
- Dit bevat beide ‘n oordeel wanneer dit nie nagekom word nie en ‘n belofte van seën wanneer ons daarop ag gee.
- Ons moet eerstens in gedagte hou dat ons, ons gawes neerlê aan die voete van die Koning van die heelal voor wie die vier lewende wesens dag en nag uitroep “Heilig, heilig heilig … “. Om Sondag jou hand in jou sak te steek en dit wat jy raakvat onnadenkend in die bordjie te gooi, is soos om Saterdag ‘n paar munte in ‘n bedelaar se bakkie te gooi net om van hom ontslae te raak. Nee, stel jou eerder voor dat jy gaan om voor ‘n hooggeagte koning op sy troon te verskyn en dat jy ‘n geskenk saam neem om aan hom te oorhandig. Sou jy nie jou bes probeer om hom te vereer met wat jy gee nie?
- By die Hemelkoning gaan dit egter nie oor die monetêre waarde (geldwaarde) van dit wat jy gee nie, maar oor die gesindheid van jou hart. Daarom is dit binne elkeen se bereik om ‘n kosbare geskenk aan Hom te gee. Jesus het die arm weduwee wat haar laaste twee pennings in die skatkis gegooi het, hoog aangeprys (Mar 12:43) eerder as die ryke wat uit sy oorvloed ‘n bedraggie gee wat onbeduidend is teenoor dit wat hy op homself spandeer.
- Ons offerande moet ‘n liefdesoffer wees: 2Kor 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. Jou hart moet warm klop wanneer jy vir jou Verlosser iets gee. Het Hy dan nie sy lewe vir jou gegee nie?
- Net nog ‘n paar woorde oor die bedrag. Die Ou-Testamentiese gelowige (Israeliet) moes ‘n tiende van sy inkomste gee. Dit het hoofsaaklik gegaan vir die lewensonderhoud van die priesters en Leviete wat by die tempel diens gedoen het. Die Koninkryk van Israel wat hulle bedien het, was relatief klein. Vandag bedien die Kerk van Jesus Christus die ganse wêreld. Eerstens moet die Evangelie van verlossing aan alle mense verkondig word en tweedens moet hulle wat tot bekering kom, opgebou word tot die volheid van Christus. Dit is ‘n allemintige taak! Dit is ook ‘n allerbelangrike taak want die Koninkryk waaraan nou gewerk word, is die ewige Koninkryk van God wat ons huidige skepping vervang en moet voltooi word voor die laaste basuin blaas. Hoeveel dra u daartoe by? Daar is ‘n menigte organisasies buite die mure van plaaslike gemeentes wat ook hieraan werk maar hulle is uiters afhanklik van U ondersteuning. Wat u vir hulle gee, gee u inderwaarheid ook vir die Koning en vir sy nuwe Koninkryk.
- Die seën wat die Heer belowe is asemrowend (lees net gou weer Mal 3:8 hierbo aangehaal). Hy sal rampe wat andere tref van jou afweer en eerder die natuur gebruik om jou inkomste so dramaties te laat toeneem dat nasies jou gelukkig sal ag. Nou moet ek tog net waarsku dat u hierdie teks reg moet verstaan. In die Ou-Testamentiese bedeling was groot aardse rykdom gesien as beloning vir ‘n lewe toegewy aan God, maar selfs toe al was die teendeel ook beleef. In Ps 73 kla Asaf oor die voorspoed van die goddelose teenoor die swaarkry wat die regverdige soms moet belewe (lees dit asb). Nuwe-Testamenties word die hiernamaalse beloning merendeels eerder beklemtoon (asook die voorspoed gedurende die Duisendjarige Vrederyk). Ons moet tog nie maak soos die lidmaat na wie se huis ek moes gaan om haar afgeleefde ou motor as geskenk aan die Gemeente in ontvangs te neem, terwyl sy in vervoering was oor die blink nuwe motor wat die Heer vir haar in ruil daarvoor sou gee nie. Jesus het ons geleer om te bid, “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Selfs die manna het Hy destyds op ‘n dag vir dag basis voorsien. Ook leer Paulus ons as volg: Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees (1Ti 6:8). Die belofte in Spreuke hierbo staan vas maar, … ons gaan dit dit nie alles hier en nou kry nie en wanneer ons wel ‘n oormaat ontvang, belê dit tog maar in die opbou van sy ewige Koninkryk. Daar is dit veilig en … “waar u skat is, daar sal u hart ook wees”.
MAAR GENOEG OOR HOOFSTUK 3 – VREDE EN VREUGDE U TOEGEBID.
//////////
NA INDEKS ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~ NA VOLGENDE STUDIEGIDS