EFÉSIËRS 6

A. DIE CHRISTELIKE LEWENSWANDEL TOEGEPAS OP OUER-KIND VERHOUDINGS

 6:1-4

  1. Kinders moet hulle ouers gehoorsaam in alles wat in ooreenstemming is met God se wil – dit is hoe dit moet wees (6:1).
  2. Hulle moet beide vader en moeder eer sodat God sy seën oor hulle kan gebied, veral deur hulle lewens op aarde te verleng – dit is in werklikheid geen nuwe gebod nie, maar dateer terug na die Wet wat God aan Moses gegee het en is die heel eerste voorskrif wat met ‘n spesifieke belofte gepaardgaan (6:2,3).
  3. Vaders moenie hul gesag oor hul kinders uitoefen op ‘n wyse wat hul menslike swakhede nie in ag neem nie, wat dit vir hulle onnodig moeilik maak om hulle te gehoorsaam en te respekteer, selfs tot die punt toe waar dit hul woede ontketen omdat hulle voel dat hulle mishandel word (6:4).
  4. Kinders moet grootgemaak en gedissiplineer word volgens God se wil soos geopenbaar in sy Woord – die Wet van liefde geld ewe veel vir beide ouers en kinders (6:4).

B. DIE CHRISTELIKE LEWENSWANDEL TOEGEPAS OP WERKGEWER-WERKNEMER-VERHOUDINGS

 6:5-9

  1. Werknemers moet:
    1. Gehoorsaam wees aan hul werkgewers.
    2. Hulle eie harte ondersoek en seker maak dat hul motief vir gehoorsaamheid suiwer en opreg is; dat hulle gehoorsaam wil wees, en nie net om voorregte vir hulleself te verkry deur hulle meesters tevrede te stel met ‘n valse voorwendsel van onderdanigheid nie.
    3. Hul werkgewers dien met ‘n welwillendheid wat uit hul harte vloei asof hulle hul dienste aan Christus self lewer.
    4. Weet dat elkeen wat so dien, deur die Here beloon sal word, of hy nou as slaaf dien of vir ‘n salaris werk.
  2. Werkgewers moet:
    1. Dieselfde opregtheid en welwillendheid teenoor hul werknemers betoon –  niks minder nie.
    2. Nie hul personeel met straf of ontslag dreig om hulle te dwing om meer werk as wat billik is te lewer nie.
    3. Altyd in gedagte hou dat hulle self ook maar net dienaars van ‘n meester is, naamlik van hul hemelse Meester.
    4. Onthou dat God nie die een persoon bo die ander ag nie; voor Hom is ‘n werkgewer en sy dienaar eweveel werd.

C. DIE GEESTELIKE WAPENRUSTING VAN GOD

 6:10-20

  1. Nadat Paulus sekere fasette van die Christelike lewe in detail belig het, skakel hy oor na bespreking van beginsels wat op alle vlakke geld en lede van die Liggaam in staat sal stel om in hul gees versterk te word sodat hulle in elke area van die lewe oorwinning kan behaal (6:10).
  2. Eerstens moet elkeen verstaan in watter omstandighede hy homself bevind:
    1. Hy moet nie dink dat die Christelike lewe bestaan uit ‘n rustige, kommervrye reis na die hemelse Pêrelpoort toe nie; inteendeel, gedurende ‘n aansienlike deel daarvan sal hy homself  midde in ‘n woeste geestelike oorlog bevind (6:11-20).
    2. Hy moet ook sy vyand aansien vir wie en wat hy is: nie sterflike wesens van vlees en bloed nie, maar ‘n leër van bose geeste van die duisternis wat die onsigbare geestelike wêreld rondom hom beset; geeste wat (deur satan self) kundig in leermagordes georganiseer is en owerstes wat gesag voer oor spesifieke sake en gebiede, terwyl sommige selfs as heersers oor lande aangestel is (6:12).
  3. Tweedens, maar van groter belang, moet die Christen weet dat hy nie nederlaag hoef te vrees nie, en homself ook nie durf te verskoon as hy misluk nie, aangesien God ruim voorsiening gemaak het vir hom om staande te bly en oorwinnend uit die geveg te tree. God se wapenrusting is nie sommer  ‘n sekel of spitvurk wat aangepas is vir oorlogvoering nie, maar spesiaal ontwerp soos dié van ‘n soldaat (die allerbeste) wat, indien korrek gebruik, behoorlike bedekking en beskerming aan die geestelike liggaam bied (6:13). (Die beskrywing van die wapenrusting van ‘n Romeinse soldaat wat hieronder beskryf word, is uit redelik betroubare bronne verkry maar is nie noodwendig in elke opsig korrek nie en het natuurlik ook tydsgewys verkil.) Hierdie toerusting bestaan uit die volgende: 
    1. Die helm van verlossing.
      1. Die mens (en soldaat) se hoof beheer natuurlik die ganse liggaam en as dit beseer sou word, sou die liggaam magteloos gelaat word; daarom moes dit bowe alles behoorlik beskerm word. Die Romeinse soldaat se helm het sy kop dus teen swaard houe beskerm. Dit het die hoof, bo, aan die sykante oor die ore en aan die agterkant tot in die nek toe bedek. Die voorkop is beskerm deur ‘n spesiale gedeelte wat na vore uitgesteek en ook as beskerming vir die gesig gedien het. Die helm het dikwels ‘n helder gekleurde pluim bo-op gehad om die rang van die draer te onderskei. Elke soldaat het ‘n groot vertroue in sy helm gehad, wetende dat dit enige hou van die vyand kon blokkeer.
      2. Die Christen se helm is die helm van verlossing. Hy moet nie tevrede wees dat hy opgehou het om verkeerd te doen nie maar moet ook ophou om verkeerd te dink. Hy moet dus Christus se verlossing ten volle benut en nie vlietende sondige gedagtes toelaat nie.  Sy denke en emosies moet onder volle beheer van die Gees wees. Selfs herhaaldelike momentele gedagtes van woede, jaloesie, moedeloosheid en hartseer sal hom laat soos ‘n soldaat met ‘n gekraakte helm of een vol gate. Die vyand sal dit raaksien en op so ‘n persoon konsentreer. Daarom moet hy sy toestand nie verskoon nie maar aan die Heer bely en Hom vertrou om sy helm van verlossing deur die kragtige werking van sy Gees tot volle sterkte te herstel. Hy moet tog nie probeer om dit in eie wilskrag te doen nie. 
    2. Die borsplaat van geregtigheid.
      1. Dié gedeelte van die harnas het normaalweg nie net die bors bedek nie maar weerskante om die bolyf gevou en ‘n aansienlike deel van die rug ook bedek. Dit was gewoonlik saamgestel uit ‘n aantal bewegende metaalplate, wat die draer maksimum mobiliteit toegelaat het. Die borsharnas het natuurlik verskeie  lewensbelangrike organe en veral die hart beskerm.
      2. Die Christen se borsharnas is die geregtigheid van Christus en beskerm die mens se gees, die geestelike hart. Die doeltreffendheid daarvan lê daarin dat die draer nie op sy eie goeie werke (eie geregtigheid met soveel gate daarin) vertrou om aan hom die ewige lewe te besorg nie maar in Christus se perfekte lewe en wederkerige dood aan die kruis wat deur die regverdige Regter (God die Vader) self goedgekeur en aanvaar is (6:14).
      3. Die Christen soldaat moet dan ook te alle tye vol vertroue wees en geen twyfel hê dat hy gered is, dit wil sê dat Jesus geregtigheid aan hom toegereken het (borsplaat van geregtigheid vir hom aangesit het). Hy moet oortuig wees dat Christus volkome red diegene wat na Hom toe kom, omdat Hy leef en vir ewig aan die regterhand van die Vader sit en vir hulle intree (Heb 7:25). Wanneer die duiwel die Christen soldaat voor God aankla, hou Jesus sy swaar verdiende borsharnas van geregtigheid op as bewys dat dié soldaat se skuld versoen is.
    3. Die gordel van waarheid.
      1. Allereers het ‘n soldaat ‘n linne onderkleed aangetrek wat sy lyf van die skouers tot net bokant die knieë bedek het (sommige ook ‘n skort bo-oor). Daarna het hy die borsharnas wat soms tot laer as die middel gestrek het, in plek geplaas en die twee tesame met ‘n breë leergordel om die middel vasgegespe om hulle in posisie te hou. ‘n Kort dolk het aan die gordel bo die linkerheup gehang en ander toerusting wat die soldaat sou dra, was rondom vasgeheg. Die gordel het dus verskeie dinge in plek gehou en as die gespe sou breek, sou die soldaat die gevegsfront moes  verlaat en dit eers laat herstel.
      2. Die soldaat van Christus se lendene moet omgord wees met die gordel van waarheid – die onvervalste, onverdunde, kompromielose waarheid soos in die Skrif gevind, moet heelhartig geglo en in die lewe toegepas word. Hy moet eerlik wees teenoor God, homself, sy familie, sy broers en susters in die Here, sy kollegas by die werk en wie ookal. Die oomblik wanneer die gordel van waarheid laat skiet word sodat dit los hang, neem misleiding en allerhande geheime sondes oor.
      3. Menige man van God moes al sy hoof in skaamte laat sak en uit die bediening wegvlug as gevolg van geheime sondes soos ‘n verhouding buite die huwelik of die verduistering van fondse. Dan val die soldaat se hele harnas uitmekaar en staan hy nakend voor die wêreld. As hy ‘n generaal in God se leër was, maak dit, dit soveel erger en baie sulke leiers herstel nooit van hierdie skande nie; hulle stemme word nie meer op die slagveld gehoor en hulle impak ook nie meer beleef nie.
      4. Waarheid het ook betrekking op die korrekte begrip van God se Woord. Verkeerde interpretasie van die Skrif het gelei tot die stigting van die vele denominasies wat wêreld gevind word.
    4. Die skild van die geloof (6:16).
      1. Van al die Christelike deugde is geloof in die almag en getrouheid van God en die soenverdienste van Christus waarskynlik die belangrikste en word dit ook die meeste deur satan geteiken – wanneer geloof faal, sneuwel die Christen soldaat. Jesus het dan ook vir Petrus gesê dat satan vurig begeer het om hom soos koring te sif, maar dat Hy vir hom gebid het dat sy geloof nie uitgeblus sou word nie (Luk. 22:32).
      2. Vir die Romeinse soldaat was hierdie ‘n groot stuk toerusting, helfte tot driekwart so lank as sy liggaam en wyd genoeg om hom van kant tot kant te beskerm aangesien dit in ‘n halfsirkel gevorm was en weerskante om hom gevou het. Dit is natuurlik aan die agterkant met ‘n handvatsel vasgehou. Soldate wat na aan mekaar gestaan het, het ‘n soliede metaalmuur gevorm en kon selfs vlammende pyle wat in teer gedoop was, afweer. Die helder verf waarmee die skilde versier was, het verder daartoe bygedra om ‘n skrikwekkend beeld van krag aan die vyand voor te hou.
      3. Die Christen se skild van geloof (in God) is eweneens in staat om selfs satan se vurige pyle van vrees en kleingeloof te blokkeer. Nadat Petrus vir Jesus drie maal verloën het, het selfverwyt, aangeblaas deur die bose, sy geloof in God se genade en gewilligheid om hom te vergewe ernstig geskaad, maar nie uitgeblus nie. Geloof ontspring immers nie uit onsself nie maar vloei uit God deur sy Heilige Gees. Deur geloof was Daniël in staat om eerder vir die leeus gegooi te word as om sy God te verloën en het sy drie vriende die vurige oond getrotseer en lewend en ongeskonde daaruit gestap.
      4. Terwyl die ander dele van die wapenrusting aan die soldaat vasgeheg gebly en geen verdere aandag nodig gehad het nie, moes die skild egter voortdurend opgelig en in die rigting van die vyand gedraai word om maksimum beskerming aan die liggaam te bied. Die opponent kon op ‘n afstand sien wanneer ‘n sekere soldaat se skild nie in posisie gehou was nie en sou dan op hom afstorm, wetende dat daardie man mismoedig en moeg was. So ook moet die Christen soldaat sy geloof aktief beoefen. Die oë moet gedurig op Jesus gevestig bly want Hy alleen is die Leidsman en Voleinder van die stryder se geloof (Heb 12:2).
    5. Die skoene van bereidheid vir die Evangelie
      1. Die voete was nie beskerm deur swaar stewels soos dié van moderne soldate nie, maar deur leersandale, met stewige leersole en toonkappe en bokant die voete om die enkels en bene vasgemaak. Hulle was lig maar sterk, wat die draer toegelaat het om vinnig te beweeg terwyl hulle hom voldoende beskerm gebied het teen dorings en klippe wat hom kruppel kon laat en verhoed dat hy sy bestemming bereik. Die Christen moet beskerm word deur die skoene van gewilligheid om te volhard hoe steil, klipperig en onbegaanbaar die pad hemeltoe ookal is.
      2. Hy moet ook bereid wees om daagliks nuwe gebied vir sy Koning in besit te neem. Om ‘n sondige wêreld met die Woord van God te konfronteer, is ‘n pynlike ervaring vir ‘n onwillige hart. Wanneer die voete egter beklee is met gretige gewilligheid, tree die soldaat liggies oor die skerp klippe van kritiek en bespotting en bring hy vrede aan die wat smag na die Goeie Nuus van vrede met God (6:15, Jes 52:7, Luk 2:14).
    6. Die swaard van die Gees.
      1. ‘n Romeinse swaard was ‘n kort instrument, omtrent ‘n driekwart meter lank, 8 cm breed en het ‘n skerp punt en twee snykante gehad. Dit kon dus gebruik word om beide te steek en te sny en is in ‘n skede aan die regterheup gedra. ‘n Soldaat het gedurigdeur baie tyd bestee om te oefen om sy swaard effektief te hanteer en sou dit voortdurend slyp om dit so skerp soos ‘n lemmetjie te hou, want sy lewe het daarvan afgehang.
      2. Die Christen se swaard is die Woord van God (6:17).
      3. Die teks sê dat dit die swaard van die (Heilige) Gees is, omdat dit deur Hom geïnspireer en Hy die Een is wat dit in die geveg hanteer.
      4. Jesus het hierdie swaard gebruik om die duiwel drie maal in die woestyn te verslaan en op die vlug te jaag.
      5. In die Boek van Openbaring (1:16; 2:12) waar ons Jesus in heerlikheid uitgebeeld sien, gebruik Hy steeds hierdie Swaard van die Gees en gaan dit van sy mond af uit.
      6. Dit word ook baie effektief gebruik in die bekering en heiligmaking van die mens, want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is magtig om die gedagtes en bedoelings van die hart te onderskei (Heb 4:12).
      7. Dit is skerper as enige swaard wat ooit deur die mens gesmee is, sny deur die misleiding van die duiwel, ontwapen hom en jaag hom op die vlug.
      8. Die effektiewe Christen-soldaat spandeer ook ‘n leeftyd daaraan om die Woord te bestudeer en te verstaan en om te oefen om dit te gebruik, beide om die duiwel teë te staan en om siele vir Christus te wen. Wanneer sy Swaard roes en stomp word, is die soldaat se nederlaag net om die draai.
    7. Die spies of lans.
      1. Twee hiervan is deur elke soldaat in die geveg gedra en na die vyand geslinger terwyl hy nog op ‘n afstand van van hom af was. Die bedoeling was om dit in die teenstander se skild te laat vassteek, wat die gebruik daarvan vir beskerming onbruikbaar sou maak.
      2. Die Christen dra geeneen hiervan nie, aangesien hy nie demone agtervolg nie, maar homself slegs verdedig wanneer hulle hom aanval.
  4. Die volle wapenrusting (6:13).
    1. Die volle wapenrusting moes deur elke soldaat opgeneem word. Voordat die afdelings in die geveg sou uitmarsjeer, sou hulle in gelid op parade staan en deur hul bevelvoerders geïnspekteer word. Wanneer hulle soms in voortdurende gevaar verkeer het, sou hulle selfs met wapenrusting en al gaan lê en slaap sodat hulle op ‘n oomblik se kennisgewing gereed kon wees vir aksie.
    2. Christene moet op hul hoede wees dat geen deel van hulle wapenrusting loskom en die vyand daardeur toegang tot hul lewens verkry nie. (Selfs ‘n los skoenveter kon veroorsaak dat ‘n soldaat struikel en die vyand op hom afkom terwyl hy buk om dit vas te maak.) Dit is dus van kardinale belang dat die Christen soldaat genoeg tyd met God deurbring om sy wapenrusting te inspekteer en dat hy ook gebruik maak van al die middele wat die Heer tot sy beskikking stel om geestelik paraat te bly; middele soos gemeentelike dienste, kampe, kursusse, kleingroepbyeenkomste, televisie- en radioprogramme en literatuur (6:11).
  5. Die geveg.
    1. Die Christen-soldaat, so toegerus, is ‘n skrikwekkende gesig vir die sielevyand en hoef net ferm te bly staan, sy oog gevestig op sy Leidsman wat bo die vyand uittroon (6:14).
    2. Hy moet ook bewus wees van die feit dat hy deel is van ‘n leër en sonder ophou bid dat God elkeen van sy soldate sal bemagtig sodat hulle gesamentlik die oorwinning kan behaal. Hy moet veral vir die leiers bid; generaals soos Paulus, wat afgesonder is om die geveg te lei, dat hulle woorde van wysheid (hemelse strategie) mag ontvang om nie net gewonne grondgebied te behou nie, maar ook nuwe terrein deur die kragtige prediking van die Evangelie te verower (6:18,19).
    3. Deur die geestelike stryd op hierdie wyse te voer, word die finale oorwinning verseker selfs voordat die eerste skermutseling plaasvind (6:13).

D. LAATSTE GROET

 6:21-24

  1. Die draer van hierdie brief sou Tichikus wees, wat ook in Handelinge 20, Kol 4:7, 2Tim 4:12 en Tit 3:12 genoem word.
  2. Hy sou die Efésiërs aangaande Paulus se omstandighede inlig.
  3. Ter afsluiting spreek Paulus, God se seën oor die lesers uit.

///////////

NA INDEKS  



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha