2024-11-09
NOTA
WANNEER WOORDE IN ‘N TEKS, OF ELDERS, IN ROOI GEKLEUR IS, IS DIT REEDS IN ‘N VROEËRE GIDS BESPREEK: KLIK ASB. DAAROP OM DIT TE SIEN.
DIE BRUIDEGOM: 6:4 Mooi is u, my vriendin, soos Tirsa, lieflik soos Jerusalem, verskriklik soos slagordes met vaandels.
Stede.
Die Bruid se skoonheid word met twee stede vergelyk. Beide was gedurende Salomo se bewind, reeds besonder groot en mooi. Na sy afsterwe het die Koninkryk van Israel in twee verdeel. Jerusalem was toe die hoofstad van Juda, die suidelike ryk. Jerusalem kon toe reeds spog met ‘n koninklike paleis en het natuurlik ook die goud bedekte tempel gehuisves. Tirsa moes ook ‘n pragtige stad gewees het, daarom word dit hier deur Salomo uitgesonder en saam met Jerusalem vermeld. Jeróbeam die koning van die noordelike ryk (1 Kon 4:17) het hom dan ook in Tirsa gevestig. So daar was ook ‘n koninklike paleis.
Beide stede sou ook kon spog met ‘n groot verskeidenheid van besighede en duur huise met kunstig uitgelegde tuine. Allerhande kunste was waarskynlik daar beoefen. ‘n Besoeker sou daelank daardeur kon wandel en hom aan alles verkyk. Hulle was dan ook die woonplekke van die elite van die land en van duisende gewone mense, elk met sy eie interessante persoonlikheid en vermoëns. Hierdie was begeerlike plekke.
Vir die Sulamitiese bruidjie om deur Salomo met dié twee stede vergelyk te word, was dus ‘n geweldige kompliment: mooi vir die oog, edel van inbors, ryk, begaafd, kunstig, alles in een.
Wat die hemelse Bruidegom betref, meen ons dat Hy hier met sy universele Bruid praat, die somtotaal van Sulamitiese bruidjies, die miljoene wat Hom as enigste Minnaar gekies het. Hulle almal saam is sy Tirsa en sy heilige Jerusalem wat aan die einde van die tye, wanneer die inwoners voltallig is, uit die hemele sal neerdaal (Open 21:10).
Hierdie siening word versterk deurdat Hy ook na haar verwys as verskriklik soos slagordes met vaandels.
Haar slagordes is verskriklik.
- Sodra sy standpunt inneem teen die bose, vlug hy van haar af weg (Jak 4:7).
- Die Bruid is eerstens sag en liefdevol soos ‘n verliefde jongmeisie, maar ook oneindig magtiger as al die hordes van bose geeste. As weermag trek sy uit in volmaak geordende slagordes; elke soldaat in sy unieke plek (Num 2:2).
Haar vaandels verkondig liefde in al sy fasette. ‘n Groot vaandel wapper bo elk van die bataljonne:
- Die vaandel van die bataljon van blydskap, van vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.
- Die vaandel van die bataljon van dié wat geduldig op gebedsverhoring wag; dié wat in benoudheid en verdrukking verkeer weens hul geloof; dié wat met swepe, katse en stokke geslaan word om Jesus ontwil; dié wat in eensame afsondering en haglike omstandighede in gevangenisse aangehou word vir hul getuienis; dié wat hulself geen rus gun in diens van hul Koning nie; dié wat snags wakkerlê en bid vir verlorenes (2Kor6;3-10, ens).
- Die vaandel van God se onbesonge helde – hulle wat agter die skerms getrou vir Hom werk en nooit in die kalklig verskyn nie.
Haar wapens:
- Is heilig. Haar soldate is omgord met die wapens van die lig (Rom 13:12). Hulle hou die wapens van geregtigheid in die regter sowel as die linkerhand (2 Kor 6:3-10). Hulle leef op die slagveld die beginsels van die Koninkryk uit. Hulle is nie soos die rowwe soldate van sommige lande vir wie hul president en landsburgers hul moet skaam nie. Hulle tree so op dat die bediening van hul Generaal nie beklad mag word nie.
- Is magtig. Hulle is nie vleeslik nie, maar deur God bekragtig om vestings van die vyand neer te werp, hul planne te verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God neer te werp en elke gedagte gevange te neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, (2Kor 10:4,5).
Kyk na die telbord: die oorwinning is reeds behaal.
DIE BRUIDEGOM: 6:5 Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my; u hare is soos ‘n kudde bokke wat van Gílead afgolf.
Haar oë.
Haar oë straal so ‘n geweldige vloed van liefde uit dat Hy totaal en al daardeur oorweldig is; dit gryp sy aandag vas, laat Hom magteloos in haar greep. Hy is behoorlik oorweldig deur die effek wat dit op Hom het. As sy nie wegkyk nie … Hy sal nie kan nie. Bruid, dit is die mag wat ons wederkerige liefde op ons Bruidegom het.
Haar tande.
DIE BRUIDEGOM 6:6 U tande is soos ‘n kudde skaapooie wat van die drinkplek af opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
Sien 4:2.
DIE BRUIDEGOM: 6:7 U slape is soos ‘n granaatskyf deur u sluier heen.
Sien 4:3.
DIE BRUIDEGOM: 6:8 Daar is sestig koninginne en tagtig byvroue en jonkvroue sonder getal.
Koninginne, byvroue en jonkvroue.
Drie groepe van vroue wat in Salomo se paleis opgeneem was, asook hul rangorde, word hier vermeld: koninginne, byvroue en jonkvroue. Hoe die rangorde toegeken was, word nie vermeld nie.
Sommige van die koninginne sou prinsesse uit omliggende koninkryke wees. Dit was algemene praktyk vir konings om op hierdie wyse familiebande met ander volksleiers te smee om die vreedsame naasbestaan van die ryke te verseker. Die rede vir so ‘n huwelik was dus polities van aard en nie omdat die huwelikspaar in mekaar sin gehad het nie.
Salomo het dit ook gedoen bv deur hom te verswaer met die koning van Egipte (1Kon 3:1). Sy latere huwelike met Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese vorstinne, was ook nie om liefdesredes nie; inderwaarheid beskryf die Woord hulle as sondig.
In die boek Ester, hoofstuk 2, vind ons ‘n interessante uiteensetting van hoe destyds te werk gegaan was om vir ‘n koning ‘n vrou of vroue te bekom. Hy het nie die voorreg gehad om van die begin af self vir hom vir ‘n metgesel te kon rondkyk nie, maar moes maar lateraan kies uit die poel van vroue wat sy onderdane vir hom versamel het.
In Salomo se geval was die resultaat dat hy 700 vorstinne en 300 byvroue (1Kon 11:3) as bedmaats bekom het, maar, as ons sy Hooglied reg verstaan, nie ‘n enkele hartmaat nie; niemand met wie hy sy diepste geheime en die verlangens van sy gees kon deel nie.
Moontlik was dit, vanuit die menslike oogpunt die rede vir die Boek Hooglied: ‘n Koning se verlange na ware vroue liefde, die liefde van die meisie van sy eie keuse: sy Sulamitiese liefling.
Wat sulke bedmaats betref: hulle het dit natuurlik weens hul affiliasie met die koning breed gehad: eer, rykdom, versorging, veiligheid en, as hulle gelukkig was, dalk nog ‘n koningskind op die koop toe. Emosioneel sou hulle egter armer as die meeste ander vroue van die land gewees het omdat hulle geen huwelikshartmaats sou hê nie.
Hoe knoop ons dit alles aan die Hemelse Bruidegom, Bruid verhaal vas? Die wêreld is soos ‘n paleis waarvan God die Koning is. Daarin woon ‘n menigte mense wat veronderstel is om sy bruid te wees maar waarvan die bose hul hart gesteel het. Hy sorg egter nie vir hulle nie maar, ontdaan van alle liefde, laat hy dit aan God oor om voort te gaan om na hulle om te sien:
… het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. (Hand 14:17).
Wat nou van sy Bruid?
DIE BRUIDEGOM: 9 Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het.
Uit hierdie mensesee het die Bruidegom vir homself ‘n bruingebrande, vir die wêreld onbegeerlike Sulamitiese Bruidjie uitgekies, haar hart verower en sý hart aan haar gegee. Sy het hom as Persoon lief, nie sy paleis nie. Sy is die enkele mensie, selfs die kindjie wat hom liefhet, maar ook die somtotaal van hulle soos uitgebeeld in die Nuwe Jerusalem.
Sy, die universele Bruid, is die enigste kind en daarom die uitverkorene van God, die Heilige Gees, wat haar deur die wedergeboorte vir die Bruidegom gebaar het; sy alleen is volmaak vanaf die oomblik van haar geboorte.
… Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! (Jes 43:1).
Aan haar gee Hy die verborge skatte van sy liefde.
En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, … ; (Jes 45:3).
Dit laat ons met een vraag:
DIE BRUIDEGOM: 6:8b Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem:
Kan dit wees dat wêreldlinge ‘n kind van God as gelukkig prys, lof toeswaai? Die antwoord is, ja.
Eerstens is hulle nie blind vir die bonatuurlike materiële, aardse seëninge wat die Bruid van Christus soms toeval nie. Die heidense koning Abiméleg het Isak van hom af weggedryf omdat Isak onder die seënende hand van God al magtiger geword het. Daarna het hy twee waterputte wat Isak gegrawe het, afgeneem sodat hy nog verder weg vir sy vee weiveld moes gaan soek. Daar het hy ‘n derde put gegrawe en weer het God vir hom water gegee. Abiméleg was geskok en het besef dat dit bonatuurlik was, dat die hand van God op Isak was en ‘n gevra dat hy tog ‘n vredesverbond met hom sal sluit, want het hy erken,:
… . Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE. (Gen 26:29).
Hiervan is daar talle voorbeelde in die Skrif, bv in die lewens van Dawid, Daniël en Josef. Dit gebeur veral wanneer die Bruid tydens groot verdrukking die minste bly, die ander wang draai, die tweede myl loop en God haar nog bo haar teenstanders seën, dat hulle dit ruiterlik erken. Dawid skryf dan ook in Ps 23:5;
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Tweedens loof hulle God wanneer hulle die wonderdade ervaar wat deur die hande van die Bruid plaasvind. Hiervan is daar oorvloedige vermelding, veral in die Evangelies en in die Boek Handelinge.
En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. 13 En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. (Hand 5:12,13).
Derdens open die Here sommige wêreldlinge se oë om die skoonheid van die liefde in die lewens van sy Bruid raak te sien en te waardeer.
Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. (Joh 13:35).
Die “dogters” se siening van die Bruid.
Ons gaan voort. Sommige vertalings plaas ‘n dubbelpunt aan die einde van die vorige sin (:) wat beteken dat die woorde wat daarop volg, woorde is wat deur die “dogters” geuiter word, naamlik:
DIE “DOGTERS”: 6:10 Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?
Hulle sien ‘n verstommend indrukwekkende Persoon voor hulle verskyn maar weet nie wie dit is nie. Soos wat die son stiweg maar onstuitbaar uit die donker nag bo die horison sigbaar word en hoër hy opstyg hoe helderder hy skyn totdat hy die oë van die mens verblind, so verrys die Bruid uit rustig maar onstuitbaar uit die nagtelike duister waarin hierdie wêreld deur die sondeval gedompel is.
Haar oorweldigende kenmerk is haar heiligheid, haar reinheid. Soos wat geen jota of titel van gewone materie in die ontsaglike hitte van die son kan bestaan nie, verteer sy alle onreinheid warmee sy in aanraking mag kom.
Terselftertyd is sy mooi soos die maan wat “in stille gang oor sterre velde gaan”. Selfs in lewens wat nog nie gereed is om die volle daglig te ontvang nie, verrys sy in die donkerte van die sondenag en deur haar sagte skynsel van liefde openbar sy aan hulle wat in duisternis sit, op ‘n liefdevolle wyse die voetpaadjie hemeltoe, die Weg wat hulle in die verduistering van hul gemoed nie kon raaksien nie.
En aan die verhardes van hart openbaar sy haarself as die magtige God van oordeel in wie se hande dit ‘n verskrikking is om te val (Heb 10:34). So poog sy om hulle soos ‘n brandhout uit die vuur te ruk voordat dit te laat is.
Die Bruidegom in sy tuine wêreldwyd.
DIE BRUIDEGOM: 6:11 Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom.
‘n Skatryk boer kan soveel as twintig of dertig plase besit, elk in ‘n ander omgewing, selfs in verskeie lande, elk waarin eiesoortige gewasse verbou word. Dit kan reik van aarbeie tot moerbeie, pampoene tot papajas. Hy maak seker dat hy presies weet hoe dit op elke plaas gesteld is. Hy het natuurlik betroubare bestuurders oral aangestel maar geniet dit om elke akker persoonlik te besoek, te ondersoek, die geur van die groeiende plante in te adem en hier en daar die smaak van ‘n vars druiwekorrel, amandel of granaat te geniet.
Die Hemelse Tuinier se plase omspan die ganse aarde. Op die kleinste eilandjie besit Hy ten minste een tuintjie, dalk net ‘n kinderhart waarin ‘n saadjie van die Woord geval en ontkiem het en besig is om vrugte dra. Dan is daar ook die uitstaande groeiers wat gespesialiseerde aandag verg:
… want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; … (2Kor 16:9)
In sommige landerye is die grond besonder vrugbaar; diep en ryk. Daar golf die vol are in die wind:
En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra. (Luk8:15).
Ook in die wingerde vind Hy besonder vrugbare plante. hulle groei met lus en hul ranke swaai wild in die wind rond. Hul dade is nie noodwendig sondig nie maar nie behoorlik geordend deur die Gees nie. Hy loop met die snoeiskêr in sy jassak en knip hulle netjies en sekuur af en bind die meer belowende lote op sodat hierdie lieflike wingerstok maksimaal vrug kan dra.
(Alhoewel Jesus hier as die wingerdstok en die Vader as die landbouer geskilder word, moet ons in gedagte hou dat die ganse aarde deur die Vader aan die Seun geskenk is en dat hy alles wat daarop gedoen moet word, deur die Seun verrig word. Dus kan ons die beeldspraak rek om in konteks in te pas.)
Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. (Joh 15:2).
As liefdevolle tuinier het Hy geen behae daarin dat ‘n boom wat reeds baie jare groei maar geen vrug dra, uitgespit word nie, maar gee Hy eerder, herhaaldielik, nog ‘n jaar kans:
En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap. (Luk 13:6-9).
Die bruidegom by sy bBruid in haar stryd teen die bose.
Maar terwyl Hy so deur die rustige hartstuine van sy universele Bruid wandel, weergalm die alarm dat sy die vyand sy Koninkryk op ‘n kwesbare plek binne geval en sy Bruid op haar strydwaens opgeruk het om sy bose magte te stuit. (Waens was merendeels vir oorlogvoering en nie vir vervoer van mense of goedere gebruik nie).
DIE BRUIDEGOM: 6:12 Voordat ek dit geweet het, het my verlange my verplaas op die waens van my edele volk.
Hy verlang om by haar te wees, haar by te staan, te bemoedig, te beskerm en ineens, in ‘n oogknip, is Hy daar by haar, op haar waens.
Hy som die situasie op. Indien nodig sal Hy versterkings ontbied, naamlik sy engele lëermag om haar by te staan soos toe sy Bruid, Elisa, deur die Arameërs bedreig was.
En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.
Tyd om te dans.
DIE BRUIDEGOM: 6:13 Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien. Wat sien julle aan die Sulammitiese? Iets soos die koordans van Mahanáim.
Die stryd is verby end die oorwinning is behaal, Sy Bruid is verlos maar sy is skoonveld. Sy het teruggekeer na haar normale dagtake en haarself geen tyd gegun om die oorwinning te vier nie, daarom roep Hy haar terug.
Hy het ‘n fees gereël en sy Bruid moet vir Hom, ten aanskoue van die gaste, kom dans: die Mahanáim koordans van die verloste oorwinnaar; die dans van Miriam nadat Jesus hulle uit Egipte en die hand van die Farao en se leërmag verlos het:
En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ‘n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse. En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp. (Ex 15:20, 21).
Dan dans sy weer die dans van Dawid wat hy voor die ark uit gedans het nadat God die Koninkryk van Israel aan hom oorgegee het:
Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid was omgord met ‘n linneskouerkleed. So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal. (2Sam 6:14,15).
Die Mahanáim dans word ook soms die dans van die engele genoem. Jakob het dié naam aan die plek gegee waar engele aan hom verskyn het toe hy op pad was om sy broer, Esau, te ontmoet.
Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem. (Gen 32:1,2).
LAAT ONS NOOIT VERSUIM OM VOOR DIE AANGESIG VAN ONS BRUIDEGOM TE KOORDANS NIE.