2024-07-03
DIE VOLGENDE DRIE HOOFSTUKKE HANDEL OOR VERLOSSING DEUR GELOOF DEUR GOD SE SOEWEREINE GENADE SOOS GESIEN IN DIE LEWENS VAN MENSE, DIE VOLK VAN ISRAEL EN HEIDEN NASIES.
A. ISRAEL SE VOORREGTE EN MISLUKKING (9:1-5)
Paulus spreek sy hartseer uit oor die feit dat alhoewel Israel grootliks bevoorreg was bo al die ander nasies van die aarde, hulle nie daarin geslaag het om die heerlikheid wat God vir hulle voorsien het, vas te vat nie. So intens was sy hartseer dat hy graag sy eie redding sou prysgee as dit hulle net kon red.
In watter opsig was hulle bevoorreg? In die volgende:
- Hulle het uit die 12 aartsvaders gestam, dit is uit die seuns van Jakob waaruit die 12 stamme voortgevloei het.
- Hulle het God se geskrewe Wet deur die hand van Moses ontvang en daardeur is aan hulle die gedagtes en wil van God geopenbaar.
- Hulle het die verordeninge van God ontvang waardeur die Wet simbolies aan hulle verduidelik is.
- Hulle het die Tempel ontvang waarin God self gewoon het en waardeur die geestelike beginsels van ‘n persoon wat in die regte verhouding tot God staan, simbolies aan hulle verduidelik is.
- Hulle kon God se aangenome seuns word.
- Dit was met hulle dat God verbonde aangegaan het.
- Dit was aan hulle wat God beloftes gemaak het.
- Dit was uit hulle dat die Messias, die Christus, die Verlosser van die hele mensdom fisies gebore is.
- Die heerlikheid van God het op hulle as ‘n nasie gerus.
Waarom het hulle dan nie geword wat God bedoel het dat hulle moes wees nie: het God hulle gefaal? Was dit God se Woord soos, beliggaam in sy beloftes, wat gefaal het? Nee, nie dit nie. Die rede was dat alhoewel hulle as God se nasie na die vlees gebore was, hulle nie as Sy seuns na die Gees gebore is nie, want dit kon net gebeur deur geloof soos vroeër verduidelik. God het nooit bedoel dat Sy beloftes van toepassing sou wees op diegene wat slegs vleeslike afstammelinge van Abraham was nie, maar wel op hulle wat ook Sy geestelike kinders was deurdat hulle deur hulle geloof in Hom, ‘n ewewbeeld van Abraham was.
B. ISAK EN ISMAEL; JAKOB EN ESAU (9:10-15).
Hierdie beginsel (wat in die vorige paragraaf vermeld is), word ook duidelik gedemonstreer deur God se keuse van Isak en na hom Jakob, as vaders waaruit Sy volk sou afstam. Isak is gebore as gevolg van Abraham en Sara se geloof in God. Isak se broer Ismael is gebore is as gevolg van hulle twee se eie vleeslike manipulasie (plan om vir hulle ‘n kind uit Hagar, die slavin ‘n kind te verwek).
Wat Jakob betref, al was hy tweede gebore, na Esau, is hy nog voordat hulle gebore was, al deur God uitgekies om Sy beloftes te be-erf omdat God vooraf geweet het dat hy (Jakob) in ‘n geloofsverhouding met Hom sou tree en Esau nie.
C. FARAO (9:16-18)
God toon sy genade en fel sy toorn op sy eie soewereine manier wat nooit onregverdig is nie. Die manier waarop God met Farao gehandel het, demonstreer hierdie beginsel. Hy het vooraf geweet dat die trotse Farao nie na hom sou luister en sy volk sou laat gaan nie, daarom het Hy hom opgerig om die leier van die Egiptiese nasie te wees. Nadat hy die waarskuwings van sy gewete vir tientalle jare geïgnoreer het deur die volk van God te mishandel en selfs hul pasgebore babas dood te maak, het God sy dienaar Moses gestuur om hom te beveel om sy volk te laat gaan.
God het sy woord gerugsteun deur baie tekens en wonders om Farao te oortuig dat die woorde wat Moses gespreek het, wel van Hom af was, maar toe hy voortgegaan het om teen sy beter wete te handel deur te geweier het om hulle te laat gaan, het God sy hart verhard sodat hy later geen ander keuse meer gehad het nie as om op hierdie hardnekkige manier voort te gaan tot op die punt dat God sy volk vernietig het. Op hierdie wyse het God sy toorn betoon oor diegene wat Hom teëstaan en sy soewereiniteit (sy almag en oppergesag) gedemonstreer in die wyse waarop Hy met hulle gehandel het.
D. DIE POTTEBAKER AS VOORBEELD VAN GOD SE SOEWEREINE GENADE (9:19-21)
Die mens kan dan redeneer en sê dat as God soewerein is in die verharding van ‘n mens se hart, die mens nie verantwoordelik gehou kan word vir sy eie besluite nie. Ons moet egter baie versigtig wees om God nie te blameer dat Hy onregverdig is nie, want ons het ‘n baie beperkte begrip van wat dit beteken om regverdig te wees.
Neem die voorbeeld van ‘n pottebakker wat ‘n stuk klei gebruik om verskillende soorte pottebakkery te vorm, sommige baie mooi en vir edele doeleindes en die res vir geringer take; dit alles uit een en dieselfe stuk klei. Net so gebruik God sy materiaal om die hele mensdom te vorm. Diegene wat deur geloof ‘n seun/Vader-verhouding met Hom sal aangaan, sal die heerlikheid van sy vakmanskap demonstreer en diegene wat dit nie sal doen nie, sal Hy in hierdie lewe gebruik vir al die geringe take wat gedoen moet word om lewe te onderhou en in die hiernamaals sal hulle dien as voorwerpe om Sy heiligheid te demonstreer wanner Hy sy toorn oor hulle uitstort weens hulle sonde. Selfs in hierdie laasgenoemdes sal Hy Sy geduld demonstreer deur hulle deur al die jare van hulle lewens te verdra. Eersgenoemdes, diegene aan wie Hy sy heerlikheid skenk, sal uit beide die Jode- en heidendom kom.
E. DIE REDE WAAROM DIE HEIDEN GERED IS EN ISRAEL NIE (9:25-10:4)
Die profeet Jesaja het geprofeteer dat slegs ‘n klein oorblyfsel van die volk van Israel gered sal word (Jes 29:16 en 45:9) en het verder gesê dat dit eintlik net vanweë God se genade was dat selfs hierdie oorblyfsel in ‘n geloofsverhouding met sou Hom sou kom.
Die tragedie is dus dat die volk Israel wat eeue lank hard probeer het om deur God aanvaar te word deur sy wette nougeset te onderhou, nie daarin geslaag het om deur Hom aanvaar te word nie, en dit as gevolg van hulle eiewaan en trots.
Hulle Messias, wat Christus was, en wat hulle fondamentsteen moes wees waarop hulle hul lewens moes bou, het vir hulle ‘n struikelblok geword (Jes 8:14 en 28:16). Die heidene, daarenteen, wat losbandige lewens gely en ander gode en die begeerlikheid van die vlees gedien het, het God leer ken en is deur Hom aangeneem, omdat hulle die boosheid van hulle weë en die nutteloosheid van hulle pogings om Hom te behaag ingesien het. Hulle het hulself toe net eenvoudig blindelings deur geloof op Hom gewerp. Hulle het hulself geheel en al afhanklik gestel van sy genade om hulle as syne te aanvaar. Dit wys duidelik dat Israel gefaal het omdat hulle ‘n wanopvatting gehad het van God se weg van verlossing, van God se plan vir die mens om deur Hom aanvaar te word.
//////////
NA DIE INDEKS NA DIE VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.