2025-04-17A
A. INLEIDING
- Hooftema: Christelike gedrag.
- Datum geskryf : AD 55
- Skrywer: Paul
- Plek : Efese
- Omstandighede:
- Paulus is op sy derde sendingreis en bedien in Efese (‘n stad in die land wat ons nou as Turkye ken).
- Hy ontvang ontstellende nuus van die gemeente in Korinte waar hy sowat drie jaar tevore ‘n kerk geplant het.
- Die boodskappers rapporteer dat:
- Daar faksies, regsgedinge en onsedelikheid binne die liggaam is.
- Die gemeente het ook baie vrae oor die huwelik en egskeiding, die eet van voedsel wat aan afgode geoffer is, openbare aanbidding en die opstanding van die liggaam.
- Korinte was ‘n groot hawestad in Griekeland waar mense van alle soorte en nasionaliteite saamgetrek het om handel te dryf. Hulle was meestal heidens en die meerderheid van kerklidmate was vanuit daardie agtergrond. Hul geestelike ontwikkeling was gevolglik gestrem deur hul hul ou wyses van dink en doen en ook deur die druk van hierdie afgodiese en onsedelike samelewing. Sowel in hul verstaan van die Evangelie as in die uitlewing daarvan, is dit duidelik dat hulle baie oppervlakkig was en nie begryp het dat die wortel daarvan nederigheid, liefde en diens aan God en mens is nie.
- Soos Moses van ouds wat God se onderrig aan sy volk wat uit die heidenland Egipte ontvlug, neergeskryf het, vermaan en gee Paulus, God se spesiale woordvoerder, leiding aan hierdie groep gelowiges wat verlos is uit die geestelike Egipte van Korinte.
B. PAULUS GROET DIE GEMEENTE
1:1-9
- 1:1 Van Paulus, ‘n geroepe apostel van Jesus Christus.
- Deur Jesus geroep om sy spesiale boodskapper te wees.
- 1:2 Aan die geroepe heiliges in Korinte.
- Mense wat afgesonder is vir gemeenskap met God se Seun, Jesus Christus.
- Alhoewel daar lelike sondes in hulle lewens is, is hulle as mense pragtig en spesiaal vir God.
- 1:3 Genade en vrede vir julle van …
- Nie net ‘n wens nie, maar ‘n toesegging.
- Woorde wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, laat God se krag van die Troon na die mens vloei en bewerk die inhoud daarvan in hul lewens.
- Deur dit te lees, sal die harte van die Korintiërs tot rus kom en ontvanklik wees om die leer wat sal volg aan te neem.
- 1:4-9 Ek dank my God ………….
- Hy dank God, die Vader, vir al die geestelike seëninge wat Hy in Christus aan hulle beskikbaar gestel het, alhoewel dit nog nie in volheid in hulle lewens sigbaar geword het nie.
- Voordat hy hom tot die gemeente wend om hulle sonde aan te spreek, kyk Paulus op na God wat die antwoorde het.
C. STRYERY RAKENDE LEIERS
1:10-16 (Sien ook 3:1-8)
“Ek is van Paulus, ek van Apollos, ek van Céfas ..”
- Volg Hom wat vir jou gekruisig is; nie die boodskapper wat jou van die kruisiging vertel nie.
- Volg die boodskap na; nie die boodskapper nie.
- Aanbid die Naam van Hom wat jou gered het; nie die Naam van Hom wat jou gedoop het nie.
D. DIE EVANGELIE VAN VERLOSSING IS GEFORMULEER DEUR GOD SE WYSHEID
1:17- 2:16
- 1:18 Die boodskap van die kruis is dwaasheid vir dié wat verlore gaan, maar wysheid vir dié wat gered word.
- 1:21 God se wysheid het het dit so beskik dat die mens God nie kan leer ken deur sy eie wysheid aan te wend nie, maar deur ag te gee op die prediking van God se wysheid en dit te glo.
- 1:22 Die Jode dring aan op ‘n bonatuurlike teken of wonderwerk voordat hulle sal glo. Die Grieke weer, soek ‘n heeltemal nuwe menslike plan (inisiatief).
- 1:23 Die boodskap van ‘n gekruisigde Christus wat die Verlosser van die mensdom word, is ‘n struikelblok (skandaal) vir die Jode en dwaasheid (onsin) vir die Grieke.
- 1:24 Maar vir almal wat deur God geroep is (Jode sowel as Grieke) is dit volkome duidelik dat al God se krag en wysheid beliggaam is in die gekruisigde Christus.
- Die plan om die mens so met God te versoen, het uit God se denke gekom, en was nie die mens se idee nie.
- Die mens het dit nie ontdek deur diep daaroor te peins nie, dit is deur God aan hom geopenbaar.
- Christus se dood en opstanding demonstreer God se krag – Hy kon sy Seun oorgee om gedood te word en Hom dan weer uit die dood opwek deur sy goddelike krag.
- Die hemelse vernuf van die verlossingsplan demonstreer sy bonatuurlike wysheid.
- Daarom moet Gód die lof vir die plan ontvang en nie die mens nie.
- Ook, in die uitdra van hierdie boodskap van verlossing, gebruik God meestal gewone en dikwels swak en onbeduidende mense sodat die luisteraars verstom en beïndruk kan word deur die boodskap en nie deur die boodskapper nie.
2:1-13
- Die inhoud van Paulus se boodskap aan die Korintiërs was slegs hierdie Evangelie wat gesentreer het op die kruisiging van Christus.
- Ook tydens die aanbieding van die boodskap kon sy luisteraars sy menslike swakheid, vrees en bewing bespeur; nogtans was hulle bewus van die bonatuurlike vloei van Gees en krag.
2:14
Die natuurlike (nie-geestelike) mens ontvang (aanvaar) nie hierdie waarhede wat deur die Gees van God geopenbaar word nie – vir hom is dit dwaasheid wat hy nie kan verstaan nie.
- Iemand wat nie weergebore is nie, het nie die Gees van God in hom om hierdie waarhede aan hom te openbaar nie en kan dit dus nie begryp nie. Die natuurlike mens los sy probleme op deur sy eie fisiese krag, sy wapens, sy slim planne, die mag van sy geld en sy posisie in die samelewing. Deur hierdie hulpmiddele beïnvloed en beweeg hy ander mense, selfs nasies. Dit is hierdie dinge waarop hy sten, waarvan hy lewenslank afhanklik is, waardeur hy vir homself ‘n weg baan. Dit is dus vir hom natuurlik om hierdie middele (gereedskap) te wil gebruik om die ewige lewe en guns by God te verkry.
- Vir hom is die Kruis en die sterwende Christus presies die teenoorgestelde; hy sien dit dus as ‘n totale mislukking en skandaal. Wanneer hy opgeroep word om sy mag, posisie, geld en intellek opsy te lê, swak soos ‘n klein babatjie te word en vanuit die wieg na God te roep om hom te red, lyk dit na absolute waansin. Vir hom is dít die manier om jouself te vernietig; nie om te lewe en vooruit te gaan nie.
- Vir hom, om hierdie geestelike waarheid te verstaan, moet God lig in die duisternis van sy gees inskyn soos God lig in die stikdonker wêreld gespreek het op die eerste dag van die skepping. God moet vir sy gees sê: “Laat daar lig wees.” Eers dan sal hy die Kruis van Christus verstaan as die weg na die hemel en sal dit vir hom so helder soos daglig word. Die Heilige Gees skyn met sy fakkel deur die venster van die mens se gees, en bring genoeg lig in sy gedagtes dat hy hierdie boodskap kan begin verstaan. Wanneer hy egter besef dat die aanvaarding van hierdie boodskap sy hele lewe sal verander en veroorsaak dat hy swak word soos ‘n klein kindjie, verwerp hy dit dikwels summier en maak vinnig die gordyne van sy gees toe vir enige verdere lig van die Gees.
E. VERSTAAN HOE ‘N GEMEENTE WERK
3:1-4:5
- Vir ‘n gemeente om doeltreffend te funksioneer, moet dit ‘n diepgaande begrip en belewenis hê van God se wyse om sy Koninkryk te bou.
- Hierdie gemeente het egter vasgeval in ‘n toestand van geestelike babas. Die wyse waarop hulle dink en optree is vleeslik, wat beteken dat dit baie soortgelyk is aan wat hulle gedoen het voordat hulle wedergebore is. ’n Pasgebore baba is nie in staat om vaste kos te kou, te sluk en te verteer nie en kan slegs met melk gevoed word.
- Paulus illustreer vervolgens sy standpunt deur voorbeelde uit hul optrede.
3:1-5 (lees saam met 1:12)
“Ek volg Paulus, ek volg Apollos, ek volg Petrus en ek volg Christus”. ’n Faksie gees gepaardgaande met rusies en jaloesie, is ‘n toonbeeld va geestelike onvolwassenheid. Hulle is dus nog in die vlees.
- Toe Paul hulle verlaat het, het hy hulle nog melk met ‘n bottel gevoer en nou, drie jaar later, was hulle steeds op die melkbottel. Dit word bewys deur hul verdeeldheid; die een wat uit Paul se bottel wil drink, die ander uit Apollos s’n en ‘n derde uit Cefas s’n.
- Hulle het nog nie geestelike tande ontwikkel nie en was nie in staat om die vleis te eet van begrip dat God die bron van geestelike seën is en die mens slegs die bottel nie; die beker waaruit die melk gegooi word. Is dit regtig so belangrik uit watter koppie jy jou tee drink; die wit, groen of geel een? Leer om die kwaliteit van die tee of koffie te beoordeel en te geniet en nie die voorkoms of ouderdom van die dame wat dit skink nie. Maak jou oë toe, kou die vleis en laat jou tong dit smul. Dit is waar dat sommige kokke beter is as ander, maar die geestelike mens het geleer om verder te gaan as die kok en die boodskapper en om die boodskap en die Christus waaruit die boodskap vloei te geniet.
3:6-8
Verantwoordelikheid van God se knegte:
“Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.”
- Die boer se kneg het geen mag om die mielies te laat groei nie en die dienaar van God het geen mag om ‘n heilige geestelik te laat groei nie; daardie krag vloei van God af. Dit is dus dwaas om van hom te verwag dat dit wat nie in sy vermoë is om te gee nie.
- God ag die een wat plant nie belangriker as die een wat natmaak nie.
- Die dienskneg se werk is om te plant en nat te maak en hy sal beloon word vir die hoeveelheid sorg en ywer wat hy aan die dag gelê het.
3:9-17
God se manier van bou.
- Status en verantwoordelikheid van beide heiliges en dienaars:
- Sowel die heilige en gemeente kan ook met ‘n gebou vergelyk word; selfs met ‘n tempel.
- Die fondament is Christus. (3:11)
- ’n Bouer moet oppas watter boumateriaal hy gebruik: goud, silwer, duur stene, hout, hooi of stoppels.
- Op die oordeelsdag sal die kwaliteit van sy werk deur vuur getoets word.
- As dit wat hy gebou het bly staan, sal hy sy beloning ontvang.
- As dit verbrand, sal hy sy beloning verloor.
- Hy self sal nogtans gered word maar net soos een wat deur vuur gestroop is van alles wat in die vlees gedoen is.
- Hy wat God se tempel skend, sal deur God geskend (of selfs vernietig) word.
- Die bouer kan gesien word as óf die heilige wat self sy eie lewe opbou óf die geestelike leier wat die lewens van die gemeentelede bou.
- Beide die heilige en die dienskneg moet baie versigtig wees in die bou van God se tempel.
- Deur faksies te veroorsaak, het hulle sy tempel aangetas en kon hulle selfs die gemeente vernietig het. Dit sou Hy swaar gestraf het.
3:18-23
Opsomming van die voorafgaande onderrig.
- Laat almal ag slaan op wat geleer is en alle menslike leerstellings verwerp: dit is Goddelike wysheid.
- Jy behoort nie aan jou leiers nie; hulle behoort aan jou! (Hulle is deur God gegee, jou ten goede.)
- Jy behoort egter aan Christus en Hy behoort aan God (Die Vader).
- Die Woord gaan eerstens nie oor jou herstel nie, maar om die herstel van God se heerlikheid. Halleluja.
//////////
NA INDEKS TOT SENDBRIEWE NA VOLGENDE HOOFSTUK