2024-09-28
DIE BRUIDEGOM GAAN VOORT OM SY BEMINDE TE KOMPLIMENTEER.
DIE BRUIDEGOM: 4:4 U hals is soos die Dawidstoring, gebou met muurkranse waar die duisend skilde in hang, almal skilde van helde.
‘n Vrou se hals, veral as dit slank is, hou vir haar man ‘n besondere bekoring in. Sy weet ook goed om dit te gebruik deur haar kop eenkant toe te kantel sodat hy ‘n soen daar kan plant. Die nek het natuurlik ook baie verborge praktiese funksies: dit dien as spilpunt vir die oë, ore en neus om hul waarnemingsfunksies beter te kan vervul. Dit bevat ook die bloedkanale na die brein en die inligtingskabels na en van die beheersentrum. Met hierdie versteekte waardes het die fisiese minnaar egter vrede. Hy sien net die roomwit uiterlike skoonheid raak.
Nie so met die geestelike Bruidegom nie. Die slanke hals bring vir hom ‘n toring voor oë; ‘n hoë uitkykpunt van waar ‘n wag die omgewing van ‘n stad tot op die horison toe kan bespied sodat die inwoners betyds gewaarsku kan word wanneer ‘n vyand in aantog is en hulle die poorte kan sluit en boogskutterrs op die mure kan plaas. Belangrike stede het verskeie sulke torings op strategiese punte opgerig gehad om hul veiligheid te verseker. Só, soos ‘n wagtoring, sê die Bruidegom, is sy Bruid: altyd waaksaam, bedag op die aanvalle van die bose.
Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. (Mat 26:41).
Maar sy verwag haar Minnaar ook enige oomblik en vanuit haar toring speur sy gretig na alle kante of die wolk van sy aantog nog nie bo die horison verrys nie.
Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie. (Mat 25:13).
Die Bruidegom se gedagtes sweef verder. Hy dink aan die besonderse Dawidstoring in Jerusalem en die kosbare skilde wat daarin bewaar word; geloofskilde. Dit gryp hom aan. Geloof is die basis vir al die ander geestelike deugde. Daarsonder kan hulle nie funksioneer nie. En dit is mos wat Hy in sy Bruid sien: ‘n Dawidstoring vol herinneringe aan geloofsoorwinnings!
Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe. (Rom 1:17).
En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. (Heb 11:6).
Kom ons kyk dieper na die Dawidstoring sodat die beeldspraak daarin vervat meer tot ons kan spreek. Dawid se betrokkenheid by Israel het begin toe hy as seun die reus, Goliat, verslaan het. Tot op ‘n betreklik hoë leeftyd het hy nog self die leërs van sy volk aangevoer. Hy was ‘n uitstaande held in hulle oë en talle van sy manskappe het in sy voetspore gevolg en ontsagwekkende heldedade verrig. In 2 Sam 23:8 ev word sy helde en hul dade vermeld.
Blykbaar het hy later ‘n toring gebou waarin hy hulle skilde versamel en ter verering as aandenkings bewaar het. (Dit was nie die goue skilde van Hadadéser, 2Sam 8:7, of dié wat Salomo gemaak het nie, 1 Kon 14:6.) Dit is natuurlik daardie Toring waarvan hier deur sy seun gewag gemaak word. Elke skild sou die verhaal dra van die heldhaftige, bloedige gevegte waarin daardie kryger ter wiille van sy volk en koning betrokke was en die geloofsoorwinnings wat hy oor die vyand behaal het. Die merke van die houe van sy opponent op sy skild sou getuig van die egtheid van sy verhaal.
In Efes 6:16 word geloof met ‘n skild vergelyk. Dit is die skild wat hierdie Bruid ook gedra en gebruik het. Onverskrokke het sy die bose weerstaan in sy pogings om haar geloof te verpletter, haar te oorrompel en weer vir homself gevange te neem. Met heldemoed het sy volhard. Die brandmerke op haar geloofskild was die bewys van die vurige pyle wat sy daarmee afgeweer het.
Daarin was sy ‘n beelddraer van haar Bruidegom wat die bewyse van sy stryd en oorwinning op Golgota as spykermerke in sy hande gedra het. Deur haar volharding het sy haar lewe al stewiger in besit gekry (Luk 21:19). Keer op keer, wanneer sy haarself in die wildernis van beproewing bevind en die vyand haar met slinkse woorde probeer verlei het, het sy hom weerstaan deur net eenvoudig die woorde van haar Minnaar aan te haal en het hy hals oor kop van haar af weggevlug (Jak 4:7).
Wat sy nie geweet het nie, was dat haar geloofskilde in die hemele veilig bewaar word, selfs veiliger as die skilde in die Dawidstoring. Niemand kon dit bykom nie. Nie een sal verlore gaan of vergete raak nie. Hy sal hulle weer en weer in gedagtenis roep; ja, nie net die skilde wat getuig van die kwaad wat sy ter wille van hom weerstaan het nie, maar ook elke skild van selfopoffering wat sy ter wille van hom gemaak het.
Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien. (Heb 6:10 ).
Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer. (Mal 3:16).
En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie. (Mat 10:42).
Hebreërs hoofstuk 11 is so ‘n Dawidstoring waarin die geloofskilde van helde soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Sarai, Jakob, Josef, Moses en baie ander deur die Heer opgehang is en hul dade beskryf en besing word.
Wees verseker dat u geloofskilde ook reeds in die hemel voor die aangesig van die Bruidegom uitgestal is.
DIE BRUIDEGOM: 4:5 U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van ‘n gemsbok, wat onder die lelies wei.
Hierdie dele van ‘n vrou se liggaam is miskien meer aantreklike vir ‘n man as enige ander. Daarom verberg die verstandige vrou, die een wat rein van inbors is, dit met sorg. Sy wil nie dat elke Jan Rap en sy maat haar liggaam moet begeer nie. Net haar Skepper, sy self, en in hierdie geval, haar Bruidegom, mag die mooiheid daarvan sien. Sy het haarself reeds aan hom verloof en Hy aan haar, daarom laat sy hom meer vryheid met haar toe. Dit is ‘n geheim wat hulle met mekaar deel. Sy weet ook dat hy ‘n man van integriteit is en dat hy homself sal kan bedwing en nie toegee aan die versoeking om groter intiemheid van haar te verwag nie.
Wat hy sien, laat hom in vervoering. Is sy werklik so goed bedeeld of is dit die waas van die liefde waardeur hy kyk wat haar so mooi laat voorkom? Nietemin, nadat sy haar so voor hom ontbloot het, deel hulle ‘n geheim, het daar ‘n inniger band tussen hulle ontstaan. Sy het die risiko geloop dat hy nie beïndruk sou wees met wat hy gesien het nie en haar sou verlaat, maar hy het nie. Hulle het ‘n brug van wedersydse kennis van mekaar, of ten minste, hy van haar, oorgesteek. Sy nuutgevonde kennis van haar liggaam en aanvaarding daarvan, sy opgewondenheid daaroor, bring ‘n groter sekerheid in haar gemoed dat hul verhouding blywend sal wees. Hy weet nou soveel meer van haar, en tog begeer hy haar steeds. Nou kan sy haarself nog meer onvoorwaardelik aan hom wy.
In die mens-mens huwelik is dit juis dié dinge wat net hulle twee van mekaar weet, ook die kennis van mekaar se swakhede, wat hulle so heg aan mekaar bind – mekaar se geheime wat hulle deel. In die regspleging word dit so hoog geag dat gades nie verplig kan word om teen mekaar te getuig nie.
Maar hoe sien die Hemelse Bruidegom sy geestelike Bruid? Ons kyk na 1Pet 3:3,4:
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, 4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. (Die beklemtoning is deur die skrywer aangebring).
Ons praat oor die verborge mens van die hart. Hoe staan die saak tussen die Hemelse Bruidegom en sy geestelike Minnares? Selfs in die mees heilige Bruid is daar soveel wat sy liefs styf sou wou toewikkel in haar mantel van private mensheid. Gedagtes waarin haar vyande tog so graag insae sou wou hê, maar waarin sy net haar Bruidegom by wyse van sondebelydenis toelaat. Sondige gedagtes wat skielik verskyn, voor sy nog kan keer. Gedagtes wat hardnekkig aan die deurkosyne vasklou en net eenvoudig weier om uitgewerp te word. Kwade gedagtes teenoor andere. Versinde gedagtes. Soveel onoopgemaakte deure van muurkaste waarvan sy nie eers weet dat dit onbelyde sondes van die verlede bevat nie. Soveel kamers sonder lig oor die gedagtes en weë van God. Soveel twyfel in sy wyse beplanning van haar lewe. Soveel ongegronde vrees. Soveel louheid van gees.
Nogtans beskryf Hy hierdie verborge dele van haar lewe as rein, soos twee lammers wat die vleeslike omgang nog nie ken nie. Ook haar liggaam is maagdelik rein soos die lelies van die veld waartussen die lammers wei. Hulle is ‘n toonbeeld van kratige uitbottende lewe en meer so as dié van ander vroue; soos wat die Gemsbok uittroon bo die ander bokke van die veld.
Is dit nie juis die rede waarom die Bruid hom so lief het nie? Omdat Hy, al ken Hy haar deur en deur, nogtans so hartstogtelik liefhet. Hy kyk verby al die onaanskoulikheid en prys haar vir die mooie in haar lewe: haar reinheid, die duidelike bewys van die ontwikkeling van die vrug van die Gees. Soos die horings van die Gemsboklammers wat, alhoewel nog net deels ontwikkeld, reeds die belofte van toekomstige formidabele wapens inhou, is haar gees ook: ‘n toonbeeld van uitdagende, volgehoue groei.
(In die bespreking van vers 7 sal ons die diepere geheim vir die Bruidegom se uitbundige minnelied met u deel.)
~~~~~~~~~~
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.