2024-08-16
DIE BRUID EN HAAR SELFBEELD.
2:1 – 2-3
DIE BRUID: 1 Ek is ‘n narsing van Saron, ‘n lelie van die dale.
Sy geniet die samesyn met haar Bruidegom maar die rusverstoorder haat dit en fluister ‘n twyfel gedagte in haar hart: “Jy geniet dit nou so as Hy vir jou sê dat jy sy narsing en sy lelie is, maar het jy al getel hoeveel narsings daar in Saron en hoeveel lelies daar in al die dale van die veld is, en Hy sê presies dieselfde vir elkeen van hulle. Moenie dink jy is so spesiaal nie, jy is maar net een van al sy baie bruide. Moet hom tog nie glo nie. Jy kan gerus ook maar dieselde doen en so ‘n bietjie rondkyk na al die ander minnaars om jou.”
DIE BRUIDEGOM: (Hy is alwetend en hoor die slinkse woorde van sy vyand en mededinger om die hand van sy bruid en antwoord soos volg):
2 Soos ‘n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters.
Sy bruid is vir Hom so spesiaal asof die ganse Saron en al die dale met dorings besaai, en sy die enigste narsing, die enigste lelie is wat daarin blom. Wat ‘n antwoord!
Hierin is die grootheid van God: Hy wat met die reuse hemelliggame speel soos ‘n seun met sy albasters, kan homself afsonder in een ligggaam en met sy seun Jakob ‘n naglank fisies, man tot man stoei om die ou bedrieglike natuur in hom te breek en hom teen dagbreek ‘n prins te verklaar (Gen 32:24). Hy is nie net die God van die mensdom nie, maar net soveel die God, die Verlosser van die enkeling. Hy het vir jou by name gesterf. Jòu naam is in sy handpalms opgeteken. Wees gerus; sien Hom as jòu persoonlike Bruidegom.
DIE BRUID: Die spinnerakke van twyfel is uit haar gemoed weggevee; sy kan weer helder dink en dit is wat sy dink:
3 Soos ‘n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde onder die seuns. Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte.
Net so spesiaal as wat ek vir Hom is, is Hy ook vir my; Hy staan uit bo almal soos ‘n appelboom bo die ander bome van die veld. Wêrelse dinge kan wel ‘n bietjie skadu gee, maar laat my hart onversadig. Hy alleen verkwik my siel met die soet appels van sy liefde, bemoediging, vertroosting, vrede, hoop en visie vir die toekoms. Hy is my Appelboom; waarom sal ek ronddwaal om na na ‘n ander boom te soek terwyl ek weet dat ek reeds die heel beste Een gevind het? (Die kosbare Pêrel; die verborge Skat in die saailand.)
IN DIE WYNHUIS
2:4 – 2:7
DIE BRUID (Op ‘n latere tydstip): 2:4 Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde. 5 Versterk my met rosynekoeke, verkwik my met appels, want ek is krank van liefde. 6 Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels. 7 Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
Erotiese oomblikke. Die wynhuis is die plek waarheen die wêreldling na ‘n harde dag se werk gaan om homself te bedwelm en, vir ‘n wyle, aan die harde werklikheid van die aardse lewe te ontvlug. Dit is omdat hy die ware wynhuis nie ken en geen toegang daartoe het nie. Maar die Bruidegom wil sy bruid uitneem vir die aand en bring haar in die wynhuis van die Vader, die sleutel waarvan ons met die sondeval in die Paradys verloor het.
Daarbinne hang ‘n reuse banier oor die ganse saal. Die woorde op ‘n banier, soos ons weet, is ‘n leuse of bondige samevatting om die saak waaroor dit gaan te verduidelik en te propageer. Op hiérdie banier is iets soos die volgende in sierskrif geverf:
Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid (Jer 31:3).
Elkeen wat die wynhuis inkom, lees dit, word verswelg in hierdie ewige liefde van God en vergeet vir ‘n wyle van die onstuimige wêreld daarbuite. Die bruid is so oorweldig dat sy soek na versterking van haar fisiese liggaam en dat die bruidegom haar beskermend moet omhels. Die mens is broos en kan die ontsaglike vloei van God se liefde nie te lank verduur nie. Dit is soos ‘n ontsaglike elektriese stroom wat deur ‘n dun koperdraadjie vloei. ‘n Groot godsman het, toe die Heer hom met die Heilige Gees gedoop het, dit beleef as golwe van genade wat oor hom gespoel en hom later laat uitroep het dat Hy sy hand van hom af moes oplig omdat hy dit nie langer kon verduur nie. Eendag, wanneer ons ons verheerlikte liggame ontvang het, sal ons in staat wees om dag in en dag uit in die wynhuis van sy liefde te leef.
DIE BRUID (vervolg): 7 Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
Die Heer het die gems- en takbokke so geskape dat die twee geslagte net op sekere tye na mekaar aangetrokke voel. Die manlike spesie soek en vind ‘n vroulike maat, paar met haar en hulle vermeerder. Dit gebeur gewoonlik in pas met die lente wanneer groen gras uitspruit en die klein bokkies kos sal hê om te eet. Die bruid wys haar mede bruide op hierdie godgegewe beginsel en hou hulle daaraan gebonde.
Dit werk so: Hy, die Bruidegom neem die inisiatief om sy bruid op te soek. Sy moet gereed wees om hom te ontvang en op sy liefde te reageer. Mag ons dan nie self na ‘n intieme verhouding met Hom smag en daarna soek nie? Nee, dit is nie wat ons sê nie; ons móet na Hom uitreik, maar dit Is Hy wat die inisiatief neem om my, sy bruid, in sy wynhuis in te neem. Hy is die Bron van die liefde en ook die Een wat die liefde vir Hom in my opwek. Hy bepaal die regte tyd vir alles in ons verhouding. Hy leer dit ook vir ons in die natuur deur die gemsbokke en die takbokke.
DIE BRUID UIT AFSONDERING VERLOS.
2:8 – 2:17
Toe die Heer hemel en aarde geskape het, het hy die dag in twee dele, lig en donker, werktyd en rustyd verdeel. Die dae weer het hy in vier seisoene opgedeel en twee-twee gegroepeer: groeityd en rustyd. So is dit tot vandag toe: lente, somer herfs en winter. Gedurende die rusmaande lyk dit of die Heer afwesig is uit die natuur, maar nie so nie; Hy bestuur steeds alles haarfyn. Die diereryk bly ook aan die gang behalwe ‘n kleiner groepie soos die skilpaaie en bere. Die mens gun homself egter geen rus nie; selfs in die koudste streke het hy maniere gevind om gedurende die vrieskoue tye besig te bly.
Geld hierdie rusperiodes ook in geestelike sfere? Wel dit wil voorkom of ons tog so ‘n parallel kan trek. Die Heer het die skeppingstydperk in ses dae opgedeel waartydens Hy elke dag ‘n ruklank (snags) sy skepping aan homself oorgelaat het. Dan het Hy ook nog ‘n spesiale rusdag vir homself afgesonder. Is Hy dan soms nie vir ons beskikbaar nie? Geensinds nie; ons kan Hom mos elke sekond van ons lewe op sy hemelse selfoon kontak. Hy is alom en ononderbroke tot ons beskikking, maar … .
Die intensiteit, die belewenis van sy teenwoordigheid wissel na sý goeddunke. Soms is dit asof Hy vêr weg is en ons teen die plafon vas bid. Dan moet ons die woorde wat Hy tot ons gespreek het, in herinnering roep en in geloof volhard; sy beloftes bedink. Woorde soos:
… Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. (Heb 13:5).
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. (Mat 28:20).
Sulke periodes van sy skynbare afwesigheid, is noodsaaklik vir die bruid; dit is ingebou om haar geloofspiere deur oefening te ontwikkel. Die gevaar bestaan natuurlik dat sy mag val, soos Adam en Eva in die Paradys, toe die Bruidegom hulle by die Boom van Kennis van Goed en Kwaad alleen gelaat het. Daarenteen is talle heugelike bruidsoorwinnings opgeteken soos die van Daniël wat, na ‘n eensame nag in die leeukuil, lewend daaruit opgetrek is.
Jas 1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.
Daar het ons die antwoord: Geen toets, geen kroon!
Kom ons kyk nou na die bruid van ons verhaal. Haar Bruidegom is êrens heen en sy moes vir ‘n tydlank alleen in haar aardse moederhuis agterbly. Sy het die warmte van sy nabyheid gemis. haar somer het in winter omgesit: koud, sneeu, geen appels of druiwe of selfs veldblomme meer nie. Sy het haarself binne die mure van haar huis en die ringmuur wat dit omring het, teruggetrek en getreur. Later het sy nie eers meer na buite uitgekyk nie. Sy het nie opgemerk dat die gedurige sluiers van reën opgehou en die blomme reeds besig was om uit te spruit nie. Sy het ook nie die tortelduif sy minnelied hoor koer nie. Maar toe, een oggend, hoor sy ‘n bekende roep, asof uit die vêrte; sy kyk fronsend deur die dowwe vensterruit na buite en … maar laat sy self vertel:
DIE BRUID: 8 Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels. 9 My beminde lyk soos ‘n gemsbok of soos ‘n jong takbok. Daar staan hy agter ons muur! Hy kyk deur die vensters in, hy speur deur die tralies heen.
Vir ‘n korte wyle het die Bruidegom haar verlaat gehad om haar liefde vir Hom te toets (Jes 54:7). Maar nou haas Hy Hom opgewonde terug om haar in sy arms te verwelkom en te sien of sy Hom gemis het. Hy spring haastig oor die berge en huppel oor die heuwels van vertwyfeling wat haar omring. Hy is bruisend met energie, vrolik en verwagtend. Hy beweeg nie soos die klein klipspringertjie of steenbokkie nie, maar soos die soepel, gespierde gemsbok en takbok. Geen hindernis stuit Hom nie. Dan is hy daar, by haar tuiste. Haar hart bons in haar binneste.
Maar – sy haas haar nie na die poort om dit vir Hom oop te maak nie. Sy is skielik onseker oor hoe Hy na al die tyd oor haar voel. Haar hare is ongekam, haar wange betraan. Nie wetend wat om te doen nie, gaan sit sy eenkant. Na ‘n rukkie draai Hy seergemaak weg van die ingang af, maar gee nie op nie. Hy stap om die muur, speur deur die tralies en vensters om haar te sien te kry. Uiteindelik: daar is sy, net so mooi soos altyd. Sy is bewus dat sy oë op haar is, maar kyk nie op nie. Dan begin Hy met haar praat.
DIE BRUID (vervolg): 10 My beminde begin toe en sê vir my: Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog! 11 Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan. 12 Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land. 13 Die vyeboom laat sy voorvye uitswel, en die wingerdstokke wat bloei, versprei geur. Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog! 14 My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik.
Hy is dankbaar dat daar geen ander minnaar by haar is nie. Oor haar ietwat onversorgde voorkoms verwyt Hy haar nie; noem haar steeds sy beeldskone vriendin; sê hoe Hy smag om net weer haar stem te hoor!
Dan begin Hy om haar uit haar selfopgelegde kluisenaarsbestaan, haar depressie, uit te lok na sy wêreld daarbuite waar ‘n nuwe seisoen van vrolike lewe aangebreek het. Hy noem vir haar sewe dinge (die getal van volkomendheid, volmaaktheid) wat Hy om hom waarneem: Twee daarvan is dinge wat verby is: die koue en reën waarvoor sy binnenshuis gevlug het. Maar daar is ook bewyse van nuwe lewe: oral rondom is bloeisels. Selfs die voorvye swel al uit en sal eersdaags ryp wees, soet op die tong. Hy adem diep teue vars lug in. Dit is ryk aan heerlike geure, ook dié van druiwebloeisels. Die wêreld het ontwaak uit sy winterslaap, rek uit en sing van vreugde. Die tortelduif roep met sy sagte, dringende koer-koer na die vreesagtiges, die skugteres om uit hul skuilings te kruip en die nuwe lente te kom geniet.
Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! Luk 2:14.
Toe gebeur ‘n wonder: ‘n glimlag van verligting sprei oor haar blosende wange, sy kom orent, vee haar hare na agter, stap doelgerig na die poort, stoot die hekke oop en werp haar in sy arms. Die blokkasie in hul verhoudingskanaal is uit die weg geruim en hul wedersydse liefde vloei weer vryelik.
Hy wil weet waarom sy dan in Hom begin twyfel het. Sy wonder ook; dit lyk nou so onwerklik. Hulle stap af na haar (nee hulle) wingerd. Hand aan hand wandel hulle tussen die rye. Dan buk Hy en wys vir haar die spoortjies van klein vrugte-eter jakkalsies. Hulle moes ongemerk ingesluip en die trosse uitbottende druiwe van onder af, afgeknibbel het. Bolangs vertoon die plante nog goed, maar onderlangs is dit kaal en verrinneweerd. Genadiglik was dit nie die groot jakkalse, die skaapvangers van ontrou wat haar geestelike lewe verskeur het nie, maar die klein, oënskynlik onskuldige vrugte-etertjies. Sy het nie besef watter skade hulle aan hul verhouding sou doen nie. Sy is verontwaardig daaroor en saam neem hulle ‘n besluit:
DIE BRUIDEGOM EN BRUID GESAMENTLIK: 15 Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.
Maar hoe lyk hierdie skelm jakkalsies? Sy raadpleeg haar Handboek en identifiseer drie soorte:
2Kor 10:5 terwyl ons … elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
Die eerste jakkalsie is haar dwalende gedagtes. In haar daaglikse wandel het sy nie haar denke op Hom en Sy Koninkryk gefokus gehou nie. Sy was nie versigtig nie en het oor allerhande nietige wêreldse dinge loop en dink. Dit het die vrugte wat die Gees in haar laat uitbot het, verorber. Sy lees verder:
Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. (Fil 4:8).
Dit maak seer, maar sy leer. Sy moes haar gedagtes gevul het met die goeie, dan sou die jakkalsies weggevlug het. Sy blaai verder en stop by ‘n teks wat sy onderstreep het:
Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, … (Jos 1:8).
Haar oë gaan verder oop: sy het nie met erns die bundel van boeke wat oor haar Bruidegom se gedagtes, woorde en dade handel en wat sy beloftes aan haar bevat, gelees nie. Daar was soveel ander dinge waaraan sy aandag moes gee. Sy het gedurig daaroor gedink, haar gekwel om oplossings te vind. Dit het haar uitgeput gelaat; ongemotiveerd om die dieper waarhede van die Gees na te speur.
Toe sy die Skrif al wil toeslaan vang haar oog ‘n derde teks en lees sy:
En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring. (Luk 6:12).
Ja, haar gebedslewe het al meer verflou. Sy het nie meer liefdesbriewe aan Hom geskryf nie, Hom geloof en geprys vir wie Hy was nie; net kort teksboodskappies hemeltoe gestuur om oor haar probleme te kla en lyste van goedere wat Hy vir haar moes stuur. Wat meer is, omdat sy nie gou duidelike antwoorde daarop ontvang het nie, het sy mettertyd gevoel dat dit tog geen sin maak om selfs daarmee vol te hou nie.
Dit is wat gebeur het. Gelydelik het sy beeld vir haar vervaag; die woorde wat Hy vroeër tot haar gespreek gehad het, het dof en onwerklik begin word. Sy het begin twyfel of Hy haar werklik so liefgehad het as wat Hy gesê het. Waarom het Hy dan hemeltoe verdwyn soos Moses toe hy op die berg gegaan en die volk daaronder agtergelaat het. Sy het haar al meer afgesonder in haar moeder se huis, die aardse huis waarin sy grootgeword het. Dit alles was die klein jakkalsies wat sy nou raakgesien en waarteen sy in die toekoms sou moes waak. Maar dit is alles vereers verby.
DIE BRUID: 16 My beminde is myne, en ek is syne wat herder is onder die lelies.
Die verhouding is herstel en die bruid roep verheugd uit: “Hy is weer myne en ek syne!” Sy sien haarself weer as sy skone lelie en vir Hom as haar Bewaarder soos wat ‘n skaapherder oor sy kudde waak.
DIE BRUIDEGOM: 17 Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, kom aan, my beminde, maak soos die gemsbok of soos die jong takbok op die berge van skeiding.
Die bruidegom is net so tevrede. Sy bruid het die toets deurstaan en ‘n duur les daaruit geleer. Dit sal hul toekomstige verhouding na ‘n hoër vlak lig. Maar laat hulle nou gou maak om mekaar op te soek want aandstonds sal die aandwind weer waai en die skudus saamsmelt om nog ‘n nag, nog ‘n periode van tydelike skeiding te bring. So is dit deur die Vader bestem en so is dit goed: groei, konsolideer; groei, konsolideer. Maar nou gaan hulle mekaar eers in hierdie nuwe seisoen geniet; mekaar opsoek en saam verkeer soos ‘n takbok en gemsbok sy maat op die berge. Hulle liefde is net so kragtig en soepel. Niks kan in die pad daarvan staan nie.
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
~~~~~~~~~~