HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Die Here het ook die volgende storie vertel wat seker veral sterk tot die vroue wat staan en luister, gespreek het.
(Lees asb Luk. 15:8-10)
Die geldwaarde van die muntstuk.
Hierdie vrou was nie sonder geld soos baie van ons miskien soms is nie. Sy het tien silwer muntstukke gehad. Mense wat ‘n diepgaande studie maak van die leefwyse in Jesus se tyd, sê elke muntstuk was omtrent een dag se verdienste werd. ‘n Dag se loon is beslis nie te versmaai nie. As ‘n mens die hele dag in die warm son geswoeg of in ‘n ander se huis gewerk het om die beddens op te maak, die skottelgoed en klere te was en stryk en dalk nog die vensters ook nog moes doen, is die geld wat jy laat middag in jou sak steek, vir jou baie werd en as jy dit op pad huistoe verloor, sal daar baie trane vloei, al het jy nog nege ander dae se loon in die trommel onder jou bed oor. Vir die meeste van ons het elke dag se inkomste ‘n plek wat hy moet volmaak.
Die sentimentele waarde van die muntstuk.
Daar kon egter ‘n ander rede gewees het waarom die muntstuk vir haar baie kosbaar was. Joodse vroue het gewoonlik tien silwerstukke as trougeskenk ontvang. Wanneer die munt ‘n gat in die middel deur gehad het, sou hulle die tien saam inryg en bewaar. Dit was dus soos ‘n trouring met groot sentimentele waarde en sou die stringetjie breek, en een munt verlore raak, was dit asof die huwelik self geskend was. ‘n Vrou vir wie haar huwelik baie beteken het, sou geen steen onaangeraak gelaat het om dit te vind nie. So ‘n muntstuk was uniek en kon nie met ‘n ander soortgelyke een vervang word nie.
Net een oplossing: soek en soek tot jy hom kry.
Om een van hierdie twee redes het die vrou van Jesus se verhaal, al haar werk net so laat staan, die lamp opgesteek om beter te kan sien, die besem in die hande gekry en die vertrek van hoek tot kant sorgvuldig begin uitvee. Skielik het sy iets sien blink, die besem laat val, afgebuk, die verlore muntstuk herken, opgetel, na buite gehardloop, dit in die lug opgehou en vir die buurvroue wat ontsteld op haar juigkrete nadergehardloop het geskree: “Ek het dit, ek het dit gevind” en vertel van die munt wat sy verloor en weer gevind het. Sekerlik het talle tandlose ou monde saam met haar, haar blydskap opgewonde gedeel.
Jesus se muntstukke: sommige al gevind maar baie nog verlore.
Soos die silwer muntstuk waarop die afbeelding van die keiser verskyn het, is elke mens se lewe ook intrinsiek van kosbare hemelse silwer gemaak waarop God se beeld afgedruk is. Elkeen is vir die Here van onskatbare waarde. Die een kan nie met ‘n ander vervang word nie. Hy is tans besig om Sy verlore silwer munte te versamel. Al is 9 al gevind, steek Hy die lamp van sy Woord op en gebruik Hy talle van Sy diensknegte om die oorblywende ene te soek.
Daar is blydskap in die hemel wanneer nog ‘n muntstk gevind word.
En wanneer Hy hom vind en die verlore sondaar deur die nou poort gelei word, roep die engele en die afgestorwe heiliges uit: “Hier is God se silwer muntstuk wat jare lank al vêr van Hom af in die donkerte lê en stof en vuilheid vergader het; Halleluja, loof die Here!”
Hou moed, Hy soek nog dag en nag na jou geliefdes.
Is jou seun of dogter dalk een van God se verlore munte? Hou moed Hy het nog nie opgegee om na hom of haar te soek nie. Soos ‘n eienaar wat gereeld die munte in sy beursie tel, weet Hy presies wie nog moet inkom en soek Hy elke uithoek van hierdie wêreld deur met Sy Evangelie totdat hy of sy ook veilig in Sy snoer vasgeknoop is.
……….