2024-09-26
DIE BRUIDEGOM GAAN VOORT OM SY BRUID TE KOMPLIMENTEER.
DIE BRUIDEGOM: 4:3 U lippe is soos ‘n skarlaken band, en u mond is lieflik. U slape is soos ‘n granaatskyf deur u sluier heen.
Hy is nog baie na aan haar, plaas moontlik sy hande op haar skouerknoppe, speur deur haar sluier heen, sien wat vir hulle wat verder wegstaan verborge is. Haar mond trek sy aandag. Dit is wyd, glimlaggend, ontspanne; haar lippe breed, koninklik skarlaken, vroulik, vogtig, aanloklik.
Aan weerskante daarvan, haar slape, blosend soos die dieprooi helftes van ‘n granaat. ‘n Toonbeeld van bloeiende, polsende lewe. Sy hoof haarself nie met grimering op te smuk nie: sy is lieflik net soos wat die Here haar geskape het.
Sy was natuurlik nie van altyd af so mooi nie. Sy was vleeslik, sondig. Haar lippe was onbesnede (Ex 6:29), aanloklik vir mans, maar ten kwade. Haar gedagtes vals en haar lippe in ‘n dun lyn vasgeklem wanneer sy leuens bedink het (Spr 14:30). Sy was deel van ‘n volk wat tot God met hul lippe genader, maar wie se harte ver van hom af was (Mat 15:8).
Maar toe, eendag, het die Here homself aan haar openbaar en het sy in vrees uitgeroep:
Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n mens onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Jes 6:5).
(Die beklemtoning van die woord “lippe”, in die Skrif tekse is deur die skrywer aangebring.)
Kom ons kyk nou hoe so ‘n pragtige geestelike Bruid vir Christus deur die wederbarende werking van die Gees tot stand kom en wat die aard van haar skoonheid is wat hier uitgebeeld word.
Maar die Verlosser Seun was haar genadig, so het sy getuig:
Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, 7 en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen. (Jes 6:6,7)
Daardie kool vuur was natuurlik vanaf Jesus, haar latere Bruidegom, se soenofferaltaar geneem. Daarna was sy nooit weer dieselfde nie want daar staan geskrywe:
Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het. (Deut 23:23).
Die nuwe lewe wat sy ontvang het was so kragtig dat sy nou beheer oor haar geestelike welsyn gehad het en nie meer ‘n slaaf van die sondige begeertes was wat haar geestelik dood veroorsaak het nie want iemand wat in Christus is, is mos ‘n splinternuwe wese (2Kor 5:17) – soos ‘n nuwe mikrogolf wat jy uit sy boks uithaal inprop, die knoppie druk en, … daar brand sy liggie en draai sy tafel.
Later het sy haar Verlosser as Bruidegom leer ken. Sy was gaande oor hom, het hom in die oë gekyk en met haar lippe uitgeroep:
U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig (Ps 45:3).
Deur die woorde van sy lippe het sy geleer om nie meer haar pad deur die lewe oop te veg nie, maar die weg van sagmoedige diensbaarheid te kies.
Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy (Ps 17:4).
Die vriendelike, opregte, wyse woorde van haar lippe, het ook vir haar die deur tot ‘n voortreflike beroep geopen want:
Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe“. (Spr 18:20).
Haar raad is dikwels gevra wanneer netelige besluite geneem moes word want:
Daar is goud en ‘n menigte korale, maar ‘n kosbare sieraad is die lippe van kennis”. (Spr 20:5).
Van hulle wie se lippe gedurig gereed was om kwaad te praat, het sy ver weggebly. Haar lippe was nie oop en gereed om andere se swakhede onnodig aan die lig te bring nie; sy kon ‘n geheim bewaar. Sodoende was sy ‘n vriend vir almal ‘n vredemaker by die werkplek.
Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie. (Spr 20:19).
Sy het haar eerder in die geselskap van verstandige kollegas tuisgemaak, na die woorde van hulle lippe geluister, soos wat haar Bruidegom haar aangeraai het om te doen:
Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis. 18 Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe. (Spr 22:17,18).
Sodoende het sy baie weggebêrede woorde gehad om aan elkeen wat haar raad gevra het, ‘n verstandige antwoord te kon gee, sodat hulle onder mekaar gefluister het: “Haar lippe beantwoord ons vrae met ‘n soen”:
“Hy wat regte antwoorde gee, soen die lippe“. (Spr 24:26).
Mettertyd, wanneer niemand meer geweet het wat om te doen nie, het hulle die antwoord uit haar mond, deur haar lippe gesoek en gevind. So, is ‘n stad se inwoners eendag van gewisse dood gered:
Vroeër was hulle gewoond om só te sê: Laat hulle Abel maar net raadpleeg! en so het hulle ‘n saak afgehandel. (2 Sam 20:18).
Soms, wanneer net die beweging van haar lippe sigbaar was terwyl sy ‘n onhoorbare gebed tot haar Bruidegom vir andere geprewel het, het onkundiges haar agteraf gespot deur te sê dat sy dronk was, maar mettertyd het die Here haar gebede verhoor en selfs uit die geledere van die spotters geestelike kinders vir haar verwek :
En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee— 13 want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie—het Eli gedink dat sy dronk was. (1Sam 1:12,13).
En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, ‘n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid. (1Sa 1:20).
Die geheim van haar geseënde lippe was dat hulle nie meer haar eie was nie maar dat sy hulle as brandoffers op die altaar van haar Bruidegom geplaas het:
Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied. (Hos 14:3).
Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. (Heb 13:15).
Omdat sy haar mond en lippe so aan hom oorgegee het, het Hy: “Haar mond met gelag vervul en haar lippe met gejuig (Job 8:21); haar lippe geopen sodat haar mond sy lof kon verkondig (Psa 51:17); haar siel met vettigheid versadig sodat haar mond geroem het met jubelende lippe“.
Daarom ook kon sy nie anders nie as om op die toppe van die berge, in die donkerste dale, op stadsplein van haar woondorp en voor die kansel van haar kerk te gaan staan en uit te roep:
Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het. (Psa 66:16).
DIT DAN, IS NET ENKELE REDES WAAROM DIE HEMELSE BRUIDEGOM SOVEEL LOF HET VIR DIE LIPPE VAN SY BEMINDE.