2024-06-26
NOTA
Indien u nie die voorafgaande studiegids gelees het nie, klik asb. op ROMEINE 3 en 4 en lees dit vlugtig deur sodat u die huidige gids beter kan verstaan.
Om seën te put uit die gedagtes wat hieronder gedeel word, moet u vertroud wees met die Skrif waaroor dit gaan; so, bestudeer hierdie gids asb. met ‘n oop Bybel aan u sy.
A. VREDE EN VREUGDE (5:1-11).
Aangesien daar nou vrede tussen God en ons is, geniet ons al Sy goedheid en sien ons ook uit na die verre toekoms wanneer ons met hemelse heerlikheid beklee sal word.
Maar ons verheug ons nie net oor die aangename dinge nie, maar ook in die probleme en lyding wat oor ons pad kom, want dit laat ons toeneem in uithouvermoë en uithouvermoë bou ons karakter. Wanneer ons dan sien dat ons geestelike gegroei het, laat dit ons hoop opvlam vir wat die toekoms verder vir ons inhou. Hierdie grondige hoop sal ons nooit teleurstel nie, want dit word bewerk deur die Heilige Gees wat in ons kom woon en die gloed van God se liefde in ons harte uitgestort het.
Met inagneming van al die omstandighede wat ten tyde van Christus se kruisiging geheers het, moet ‘n mens saamstem dat Hy op presies die regte tyd in die geskiedenis van die mensdom gekom het vir die redding van die mens. Maar vir elkeen van ons is Hy ook op die regte tyd beskikbaar, dit is op die tyd wanneer ons, ons diepe behoefte besef aan ‘n Verlosser om ons sondes te bedek en in ons te kom woon om ons oorwinning te gee oor die swakheid van ons vlees.
Christus se lyding en dood vir sondaars demonstreer Sy liefde wat ons menslike begrip te bowe gaan. Ons sal miskien nog bereid wees om ons lewens te waag en te sterf om ‘n opregte mens van die dood te red, maar dit is ongehoord dat iemand sy lewe sal aflê vir ‘n waardelose, uitgeworpene wat sy lewe verkwis het in die najaging van sonde.
Die feit dat Christus ons gered het toe ons nog magteloos was om goed te doen, ons lewens deurspek met sonde, gee ons hoop en die versekering dat Hy dit soveel te meer nou sal doen, nou dat ons ‘n nuwe lewenstyl handhaaf, ‘n lewenswyse wat vir God soveel aangenamer is. Hy wat die goeie in ons begin het, sal dit deursien tot die einde toe.
B. DIE DOOD DEUR ADAM; DIE LEWE DEUR CHRISTUS (5:12-21).
Adam se een sonde het veroorsaak dat baie mense sondaars geword het en geoordeel is; Christus se een offer vir sonde het daartoe gelei dat baie mense regverdig gemaak is en die oordeel vrygespring het. Die beginsel is dus: een vir almal.
Adam se een sondedaad het veroorsaak dat alle mense as sondaars gebore is en die straf vir sonde, naamlik die dood, moes dra. Aangesien die mens deur al die eeue gesterf het, selfs voordat God sy wette aan die volk van Israel gegee het, wys dit dat hy verantwoordelik gehou was vir sy sonde. Mense was skuldig omdat hulle, soos voorheen gesien, in die natuur duidelik kon sien dat daar ‘n God was wat alles geskep het en gedien moes word, maar versuim het om dit te doen. Tweedens was God se wette sedert die skepping reeds in hulle gewetes geskryf. Daarom het hulle geen verskoning vir hulle sonde gehad nie en is geoordeel en het gesterf alhoewel hulle nie ‘n uitdruklike daad van ongehoorsaamheid aan ‘n opdrag van God gepleeg het, soos Adam gedoen het nie. Daar kan dus gesê word dat as gevolg van een sonde deur een man, menigte mense geoordeel is en gesterf het.
Vergelyk ons die effek van Adam se optrde met die van Christus, sien ons dat daar ooreenkomste is maar ook opvallende verskille. Beide Adam en Christus was verantwoordelik vir sekere dinge wat met die mensdom gebeur het, maar die genade wat deur Christus gekom het, was groter as die oordeel wat deur Adam gekom het. As gevolg van Adam se een daad van ongehoorsaamheid, moes alle mense die prys vir sonde betaal maar as gevolg van Christus se een daad van gehoorsaamheid word alle mense in ‘n posisie geplaas waardeur hulle volmaakte geregtigheid kan ontvang sonder om die prys daarvoor te betaal. Adam het die dood gebring; Christus het lewe gebring. Die mens was verplig om vir Adam se daad te betaal maar Christus het vir die mens se dade betaal.
Die wette van God is later aan die Israeliete gegee sodat hulle duideliker kon sien hoe sondig hulle was, maar maak nie saak hoe groot ‘n mens se sonde is nie, die goedheid van God is soveel groter. Terwyl sonde voorheen geheers het en die mag gehad het om die mensdom in die dood in af te trek, heers die liefderyke goedhartigheid van God nou en het die krag om ‘n persoon op te hef tot ‘n regte stand met God en aan hom die ewige lewe te gee.
C. DOOD VIR SONDE, LEWEND VIR CHRISTUS (6:1-14).
Tot watter gevolgtrekking moet ons dan kom? As die mens se sonde dan daartoe gelei het dat God Sy genade uitgestort het, moet ons nie nou nog meer sondig sodat Sy genade meer oorvloedig kan word nie? Nee glad nie. Om God se genade te ontvang moes ons instem om die sonde af te sterf, hoe kan ons nou aanhou sondig?
Die waterdoop van gelowiges, wat ons doop in Christus simboliseer, bevestig dat sonde doodgemaak moet word, want ons word totaal in die water gedompel en dan daaruit opgelig wat ‘n beeld is van ons geestelik sterwe ten opsigte van sonde en dan die opwekking tot nuwe goddelike lewe. Ons word wetlik deur God gesien as dat ons in Christus was toe Hy gesterf het, in die graf neergedaal het en weer opgewek is. Dit beteken dat ons ou sondige natuur wetlik doodgemaak is om sy krag te vernietig sodat ons nie meer slawe van sonde sal wees nie want ‘n dooie liggaam is absoluut magteloos en nie instaat nie tot enige aksie nie.
Net so het ons nuwe self saam met Christus uit die graf opgestaan. Net soos Christus nou lewe en nooit weer sal sterf nie, is ons nuwe mens vir ewig lewend om vir God te lewe. Net soos die dood geen verdere heerskappy oor Christus het nie, het sonde en dood hoegenaamd geen heerskappy oor ons nie.
Ons moet dus nou ons praktiese ondervinding in lyn kry met ons regsposisie. Deur geloof moet ons vas glo dat ons dood is vir die sonde en lewend is vir Christus. Ons moet onverbiddelik glo dat elke deel van ons fisiese liggame, sowel as ons verstand en emosies, so dood soos ‘n klip is vir sonde . Ons moet dit vir onsself toereken dat ons bose begeertes gesterf het en dus nie aan sonde gehoorsaam en instrumente van goddeloosheid kan wees nie. Dan moet ons ook elke deel van onsself aan God aanbied as instrumente waardeur Hy sy lewe van geregtigheid kan uitlewe. Sonde sal nie meer jou leermeester wees wat jy sal gehoorsaam nie, want jy probeer nie meer om God se wette in jou eie krag te onderhou om Sy aanvaarding te verkry nie; nee, deur Sy genade is jy reeds deur Hom aangeneem en vloei jy nou in die nuwe lewe wat Hy deur Sy Gees aan jou skenk en wat in jou werk.
D. SLAWE VAN GEREGTIGHEID (6:15-23).
Die feit dat jy wetlik dood is vir sonde en lewendig is vir Christus, sal egter nie outomaties in jou daaglikse lewe uitwerk nie. Jy sal jou wil moet uitoefen om dood vir die sonde en lewend teenoor Christus te wees. Jy sal keuses moet maak om jouself óf aan sonde óf aan God oor te gee.
As jy kies om jouself aan sonde oor te gee, sal jy weer ‘n slaaf van sonde word en as jy besluit om jouself aan God oor te gee, sal jy ‘n slaaf van geregtigheid word. Dit beteken dat jy dan voortdurend die regte soort lewe sal uitleef, die God soort lewe, net soos ‘n slaaf wat sy heer dien soos hy gedien wil wees. Verder, wanneer ‘n slaaf jaar na jaar aanhou om sy heer te dien, raak hy later so gewoond daaraan om dit te doen, dat hy nie meer sy meester se reëls en aanwysings bevraagteken nie; hy doen outomaties wat vir hom gesê word. Net so, as jy aanhou aanvaar dat jy dood is vir die sonde en lewend vir Christus, sal Sy lewe in beheer wees van jou lewe.
Sou jy ‘n deel van jouself aan onreinheid aanbied, sal jy al hoe onreiner word, maar as jy jouself aanbied aan dit wat rein en reg is in die oë van God, sal jy al hoe heiliger word. Dink nou nugter hieroor na: watter vrug het jy van jou vorige lewenswyse gepluk; hoe het jy baat gevind by die dinge waaroor jy jou nou skaam, die dinge wat lei tot die ewige dood? Maak dus eerder nou ten volle gebruik van die voorreg om vrygemaak te wees van die heerskappy van die sonde en die dood, en leef die nuwe lewe van heiligheid voluit, die lewe wat tot in alle ewigheid sal duur.
Opsommend, in ‘n neutedop:
Rom 6:23: Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here
//////////
NA INDEKS NA DIE VOLGENDE STUDIEGIDS
KOMMENTAAR
ONS ONTVANG GRAAG U EVALUERING VAN DIE STUDIEGIDS, ASOOK ENIGE ANDER OPMERKING OF VERSOEK DEUR MIDDEL VAN DIE KONTAKVORM WAT HIERONDER VOORSIEN WORD.
AFLAAI
BO-AAN DIE BLAD IS VOORSIENING GEMAAK VIR DIE AFLAAI VAN DIE GIDS.
AANSTUUR
HEELONDER IS SKAKELS NA VERSKEIE OPENBARE MEDIA KANALE. U KAN ‘N MEDEWERKER IN CHRISTUS WORD DEUR STUDIEGIDSE WAT VIR U TOT SEËN WAS, AAN ANDERE DEUR TE GEE.