2025-05-09A
A. INLEIDING
Hooftema: Paulus se verdediging van sy apostelskap en weerlegging van valse leraars.
Datum geskryf: 56 n.C. (tussen 55 en 57).
Outeur: Paulus.
Plek: Filippi (op pad na Korinte) of Masedonië.
Omstandighede: Paulus het vir Titus en Timoteus vooruit na Korinte gestuur om te bepaal watter uitwerking sy vorige brief op die Korintiërs gehad het. Terwyl hy nou daarheen reis, ontmoet hy vir Titus. Dié bring vir hom goeie nuus dat die Korintiërs sy woorde gehoorsaam en berou getoon het, maar dat daar steeds ‘n mate van weerstand teen hom is. Dit bring dus beide vreugde en kommer, en maak dat hy hierdie brief skryf en versend. Daar is ‘n moontlikheid dat hy ook een of twee ander briewe aan die Korintiërs geskryf het wat om een of ander rede nie vir ons bewaar gebly het nie.
B. PAULUS GROET DIE GEMEENTE
1:1, 2
1. Wanneer ons ‘n brief skryf, verstrek ons gewoonlik ons naam aan die einde daarvan; Paulus sê egter heel aan die begin van wie die brief kom. Dit maak sin.
2. Die genade wat hy oor hulle uitspreek, is soos ‘n liefdevolle drukkie wat ‘n vader aan die lede van sy gesin gee wanneer hy tuiskom, voordat hy nog gaan sit en oor ander sake begin gesels.
C. LYDING EN TROOS
1:3-11
1. Paulus en sy medewerkers het ‘n tydperk van intense lyding ter wille van die Evangelie deurgemaak.
2. Hulle was egter nie deur die lyding platgeslaan nie, want hulle is deur God vertroos.
3. Hierdie vertroosting kon gekom het deur:
a. Hulle intens bewus te gemaak het van sy teenwoordigheid.
b. Hulle te herinner het aan hoe Hy hulle in die verlede deur lyding gedra het.
c. Hulle oë te gevestig het op die beloning wat hulle in hierdie lewe en in die lewe hierna sal ontvang.
d. Hulle buitengewone krag deur sy Gees te gegee het om dit te kon verduur.
e. Hulle geloof en hoop te versterk het dat hulle binnekort verlos sou word.
4. Hierdie bemoediging was so oorvloedig dat Paulus vir God die “Vader van barmhartigheid” en die “God van alle vertroosting” noem.
5. Lyding hou die volgende voordele (seëninge) in:
a. Dit oefen druk op ‘n Christen uit om nader aan Christus te beweeg.
b. Dit bou sy geloof.
c. Dit gee hom ‘n ervaringsbegrip van lyding wat hom in staat stel om andere wat ly te kan vertroos, want lyding is deel van hierdie lewe en ons sal altyd omring wees deur diegene wat ly.
d. Dit lei tot oorvloedige lofprysing van God, beide deur die lydende persoon en deur diegene wat vir hom gebid het.
(Het jy al ooit langs iemand gestaan wat deur intense lyding gaan, en nie geweet hoe om hom te vertroos nie? Die rede mag wees dat jy self nog nie deur soortgelyke lyding gegaan het nie.)
D. PAULUS SE REDES VIR DIE VERANDERING VAN SY PLANNE
1:12-2:4
1. Dit is baie belangrik vir Paulus dat hulle hom vertrou, want dan sou hulle oop wees om sy lering te aanvaar.
2. Hy wou hê dat hulle hom en sy medewerkers nie net moes aanvaar nie, maar selfs trots op hulle moes wees as voorbeeldige Christene, net soos hy op hulle trots wou wees.
3. Om hierdie rede is dit belangrik dat hulle verstaan waarom hy nie sy belofte nagekom het om hulle op pad na Masedonië te besoek nie:
a. Dit was definitief nie omdat hy onopregte, vinnige, beloftes maak, sonder die voorneme om dit na te kom nie.
b. Die eintlike rede daarvoor was dat hy hulle belange eerste gestel het: hy wou hulle meer tyd gee om die sake wat hy in sy vorige brief genoem het, reg te stel, sodat sy besoek, in plaas van verleentheid, vreugde sou bring, beide vir hulle en vir hom, .
4. Hy het altyd probeer om heeltemal deursigtig te wees teenoor almal aan wie hy bedien het, en veral teenoor hulle.
5. Deur dit te doen, probeer hy die voorbeeld van Christus navolg, Hy wat die volkome vervulling (waarmaking) van God se Woord is.
6. God die Vader het ons met sy Heilige Gees gesalf as verdere bewys dat ons in Christus die volheid van verlossing sal ervaar. Die Heilige Gees is soos ‘n seël wat ‘n koning op ‘n brief plaas om te bevestig dat die inhoud vertrou kan word, en soos ‘n deposito wat ‘n persoon betaal om te waarborg dat die volle betaling op hande is (V21, 22).
7. Die wyse waarop hy hierdie saak hanteer het, bewys ook dat hy geen voorneme het om oor hulle te heers nie, maar vertroue het dat hulle stewig gegrond is in die geloof en self in staat is om ongerymdhede wat aan hulle uitgewys is, uit die weg te ruim.
8. Die brief wat hy geskryf het, was nie die gevolg van ‘n harde en kritiese gees nie; hy het gehuil terwyl hy dit geskryf het.
9. Hy het dit geskryf vanuit sy diepe liefde vir hulle.
10. Hy het dit gedoen omdat hy geweet het dat hulle eers volheid van vreugde sou ervaar wanneer sonde uit hulle midde weggeruim was.
11. Waarom sou hy hulle onnodige hartseer veroorsaak? Deur dit te doen, sou hy homself van vreugde beroof, want hy kon slegs bly wees as hulle bly was.
E. HOE MET DIE SKULDIGDE GEHANDEL MOES WORD.
2:5-11
1. Paulus wou hê dat die sondaar reggehelp moes word, nie omdat dié hom persoonlik seergemaak het nie, want hy kan hom goed voorstel dat dié man se sondige optrede vir bykans almal in die gemeente ontstellend was.
2. Die redes vir die toepassing van dissipline in die kerk is:
a. Om die gemeente rein te hou.
b. Om die sondaar geestelik te rehabiliteer; nie om hom te vernietig nie.
c. Nooit om die onreg wat gepleeg is, te wreek nie.
3. Indien die straf te erg (swaar) is, kan dit:
a. Veroorsaak dat die oortreder moed verloor en van Christus af wegdraai.
b. Tot gevolg hê dat die duiwel ‘n oorwinning behaal, want hy beplan altyd kwaad teen ons.
c. Meebring dat hulle wat die dissipline toepas, hulself as meerderwaardig beskou.
4. Om hierdie redes behoort hulle hom nou te vergewe vir wat hy gedoen het en liefde aan hom te betoon.
5. Hierin sou Paulus, in sy hart, eens met hulle wees.
F. PAULUS SE LIEFDEVOLLE HART
2:12, 13
1. Toe Paulus in Troas aankom, het ‘n geleentheid hom voorgedoen om die Evangelie te verkondig, maar hy kon nie met rustige oortuiging daarvan gebruik maak nie, want hy kon sy medewerker, Titus, nie daar vind soos ooreengekom was nie. Dit het veroorsaak dat hy:
a. Besorg was oor sy veiligheid, want hy was baie na aan hom.
b. Ook besorg was oor die Korintiërs, want Titus sou vir hom nuus omtrent hulle gebring het.
2. Om hierdie rede het hy na Macedonië gereis waar hy die vreugde gehad het om Titus te vind, die brief met die goeie nuus van die verandering in Korinte te ontvang en om ook vir Titus met hierdie huidige brief na Korinte terug te stuur.
G. AARD EN VRUG VAN PAULUS SE BEDIENING
2:14 – 3:18
1. In alles wat Paulus aan die Korintiërs skryf, is daar altyd die onderliggende besorgdheid dat hulle hom nie as God se spesiale boodskapper aan hulle sou aanvaar nie.
2. Die rede hiervoor is nie persoonlike trots of ‘n begeerte om verheerlik te word nie, maar dat hulle, deur hom te aanvaar, ook sy leer wat van God was, sou aanvaar en dit hulle sou lei om die volheid van sy verlossing te ervaar.
3. In hierdie perikoop gee hy dus eer aan God omdat Hy Hom gebruik waar Hy ook al gaan en sodoende fokus hy die leser se aandag op sy bediening.
4. Aangaande sy (en elke ander, effektiewe Christelike) bediening:
a. Dit is soos ‘n oorweldigende aroma wat die prediker omring waar hy ook al beweeg.
b. (Dit is ‘n prentjie ontleen aan dié van ‘n Romeinse generaal wat terugkeer met die trofeë (artikels en krygsgevangenes) wat hy in die oorlog verwerf het. Gedurigdeur laat hy wierook vir sy gode opgaan. Die aroma daarvan is ‘n reuk van die dood vir die krygsgevangenes, maar ‘n reuk van oorwinning vir die oorwinnaars).
c. Sy bediening en woorde is so kragtig dat dit die ore, oë, harte en gedagtes van almal binnedring, waar hy ook al beweeg: vir diegene wat die boodskap aanvaar, bring dit lewe, maar vir hulle wat dit verwerp, beteken dit die ewige dood; niemand kan dit systap of ignoreer nie.
d. En wie is opgewasse vir so ‘n bediening: is dit nie God self wat ons bemagtig en ons swakheid hiertoe oorkom nie?
e. Hierdie bediening is nie te koop nie en die prediker mag dit ook nie vir persoonlike gewin beoefen nie.
f. Dit moet in absolute integriteit (eerlikheid) gebring word as woorde wat direk vanaf God vloei, asof Hy fisies teenwoordig is terwyl dit gepreek word en elke woord hoor en keur.
g. Dit word in Christus gespreek, wat beteken dat Hy, en nie die een wat spreek nie, altyd op die voorgrond moet wees.
5. Deur dit met soveel oortuiging en durf te stel, mag dit lyk asof Paulus homself verhef, maar:
a. Dit is nie die geval nie, want hy het nie aanbevelingsbriewe (ook nie uit die hand van belangrike mense) nodig sodat die Korintiërs hom op grond daarvan sal aanvaar nie.
b. Hulle is self sy briewe, sy bewys dat sy bediening van God is.
c. Hul veranderde lewens toon dat die woorde wat God deur hom (Paulus) tot hulle gespreek het, in hulle harte opgeteken is.
d. Net so is hul name ook in sy hart opgeteken; hy het hulle innig lief en het volle verantwoordelikheid vir hulle aanvaar.
e. Hulle is dienaars van hierdie Nuwe Testament (bedeling) waar kragtens Christus alle geestelike skatte, by sy afsterwe aan hulle nagelaat (laaf vererf) het.
6. Die Nuwe Testamentiese skatte vergeleke met dié van die Ou Testament.
a. In die Ou Testamentiese bedeling het God sy woorde op kliptafels neergeskryf en aan sy mense oorhandig om daarvolgens te lewe, maar dit het nie vir hulle lewensvreugde gebring nie, maar eerder die hartseer van die dood, want hulle was nie in staat om dit uit te leef nie.
b. Hierdie Nuwe Testamentiese bedeling is oneindig beter (voordeliger) want nou is dit die Gees van God wat sy woorde in die harte (gees) van die mens skryf en hom in staat stel om daarvolgens te wandel. Dit word nie van buite af op hom afgedwing nie, maar vloei vanuit sy binneste. (God se wil is nou nie aan die buitekant op ‘n kliptafel wat probeer om in die mens in te kom nie, maar aan die binnekant van elke Christen en poog om vandaar uit te vloei in regverdige gedagtes, woorde en dade.)
c. Hierdie werk word deur die Heilige Gees gedoen.
d. Die bediening deur Moses, hoewel dit bedoel was om tydelik te wees en ook die dood in plaas van lewe gebring het, was nogtans so glorieryk dat dit sy gesig laat skyn het sodat God se volk hom nie kon aanskou tensy hy sy aangesig bedek het nie; nogtans lyk dit vandag, in vergelyking met die huidige nuwe bedeling en bediening, glad nie meer so glorieryk nie.
e. Die huidige bediening van die Gees wat ewig is en lewe bring, stort soveel meer heerlikheid uit op diegene wat dit bedien, wat meebring dat hulle soveel helderder skyn deur die vrug van die Gees wat hulle dra en die krag wat hulle openbaar.
f. Hulle verberg egter nie hierdie heerlikheid nie, maar laat dit skyn vir die hele wêreld om te sien.
g. Nie net het Moses God se heerlikheid agter ‘n sluier verberg nie, maar daar was, en is steeds, ‘n sluier wat die geestelike oë bedek van diegene wat probeer om vrede met God te vind deur sy hele Wet volmaak te onderhou. Hierdie sluier van wanbegrip word egter verwyder wanneer hulle begrip (insig) deur die Gees verlig word en hulle verstaan dat hulle uit God se genade gered moet word en hul vertroue dan in Christus Jesus plaas.
h. God is gees en bedien deur sy Heilige Gees en waar sy Gees oorneem, word slawerny gebreek en vryheid ervaar.
i. Daarom let ons nie op die moets en moenies nie, maar deur die werking van die Gees kyk ons na Christus in sy prag van heiligheid, en terwyl ons Hom aanskou en begeer om soos Hy te wees, verander die Gees ons innerlike wese al hoe meer om net soos Hy te lyk en te skyn.
j. Om na Hom te kyk is soos om na iemand anders deur ‘n spieël te kyk; jy kan Hom duidelik sien, maar jy kan Hom nie met jou hand aanraak nie, want wat jy sien, is nie sy persoon nie, maar sy beeld.
k. (Die Bybel is die spieël waardeur die Gees die heerlikheid van Christus aan ons vertoon.)
///////////
NA INDEKS NA VOLGENDE HOOFSTUK