2027-07-29A
A. INLEIDING
Hooftema: Blydskap in die Here. Die woorde “verbly” of “blydskap” verskyn 17 keer in hierdie brief. Dit kan tereg bestempel word as: “Die brief van vreugde”.
Datum geskryf: Ongeveer 61 n.C.
Outeur: Paulus, die apostel.
Plek: Geskryf vanuit ‘n tronk in Rome.
Opset/Agtergrond: Paulus skryf hierdie brief om die Filippense te bedank vir hul finansiële en fisiese ondersteuning.
B. CHRISTUS SE SELFONTLEDIGING EN DAAROPVOLGENDE VERHOGING DEUR DIE VADER (2:5-11)
- Toe God die Vader gesoek het na ‘n betroubare persoon om as Hoof oor Sy hele skepping, beide hemel en aarde, aan te stel; iemand wat dit nooit vir homself sou toeëien (gryp) nie, het Hy so ‘n persoon in sy Seun Christus Jesus gevind.
- Om vir daardie verhewe posisie te kwalifiseer, het Jesus al Sy voorregte as Seun van God opsy gesit, slegs Sy karakter behou, mens geword en selfs in daardie hoedanigheid Homself tot die laagste vlak van menslike bestaan verneder, ‘n dienaar van almal geword en uiteindelik selfs aan ‘n kruis soos ‘n misdadiger gesterf.
- Dit word pragtig uiteengesit in hoofstuk 2 verse 6 tot 8: Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
- Nadat Hy die volle pad van selfverloëning geloop het, het Sy Vader Hom verhef tot die hoogste posisie wat bereikbaar is, soos vermeld in verse 9 tot 11: Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
- As mens is ons geneig om elke geleentheid wat tot erkenning en roem lei, na te jaag, en sodra ons dit bekom het, hou ons krampagtig daaraan vas. Kyk net hoe dikwels presidente van sekere state dit byna onmoontlik vind om hul stoel aan iemand anders af te gee nadat hul dienstermyn verstryk het. Selfs in Christelike kringe, in kerke, tree dieselfde gees van begeerte om geeerd te wees dikwels na vore en lei dit tot twis en bitterheid. Ja, geestelike bedienaars is helaas soms net so geneig net soos wêreldse mense om aan hul posisies en voorregte vas te klou.
- Daarom vermaan Paulus sy gemeente in Filippi om die gesindheid wat in Christus was, ook in hulself te kweek. Hy het Sy gemak in die hemel laat vaar en hier op aarde sonder ‘n bed of selfs ‘n kussing klaargekom. Hy het Sy engeledienaars prysgegee en self ‘n dienaar geword, ‘n dienaar van mense en so ver gegaan om ‘n doek om Hom te draai en hulle voete te was. Hy het Sy skeppingskrag prysgegee en toe Hy honger was, nie die klippe om Hom in brode verander nie. Hy het Sy gesag prysgegee en toegelaat dat Hy ondervra en verhoor word in die Joodse hof, die Sanhedrin en in die Romeinse howe van Herodes en Pilatus. Hy het afstand gedoen van sy mag en toegelaat dat die mens Hom arresteer en kruisig. Hy het Sy ewige Seun-Vader gemeenskap prysgegee en die trauma ervaar om van Sy Vader geskei te word terwyl Hy aan die kruis gehang het. Hy het die vreugde van Sy heilige lewe prysgegee toe Hy die vuilheid van ons sonde op Homself geneem het.
- Paulus se raad aan die Filippense is dus om Christus se voorbeeld te volg. Nederigheid in hierdie lewe, bereidwilligheid om ander te dien, selfs die laagstes van die mensdom, en bereidwilligheid om ontledig te word, behaag God en laat jou kwalifiseer om in die hiernamaals verhef te word.
C. PAULUS SE RESEP: “STERF SODAT JY KAN LEWE”
3:4-11
- Paulus het sedert sy bekering baie dieselfde gesindheid as Christus getoon. In hoofstuk 3:4-8 beskryf hy die verhewe posisie wat hy gehad het, eerstens deur erfenis: hy was ‘n Israeliet (’n lid van God se uitverkore volk) uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs, besny op die agtste dag na sy geboorte, presies soos voorgeskryf deur die Wet. Sy godsdienstige posisie in die lewe was dié van ‘n Fariseër, maar hy was veel meer as die gewone Fariseërs: hy het ‘n buitengewone ywer getoon, was onberispelik in sy onderhouding van die Wet en is deur die Sanhedrin aangewys en gemagtig om die Christelike gemeenskap te vervolg. Hy is inderdaad in die hoogste agting gehou deur die leiers van Sy godsdiens. Dit was dié dinge waarop hy homself tevore beroem het, dié dinge waarom sy hele lewe gedraai het.
- Toe hy ‘n Christen geword het, het hy hierdie dinge egter nie meer as wins beskou nie, as dinge wat hom geestelik verryk het nie, maar eerder as iets wat hom verarm het; as rooi inskrywings op sy balansstaat. Hy het dit selfs as menslike ontlasting gesien, as dit wat uit die liggaam uitgewerp word. Dit het ‘n ondraaglike reuk en ‘n mens bedek dit in ‘n gat in die grond of spoel dit met water weg, want hy wil geen verdere kontak daarmee hê nie. Dit is hoe Paulus die dinge gesien het wat hy gedurende die eerste deel van sy lewe so hoog geag het. Nou, in sy nuwe lewe, het dit hom besoedel en in die pad gestaan van sy in besit neming van die rykdom wat Christus bied.
- Nou is Christus en alles wat Hy ons gee, dit wat hy as winsgewind beskou, dit wat van hom ‘n ryk man maak. Eerstens is daar die geregtigheid (om reg te wees met God op grond van Christus se werk aan die kruis) wat deur geloof kom.
- Tweedens, deur selfinspanning in die vlees neer te lê, het hy ‘n deelgenoot geword van die krag wat deur die Heilige Gees werk in diegene wat uit die geestelike dood opgewek is.
- Hy het ook ‘n aandeel gekry aan die lyding van Christus tot die punt toe waar sy ou sondige lewe grotendeels tot sterwe gebring is.
- Wat hy beoog om te bereik, is:
- ‘n Diepgaande ervaringskennis (belewenis) van Christus.
- Om aan Christus se dood gelykvormig te word, wat beteken dat sy ou sondige natuur nie meer sal manifesteer nie.
- ‘n Lewe wat pols met dieselfde krag as dié waardeur Christus uit die dood opgewek is.
- Om deel te hê aan Christus se lyding.
- Hy weet goed dat hy nog nie daardie hoë vlak bereik het nie, maar streef met al sy energie en krag daarna om dit vir homself te verower (hy gryp behoorlik daarna).
- In die proses sluit hy sy gedagtes af vir die dinge wat verby is (van die verlede) sodat sulke gedagtes nie sy aandag sal aflei nie, en strek hy homself uit na die toekoms om hierdie begeerlike prys in te palm; dit is presies waartoe God hom geroep het.
- Dit is inderdaad die gesindheid wat elke Christen behoort te hê.
- Hy som dit op in hierdie woorde: “ Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (1:21).
- Terwyl hy voor sy bekering ‘n baie lang lewe op aarde sou begeer het om die maksimum tyd te hê om sy voorregte as Jood en as godsdienstige leier te geniet, sien hy dit nou so as dat al sy skatte in die hemel weggebêre is. Daarom sou sy eerste keuse wees om dadelik hemel toe te gaan om dit te kan benut, maar hy sal dit nie om so ‘n selfsugtige rede doen nie. Hy besef dat dit beter sal wees om nie homself te bevredig nie, maar om hom vir ‘n verdere tydperk in hierdie wêreld vir diens beskikbaar te stel, aangesien hy steeds deur God gebruik kan word om andere, insluitend die Filippense, tot seën te wees. Hierin toon hy ook die gesindheid van Christus, wat altyd die voordeel van die Vader en van ander bo sy eie stel (1:23).
D. HOE OM DIE VREDE VAN GOD TE ERVAAR (4:4-9)
Hierdie gedeelte van die Skrif bevat ‘n aantal beginsels wat ons kan beskou as treë na ‘n lewe deurdrenk met die vrede van God. Kom ons kyk daarna:
- Verbly jou altyd in die Here (v4).
- Wees vriendelik teenoor alle mense (God hou jou dop) (4:5).
- Moet jou nie oor jou behoeftes bekommer nie – plaas die hele bondel in ernstige gebed op die Heer se breë skouers, dank Hom dan vir wat Hy gaan doen, beskou dit as afgehandel en gaan aan met jou lewe (4:6).
- Hou fyn dop (gee ag) wat jy dink; sluit gedagtes uit wat onrein, kwaad, morbied of op enige wyse disrespekvol is teenoor God (v8).
- Moenie dat die duiwel modderspore deur jou kop trap waaaroor jy later spyt sal wees en weer moet sukkel om uitgevee te kry nie. Dink mooi en opheffende gedagtes, veral oor andere; dinge waaroor jy nie sal bloos as die mense om jou dit kon lees nie. Dink wat waar, eerbaar, reg, suiwer, lieflik en bewonderenswaardig is (V8). Dit is nie ‘n volledige lys van wat ons behoort te dink nie, maar ‘n aanduiding van wat hemelse gedagtes is. Om gelukkige gedagtes te dink, maak ‘n mens gelukkig. Kyk na iemand wat dink aan iets wat hom plesier gee en jy sal dit op sy gesig as ‘n glimlag weerspieël sien.
- Om jou lewe met sulke dade en gedagtes te versadig, sal lei tot ‘n opgewekte atmosfeer, ‘n geur van goddelike vrede in jou hart, vrede wat alle verstand te bowe gaan, want dit is nie afhanklik van aardse stimuli nie (4:7,9).
E. GOD SE AANDEEL EN JOU AANDEEL
2:12,13
- God werk dit in; jy werk dit uit.
- In hierdie twee kort verse openbaar Paulus die geheim van die Christelike lewe:
- Deur genade en deur sy Heilige Gees werk God in jou lewe die vermoë om die vlees te oorwin en ‘n oorwinnende lewe te lei.
- Jy moet dit egter uitwerk. Die onus rus op jou om toe te sien dat Sy genade beoefen word (oorgaan) in gedagtes, woorde en dade van die Gees, soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.
- Hy versterk jou wil, maar jy moet jou wil beoefen om hierdie eienskappe in jou lewe te kweek. Dit beteken dat jy God moet vertrou, bid vir die voortdurende vloei van sy Gees, bely wanneer jy misluk het en Hom moet dank vir die verandering wat jy ervaar.
- Hy is getrou en sal altyd Sy kant bring; maar is jy en ek getrou om ons s’n te bring?
F. VREUGDE IN DIE HERE
4:4, ens.
- Wanneer jy ‘n gevangene in die tronk besoek, neem jy gewoonlik vir hom iets lekkers saam om te eet en dink aan ‘n paar paslike woorde om hom te bemoedig. Paulus was egter ‘n heel ander soort van gevangene. Wanneer jy sy sel binnegaan, sou jy ‘n glimlaggende man vind wat opspring, jou met ‘n uitgestrekte hand verwelkom, na jou welstand verneem en probeer om jou op te beur. Hoe dan so?
- Die geheim van sy vreugde het gelê in die feit dat die bron daarvan buite die tronkmure was, selfs buite hierdie wêreld. Hy het sy vreugde gevind in sy gemeenskap met die lewende Christus wat nooit verander nie; wat gister vandag en vir ewig dieselfde is. Hierdie rivier van vreugde het voortdurend vanuit Christus gevloei, regdeur die mure van die tronk en in sy sel in. Staaldeure en sterk slotte kon dit nie buite hou nie.
- Ek is seker dat hy as mens ook vreugde sou gevind het in ‘n goeie bord stomende kos, ‘n lekker warm bad, ‘n mooi stel klere en die geselskap van sy vriende, maar al hierdie dinge saam kon nie vergelyk word met die diep bevrediging wat hy geput het uit so ‘n noue kontak met die Here Jesus nie.
- Stem jy saam dat Christene God se bevele moet gehoorsaam, bevele soos: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself?” Ek is seker jy doen. Wel, hierdie woorde wat aan ons in Filippense 4:4 gerig word, is ook ‘n bevel: “Verbly julle altyd in die Here, en ek herhaal: verbly julle!” Hierdie bevel moet gehoorsaam word.
- Om jou onder alle omstandighede in die Here te verbly, kom nie vanself nie; dit moet beoefen (ingeoefen) word; dit moet met jou hele hart nagestreef word totdat dit ‘n leefstyl word. Die neiging om te kerm, te kla en jouself te bejammer, moet veroordeel word; voortdurend onder die voete vasgetrap word, totdat vreugde vanself uit jou nuwe natuur voortvloei.
- Lig jou aangesig ten minste een keer elke vyf minute op na die hemel en glimlag vir 30 sekondes tot die Here, of jy nou lus het of nie, en jy sal ontdek dat die glimlag van jou gesig na jou hart sal afsypel.
- Volhard hiermee vir ‘n paar maande en dit sal ‘n leefstyl word wat jou in staat sal stel om voortdurend in die Here te bly soos Paulus, selfs wanneer jy in die tronk van onaangename omstandighede opgesluit is.
G. PAULUS SE INTERAKSIE MET GOD SE MENSE
- DIE KERK IN FILIPPI
- Dit was die eerste gemeente wat Paulus op die vasteland van Europa gestig het en het ‘n poort na die res van die land geword. Die eerste mense wat hy in Filippi bedien het, was Lidia en haar groep gelowiges wat naby die rivier vir ‘n gebedsbyeenkoms bymekaargekom het. Hy het ook hewige teenstand ervaar en in die tronk beland omdat hy die demone uit ‘n slavin uitgedryf het. God het ingegryp, die tronkbewaarder en sy huishouding het Christus aangeneem en is gedoop en Paulus en Silas is uit die tronk vrygelaat en het Filippi verlaat (Handelinge 16).
- Van die begin af het die Filippense sy bediening ondersteun terwyl hy Christus verkondig het. Toe hy in Rome gevange geneem was, het hulle nie net vir hom finansieël bygedra nie, maar een van hul leiers, Epafroditus, daarheen gestuur om hom persoonlik te bedien (2:25).
- Dit was ‘n gemeente wat geen droefheid vir Paulus veroorsaak het nie; slegs vreugde. Dit word selfs in sy gebede weerspieël. Terwyl hy in trane was toe hy vir sommige van die ander gemeentes gebid het, het hy met vreugde vir die kerk in Filippi gebid (1:4).
- Aan die begin van sy brief spreek hy sy agting vir hulle uit, noem hy hulle heiliges en vermeld veral ook hulle leiers (1:1).
- Dan spreek hy God se genade en vrede oor hulle uit (1:1).
- Hy het na hulle verlang met die teerheid van Christus self (1:8).
- Hy het volle vertroue gehad dat hulle die Here, wat die goeie werk in hulle harte begin het, sou toelaat om dit te voltooi (1:6).
- Hy sien hulle as ‘n pragtige, koninklike kroon op sy bediening (4:1). (‘n Kroon was gewoonlik van goud gemaak en ingelê met diamante en ander kosbare edelstene; in hierdie geestelike kroon het elkeen van daardie gelowiges so geskitter.)
- Hy besef ook dat sy gevangenskap hulle dalk kon laat twyfel aan die krag van Christus om sy dienaars uit die hande van hul vyande te verlos. Daarom verduidelik hy dat Christus juis toegelaat het dat dit met hom gebeur sodat die Evangelie aan die Keiser se wagte gebring kon word en dat baie van hulle Christus inderdaad deur sy bediening as Verlosser aangeneem het (1:12-14).
- Hy haal ook op dat terwyl hy in die tronk was, sommige predikers (soos hulle waarskynlik te wete gekom het) die Evangelie aan hulle uit leedvermaak teenoor hom verkondig het om dié wat hy na die Heer gelei het van hom af weg te rokkel. Hierdie gebeure kon ook meebring dat hulle (Filippense) God se grootheid bevraagteken omdat Hy dit nie voorkom het nie. Hieroor het hy egter ‘n ander siening, naamlik dat hy nie aan daardie predikers se optrede aanstoot neem nie want, die hoofsaak is dat die Evangelie verkondig moet word en nie wie dit verkondig nie (1:15-17).
- Hy vermaan hulle ook rakende sekere areas van hulle wandel met God, want hoewel hulle ‘n goeie voorbeeld vir die ander gemeentes was, was hulle nie perfek nie (2:1-5; 4:2).
- Hy skerp hulle ook op tot ‘n dieper insig in sekere aspekte van die Evangelie.
2. TIMÓTEÜS (2:19-23)
-
- Paulus erken Timóteüs as ‘n gewaardeerde medewerker deur hom aan die begin van sy brief by die naam te vermeld (1:1).
- Hy praat baie teer van hom en sê dat hy hom gedien het soos ‘n seun sy vader sou dien (2:22).
- Hy beveel hom aan as iemand wat nie sy eie belange soek nie (2:20,21).
- Hy vertrou hom bo alle ander om die belange van die Filippense te bevorder en daarna na hom (Paulus) terug te keer en hom volledig in te lig oor wat hy daar beleef het (2:20,22).
3. EPAFRODITUS (2:25-30).
-
- Paulus het ook hoë agting vir Epafroditus en verwys na hom as ‘n broer, medewerker, medesoldaat en ‘n bedienaar in sy behoeftes (2:25).
- Hy meld ook hoe dat hy selfs sy lewe opgeoffer het om hom te bedien, welke diens hom tot op die rand van die dood gebring het (2:30).
- Paulus versoek dus die gemeente in Filippi om hom in hoë agting te hou soos dit reg is teenoor sulke kosbare manne van God (2:29).
- (Terloops: die feit dat Epafroditus so siek geword dat hy amper gesterf het terwyl hy saam met Paulus was deur wie se bediening God baie ander mense genees het, toon dat goddelike genesing nie outomaties met die druk van ‘n knoppie kom nie, maar dat dit by God berus.)
4. TEN SLOTTE
Uit bogenoemde sien ons dat Paulus nie ‘n hooghartige leier was nie, maar dat hy hoë agting gehad het vir al God se mense en veral vir diegene wat hulself in diens van die Vader en die Seun gegee het.
H. EENHEID (2:1-4, 4:2)
- Hier vermaan Paulus die Filippense om vrede met mekaar te bewaar, veral Euodia en Sintiche, twee dames wat ‘n leidende rol in die gemeente gespeel, maar dit moeilik gevind het om met mekaar oor die weg te kom.
- Om hulle te berispe was ‘n daad van liefde, soos wanneer die dokter ‘n kwaadaardige gewas uitsny, wat, as dit toegelaat word om te groei, uiteindelik die hele liggaam sal vernietig.
- Trots en eiebelang veroorsaak tweedrag, terwyl nederigheid en die stel van ander se belange bo jou eie, mense nader aan mekaar bring.
- Verdeeldheid binne gemeentes is die hoofrede vir skeuring.
- Eenheid en liefde in ‘n gemeente, daarenteen, trek ongelowiges na daardie gemeente.
- Eenheid is die einddoel van Christus se verlossingswerk (Ef 1:10).
I. LYDING TER WILLE VAN CHRISTUS (1:29)
Paulus leer dat lyding vir Christus ‘n voorreg is. Maak dit sin? Ja.
- Om ons vreugde te behou te midde van lyding het ‘n kragtige impak op ander mense en trek hulle na Christus toe.
- Dit openbaar ook wie se geloof oppervlakkig (nie eg) is nie omdat lyding veroorsaak dat hulle wegval van die geloof wat hulle voorgee om te hê.
- Laastens neem dit ‘n mens se oë van aardse genietinge af weg en fokus dit op Christus alleen.
J. MATERIËLE BEHOEFTES (4:10-19)
- As ‘n reisende evangelis, herder en apostel, het Paulus nooit die gemak en veiligheid van ‘n herder wat te midde van sy gemeente woon, ervaar nie en was dus tot ‘n hoë mate afhanklik van God om in sy behoeftes te voorsien.
- Onder hierdie omstandighede het hy die waardevolle les geleer om tevrede te wees met wat God voorsien het, of dit nou maar min was, of so ‘n oorvloed dat hy dit persoonlik nie alles kon benut nie. Soms het hy ‘n vol maag gehad, maar ander kere ‘n leë een (4:12). Hy kon al hierdie omstandighede hanteer deur die krag wat God hom gegee het.
- Hy het dus nie ‘n beroep op die gemeente in Filippi gedoen om hom te ondersteun nie, alhoewel hy baie dankbaar was toe hulle dit wel gedoen het (4:10).
- Wat hom selfs meer as hulle geskenk behaag het, was om te dink aan die hemelse beloning wat hulle van God sou ontvang vir hulle milde geskenk aan Hom (4:17).
- Paulus het geweet dat lede van die gemeente in Filippi ook soms ‘n tekort aan lewensbehoeftes ervaar het. Aangesien hy self voortdurend ‘n lewe van vertroue op God vir sy daaglikse behoeftes beoefen en die Heer se getroue voorsiening daarin ervaar, kan hy hulle met vrymoedigheid verseker dat dié God wat vir hom sorg, ook in al hulle behoeftes sou voorsien uit sy oorvloedige rykdom, deur Christus Jesus (4:19).
- (Hierdie vers was nog altyd ‘n geweldige hulp vir sendelinge en vir al God se heiliges wat nie ‘n gereelde inkomste soos ‘n maandelikse salaris gehad het nie, maar God maaltyd vir maaltyd moes vertrou soos ‘n troeteldier wat op sy eienaar wag.
K. VERSE WAT GERUS GEMEMORISEER KAN WORD
1:21; 1:29; 2:3; 2:5-8; 2:12c-13; 2:14; 3:8; 3:10; 3:14; 4:4-7; 4:11-13; 4:19.
///////////